‘n Nigeriese man is Dinsdag op ’n aanklag van die vervaardiging van dwelms in Germiston in hegtenis geneem, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.
Skrywer: Karin Roodt
Kaap van storms
Twee kouefronte beweeg in die rigting van die Kaap en sal na verwagting swaar reën, koue, oorstromings, sneeu, stormsterk winde en onstuimige seetoestande veroorsaak.
‘n Weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het gesê die eerste front sou die Moederstad Dinsdag getref het.
Die tweede front sal Woensdagmiddag sy opwagting maak en die provinsie tot Saterdag teister. Reënweerstoestande sal waarskynlik tot Dinsdag voortduur.
Stormsterk winde van tussen 65 km/h en 74 km/h sal vandag van Kaappunt tot Kaap Agulhas woed.
Goudprys styg weens moontlike aanval op Sirië
Die goudprys beleef ‘n elf-weke-hoogtepunt. Dit het verstewig ná vrese oor ‘n moontlike militêre ingryping deur die Amerika en Brittanje in Sirië.
Die VSA het aangedui dat militêre optrede ‘n moontlikheid is, weens ‘n chemiese aanval in ‘n voorstad in Damaskus. Hulle hou President Bashar al-Assad daarvoor verantwoordelik, in weerwil van die feit dat daar nie vaste bewyse is daarvoor nie.
Die Amerikaanse minister van verdediging, Chuck Hagel sê hulle wag net vir die groen lig van President Barack Obama. Die goudprys staan tans op 1 425 dollar per fynons.
Die Britse Eerste Minister, David Cameron het die parlement byeengeroep om Brittanje se reaksie op die krisis in Sirië te debatteer.
Brittanje berei gebeurlikheidsplanne voor vir ‘n moontlike militêre ingryping.
Cameron sê hy beskou die aanval as onaanvaarbaar en afskuwelik, maar ontleders meen dis slegs ‘n voorwendsel om Sirië aan te val.
Die Eerste Minister het die internasionale gemeenskap sterk aangemoedig op die chemiese aanval in Damaskus reageer. – RSG
Melkboere trek swaar ‘maar verstedeliking skep suiwelaanvraag’
Produksiekoste is tans buitensporig hoog wat melkboerdery betref. “Teen die pryse wat ons kry, gaan dit broekskeur,” sê mnr. Bernard Maree, voorsitter van die Vrystaatse tak van die Melkprodusente-organisasie.
Produsente in die provinsie verdien R3,65 tot R3,85 per liter melk, terwyl hulle R4,89 per liter nodig het om alle koste te dek. Van dié boere verdien wel R4,10 per liter, maar Maree sê dit hang af van die bottervet-inhoud van die melk wat gelewer word.
Die verhoging van 52% in die minimum lone vir plaaswerkers in Maart vanjaar het die situasie verder laat versleg. “Ons betaal daardie lone, maar verhoogde produksie deur die werker is nie noodwendig aan die beter loon gekoppel nie.”
Melkprodusente in die Vrystaat het egter dié week gehoor dat daar steeds ‘n toekoms vir hulle in die melkbedryf is. ‘n Groot aantal melkprodsusente het reeds die bedryf verlaat.
Op die melkprodusente-organisasie se jaarlikse kongres in Bloemfontein, het die hoof van die departement van landbou-ekonomie en landelike ontwikkeling aan die universiteit van Pretoria, Johann Kirsten, gesê dat verstedeliking en die bevolkingsgroei, verseker dat daar ‘n groot behoefte aan suiwelprodukte is.
Petroljoggies staak van Maandag
Tot 72 000 petroljoggies en ander werknemers by vulstasies en motorhandelaars landwyd sal van Maandag (2 September) af staak nadat die onderskeie partye in die loononderhandelinge nie ooreen kon kom nie.
Die werknemers is almal lede van die metaalwerkersvakbond, Numsa. Volgens ’n Numsa-verklaring eis hulle ’n “menswaardige loon en verbeterde diensvoorwaardes”.
Die NUM het intussen aangedui dat hulle ‘n salarisooreenkoms met goudmynprodusente wil aangaan voor Vrydag se spertyd om ‘n staking in die bedryf te voorkom.
Die NUM se hoofsekretaris, Frans Baleni, sê ‘n staking is die laaste uitweg. Die NUM het die afgelope Saterdag aan produsente sewe dae tyd gegee om te voldoen aan sy eis vir ‘n salarisverhoging voordat hulle tot ‘n staling oorgaan.
Gesprekke tussen die SATAWU-vakbond en die SAL om ‘n einde te maak aan die lugdiens-staking van twee dae, is in Johannesburg hervat.
Die hoofsekretaris van SATAWU, Zenzo Mahlangu, sê die lugdiens wil nie sy aanbod van ‘n verhoging van 6,5% hersien nie. Hy sê SATAWU is ook nie bereid om in te stem tot enige bedrag minder as die aanvanklike eis van 12% nie.
Hy sê nog ‘n vakbond is gereed om môre tot ‘n staking oor te gaan.
Epiese dop: Al 25 000 Liberiese matrieks dop toelatingseksamen

Nie een enkele kandidaat van die 25 000 het vanjaar se toelatingseksamen tot ‘n universiteit in Liberië geslaag nie.
Die Universiteit van Liberië sal dus geen eerstejaars op kampus hê nie. Dié instelling is een van die vasteland se twee universiteite wat deur die staat bestuur word.
Minder as ‘n honderd kon daarin geslaag om die die Engels of Wiskunde baas te raak om te kwalifiseer om deel te wees van die normale klas van 2k–3k studente.
Histories, is die slaagsyfer ongeveer 20-30% en in die afgelope jaar, is die toets aangepas na ‘n raaiformaat om dit makliker te maak.
Die wiskunde-eksamen fokus oor die algemeen op rekenkunde, meetkunde, algebra, analitiese meetkunde en elementêre statistiek en waarskynlikheid, terwyl die Engelse eksamen oor die algemeen fokus op grammatika, sinsvoltooiing, leesbegrip en logiese redenasie.
Maar as ‘n bewys van die vlak van korrupsie en nepotisme, is die toelatingsvereistes tydelik laer gestel vir Wiskunde en Engels om ongeveer 1.6K studente in staat te stel om te regsitreer.
Die studente het glo nie min entoesiasme getoon. Hulle het ook nie ‘n basiese begrip van Engels nie en het gekla dat die “meganika” van Engels ‘n uitdaging is.
Liberië, wat in Wes-Afrika geleë is, het die burgeroorlog wat ‘n dekade gelede geëindig het, die skuld gegee. In Suid-Afrika waar ons daagliks moet hoor dat ons danksy “Madiba” een vrygespring het, is skoolprestasie ook besig om te daal.
Pres. Ellen Johnson Sirleaf het onlangs gesê dat die land se onderwysstelsel “uitdagings bied”. Talle skole het ‘n tekort aan basiese studiemateriaal. Onderwysers is ook nie goed opgelei nie.
Dis die eerste keer wat elke student wat die eksamen geskryf het, nie geslaag het nie.
Eienaar van Malema-woning ook deur SAID ondersoek
Julius Malema se halfgeboude huis in Sandown, Johannesburg, se nuwe eienaar word ook weens belastingbedrog ondersoek. Die man, ‘n vriend van Malema, het die huis op ‘n veiling gekoop.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Dinsdag bevestig dat die bedrogsaak by die SAID aangemeld is.
“Die beweringe sal deur die nodige kanale binne die Inkomstediens ondersoek word om te bepaal of die saak enige meriete het,” het Adrian Lackay, woordvoerder, gesê.
Lackay het gesê die saak is op 22 Augustus onder die SAID se aandag gebring.
Die Sowetan het Dinsdag berig dat die koper, Norman Tloubatla, na bewering fakture vervals het om belasting te ontduik.
Volgens die koerant het Tloubatla se twee maatskappye, Lethlabile Civils en Magnified Designs (wat padtekens vervaardig), ’n aanmaning van Power Forklift Hire and Sales se prokureurs ontvang vir skuld van R40 9552,82.
Tloubatla het Malema se huis in Mei 2013 vir R5,9 miljoen gekoop.
Grondwethof gooi DA se wantroue mosie uit
Die Grondwethof het ‘n appèl deur die Demokratiese Alliansie, oor sy debat oor ‘n mosie van wantroue in president Jacob Zuma, met koste van die hand gewys.
Die DA het die mosie ingedien slegs enkele weke voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember verlede jaar.
Die mosie kon egter nie gedebatteer word nie, omdat die forum vir hoofswepe en die komitee belas met die parlement se program nie ‘n ooreenkoms kon bereik oor wanneer dit moet plaasvind nie.
Die adjunk-hoofregter, Dikgang Moseneke, sê die meerderheid regters het bevind dat die mosie op sigself onder verdenking is. – RSG
Afrika teen 2030: Een groot krotbuurt

Volgens die VN se Bevolkingsafdeling, is sub-Sahara-Afrika se jaarlikse stedelike groeikoers 3,6%, byna dubbel die wêreld se gemiddelde. Sowat 40% van Afrika se meer as 1 miljard mense woon in stede en dorpe, met baie wat migreer van landelike gebiede om armoede, droogte of konflik te ontsnap. Sowat 200 miljoen mense woon in krotbuurte.
Dit plaas die gewone beskuldigings dat Apartheid gelei het tot armoede en krotbuurte natuurlik in ‘n heel ander lig, want oral in Afrika lyk die verstedelikingspatroon presies dieselfde. In Afrikalande want nooit Apartheid geken het nie, lyk dit tewens heelwat erger as in Suid-Afrika.
“Afrika is besig om vinniger as enige ander kontinent te verstedelik, soveel so dat in 2030, sal dit ophou om ‘n landelike vasteland te wees,” sê Anna Tibaijuka, uitvoerende direkteur van die VN-Habitat, die VN se agentskap vir menslike nedersettings. “Ten spyte hiervan, neem min Afrika-leiers die saak ernstig op.” Afrika-regerings het min gedoen om die snelle verstedeliking te bestuur en erken nie formeel krotbuurte as sulks nie.
Krotbuurte word gewoonlik nie voorsien van openbare dienste, soos elektrisiteit, riolering, afvalbestuur, paaie, behuising en toegang tot gesondheidsorg of onderwys nie. En meer as ‘n kwart van Afrika se krotbewoners het nie toegang tot veilige drinkwater nie, volgens die VN se Omgewingsprogram. ‘n Vyfde het geen toegang tot sanitasiegeriewe nie.
Dit gaan nie gou verander nie, want Afrika se jaarlikse besteding aan infrastruktuur is 45 miljard dollar, het die African Development Bank se statistieke getoon, terwyl byna twee keer die bedrag nodig is om die grootste probleme aan te spreek.
Sub-Sahara-Afrika se grootste stad, Lagos, Nigerië, is ‘n goeie voorbeeld van swak beplanning. Die stad van 11 miljoen mense, twee-derdes daarvan krotbewoners, is berug vir sy oorbevolking, slaggate in strate, verkeersknope, gereelde kragonderbrekings en swak sanitasie. “Lagos het minder infrastruktuur as enige van die ander grootste stede in die wêreld,” het ‘n amptenaar aan die VN-nuusagentskap Irin gesê.
Terwyl die bevolking van Lagos teen 8% per jaar groei, groei die krotbuurte en die gepaardgaande probleme daarmee saam, skep dit brandstof vir misdaad en verhoog maatskaplike spanning.
Die situasie is nie veel verskillend in Afrika se grootste krotbuurt, Kibera, aan die buitewyke van die Keniaanse hoofstad, Nairobi nie. Die stad se krotbuurte het “‘n stedelike tydbom” geword, sê een projekbeampte van ‘n NRO.
Kibera se geskatte 2 miljoen mense is ‘n groot onderklas met ernstige gevolge vir Nairobi se sekuriteit en sosiale struktuur, het Njuguna gewaarsku. Gefrustreerde jong mense gaan dikwels saam gewelddadige kriminele bendes. “Die standaard van die lewe in die krotbuurte versleg voortdurend. Ons sien stygende skooluitsaksyfers, armoede, wanvoeding en misdaad. Daar is geen maatskaplike dienste nie. Tensy regerings groot politieke veranderinge teweeg bring, gaan stede soos Nairobi ontplof met sosiale onrus.”
Dit is ook waar van Suid-Afrika. ‘n Kwart van Suid-Afrikaners is werkloos, en groot getalle werkloses migreer na Johannesburg en Kaapstad, die land se twee groot stede.
“Die regering sukkel met die groot instroming van mense, om infrastruktuurprobleme op te los en dienste te lewer,” sê Thuthukani Ndebele, ‘n navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge in Johannesburg. Sulke toestande sal ‘n vrugbare teelaarde skep vir Ekonomiese Vryheidsvegters en jong “MK-veterane”.
FAK vereer twee Ortodokse priesters vir hul vertaalwerk
Die FAK het twee Afrikaanse Ortodokse priesters vir besondere kultuurprestasie by die geleentheid van die 80ste herdenking van die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans vereer.
Vader Zacharias van Wyk van Robertson in die Wes-Kaap en vader Jacobus van der Riet van Johannesburg het dié toekenning ontvang vir die vertalings van Ortodokse liturgieë en gesange in Afrikaans.
Die geleentheid is by Voortrekkermonument gehou en luister is daaraan verleen deur treffende Afrikaanse koorsang van die Afrikaanse Hoër Seunskool.
Johan Rossouw het in sy huldigingswoord gesê daar meestal “volslae onkunde” oor die Ortodokse kerk onder Afrikaners. Hy het dit as tragies bestempel “omdat dit voorkom te midde van ’n ontsettende eietydse ontwrigting van die moderne vorm van die Christendom, naamlik die Protestantisme”.
Rossouw het “die felle verwoestende debatte wat al meer as 15 jaar oor die kerk en die politiek, die gesag van die Bybel, die posisie van vroue en homoseksuele persone in die kerk, die Belhar-belydenis en wat nog woed” voorgehou as bewyse van dié ontwrigting.
Volgens hom is een van die alternatiewe op die krisis om terug te keer na die tradisionele ortodokse vorm van die Christendom. Rossouw het gesê dit sluit aan by ‘n ontluikende ontdekking die Ortodokse Kerk wat talle nuwe bekeerlinge trek.
Rossouw het gesê ’n mens kan nie anders nie as om “die enorme potensiaal van hierdie twee baanbrekers se werk op ’n krisisoomblik in die Afrikaanse geskiedenis te sien”.
