’n Gr. 9-leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria is Vrydag in die hospitaal oorlede aan onbekende oorsake.
Zander Delport (15) was ‘n nasionale atletiekkampioen en enigste kind. Sy dood volg kort op die hakke op die raaiselagtige dood van Jason Kuin (15), ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria.
Dirk Taljaard, woordvoerder van Affies, het gesê Zander het in die vakansie siek geword en nie Dinsdag vir die laaste kwartaal opgedaag nie.
Taljaard het gesê Zander het na bewering bloeding op die brein gehad. Hy het vroeër vandeesweek in ’n koma verval en is Vrydagoggend oorlede.
Zander het uitgeblink in akademie, atletiek en rugby. Hy het vanjaar die eerste plek in die 400 m op die SA Junior Kampioenskap behaal.
Niemand weet wat gebeur het nie.
Jason het Sondag vroegoggend snorkgeluide gemaak. Toe een van sy maats hom probeer wakker maak, het hy nie gereageer nie. ’n Lykskouing kon later nie die oorsaak van sy dood bepaal word nie.
Monsters is daarna weggestuur vir toetse. Sy ouers sê hy was nie siek nie.
