Tweede skoolseun in Pretoria sterf aan onbekende oorsake

affies’n Gr. 9-leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria is Vrydag in die hospitaal oorlede aan onbekende oorsake.

Zander Delport (15) was ‘n nasionale atletiekkampioen en enigste kind. Sy dood volg kort op die hakke op die raaiselagtige dood van Jason Kuin (15), ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria.

Dirk Taljaard, woordvoerder van Affies, het gesê Zander het in die vakansie siek geword en nie Dinsdag vir die laaste kwartaal opgedaag nie.

Taljaard het gesê Zander het na bewering bloeding op die brein gehad. Hy het vroeër vandeesweek in ’n koma verval en is Vrydagoggend oorlede.

Zander het uitgeblink in akademie, atletiek en rugby. Hy het vanjaar die eerste plek in die 400 m op die SA Junior Kampioenskap behaal.

Kuin, ook ‘n enigste kind, is twee weke gelede ook skielik op ’n jeugkamp aan onbekende oorsake dood.

Niemand weet wat gebeur het nie.

Jason het Sondag vroegoggend snorkgeluide gemaak. Toe een van sy maats hom probeer wakker maak, het hy nie gereageer nie. ’n Lykskouing kon later nie die oorsaak van sy dood bepaal word nie.

Monsters is daarna weggestuur vir toetse. Sy ouers sê hy was nie siek nie.

FAK vereer twee Ortodokse priesters vir hul vertaalwerk

fak_logoDie FAK het twee Afrikaanse Ortodokse priesters vir besondere kultuurprestasie by die geleentheid van die 80ste herdenking van die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans vereer.

Vader Zacharias van Wyk van Robertson in die Wes-Kaap en vader Jacobus van der Riet van Johannesburg het dié toekenning  ontvang vir die vertalings van Ortodokse liturgieë en gesange in Afrikaans.

Die geleentheid is by Voortrekkermonument gehou en luister is daaraan verleen deur treffende Afrikaanse koorsang van die Afrikaanse Hoër Seunskool.

Johan Rossouw het in sy huldigingswoord gesê daar meestal “volslae onkunde” oor die Ortodokse kerk onder Afrikaners. Hy het dit as tragies bestempel “omdat dit voorkom te midde van ’n ontsettende eietydse ontwrigting van die moderne vorm van die Christendom, naamlik die Protestantisme”.

Rossouw het “die felle verwoestende debatte wat al meer as 15 jaar oor die kerk en die politiek, die gesag van die Bybel, die posisie van vroue en homoseksuele persone in die kerk, die Belhar-belydenis en wat nog woed” voorgehou as bewyse van dié ontwrigting.

Volgens hom is een van die alternatiewe op die krisis om terug te keer na die tradisionele ortodokse vorm van die Christendom. Rossouw het gesê dit sluit aan by ‘n ontluikende ontdekking die Ortodokse Kerk wat talle nuwe bekeerlinge trek.

Rossouw het gesê ’n mens kan nie anders nie as om “die enorme potensiaal van hierdie twee baanbrekers se werk op ’n krisisoomblik in die Afrikaanse geskiedenis te sien”.