Stakings by BMW vervreem EU

bmwDie vernietigende effek van stakings in onder meer die motorvervaardigingsektor, soos nou by BMW Suid-Afrika gesien, kan belangrike handelsvennote soos die Europese Unie (EU) al hoe verder van Suid-Afrika laat wegdryf, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Die verhouding tussen Suid-Afrika en die lidlande van die EU is reeds gespanne en Duitsland het onlangs hard en duidelik sy stem gevoeg by die EU se handelskommissaris, mnr. Karel de Gucht, wat skerp kritiek uitgespreek het teen die ANC-regering se beleid rakende bilaterale beleggingsooreenkomste met lidlande van die EU.

Adv. Alberts sê die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het nou ook sy kommer uitgespreek oor die hoë aantal stakings wat die land se ekonomie lamlê, en wat goed geïllustreer word deur die feit dat Suid-Afrika ondanks ‘n swak rand ook met sy uitvoer sukkel.

“Die ANC, wat sienderoë toelaat dat vakbonde die land se industrieë lamlê en beleggers verdryf, moet verantwoordelikheid neem vir die vernietigende effek wat stakings op die land se ekonomie het.

“Die ANC skep dan ook verdere onsekerheid oor eiendomsreg met beoogde wetgewing wat alle tipe eiendomsreg sal blootstel aan onteiening deur die staat.

“Verder is die ANC se strewe om Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) nog strenger te polisieer kommerwekkend, aangesien dit van die faktore is wat ekonomiese groei strem. Die Ouditeur-Generaal het juis aangedui dat kaderontplooiing, wat moontlik gemaak word deur RA, juis die rede is vir swak dienslewering deur die staat. Wat SEB betref is dit alom bekend dat geen navorsing bestaan dat die beleid enige goeie invloed het op die ekonomie nie en of swartmense werklik opgehef word nie.

“Daarom is die voortsetting van dié beleide irrasioneel en daarom ongrondwetlik, bo en behalwe die feit dat dit inbreuk maak op die reg van minderheidsgroepe om op gelyke voet ekonomies mee te ding.

“Die Demokratiese Alliansie se ondersteuning en omarming van die beleid is ook skrikwekkend aangesien gerekende internasionale organisasies toenemend  tot die debat toetree en pleit dat SEB vervang moet word met ‘n beleid wat aan almal in die land ‘n gelyke kans op ekonomiese welvaart sal bied.

“Rothschild, die konsultasiefirma wat self die eerste SEB-transaksies gefasiliteer het, is die jongste toevoeging tot lys van invloedryke organisasies wat hom openlik teen SEB uitgespreek het,” sê adv. Alberts.

Duitsland bekommer oor SA se ‘obsessie’ met BRICS

fahrneGemeet teen die agtergrond van Suid-Afrika se kil behandeling van die Europese Unie (EU), veral rakende die eensydige terugtrede uit bilaterale beleggingsverdrae, sal die Vryheidsfront Plus die beoogde nuwe Beleggingswet fyn monitor om seker te maak dit voldoen aan die vereistes van die land se EU-handelsvennote, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Dit het die afgelope maande reeds duidelik geblyk dat die EU, en in besonder belangrike lidlande soos Duitsland, geen geheim daarvan maak dat hulle glad nie ingenome is met die behandeling wat hulle van Suid-Afrika kry nie. Duitsland is veral bekommerd oor wat die uitwerking vir beleggings in Suid-Afrika gaan wees indien die regering nie sy bilaterale beleggingsverdrag met Duitsland hernieu nie.

Die protes wat adv. Alberts aangeteken het teen die moontlikheid dat die ANC-regering moontlik nie sy bilaterale beleggingsverdrag met Duitsland gaan hernieu nie, het so wyd weerklink dat Duitsland se ambassadeur in Suid-Afrika, dr. Horst Freitag, hom genooi het om oor die aangeleentheid te gesels.

Volgens adv. Alberts sal hy die regering se oënskynlike ‘obsessie’ met Brics met die ambassadeur bespreek om te verhinder dat Suid-Afrika sy tradisionele handelsvennote versaak.

Dr. Freitag het in ‘n onlangse toespraak gesê dit is ‘ononderhandelbaar’ vir voornemende beleggers om in ‘n omgewing te belê waar daar nie onnodige risiko’s is nie.

Hy het ook gewaarsku dat dit veel moeiliker is om vertroue met ‘n handelsvennoot op te bou as om dit te verbreek.

Volgens adv. Alberts is die verhoudinge tussen Suid-Afrika en sy handelsvennote van die EU reeds in sulke troebel water dat die land gewis beleggings sal verloor indien die beoogde Beleggingswet, wat alle bilaterale beleggingsverdrae gaan vervang, nie die regte seine aan die EU stuur nie.

Ander kwessies wat adv. Alberts met dr. Freitag sal bespreek, gaan rondom probleme wat ‘n effek het op Suid-Afrika se makro-ekonomie, soos die ANC se obsessie oor grond sonder om die ekonomiese impak van blindelingse hervorming in ag te neem.

Op die agenda sal ook wees plaasmoorde wat die landbousektor wesenlik beïnvloed en die algemene ekonomiese rigting van die ANC wat deur rasgegronde ingrypings soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en regstellende aksie die ekonomie verwring en dooddruk.

“Ons moet hieroor gesels aangesien die land geweldige sosiaal-ekonomiese uitdagings het rakende armoedeverligting in die algemeen wat alle rasse, swart en wit, raak,” sê adv. Alberts.