Julius Malema se halfgeboude huis in Sandown, Johannesburg, se nuwe eienaar word ook weens belastingbedrog ondersoek. Die man, ‘n vriend van Malema, het die huis op ‘n veiling gekoop.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Dinsdag bevestig dat die bedrogsaak by die SAID aangemeld is.
“Die beweringe sal deur die nodige kanale binne die Inkomstediens ondersoek word om te bepaal of die saak enige meriete het,” het Adrian Lackay, woordvoerder, gesê.
Lackay het gesê die saak is op 22 Augustus onder die SAID se aandag gebring.
Die Sowetan het Dinsdag berig dat die koper, Norman Tloubatla, na bewering fakture vervals het om belasting te ontduik.
Volgens die koerant het Tloubatla se twee maatskappye, Lethlabile Civils en Magnified Designs (wat padtekens vervaardig), ’n aanmaning van Power Forklift Hire and Sales se prokureurs ontvang vir skuld van R40 9552,82.
Tloubatla het Malema se huis in Mei 2013 vir R5,9 miljoen gekoop.
