Vanoggend ontvang ‘n brief in my epos van ‘n leser wat eintlik aan Marianne Thamm van die Daily Maverick gerig is, na aanleiding van haar rubriek oor vyf Kaapse rassiste. Daarop het ek soos volg geantwoord.
Jy kan gerus maar aan me. Thamm op Afrikaans skryf; sy is die taal heel goed magtig. Hoe lank ons nog Afrikaans mag skryf, is natuurlik ‘n ope vraag, gegewe die feit dat sy edele, minister Blade Nzimande, so pas gesê het dat hy enige oorblywende of selfs nuwe privaat- Afrikaanse instelling sal “toemaak”.
Maar terwyl ons nog daardie vryheid geniet – wees dankbaar! – laat ons nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie.
Ek het nie daardie storie van die “vyf jong blankes uit goeie huise” gevolg nie. Ek neem aan hulle is Engels, dit verklaar seker hoekom hulle uit “goeie huise” kom. Ek en jy kom nie uit “goeie huise” nie.
Miskien moet jy nie die Daily Maverick so ernstig opneem nie. Marianne Thamm se skalkse humor waar sy “na-oorlogse Duitsland” met “wit Suid-Afrikaners” vergelyk, het my laat glimlag. Of miskien is ons blanke belastingbetalers daaraan “skuldig” dat hulle die winste van Daimler Benz en BMW verhoog deur al daardie miljarde aan die ANC en SAKP se soustreinryers en tenderpreneurs beskikbaar te stel sodat hulle Mercedesse en BMW’s kan koop?
Gegewe dat die Ontvanger van Inkomste, volgens ‘n onlangse aankondiging, nou net in Engels gaan kommunikeer, is ons dalk kwytgeskeld van belastings en sal ons nie langer die Nazi-motorbedryf in stand hoef te hou nie. By die mees onlangse Johannesburgse Internasionale Motorskou het ‘n besoekende Nazi, juis by die BMW-stalletjie, my vertel dat een uit elke agt Duitsers deesdae in die motorbedryf werksaam is. Hulle klink heeltemal te dom om van tenders en regstellende aksie te leef, daardie klomp Duitse Nazi’s. Mev. Merkel het nie eens ‘n Nkandla nie en luister boonop graag na Wagner, Hitler se gunstelingkomponis. Dis eenvoudig verregaande!
Ek sien Zapiro is ontsteld dat ek verwys na die rol van die marxiste in ons onlangse geskiedenis.
Hoe vreemd, want almal is dan so trots om, hetsy lede van die SAKP, hetsy graduandi van ons universiteite te wees waar Karl Marx en sy horde dissipels van die Frankfurtse en ander skole net met die nodige eerbied, piëteit en bowenal toewyding behandel moet word? En mnr. Joe Slovo, “ons vader van die nasie” wat met ‘n rylaan in Johannesburg (eens bekend as Harrowweg) vereer is, was mos ewe trots daarop dat hy uit ‘n “goeie huis” doer in Obelei, Litaue gekom het om die rooi evangelie aan ons arme agterlike Afrikaners te bring, nie waar nie? As jy nog nie sy biografie onder oë gehad het nie, lees Hoe Joe Slovo die land verower het.
Benewens die vyf miljoen wat onder Thabo Mbeki aan Vigs dood is, is 500 000 sedert 1994 vermoor. Dis ‘n bagatel, ja, ek weet. En die 4000 boere wat sadisties gemartel en uitgemoor is, is insgelyks niks om oor huis toe te skryf nie. Dis alles net so pragtig… “nie-rassig”. Soos Winnie op ‘n kol gesê het: “The farmers are killing themselves.” Dis nou swart humor.
Die enigste rassistiese staatsdepartement wat nog oor is, is korrektiewe dienste wat steeds die aangehoudenes volgens ras klassifiseer. Slegs 1,2% van alle misdadigers wat vonnisse uitdien, is blankes!
Hoe is dit moontlik, sou jy vra? Met al die rassistiese blanke Nazi’s wat vry rondloop en, soos Steve ook gesuggereer het, veroorsaak dat mense in Soweto hoë mure om hul huise bou om hulle teen aanvalle, rooftogte, moord en verkragting te beskerm, is daar duidelik iets fout.
Dalk sal jy binnekort die antwoord in die Daily Maverick lees. “Skreeusnaaks” is mos die Foucauldiaanse popspeler se gunstelingwoord. Dit beloof om skreeusnaaks te wees. Miskien het Harry Potter en sy vriende ons getoor om net te vergeet van die “ware toedrag van sake” toe die blanke Nazi’s 500 000 mense vermoor het?
Ekskuus, my fout. Dis baie meer as 500 000! Soos senior advokaat Steven Budlender in die agbare poppekas, ekskuus, hof, gesuggereer het: vóór 1994 is miljoene swartes deur die blanke Nazi’s in ‘n volksmoord uitgewis. Omdat Mandela so gaaf was, het hy ons vergiffenis geskenk en het ons ons Nürnbergverhoor vrygespring. Ons hoef nie eens gemartel te gewees het om die waarheid te bely nie en geen Britse laksman soos Albert Pierrepoint het ons met ‘n snel werkende galg kom regsien nie.
Maar binnekort sal jy dalk nie meer daaroor mag praat nie, want miskien raak “apartheidsontkenning” ‘n strafbare misdryf à l’allemande. Dis nou die mense wat hoog opgee oor “vryheid van spraak” wat so iets in die mou voer.
Nog swart humor, as dit nou nie ‘n rassistiese term is nie, net enkele dae ná Swart Vrydag toe die Beierse Motorwerke-handelaars seker flink sake met staatsamptenare gedoen het.
Wat “name calling” betref, waarna jy ook verwys, is dit ongelukkig die enigste pyl in die politiese korrekte koker. Ongeag wat jy sê of doen, gaan hulle jou ‘n “rassis” en ‘n “Nazi” noem. Vermy dit dus om ‘n Duitse motor te ry en betaal hulle in eie munt terug.
Gister se sirkus by die Randburgse Landdroshof het vir my een ding bevestig: Suid-Afrika het ‘n algehele laagtepunt bereik wat norme van openbare debat en selfs die howe betref. Net soos by die Malema-haatspraakverhoor in 2010 het ek met verbasing geluister hoe die advokaat vir die verweerder ‘n argument daarvoor uitmaak dat daar geen beperking bestaan op wat Chester Missing alias Conrad Koch van Steve Hofmeyr mag sê nie of die skade wat hy hom finansieel en beroepsgewys mag berokken nie.
Die stuk wetgewing waaroor dit gegaan het, Wet 17 van 2011 wat teistering verbied, is gewoon geïgnoreer terwyl advokaat Steven Budlender verklarings van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering oor apartheid in 1989 voorgelees het. (Terloops is Budlender die seun van die bekende advokaat Geoff Budlender wat in die sewentigerjare ‘n leier van die Engelse studente-organisasie NUSAS op die kampus van die UK was.)
Steve Hofmeyr het ook oor die afgelope paar uur verklaar dat dit nou “oop seisoen” is wat openbare uitlatinge in Suid-Afrika betref. Voortaan is ons almal gewikkel in ‘n semantiese oorlog in “‘n wêreld sonder grense”, om nou ‘n Afrikaanse boektitel uit die tagtigerjare aan te haal.
Soos ons ook met die Renate Barnard-geval gesien het, weet ek nie meer of ons veel geregtigheid van die howe kan verwag nie. As jy wit, Afrikaans of behoudend is – een van die drie is al genoeg – kan jy aanvaar dat die dobbelsteen teen jou gelaai is.
Sowel Steve Hofmeyr as PRAAG word geteiken. Waarom? wonder ‘n mens. Ek en Steve kom al ‘n lang pad saam, sedert ons in 2003 of daar rond saam teen die beoogde Pretoriase naamsverandering betoog het. Een van ons grondtekste is Pascal Bruckner se boek Die tirannie van (wit)skuld. Ons glo eenvoudig nie aan witskuld nie en wil gelyk met elke ander inwoner van die land behandel word.
Ons word geteiken omdat ons die afgelope paar jaar doeltreffend begin het om witskuld en van die meer groteske leuens oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis af te takel. Sowel Koch as sy advokaat argumenteer dat vorige Afrikanerregerings in ons land met dié van die Nazi’s gelykgestel moet word en dat dit, soos in Duitsland, voortaan onwettig behoort te wees om hoegenaamd iets oor apartheid te sê behalwe om dit verdoem weens die “ontelbare” (of miljoene) mense wat doelbewus vóór 1994 vermoor is! Om so iets te bevraagteken, word “apartheidsontkenning” genoem, wat kwansuis ewe aanstootlik as “holocaust-ontkenning” is.
Ander “apartheidsontkenners” waaraan ek onmiddellik kan dink, is prof. Hermann Giliomee en Ilana Mercer wat albei aspekte van apartheid gerelativeer of vergoeilik het.
Die ironie is dat diegene van ons wat weier om die mite of fiksie van Afrikaner-nazisme (met ses miljoen vermoorde swartes?) te aanvaar, geensins die vorige Nasionale Party ondersteun het nie. Mnre. FW de Klerk, Pik Botha en al die ander afgetrede ministers sê nie boe of ba nie, terwyl ons wat destyds in botsing met die regerende Afrikanerkliek was, nou die kastaiings uit die vuur moet krap!
Wat nou aan die gang is, is geen wit-swartstryd nie. Die meeste swartes in ons land kan geen flenter omgee oor wat daar van apartheid of “rassisme” gesê word nie. ‘n Klein groepie (blanke) kulturele Marxiste in Johannesburg en Kaapstad is egter daarop uit om Afrikaners en selfs Afrikaanse konserte aan te val omdat hulle nie tevrede is om die land se bates te stroop soos wat tans gebeur nie, maar enige gevaar van verandering op die horison wil neutraliseer.
Die linkse, Marxistiese kliek wat die werklike mag agter die troon van die ANC is, het die land met naakte propaganda, verguising, laster, beledigings en uitskeltegnieke in die tagtigerjare verower. In die vroeë negentigerjare het FW de Klerk en die res van die NP eerloos voor hierdie aanslag gekapituleer en vandag pluk ons die vrugte van hul oorgawe. Nou die dag sê ‘n Engelse dame vir my hier in Johannesburg: “Yes, the Nats sold us out. And we had voted for them for years.”
Ons land is met leuens, halwe waarhede, intense laster en verguising verower. Maar belangrik: dit word steeds op dié manier beheer! Die enigste verskil is dat dit nou veel erger as in die verlede is. Benewens dat jy iemand vir ‘n “Nazi”, “fascis” en “rassis” kan uitskel, kan jy nou sommer toevoeg dat hy ‘n “moroon” en “idioot” is wat aan ‘n geslagsiekte ly. Jy kan ook ‘n volskaalse heksejag teen iemand voer, hom finansieel of ekonomies probeer benadeel, hom by sy werkgewer gaan verkla of sy Facebook- of Twitter-rekening deur middel van vals klagtes gesluit probeer kry.
Wat is die uiteindelike doelwit van dié semantiese oorlog? Maak geen fout nie: Die ekonomiese marxisme wat in Rusland tot die dood van tienmiljoene mense gelei het, het nou oorgeslaan in kulturele marxisme wat grootliks van die VSA afkomstig is. Wesentlik is die twee egter dieselfde. Een van die mees beroemde kulturele marxiste, Susan Sontag, het haarself só uitgedruk:
The white race is the cancer of human history; it is the white race and it alone—its ideologies and inventions—which eradicates autonomous civilizations wherever it spreads, which has upset the ecological balance of the planet, which now threatens the very existence of life itself.
Blankes moet die skuld dra vir alles wat in ons land en in die wêreld verkeerd loop. Hierdie groteske leuen verseker nie net die mag van ‘n klein linkse kliek – die nomenklatoera – nie, maar gee hulle ook geredelik toegang tot die staat met al sy hulpbronne. Die staat is die grootste maatskappy van almal en deur tenders, korrupsie en doodgewone diefstal en plundery word die linkse kliek met hul “humanitêre” beginsels al hoe ryker.
Hierdie toestand herinner my baie aan die 1920’s in Duitsland tydens die sogenaamde Weimarrepubliek toe wanorde en ‘n sedelike revolusie die hele land in ‘n krisis gedompel het.
Indien ons toelaat dat ons deur propaganda, asook ‘n gevloek en geskel, geheel en al oorheers en gemarginaliseer word, is daar net een voorland vir ons: ‘n Zimbabwe. Alles wat ons besit, sal op ‘n dag van ons afgeneem word: elke plaas, elke huis, elke voertuig, alles wat ons het. Soos iemand vandag op Facebook opmerk: ons is nou terug tot voor die Groot Trek.
Agter al die grappe, beledigings en “satire” wat met groot mediafanfare uitgesaai word, lek die kulturele marxiste hul lippe af vir die dag wanneer ‘n volk se hele erfenis soos ‘n ryk appel in hul skoot gaan val…
Verstaan ons mense dit? Marxisme het baie groter lande as Suid-Afrika op hul knieë gedwing en hele volksmoorde is in die naam daarvan gepleeg; vra maar enigeen in Oos-Europa. Die kulturele tipe is nie minder skadelik as die ekonomiese tipe nie. Inteendeel.
Die stryd is fel. Ons gaan nog baie houe vat. Daarom is ons meer as ooit van u steun afhanklik.
Die teisteringsaak wat dr. Dan Roodt as belanghebbende namens Steve Hofmeyr behartig, begin môre (Donderdag 27 November) om 9:00 in hof 21 by die Randburgse Landdroshof.
Teenoor hom is die buikspreker Conrad Koch wat op Twitter as die pop Chester Missing allerlei beledigings teenoor Hofmeyr kwytgeraak het en ook ‘n veldtog teen die borge van die Afrikaans is Groot-konsertreeks gevoer het. Na raming het Hofmeyr en Afrikaans is Groot reeds R10m se skade gely. Onder andere het twee groot borge, Pick n Pay en Land Rover hulle aan die konsertreeks onttrek, wat ‘n finansiële verlies van R5 miljoen verteenwoordig. Daarbenewens beloop naamskending en die onttrekking van ander borge, asook kansellasies van Steve Hofmeyr se vertonings ‘n verdere R5 miljoen.
Conrad Koch voer aan dat dit sy “grondwetlike plig is om Steve Hofmeyr se rassisme en apartheidskontkenning aan die kaak te stel”. In die hofstukke beweer Koch verder dat Hofmeyr en Roodt ‘n “marginale groepie van 1% Afrikaners verteenwoordig” en dat ‘n hoofstroomorganisasie soos Afriforum hom van sowel Hofmeyr as Roodt se uitsprake gedistansieer het.
Steve Hofmeyr het vanmiddag na Kaapstad vertrek vir drie vertonings van Afrikaans is Groot en sal dus nie self die verrigtinge kan bywoon nie. Nietemin word ‘n groot aantal joernaliste by die hof verwag en sal deur die dag op Twitter daaroor verslag doen.
Koch word verteenwoordig deur een van Suid-Afrika se grootste regsfirmas, Webber Wentzel. Ook Ferial Haffajee, die redaktrise van die koerant City Press, wat aan die Naspers/Media24-groep behoort, het ‘n verklaring by die hof ingedien waarin sy Koch se reg op spraakvryheid en om Hofmeyr te beledig, onderskraag.
Dis nogal opvallend watter prominente rol Nederlanders, maar ook deesdae taalkundiges van die Potchefstroomkampus van die NWU, speel om die “kombuistaalteorie” van Afrikaans te bevorder! Eers was daar Valkhoff wat met sy boekie New light on Afrikaans and Malayo-Portuguese in die sewentigerjare die eerste skoot geskiet het. Toe ene Hans den Besten wat insgelyks beweer het dat die struktuur en woordeskat van Afrikaans aan Maleis en Koikoi ontleen is.
Alles dui egter daarop dat Afrikaans oor baie eeue heen “suiwer” gebly het, asook dat die taal eens ‘n hoë status as handels-, regs- en hoftaal in Noord-Europa geniet het.
Die geskrewe tradisie van Afrikaans is min of meer 800 jaar oud. Hoewel daar vandag na ons taal wat in die Middeleeue gepraat is as “Middelnederlands” verwys word, moet ons onthou dat nóg die staat Nederland nóg die taal “Nederlands” destyds bestaan het. Daarom het ons Middeleeuse digteres en briefskryfster Hadewijch die volgende in ‘n brief geskryf sonder om veel te wonder wat haar taal genoem word:
“Maer die rechte gheloeveghe hi sal weten dat die goetheit sijns liefs meerre es dan sijn sneven.”
In moderne Afrikaans lui dit so: “Maar die regte gelowige hy sal weet dat die goedheid van sy liefde meer is as sy dood.” Ons kan onmiddellik aflei dat “sneven” iets met doodgaan of sterf te make het. Trouens, die woord “sneef” as sinoniem vir “sneuwel” bestaan steeds in moderne Afrikaans en kan in die HAT opgekyk word.
Hadewijch het in die Hertogdom van Brabant gewoon wat dele van teenswoordige België en Nederland ingesluit het; vandaar die benaming “Brabants” wat aan die taal van daardie streek gegee is. As ons egter verby die verskille in spelling kyk, kan ons sien hoe min ons taal oor 800 jaar verander het!
Trouens, min ander tale ter wêreld kan hulle daarop roem dat hulle oor soveel eeue hul “reinheid, sterkte en hoogheid” behou het. Laasgenoemde drie terme verteenwoordig die opdrag van die Sweedse Akademie wat die wêreldberoemde Nobelpryse uitdeel, om die “Sweedse taal se reinheid, sterkte en hoogheid” (Svenska språkets renhet, styrka och höghet) te handhaaf.
Soortgelyk aan die verskille in spelling tussen Hadewijch se Middeleeuse Brabants en Afrikaans, verskil die Sweedse spelling ook van Afrikaans, maar ons kan sien dat al drie woorde (reinheid, sterkte en hoogheid) presies dieselfde is.
Ongeveer 95% van die woordeskat of leksikon van Afrikaans stem ooreen met dié van Nederlands, daarom is die twee tale onderling verstaanbaar. Afrikaans is egter geensins “vereenvoudigde Nederlands” nie. Vele Afrikaanse woorde kom ooreen met terme in Duits en die Skandinawiese tale, soos ons so pas vanuit die Sweedse voorbeeld kon aflei. Meer nog: Hoewel die eerste taalbeweging Afrikaans ter ere van ons vasteland vernoem het, kon ons dit ewe seer “Eurokaans” of “Nederduits” genoem het, want min mense besef watter merkwaardige ooreenkomste daar tussen die grammatika, idiome en woordeskat van verskeie Nederduitse dialekte en dié van Afrikaans bestaan.
Die woordjie “vir” wat ons aanmekaar gebruik, is afkomstig uit die Holsteinse dialek van Nederduits waar hulle dit “ver” spel (die Nederlanders sê “voor” en in Hoogduits is dit “für”). Net so bestaan die term “dörnat” in Holsteins (“deurnat” in Afrikaans), terwyl Hoogduits “durchnaß” gebruik.
Waarom staan die NG Kerk van Afrikaners as die “Nederduitse Gereformeerde Kerk” bekend en nie as die “Nederlandse Kerk” nie? Waarskynlik het die kerkvaders in die sewentiende eeu gevoel dat “Nederduits” ‘n beter beskrywing van die oorsprong van hul lidmate was as bloot “Nederlands”. Die Duitse dialek wat in die noordoostelike hoek van Duitsland, die deelstaat Mecklenburg-Voorpommere, asook die eiland Rügen, gepraat word, toon juis die grootste ooreenkomste met Afrikaans.
Op die Noord-Duitse eiland Rügen word selfs die beroemde Afrikaanse dubbele ontkenning aangetref! Die ongelukkige is egter dat die Nederduitse dialekte van Noord-Duitsland met hul fassinerende sleutels tot die herkoms van Afrikaans as gevolg van die tweede wêreldoorlog grotendeels uitgesterf het. Ongeveer driemiljoen mense praat nog Nederduitse dialekte, vergeleke met honderdmiljoen wat Hoogduits, die taal van die Suide, magtig is.
Daarom verteenwoordig Afrikaans nie net die taal van byna 400 jaar se geskiedenis in Suid-Afrika nie, maar ook ‘n voorafgaande 300 jaar se Europese geskiedenis toe Nederduits die lingua franca en handelstaal van die Hansa-stede was. Nederduits of dan Proto-Afrikaans, is in die 1300s reeds as regstaal deur die Deense konings gebruik. Tot en met die uitbraak van die vernietigende dertigjarige oorlog in Noord-Europa (1618-1648), was Nederduits ‘n groter taal as Engels, Frans, Russies of Spaans, tale wat vandag as wêreldtale gereken word.
Afgesien van J. du P. Scholtz en Edith Raidt, was daar oor die afgelope aantal dekades feitlik geen taalkundiges met insig in die verwikkelde Europese herkoms van Afrikaans nie. Boonop het hulle hul navorsing verrig in die tyd voor die internet toe al die inligting oor die Noord-Europese dialekte nie so geredelik soos vandag beskikbaar was nie. Die woord “mooi” word in die Hamburgse dialek gebruik (terwyl in Hoogduits “schön” gangbaar is) en selfs in ‘n intensiewe vorm as “mooi-mooi”.
Sulke herhalings (“plek-plek”, “gou-gou”, ens.) noem taalkundiges “reduplikasie”. Dit is een van die elemente van Afrikaans wat die kreoliste aanvoer om te beweer dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is, wat so ‘n neiging vanweë “taalkontak” met Khoisan, Xhosa, Maleis, Portugees of wat ook al ontwikkel het. Dít terwyl die V.O.C. sy amptenare verbied het om inheemse tale aan te leer! Intussen is reduplikasie ‘n algemene verskynsel en is daar ‘n Kanadese taalkundige aan ‘n Amerikaanse universiteit wat voorbeelde van regoor die wêreld versamel. Veral in Nederduits en die Skandinawiese tale wemel dit van reduplikasie. Die Sweedse woord vir “ouma” is “mormor”, letterlik “moedermoeder”.
Weens Afrikaans se “eenvoudige” grammatika, vergeleke met Nederlands en Duits, word daar ook aangevoer dat dit ‘n teken van kreolisme sou wees. Weereens is die grammatika van Sweeds feitlik ewe eenvoudig as dié van Afrikaans, ‘n Noord-Europese taal wat nooit in kontak met Afrika of Maleisië was nie, maar wel met Nederduits (ook Platduits genoem), wat die groot aantal Afrikaans-Nederlandse woorde in Sweeds verklaar.
Sover ek weet, is geen fonologiese studie nog onderneem om presies vas te stel hoe Afrikaans in die Noorde van Europa in die ou Hanse-handelsgebied inpas nie. Afrikaans val heelwat sagter op die oor as Nederlands of Hoogduits, sonder ‘n geleende Franse “R” vanuit die keel en klink daarom meer soos Nederduits of Sweeds.
Nog ‘n opvallende verskil tussen Nederlands en Afrikaans is die woord “baie” wat ons gedurig gebruik en wat glo uit Maleis afkomstig is. Die Hollanders sê “zeer” en “veel”. Dis een van die trofeë in die kreolis se ornamentekas. Ongelukkig vir kreoliste het ‘n redelik onlangse PhD-proefskrif in die VSA, Apperception and Linguistic Contact between German and Afrikaans (2011) bewys dat twee soortgelyke woorde in sowel sewentiende-eeuse Nederlands as Nederduits bestaan het. Daarom het die Afrikaanse woord deur appersepsie – en nie soseer ontlening nie – onmiddellik aan die Kaap inslag gevind.
Daar is geen faset van die Kreoolsteorie wat nie in een of twee akademiese artikels met verwysing na Nederduits of sewentiende-eeuse Nederlands vermorsel kan word nie. Want Afrikaans verteenwoordig ‘n samesmelting van Noord-Europese dialekte wat langsaam oor honderde jare plaasgevind het.
As sodanig is Afrikaans ‘n kleinood vir sowel Suid-Afrika as Europa. Gegewe die afgang van Nederduits, veral ná die tweede wêreldoorlog toe sprekers van Noord-Duitse dialekte deureenvermeng is, verteenwoordig Standaardafrikaans vandag ‘n lewende monument aan daardie verskeidenheid dialekte wat in die provinsies van die Lae Lande, maar ook die prinsdomme en stede van Noord-Duitsland, gepraat is.
Afrikaans is nóg ‘n “gemorstaal” soos die Potchefstroomse dosent Hans du Plessis in 2006 daarna verwys het, nóg ‘n “bastertaal” soos die nie-taalkundige Breyten Breytenbach in 1973 tydens sy marxistiese fase kwytgeraak het. Veel eerder is dit ‘n taal wat na vorm en struktuur veel suiwerder as Engels of vele ander Europese kultuurtale gebly het.
Nie verniet nie het die Australiese taalkundige en self ‘n kenner van Germaanse tale, Bruce Donaldson, opgemerk:
Because of a perceived threat to the separate identity of Afrikaners vis-à-vis their English-speaking compatriots, there is a longstanding fear of those international loanwords with cognate forms in English such that they are now regarded as dispensable anglicisms with preference being given to indigenous synonyms. This phenomenon has lead to an overall impression of the vocabulary of Afrikaans being more Germanic than that of Dutch. Many ingenious neologisms, but above all loan translations from English, further contribute to the overall puristic impression of the vocabulary, lugreëling ‘air conditioning’, rekenariseer ‘to computerize’, toebroodjie ‘sandwich’; droogskoonmaak ‘dry cleaning’, muurpapier ‘wall paper’, paneelklopper ‘panel beater’. (König, E., red. The Germanic languages, bl. 503)
Die feit dat Afrikaans vandag onder uiters negatiewe politieke omstandighede en die oorheersing van ‘n Engelse staatstaal oorleef, getuig verder van sy adellike grootsheid wat van die 1300s tot vandag toe voortleef en nog wag om deur skrywers en veral taalkundiges ontdek te word.
Agterna het ‘n dame insgelyks vir my getwiet: “Die makste honde byt die seerste.”
Op Radio Pretoria het ek ook verwys na NP-denke wat ons steeds oorheers: Die NP het gedink die KP is sy grootste vyand, nie die SAKP nie. Vandag regeer die SAKP (en sy bondgenoot, die ANC) die land.
Wat het daartoe aanleiding gegee? wonder ‘n mens. Ek het al gehoor dat daar by Afriforum oor alles vergader word alvorens ‘n besluit geneem word. Het daar dus ‘n ure lange vergadering plaasgevind waartydens Kallie Kriel, Ernst Roets en ‘n paar ander gewik en geweeg het alvorens hulle ‘n verklaring teen my uitreik? Dalk was dit ‘n groot “strategiese” besluit?
Moontlik was Afriforum bekommerd oor al die kritiek wat hulle uit liberale geledere moet verduur, naamlik dat hulle “regs en rassisties” is. Toe staan Kallie Kriel in die vergadering op en sê: “Weet julle, manne, ek het ‘n plan. Ons moet vir die liberale wys ons kan net so polities korrek soos hulle optree. Kom ons gee hulle ‘n nuwe teiken: Ons stoot vir Dan Roodt voor dat hy die slae verduur.”
In die Amasonevallei as ‘n boer mos sy vee deur ‘n sytak van die rivier wil lei waarin dit krioel van die piranas, dan slag hy een bees as lokaas vir die aaklige roofvissies. Terwyl hulle die karkas binne ‘n uur of twee kaal stroop, laat hy dan sy kudde rustig hoër op deur die rivier waad.
Was dit die plan? Moes die piranas op my losgelaat word terwyl Afriforum agteraf so ‘n bietjie die kat in die donker knyp, net so sodat die media dit nie agterkom nie?
Van die oomblik dat ek en PRAAG besluit het om vir Steve ‘n klip uit die pad te rol deur die hofbevel teen Conrad Koch alias Chester Missing aan te vra, het daar skielik ‘n horde kritici op my toegesak. Skielik is daardie oneerlike geredigeerde prul van ‘n video weer opgehaal waarin die Daily Show my letterlik woorde in die mond lê deur die verkeerde antwoorde na vrae waarop ek heeltemal anders geantwoord het, in te voeg.
Nou wonder ek: Is dit die soort “slim” taktiek wat julle by Afriforum goedkeur? Dus kan ek maar my videokamera bring en ‘n onderhoud met Ernst Roets kom voer en agterna die onderhoud gaan redigeer soos ek wil? Sou julle toestem tot so ‘n onderhoud, in die Daily Show-styl?
Feit is dat ek deur die Daily Show mislei is om te dink dat dit ‘n ernstige onderhoud sou wees waartydens ek aan buitelandse kykers die probleme in Suid-Afrika sou kon oordra, rondom misdaad, plaasmoorde, asook taal- en rassediskriminasie teen blankes.
Wat is die Daily Show se taktiek? Ek het intussen afgekom op dié kommentaar op Bloomberg wat enigeen afraai om aan die Daily Show deel te neem, omdat hulle so oneerlik is en videomateriaal wysig of manipuleer. Die probleem is dat hierdie artikel op Bloomberg eers vanjaar op 23 September 2014 gepubliseer is, terwyl die kwaadwillige Daily Show die onderhoud met my in 2010 opgeneem en uitgesaai is. Indien ek die Bloomberg-artikel destyds gelees het, sou ek waarskynlik nooit die onderhoud toegestaan het nie.
Nou kan Kallie, Ernst en die res van die Afriforumspan waarskynlik argumenteer dat Bloomberg se mening nie veel werd is nie. Ek sou graag wou vra: Beskou julle Bloomberg as ‘n verregse, “rassistiese” inligtingsbron? Nietemin is dit helder dat hierdie rubriekskrywer van Bloomberg die Daily Show nie as ‘n ernstige nuusbron beskou nie en meen dat hulle oneerlik en onregverdig met hul tegnieke van onderhoude voer en redigering is. Daarom behoort ‘n mens “jou eie kamera en ‘n getuie saam te bring” om seker te maak dat hulle nie dít wat jy sê, verdraai nie. Trouens, sy herhaal verskeie kere die raad dat niemand behoort in te stem tot ‘n onderhoud met die program nie.
Nou kom ons by die politiek van die Daily Show wat grotendeels die standpunte van die Demokratiese Party en Amerikaanse liberalisme in die VSA ondersteun. Dit sluit in regstellende aksie, amnestie vir onwettige immigrante en groter maatskaplike besteding in. Is dit die soort beleidsrigtings wat Kallie Kriel en Afriforum vir Suid-Afrika óók voorstaan? Waarom het Solidariteit, wat aan Afriforum verwant is, dan ‘n hofsaak oor die nie-bevordering van Renate Barnard gemaak as die organisasie hom met Amerikaanse liberalisme en regstellende aksie in die VSA vereenselwig?
Tans is daar ‘n kwessie by die Johannesburgse lughawe aan die gang waar twee blanke lugbeheerbestuurders weens “rassisme” geskors is omdat hulle ‘n swart lugbeheerbeampte van nalatigheid wat byna ‘n botsing tussen twee vliegtuie veroorsaak het, beskuldig het. Solidariteit verdedig die twee geskorste blanke beamptes teen wie die “rassekaart” skaamteloos gespeel is. Maar Solidariteit se “burgerregte”-afdeling, Afriforum, speel die rassekaart teen my. Hoe rym dit? Is dit nie ‘n geval van op twee stoele sit nie?
Verskeie mense het op sosiale media die kommentaar gelewer dat Afriforum sekerlik met my kontak kon gemaak het indien hulle ‘n beswaar gehad het teen enige van my standpunte. Waarom het ek geen vooraf waarskuwing hieroor ontvang nie? Of beskou Afriforum my as so melaats vandat ek Steve Hofmeyr teen Conrad Koch probeer help het en deur die liberale piranas aangeval word dat hulle my liefs wil verstoot, asook van ander Afrikaners verwag dat hulle my behoort te verstoot?
Oor die afgelope anderhalf dekade het ek seker meer as ‘n miljoen woorde in boeke, maar veral op die internet, geskryf. Watter van my “uitsprake stel Afrikaners in ‘n slegte lig”? Of gaan dit bloot om die enkele oneerlike video van die Daily Show wat hier aangegryp is om nie soseer Afrikaners nie, maar my in ‘n slegte lig te stel?
Watter van my uitsprake is “rassisties”, wonder ek? Is dit rassisties bloot om na boeke of gepubliseerde navorsing oor etniese en rassegroepe te verwys? Of om ‘n swart rubriekskrywer soos Sandile Maimela aan te haal waar hy skryf oor swartes se swak matriekuitslae omdat hulle te veel partytjie hou? Daar gaan seker nie ‘n dag verby dat rubriekskrywers of meningsvormers in Suid-Afrika nie op een of ander manier na ras of rassegroepe verwys nie. Byvoorbeeld het ‘n rubriekskrywer van die Daily Maverick, Sisonke Msimang, enkele dae gelede ‘n rubriek gepubliseer waarin sy beweer dat blanke mans ‘n groot probleem in Suid-Afrika verteenwoordig. Sy skryf:
Increasingly, as these white male inspired dramas unfold on our pages, I find myself returning to a theme that has preoccupied me since I began writing regularly; the subject of violent, white masculinities. I write fairly frequently about the violent conduct of white men; it is such an under-scrutinised topic. I am also fascinated by the extent to which perverse behaviour – when it is enacted by white male bodies – is quickly explained away.
Is dit ‘n “rassistiese uitspraak”? Sy sonder dan spesifiek blanke mans vir kritiek uit. En indien wel, gaan Afriforum ook ‘n verklaring daaroor uitreik en op RSG tydens spitsuur aankondig dat Msimang Suid-Afrikaners “in ‘n slegte lig stel”? Of beskik Msimang oor spraakvryheid wat ek nie het nie omdat sy swart is?
Terloops, is Afriforum ten gunste van spraakvryheid? Ek het destyds gewaarsku toe julle Malema aangekla het dat dit dalk mag terugkom om by ons te spook, aangesien ons spraakvryheid ook aan bande gelê mag word. Die hofbevel het Malema nie gekeer om weer sy omstrede liedjie te sing nie; dit het ook nie sy politieke opgang gestuit nie.
Saam met vele mense wonder ek nou: Presies wat is Afriforum se “strategie”? Duidelik het hulle ‘n strategie om, tesame met die New Yorkse Daily Show en ‘n hele horde liberale piranas in Johannesburg en Kaapstad – ook in Melville! – my verdag te maak en te verguis, selfs te belaster. Maar hoe lyk die res? Waarheen is hulle as “groot organisasie” met Afrikaners op pad? Wat is die eindbestemming?
Het Afriforum enigiets uit die onlangse Afrikanergeskiedenis geleer? Ek kan onthou hoe die Nasionale Party eers vir Ian Smith van Rhodesië in die rug gesteek het. Dit was ook ‘n geval van: voer die piranas of die krokodil en hoop jy word laaste geëet. Toe is Namibië aan Swapo oorhandig. Daarna het die NP een tuislandleier na die ander verraai en hulle ook aan die revolusie opgeoffer. Voer die krokodil.
Tydens die onderhandelinge het die NP begin om teenoor die internasionale mening te konformeer en selfs die ANC se standpunte oor te neem. Waar het dit ons gebring? Tot hier waar Afriforum en Solidariteit nou taamlik tevergeefs hofsake oor Renate Barnard maak. Wat het ons by al die toegewings aan politieke korrektheid gebaat?
Ná my, watter ander Afrikanerfigure gaan Afriforum nog vir die liberale piranas voer wat van plesier kraai telkens as hulle sien hoe verdeeld Afrikaners is en dat hulle mekaar aanval en in die openbaar beledig? Is daar ‘n teikenlys of was dit net ek?
PRAAG is ‘n pro-Afrikaanse beweging. Dit staan in ons naam. Afrikaans en Afrikaners is vir ons onlosmaaklik verbind. Waarvoor staan Afriforum presies? Het julle nou ‘n anti-rassistiese beweging geword wat saam met Section 27 en ander linkse organisasies “rassiste” gaan begin jag? Gaan Afriforum nou kyk of boere hulle werkers voor in die bakkie laat sit of agter op die bak? Asook dat swart werkers dieselfde toilette as boere gebruik? Gaan Afriforum nou hand om die blaas met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie deur die land reis op soek na aparte toilette? Moontlik gaan Afriforum ontdek dat boere en hul swart werkers nie dieselfde toilette gebruik nie… Gaan Afriforum daaruit ook die afleiding maak dat hulle “rassisties” is en hulle by die Menseregtekommissie gaan aankla? En as so ‘n boer nou ‘n betalende lid van Afriforum is, wat dan?
My spraakvryheid, my reputasie en my waardigheid is deur Afriforum geskend. In ‘n sekere mate het Afriforum my lewenswerk en alles wat ek die afgelope twee dekades vir Afrikaners probeer doen het, vernietig. Daardie miljoen woorde wat ek geskryf het, elke betoging waaraan ek saam met Steve Hofmeyr of ander Afrikaners deelgeneem het, elke petisie wat ek opgestel het, lyk nou asof dit alles moeite verniet was.
Met trane in my oë, vra ek: Wat het ek gedoen om dít te verdien?
Deesdae verlang ek erg terug na PW Botha, want in sy tyd was daar baie meer demokrasie en spraakvryheid as in die huidige bestel wat bloot self-satiries na hom as ‘n “republiek” verwys.
Almal wat destyds oor sensuur gekla het, onthou nou met nostalgie dat as jou boek of geskrif verbied is, kon jy daarteen appelleer. Verstommend! Destyds was sensuur gegrond op die inhoud van wat jy sê. Tans werk dit anders. Benewens die byna universele self-sensuur en taboe-onderwerpe waaroor jy glad nie in die openbaar mag praat nie, raak jy Sowjetagtig “in onguns” as jy met die verkeerde mense assosieer.
Vandaar dus Beeld se onlangse hoofartikel wat Steve Hofmeyr daarteen waarsku dat hy nie met my moet assosieer nie. Blykbaar verkeer ek in onguns, omdat ek:
die demokrasie ernstig opgeneem het – terwyl ek soos almal behoort te besef dat dit eintlik net ‘n klug is; en
dat ek die stigter van ‘n “regse” organisasie (PRAAG) is.
Enige verknogtheid aan Afrikaans, taalregte of kulturele selfbeskikking is seker vanuit Beeld se linkse (ekstreem-linkse?) gesigspunt per definisie “regs”. Laat almal in aanbidding voor proletariese internasionalisme neerbuig!
Waar laat dit ons? Daar is iets simbolies aan die heer Conrad Koch se lasterlike, vloekende swart pop Chester Missing. Enigeen wat nie deur ‘n buikspreker beheer word nie, sal voortaan onder verdenking verkeer en deur staatsagente en fanatiese joernaliste wat met “ons nuwe toekoms” begeester is, geteister word.
Miskien sou Marx en Lenin die Suid-Afrikaanse dialektiek verstaan: teenoor die tenderpreneur wat rojaal vir sy lojaliteit beloon word, staan die dissidente kunstenaar of denker wat met sy alterniewe sienings van die geskiedenis verketter en gestraf word. Slegs wanneer eenvormige denke finaal deur almal binne ‘n sorgvrye eenpartystaat omhels word, sal daar vryheid wees.
“Spraakvryheid” behels die steniging van afwykendes op die markplein in ‘n blye bevestiging van groepsdenke.
Aldus die swetsende sjimpansee van plastiek, oftewel: die orakel van demokrasie.
Nuwe bywerking 18 November 2014: Geagte, leser, ons het so pas die beëdigde verklaring van Conrad Koch, alias Chester Missing, se prokureurs ontvang: 90 bladsye van onverdunde linkse politiek, anti-Afrikaner- en anti-blanke propaganda. Sowel Steve Hofmeyr as ek word met die teerkwas van “rassis” bygedam.
Ook die redaktrise van die Nasperskoerant City Press, Ferial Haffajee, ondersteun in ‘n meegaande verklaring Koch se aanspraak op algehele “spraakvryheid”. Vir Koch gaan dit daaroor om Steve Hofmeyr en enige Afrikaner wat dit durf waag om hom teen politieke korrektheid uit te spreek, te belaster, te verguis en al sy bronne van inkomste deur intimidasie en propaganda af te sny.
Kan ons dit aanvaar? U het oor die afgelope week gesien hoe sommige Afrikaanse organisasies opsy staan te midde van die herrie rondom Steve Hofmeyr se “apartheid-twiet“, asook hoe ons opportunisties deur Afriforum aangeval is, noudat die ekstreem-linkse faksie ons in hul visier het.
Sonder u steun gaan ons nie dié belangrike intellektuele en hofstryd wen nie. Sluit nou dadelik by PRAAG aan, vul ‘n debietorder in met die bedrag van u keuse of kontak ons by: inlig[by]praag.org.
Ons het dit al male sonder tal op dié forum herhaal: die Afrikaner het nie die stryd verloor weens ‘n gebrek aan durf, wapentuig of selfs middele nie. Ons het die vierde sterkste weermag ter wêreld gehad, pragtige ambassades in elke Westerse hoofstad, asook die SAUK, koerante en universiteite.
Die een terrein waarop die Afrikaner die spyt afgebyt het, was op die gebied van inligting of propaganda. Uiteindelik het die ANC en SAKP die land oorgeneem, byna sonder om die spreekwoordelike skoot te skiet.
Hoe was so ‘n groteske oorgawe moontlik? Tot dusver het vele mense die klem gelê op die verraad van mnr. FW de Klerk en die Nasionale Party, maar hulle het nie met die inligtingstryd – noem dit die semantiese oorlog (SO) – rekening gehou nie.
Oral in die verlede is ons verguis, met Nazi’s vergelyk en veral uitgeskel vir “rassiste”. Die intellektuele opstand woed al lankal hier op praag, maar Steve Hofmeyr het met sy sing van Die Stem openlik teen die polities korrekte dwangbuis van die nuwe Suid-Afrika in opstand gekom.
Die Stem, daardie onskuldige volkslied waarmee ons grootgeword het, het ‘n amperse histerie in die hoofstroommedia veroorsaak. Toe Steve tien dae gelede twiet dat swartmense self vir apartheid verantwoordelik was, “go figure”, het ‘n nog groter lawaai losgebars.
Maar dit was eintlik die histerie van mense wat reeds besef dat hulle hul greep op die Afrikaner verloor het. Vandaar dus die heftige debatte en stryde wat daar tans op die internet en op sosiale media rondom Steve en sy uitsprake woed.
Vanuit die staanspoor het ons besef dat die oomblik uiteindelik aangebreek het dat mense vir hulleself gaan begin dink en nie langer die knuppel wat Beeld swaai, vrees nie.
Die SO wat tans op sosiale media woed, verg feitlik 24-uur-pe-dag-aandag.
Ons mág nie hierdie rondte verloor nie, ook nie die hofsaak wat PRAAG saam met Steve teen sy teisteraar, die polities korrekte buikspreker Conrad Koch en sy swart pop Chester Missing, aanpak nie.
Om te kan wen, sal ons alles moet insit. Maar ons het baie meer steun nodig, veral finansieel. Vul dus asb. so gou moontlik ons debietordervorm in of stuur vir ons ‘n epos na inlig@praag.org indien u ‘n kontantskenking wil maak.
Eendrag maak mag! Hierdie is opwindende tye; verandering mag dalk net om die draai lê.
Die stryd wat tans rondom die sanger Steve Hofmeyr woed, het breë gevolge vir die voortbestaan van Afrikaners en die Suid-Afrikaanse politiek in die algemeen. By tye in die verlede het Afrikaanse sangers en kunstenaars ‘n veel belangriker rol as politici gespeel om die geskiedenis ‘n nuwe rigting te laat inslaan en vandag is dit ook nie anders nie.
Dink maar aan Afrikaans self, wat deur C. E. Boniface, Jan Lion Cachet, S.J. du Toit en die Genootskap van Regte Afrikaners vanuit die niet met hekelskrifte en gedigte geloods is en in die twintigste eeu tot Suid-Afrika se belangrikste kultuurtaal sou ontwikkel. Die digter Eitemal het met sy verbranding van ‘n Britse vlag op die Tukkiekampus in die dertigerjare ‘n finale breuk tussen Boer en Brit veroorsaak en sodoende die destydse Afrikanernasionalisme ‘n hupstoot gegee.
Hofmeyr het met sy Engelse twiet oor swartmense wat die ware argitekte van apartheid sou wees („Sorry to offend but in my books Blacks were the architects of Apartheid. Go figure“) byna onmiddellik histerie in die geledere van linkse Engelse meningsvormers veroorsaak. Dit is as heiligskennis beskou. Maar sulke uitsprake wat téén die konsensusmening indruis, skep dikwels vernuwing in ons denke. Toe George Orwell en Arthur Koestler vir die eerste keer kritiek op die kommunisme in die veertigerjare gelewer het, het ‘n groot deel van die Europese intelligentsia dit as heiligskennis beskou en is hulle daarvoor verwerp. Ook Albert Camus se spottende verwysing na die Kommunistiese Party as ‘n „Rooi Kerk“ het ‘n breuk tussen hom en Jean-Paul Sartre veroorsaak en het tot hewige rusies gelei.
Dat ‘n kritiese uitspraak oor ons verlede op sigself as „rassisme“ uitgekryt word, toon in watter mate Suid-Afrika in die greep van ‘n ongesonde fanatisme en gebrek aan demokratiese verdraagsaamheid verkeer. Aangesien die huidige stelsel op soveel gebiede reeds krake vertoon, bestaan daar sekerlik die vrees dat dit sal moet verander, waardeur vele mense – nie net ANC-kaders nie – hul huidige magsposisies sou moes prysgee. Vandaar dus die heftigheid en buitenissige woede waarmee meer indringende kritiek op ons heersende ideologie begroet word.
Die buikspreker Conrad Koch verteenwoordig ‘n lid van die Engelse akademiese en media-elite wat sedert 1994 ons sienings van die geskiedenis en onsself bepaal. Koch self spog voortdurend met sy Meestersgraad in die antropologie wat van hom ‘n verhewe maatskaplike kommentator sou maak. Agter Koch staan ‘n hele falanks Engelse joernaliste en akademici wat deur hul afkeer van Steve Hofmeyr en Afrikaners in die algemeen verenig word.
Steve Hofmeyr is ‘n sanger en kunstenaar wat voortdurend met gewone mense in aanraking is. Op ‘n intuïtiewe manier sien hy die oplossing vir ons dilemma raak en hoe om die politieke skaakmat wat ons bereik het, te omseil. Wat as nie net Afrikaners en blankes nie, maar ook swartmense, aan apartheid aandadig was? „Gedeelde aandadigheid“, noem Hofmeyr met sy gebruiklike opgewektheid dit op Twitter.
Dis ‘n radikale idee, maar nie so vergesog nie.
Dat die vorige politieke stelsel oor baie dekades en selfs eeue heen in ons land óók deur swartmense ondersteun en onderhou is, kan sekerlik nie in twyfel getrek word nie. Vandag sit Buthelezi en Holomisa, wat voorheen tuislandleiers was, saam met die ANC in die parlement. Almal vind dit normaal. Anders as na Hofmeyr, slinger niemand doodsdreigemente na hulle toe nie. Frederik van Zyl Slabbert het iewers gesê dat tot sestig persent van die Suid-Afrikaanse bevolking op ‘n stadium by die apartheidstelsel betrokke was, dus is ons almal ewe „skuldig“.
Die casinomagnaat, Sol Kerzner, het danksy apartheid skatryk geword. Dalk moet ons hom „die apartheidsmiljardêr“ noem. Vandag behoort een van die mees luukse hotelle in Kaapstad steeds aan hom. Sien ons dat die skuim-om-die-mond-linkses en -liberale voor sy hotel betoog of hom op Twitter verguis en belaster? Nee, kennelik nie.
Daar mag ‘n donker kant wees aan Steve Hofmeyr se stelling oor swartmense wat die argitekte van apartheid was. Tot dusver het hy self nie veel daaroor uitgebrei nie, maar miskien hoef hy ook nie. Die meeste van sy ondersteuners verstaan dit instinktief. Dit het te make met iets soos „self-segregrasie“, ‘n term wat insgelyks deur die Joods-Suid-Afrikaanse skryfster, Ilana Mercer, gebruik word. Mercer is ‘n „klassiek-liberale libertariër“ wat tans iewers in Washingtonstaat, daar waar Boeing en Microsoft gesetel is, woon.
Vele swartmense, om van lede van bepaalde stamme nie te praat nie, verkies om apart van ander te woon. Onlangs het van die links-liberale meningsvormers juis gal gebraak oor „die terugkeer van apartheid“ vir bykans 20 miljoen plattelandse swartmense in ons land wat hulle in sogenaamde „tradisionele gebiede“ bevind en steeds aan inheemse reg en die gesag van stamkapteins onderworpe is. Hul eeue oue gebruike, regstelsel en kultuur, het bestaan lank voor die Stellenbosse sosioloog, dr. Hendrik Verwoerd, van apartheid gepraat het en het hom oorleef! Die kaart van tradisionele gebiede in ons land stem presies ooreen met dié van die ou TBVC-state, tesame met die nie-onafhanklike maar selfregerende tuislande.
‘n Ander aspek van die debat wat Hofmeyr aangeroer het, maar wat vele mense verseg om, hetsy weens domheid, hetsy weens vooroordeel, raak te sien, is dié rondom die ontwikkelingsagterstand van Afrika wat noodwendig op ‘n stelsel van blanke of Europese oorheersing moes uitloop. Die liberale Amerikaanse akademikus, Jared Diamond, het ‘n hele boek daaroor geskryf met die titel, Guns, germs and steel, wat elke Suid-Afrikaner behoort te lees. Daar is ook ‘n aanlynvideo beskikbaar waarin Diamond oor sy idees uitbrei, wat ewe interessant is.
Steve Hofmeyr word van „rassisme“ beskuldig, terwyl hy bloot ‘n soort revisionistiese „nouvelle histoire“ bedryf. Die mense wat hom vir „rassisme“ verkwalik, herinner my aan die „groot wit marxiste“, ‘n term wat in my universiteitsdae gewild was; dit is linkses, veral natuurlik marxiste, wat ‘n taamlik minagtende siening van swartmense se politieke en intellektuele vermoëns koester en self beter weet wat vir hulle goed is. Daarom sien die groot wit marxis die swartman as ‘n soort kinderlike slagoffer van die geskiedenis en apartheid sonder dat hy self daaraan deelgeneem het. Sulke mense het natuurlik nog nooit verder as Rousseau se agtiende-eeuse stereotipe van die „edele barbaar“ gekom nie.
Wie is nou eintlik die rassis, Hofmeyr of die groot wit marxis wat slegs die „kind van Afrika“ soos in Ingrid Jonker se gedig raaksien, maar nie die volwasse Afrikamens wat op gelyke voet aan die geskiedenis deelneem nie?
Vanoggend word ek vieruur wakker en dink aan daardie roman wat ek al lankal wou skryf oor ‘n taamlik geleerde blanke boemelaar wat in Johannesburg se strate rondswerf. Of liewer, hy gebruik sy skeppende vermoëns en sy vindingrykheid om sonder enige inkomste hoegenaamd homself te klee, te voed, terwyl hy oor geen vaste adres beskik nie.
Om te boemel kan ook ‘n metafoor word vir die toestand van die Afrikaner in Suid-Afrika. Alles in ag genome, as jy elke polities korrekte uitspraak oorweeg – vanaf Malema en die EFF se bewerings dat die boere hul grond “gesteel het” tot by Adriaan Basson van Beeld se veldtog teen Steve Hofmeyr se “rassisme” – is die Afrikaner wesentlik nie meer deel van Suid-Afrika nie. Op straat, in ons huise en op plase, boemel ons net soos daardie onwelriekende, alkoholiese wit mans wat ek op my eerste besoek aan Frankryk in die moltreintstasies ontdek het. In die ou Suid-Afrika was blanke boemelaars, karwagte en bedelaars by die verkeersligte haas onbekend. Ek sou sê dit was feitlik onvoorstelbaar – soos baie dinge wat deesdae gebeur.
Vanaf ingenieur, professor of operasanger, het die Afrikaner nou verval tot boemelaar. Hoe laag het ons nie gedaal nie! Hoe het dit gebeur? Waar het die verrotting, die gangreen – die “kouevuur” soos een van die taamlik tragiese Breyten Breytenbach se digbundels heet – begin? Ek sou sê dit had sy aanvang in die kunste. Want toe die Afrikaner in die 1960’s ryk word, word hy dekadent. Of liewer, die skrywers, die kunstenaars, die akademici – ‘n parasitiese klas wat destyds rojaal deur die staat onderhou is – het eerste dekadent en siek geraak. Van daar af het dit soos ‘n seksueel oordraagbare siekte na die politici en die koerantmanne versprei.
Mense soos André P. Brink kon soggens laatslaap en ‘n halfuur voor hy ‘n lesing te Rhodes op Grahamstad moes lewer, opstaan en met nat hare voor sy studente gaan poseer. Van agter sy swartraambril kon hy die jaar se oes vrouestudente beloer, waarvan vele tot sy harem toegelaat sou word. Sommige sou in sy boeke verewig word, “voor hy vergeet”. Verwoerd was die laaste politikus wat die groot prentjie kon raaksien; vandaar dus sy subtiele dog snydende kritiek op Van Wyk Louw se drama tydens sy beroemde Republiekdagtoespraak van 31 Mei 1966, wat ‘n hele fladdering in die hoenderhok veroorsaak het. Veral daardie hoenderhok waar libvertraagde, Bloedsap-, half-Engelse “skrywers”/akademici soos André P. Brink en ander op die gewone Afrikaner se sukses en ywer geteer het.
En natuurlik was Brittanje en Fleetstraat altyd daar om enige Afrikanerverraaier of -ondermyner op te hemel. Met die Rand Daily Mail wat agterna, in volmaakte Londense nabootsing, kef. En vandag stem die Afrikanerzombies en masse vir die joernaliste van die Rand Daily Mail!
My onlangse eboek in die Rooitaal het (nog nie) die opskudding veroorsaak waarop ek gereken het nie. Die hoop beskaam egter nie. Vroeër of later sal die boodskap wat daarin vervat is, dat die Engelse identiteit in Suid-Afrika nabootsend van aard is, wel na bo borrel. En natuurlik was die hele “moderne” of “verligte” of “liberale” letterkunde-“beweging” in Afrikaans net so ‘n spul na-apery! Op enkele uitsonderinge na, waar die werklikheid as’t ware soos ‘n ongenooide gas in sekere Afrikaanse boeke of produksies opgedaag het, is iets oorspronkliks met ‘n bietjie waarde geskep.
Nie verniet nie, was Van Wyk Louw in sy aanmoediging van “vernuwing in die prosa” destyds bevrees vir die “jong Sestigerskrywers” se onvermoë om Afrikaans te skryf. Eers het Afrikaans vertaalde Engels geword en toe sommer kreools. Terwyl die oppervlakkigheid en politieke korrektheid hand oor hand toeneem.
Dis nogal ironies dat ons voortbestaan vandag van sangers afhang. Tussen Bok van Blerk en Steve Hofmeyr het ons in ons ellendige boemelaarskap iets van ons selfrespek teruggekry. De la Rey, De la Rey…
My grootste vrees is dat daar iets met Steve Hofmeyr kan gebeur; besef ons watter waardevolle rol hy vandag speel? Ons is verraai, verloën, verlaat. Onder die meer bekende openbare figure is Steve die enigste wat bereid is om politieke korrektheid uit te daag. Hy herinner Suid-Afrika daaraan dat diegene wat hierdie land as eertydse nywerheidstaat tot stand gebring het, vandag soos stiefkinders (of boemelaars, wit plakkers) behandel word. Daarvoor word hy deur Beeld se keffers – sjoe, hoe dubbelsinnig klink daardie woord nie nou nie – verguis. Want hulle is keffers, selfs naturelle – Britse naturelle – wat slegs op die volgende bevel of suggestie vanuit Londen reageer. Londen is die hoofstad van politieke korrektheid en selfs die jammerlike Amerikaanse weergawe daarvan geskied in nabootsing van Engeland.
Vandaar dus hierdie oproep tot ‘n neoreaksionêre beweging in die kunste. Ons beskik reeds oor neoreaksionêre sangers soos Steve Hofmeyr en Bok van Blerk wat nie huiwer om ‘n vervloë, patriotiese toon aan te hef nie.
In my vorige stuk oor die Donker Verligting het ek nagelaat om te noem dat Mencius Moldbug, een van die woernaalskrywers wat onlangs dié term begin bevorder het, dit ook as “neoreaksionêr” beskryf. ‘n Klompie jare gelede het die mees vertaalde eietydse Franse skrywer, Michel Houellebecq, hom insgelyks as ‘n “neoreaksionêr” gedefinieer. Tot my skande was ek egter nie daarvan bewus dat “neoreaksionêr” ‘n baie ou term uit die Franse geskiedenis verteenwoordig nie! Eers toe ek Moldbug se woernaal A gentle introduction to Unqualified Reservations begin lees, het ek dit besef. Berge val op my, vlaktes bedek my: ek het dit nie geweet nie!
Die (neo-)reaksionêre denkers was histories diegene wat die ou orde, wat op Frans die ancien régime heet, ná die revolusie wou herstel. In weerwil van die romantiese en polities korrekte, “demokratiese” inkleding daarvan, was die Franse revolusie een van die mees rampspoedige gebeure in die geskiedenis en ek sou sê plaasmoorde is maar net die jongste uitwas daarvan.
As mens dit op Frans google, kom jy op die volgende Wikipedia-definisie af:
Le néo-réactionnisme ou néoréactionnisme est un courant de pensée politique d’origine française apparu au début du XXIe siècle et pouvant être défini comme une version réactualisée et radicalisée du libéral-conservatisme.
[Overgezet synde: Die neo-reaksionisme of neoreaksionisme is ‘n denkrigting van Franse oorsprong wat aan die begin van die 21ste eeu verskyn het en as ‘n bygewerkte en geradikaliseerde weergawe van liberaal-konserwatisme omskryf kan word.]
Ook Steve Hofmeyr, die mees sigbare neoreaksionêr in Suid-Afrika, beroep hom soms op ‘n terugkeer na klassieke liberalisme, spraakvryheid en soos hy dit gister op Twitter stel, “ware nie-rassigheid”:
@danroodt Ironies baklei ek vir die EINTLIKE nierassige SA, nie hierdie halfaanmekaargespykerde kaksak van kommunisme&swart terapie nie
Mencius Moldbug is blykbaar ‘n leser van Joseph de Maistre (1 April 1753 – 26 Februarie 1821), een van die vernaamste klassieke reaksionêre wat die monargie in Frankryk herstel wou sien. Hy het ook hiërargiese samelewings verdedig en het gemeen dat gesag nie op enige rasionale argument mag berus nie, iets wat tot geweld en wanorde sou lei. (Ervaar ons nie presies dít vandag in Suid-Afrika, met sy oënskynlik rasionele “demokrasie” en “wonderlike grondwet” nie?) Waarskynlik is latere denkers soos Nietzsche of Carl Schmitt insgelyks deur De Maistre beïnvloed. Danie Goosen met sy pleidooie vir gemeenskap en tradisie maak ook sulke geluide.
Oor hïerargie in die politiek is daar sekerlik veel te sê. Onderliggend aan die welslae van die ou Suid-Afrika was ‘n bepaalde hiërargie wat oor eeue heen tot stand gekom het. Soos Steve Hofmeyr vandeesweek getwiet het, het swartmense daartoe ingestem en was dus ten minste “mede-argitekte van apartheid”. Die ou ZAR het nie territoriaal uitgebrei omdat Paul Kruger ‘n kolonialis was nie, maar omdat die swakker swart stamme hulle onder die beskutting van die Afrikanerstaat wou inlyf! “Apartheid” of die hiërargie van blanke regering oor swart stamme, het dus gespruit uit die swartman se behoefte aan wet en orde en veral beskerming teen die geweld van sy swart teenstanders.
Waaroor dit egter hier gaan, is neoreaksionisme in die kunste: musiek, letterkunde, teater, beeldende kuns. Polities en militêr is ons deur De Klerk-groepering magteloos gestel, maar ons kan nog steeds sing, skryf, skep. Hoewel, as ons dit nie begin doen nie, gaan die kruipende sensuur van politieke korrektheid ons in elk geval van daardie vryheid óók ontneem!
Namate sensuur toeneem, sal so ‘n neoreaksionêre beweging in ‘n sekere mate ook ‘n samisjdatbeweging moet wees, ‘n e-samisjdat. Eintlik gebeur dit reeds. Indien dit nie vir die internet was nie, sou ons teen dié tyd net daaglikse odes aan Nelson Mandela en die noodsaak vir regstellende aksie in die koerante gelees het. Niks anders sou meer toelaatbaar gewees het nie.
Enigiets wat deesdae op papier gedruk word, is op een of ander manier polities korrek. Dis seker logies, want daar bestaan soveel hekwagters, by die koerante, die tydskrifte, die uitgewers, die keurders, selfs die boekwinkels, ens., dat enige dissidente geluid lankal reeds voor al die struikelblokke gaan sneuwel alvorens die publiek nog daarvan kon kennis neem.
Daarom gaan so iets noodwendig aanlyn moet gebeur, of in die vorm van e-boeke. Dit kan egter ‘n baie opwindende tydvak in Afrikaans inlui waar ‘n nuwe boek of opstel of geskrif nie meer in jou “hoofstroomkoerant” geresenseer word nie, maar op Twitter of Facebook aangekondig word. Dis ‘n soort “kopskuif” wat ons moet maak, om nou ‘n woord te gebruik wat eintlik al polities korrek klink – so in die trant van “pas jou by jou eie ondergang aan” – maar u verstaan wat ek bedoel. Nuwe maniere van dink en doen sal gevind moet word om in die aangesig van die staat en die polities korrekte oormag weereens die blommetjie of die doringboompie wat Afrikaans is, te laat gedy.
Uiteraard verg ‘n neoreaksionêre beweging in die kunste geweldig moed. Nie net omdat skrywers, sangers en ander kunstenaars van meet af aan aangeval en verguis gaan word nie – daaraan is ons al amper gewoond – maar omdat dit vir die eerste keer in ‘n lang tyd iets oorspronkliks sal wees. Die tydvak van die na-aper, die mimiekmodernis – die skrywer V.S. Naipaul het na Wes-Indiërs as “mimiekmense” (mimic men) verwys – is verby en vir die eerste keer waag ons ‘n sprong in die donker, iets oorspronkliks en kloekmoedigs.
Hierdie keer gaan ons nie die reeds gekanoniseerde oorsese produkte en vorme plaaslik “bekendstel” nie, maar volledig as gelykes deelneem en dalk selfs op die voorpunt nuwe voorstellings skep. Uit daardie voorstellings moet ‘n nuwe orde, wat dalk meer soos die oue gaan lyk, tot stand kom. Ons is siek en sat van die “heerlike dekadensie” en paradyslike wreedheid wat ons omring.
Miskien moet ons, soos van ouds, ‘n manifes vir so ‘n beweging skryf. Ek kan reeds dink aan ‘n plek waar ons dit sou kon bekendstel: in die middestad van Johannesburg, in een van die half gesloopte ruïnes van geboue wat deur ons grootste argitekte van weleer ontwerp is.
As blanke boemelaars kan ons só – ironies – ons huidige ellende en vergange glorie vier.
Moontlik is dit ongevraag van my om ‘n skrywe aan u te rig, maar dan was dit ewe ongevraag van u om ‘n ope brief aan Steve Hofmeyr te skryf waarin u die Afrikaanslesende heelal met u histrioniese gemeenplase teister. Oktober, soos C. Louis Leipoldt gedig het, is “die mooiste, mooiste maand”. Maar danksy u epistel, sluit ons dié aanskoulike maand op ‘n aaklige noot af.
Die sonskyn en die blou lug daarbuite kan beswaarlik vir die donker, muwwe botheid wat uit u kwaadwillige bewussyn spreek, vergoed.
Ten eerste, merk u waarskynlik op dat ek u woewoejeer en nie, soos u met mnr. Steve Hofmeyr maak, hom tutojeer nie. Ek ken u nie, net soos u vir Hofmeyr nie ken nie. Daarom is dit onbeskof om hom te “jy” en “jou”. Die woord “bleddie” is ook allermins ‘n byvoeglike naamwoord wat by ‘n, op die oog af ernstige, politieke argument pas.
Dus, indien u voortaan met Afrikaners in gesprek wil tree of ope briewe aan hulle wil rig, stel ek voor dat u van ons “goeie maniere en etiket” kennis neem, om nou die titel van Emsie Schoeman se vermaarde handleiding in dié genre sydelings aan te haal.
Ek bemerk ook dat u “handjievol” (‘n “handjievol rassiste”) as een woord skryf, terwyl die AWS dit as twee woorde (“handjie vol”) beskou. Ek weet, ek weet, waarskynlik beskou u dit as ‘n kleinigheid, gegewe die verwerping van Standaardafrikaans wat deur soveel van ons bruin landgenote voorgestaan word, maar ons sien dit raak.
Afrikaans, soos baie ander dinge – ook die Suid-Afrikaanse geskiedenis – is ingewikkeld. Dit is maklik – fasiel, soos die Franse sê – om alles tot ‘n karikatuur te vereenvoudig, maar daardeur gaan die wese daarvan verlore.
U “ope brief” – wat sal ‘n mens dit noem, ‘n “tutojerende preek”? want u preek vir Steve Hofmeyr – gaan van die standpunt af uit dat die stereotipiese marxistiese interpretasie van ons geskiedenis die enigste sou wees wat daar bestaan. Intussen is daar meer as een verhaal, wat steeds – en toenemend – in mededinging verkeer. Al mag u so dink, het die revolusie nog nie sy gesogte, keiharde hegemonie kon afdwing nie. Soos wat korrupsie, onbekwaamheid en grypsug toeneem, is daardie mooi verhaaltjie besig om uit te rafel. Min denkende mense neem dit nog ernstig op.
Verder is daar by u sprake van dieselfde soort ressentiment wat ek ‘n klompie jare gelede al by Kirby van der Merwe geïdentifiseer het. Ek het dit in ‘n brief aan Rapport verwoord wat ek vermoed nooit geplaas is nie, maar wat ek sommer nou elders publiseer en waarin ek die soort anti-Afrikaner-ressentiment wat blykbaar die “bruin” of “kleurlingdiskoers” kenmerk, geëien het.
U brief is insgelyks deurdrenk van anti-Afrikaner-ressentiment. Asof die Engelse, Indiërs, swartes – en bruines! – in dié land nie ook heelwat vergrype op hul kerfstok het waarvoor ons hulle kan kwalik neem nie. Veral in hierdie, sogenaamde “nuwe Suid-Afrika” met sy vernietigende geweld, verkragting, moord en doodslag, lyk dit nogal anachronisties om die magtelose en vertrapte Afrikaners vir enigiets te blameer.
U oorskat werklik die invloed van die sogenaamde “opmars deur vroue na die Uniegebou van 1956” waaraan u Steve Hofmeyr herinner. Tydens die tweede wêreldoorlog, maar ook vroeër na afloop van die Rebellie in 1915, het veel groter groepe Afrikanervroue teen pro-Britse regerings betoog, iets wat intussen in die vergetelheid versink het. In 1915 het “duisende Boerevroue wat per trein van oor die hele land aangekom het, in swart geklee en in doodse stilte vanaf Kerkplein na die Uniegebou gestap om ‘n petisie vir die vrylating van generaal Christiaan de Wet aan die regering te oorhandig”. Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog het ongeveer “negeduisend Afrikanervroue na die Uniegebou gestap het om te betoog dat die Unie neutraal moet bly in die oorlog wat in Europa woed”.
Dit was voorbeelde van spontane protes teen regeringsbeleid, terwyl die fameuse voorval van 1956 deur ‘n klein groepie (hoofsaaklik Joodse) kommuniste gereël en georkestreer is om die illusie te skep dat daar radikale of kommunistiese steun onder swart vroue bestaan, terwyl die kommuniste in werklikheid oor geen steun buite enkele oorwegend Joodse voorstede in Johannesburg en Kaapstad beskik het nie. Terwyl u u roem op u rasgenoot, Sophia Williams- de Bruyn, wat glo “ruggraat” gehad het, was sy bloot ‘n figurant in die skema van die Slovo’s, asook Hilda en Rusty Bernstein wat ten doel gehad het om Suid-Afrika in ‘n vasalstaat van die destydse kommunistiese Oos-Europa te omskep. Lees gerus Joe Slovo se biografie deur Alan Wieder as u met my sou verskil.
Verlede jaar het die SA Joodse Raad van Afgevaardigdes en die SA Jewish Report ‘n terugwerkende besluit aangeneem wat hul onvoorwaardelike steun aan die klein groepie radikale, kommunistiese Jode van destyds toesê. Intussen sien ons egter hoe verhoudinge tussen Moslems en Jode in Suid-Afrika toenemend versleg en was daar die onlangse voorval waar ‘n varkkop in die kosjergedeelte van Woolworths se vleisafdeling in die Kaap ingesmyt is. Ek twyfel dus werklik of selfs Jode as etniese groep deesdae so trots op die radikale kommunistiese en terreurbeweging van vorige dekades is, ‘n beweging wat u klakkeloos ophemel.
Daarom bevestig u maar net weer wat ons al lankal vermoed: dat u etniese groep die hand van vriendskap wat die Afrikaner na u oor baie jare uitgereik het – selfs in die vyftigerjare met Van Wyk Louw en D.P. Botha – weggeklap het en verkies om met ons vyande téén ons te heul, of hulle nou kommuniste, terroriste, of Britse kolonialiste is.
Indien u hoegenaamd as joernalis die moeite en die nodige ondersoek sou gedoen het, sou u gevind het dat Verwoerd, byvoorbeeld, waarna u so neerhalend verwys, geensins vyandig teenoor kleurlinge gestaan het nie. Trouens, in sy “Toespraak voor die Uniale Raad vir Kleurlingsake te Kaapstad op 12 Desember 1961 het hy die volgende te sê gehad:
“Die Kleurlinge kan een deel van die land tereg beskou as oorwegend die plek van hul herkoms, die bronaar van hul bestaan: Wes-Kaapland. Ek begryp goed dat die instroming van die Bantoe in die gebied waar daar vroeër nie Bantoes was nie, gesien kan word as ‘n ontwikkeling wat kanse van die Kleurlinge wegneem, en dit nogal juis in die gebied waar hulle hul beste kanse verwag…”
Kennelik is die gedagte dat die bruinmense van die Wes-Kaap nie deur die Xhosas van die Oos-Kaap demografies, polities en ekonomies oorheers behoort te word nie, vandag oudmodies en behorende tot “apartheid”. Die nuwe idee is juis dat die bruin minderheid van die Wes-Kaap oorheers móét word! Gegewe die oplaaiende Boerehaat wat ek egter in u “ope brief aan Steve Hofmeyr” en op baie ander plekke bespeur, kan ek u verseker dat ons nou genoeg gehad het van “stank vir dank”. Solidariteit maak ‘n groot fout om regstellende aksie teen bruines ten gunste van swartes in die hof te beveg. Sekerlik spruit dit uit hul Verwoerdianisme en behoort dit onmiddellik gestaak te word!
U beskou uself as “swart”. Dit is eenvoudig te wonderlik vir woorde en ek stel voor dat u sonder verwyl by Julius Malema se EFF aansluit waar u behoorlik die beleidsrigtings van ‘n swart bewussyn kan verinnerlik. Sekerlik behoort dit by Beeld ook bevorderingsmoontlikhede in te hou, want die gebreinspoelde “bleek naturelle” – om die ewe dom en verwarde Max du Preez se term te gebruik – in u werksomgewing sal geredelik hul meer senior poste aan u wat met ‘n donkerder gelaat geseën is, afstaan.
In u histrioniese uitbarsting van “swart” slagofferskap, hoon en belaster u Steve sonder enige gronde as “rassis” en moedig hom selfs aan om die land te verlaat:
As dit nie meer vir jou lekker is hier in die sonnige Suid-Afrika nie, pak op en trek. As dit te swart is en as daar te veel wit mense is wat nie met jou saamstem nie, laat jy gestap raak, boetie.
Boetie, nogal. Ek kan nie namens Steve praat nie, maar ek kan u verseker dat ek of my gesin kwalik “gestap sal raak” omdat iemand uit u milieu ons daartoe beveel. Veel eerder sal ek geld skenk om meer Xhosas in busse aan te ry Wes-Kaap toe dat, soos Jimmy Manyi gesê het, die “oor-konsentrasie van kleurlinge in die Wes-Kaap” beëindig kan word.
Dis mos ‘n oorblyfsel van apartheid, nie waar nie? Dat ‘n minderheidsgroep hom so blatant rassisties aan die res van die land en die meerderheidswil kan ontruk deur vir ‘n blanke vrou, me. Helen Zille, te stem! Waarom aanvaar die Wes-Kaap nie die regering van mnr. Zuma nie? U mag “bevry” wees, maar waarskynlik is die Wes-Kaap nog nie genoegsaam bevry nie.
U sê verder:
Ek en miljoene mense in die land is moeg vir mense soos jy en al die verkrampte regses wat ons in hul binnekamers en om hul braaivleisvure beledigende en rassistiese name noem.
Ek ken nie veel “verkrampte regses” nie, maar wel libverkramptes wat ons ons spraakvryheid ontsê en geen afwyking van hul polities korrekte, kwasi-religieuse dogma duld nie. Wat rassistiese name betref, het ek al vele swartmense teëgekom wat niks van Wes-Kaapse bruinmense hou nie en hulle dinge soos “Boesman”, asook woorde in hul eie tale, toesnou. Gegewe haar swart status, voel me. Keppler waarskynlik dieselfde oor die bruines, maar ek sal met belangstelling die jongste voorbeeld van Afrika-konflik tussen ligter en donkerder “swart” dophou, soos dit al tydens die burgeroorloë in Liberië en in Angola gemanifesteer het.
Me. Keppler beweer dat swartmense in die ou Suid-Afrika nie op die sypaadjie mog loop nie. In antwoord hierop het iemand die volgende video op YouTube opgediep wat in die sewentigerjare in Johannesburg en Kaapstad geneem is, en aantoon watter infame leuen dit is. Hier loop swart en wit heerlik op die sypaadjies saam. As nuusredakteur van Beeld, behoort me. Keppler seker van beter te weet as om so ‘n blatante onwaarheid selfs in ‘n meningstuk te verkondig.
Met ‘n bietjie verbeelding en insig kan ‘n mens seker Steve Hofmeyr se uitnodiging aan mense om te dink oor hoe swartmense “die argitekte van apartheid was” op verskeie maniere interpreteer.
Toe RW Johnson in sy boek, South Africa’s brave new world, enkele jare gelede die Nuwe Suid-Afrika as ‘n “groot Bantoestan” beskryf het, het enigiemand beswaar gemaak of hom van rassisme beskuldig? Nee, want hy is mos ‘n Engelsman van Natal en geen Afrikaner nie. Ook die Business Day het onlangs die volgende twee kaarte gepubliseer om aan te toon dat apartheid steeds voortleef as dit by stamowerhede in Suid-Afrika kom:
Tuislande: toe en nou
Het Beeld en Keppler dit goed gedink om die Business Day vir ‘n verregse, “rassistiese” publikasie uit te kryt en sy redakteur beveel om “gestap te raak, boetie”? Nee, want in Beeld se kruiperige onderdanigheid teenoor alles wat Engels is, sal die gedagte nooit eens in die verskiet verskyn dat die Business Day op dieselfde hovaardige en minagtende wyse as Steve Hofmeyr verguis behoort te word nie.
Afrikaners is mos “vrye wild”, soos ook tydens plaasmoorde. Ons meningsvryheid en selfs ons lewens tel nie vir die polities korrekte kabaal wat as die Beeld-redaksie bekendstaan nie.
Die ander punte wat Steve oor “andersheid” en die “Afrika-agterstand” gemaak het, is ewe geldig. Maar ook: indien mense uit Afrika in die verlede Wes-Europa gaan regeer het – iets wat hulle dalk binne hierdie eeu gaan doen, gegewe hul onverbiddelike demografiese vooruitgang! – sou hulle nie ook ‘n vorm van skeiding of onderskeid tussen rasse of groepe gehandhaaf het nie? Reeds sien ons in ons land dat swartmense veel meer rasbewus as blankes is en deur wetgewing hul eie “apartheid”, wat hulle regstellende aksie of swart bemagtiging noem, afdwing.
Die onverdraagsame histerie waarmee daar op Steve Hofmeyr se uitnodiging tot nadenke en debat gereageer is, toon aan ons hoe min u, me. Keppler, asook Beeld en vele ander in dié land, van die “oop gesprek” en ware “demokrasie” soos dit dekades gelede al deur N.P. van Wyk Louw geformuleer is, verstaan!