Afriforum kies kant vir Daily Show en Daily Maverick teen Dan Roodt

Deel op

PRAAG het met uiterste verbasing gereageer op ‘n verklaring deur Kallie Kriel namens Afriforum.

Kriel het ‘n leunagtige en kwaadwillige redigering van ‘n Amerikaanse TV-program Daily Show, oor sogenaamde “wit rassiste” gebruik om PRAAG en dr Roodt by te kom en insgelyks vir “rassisme” te veroordeel.

Tans word die Amerikaanse opname waarna Kriel verwys, oral op die internet versprei deur ondersteuners van die buikspreker Conrad Koch en sy pop Chester Missing.

PRAAG het Koch verlede week gedwing, mbv ‘n suksesvolle tussentydse teisteringsbevel, om ‘n kwaadwillige veldtog teen Steve Hofmeyr te staak.

Intussen het organiseerders van die Afrikaans is Groot-konsert bevestig dat die geleentheid wat Koch en sy ondersteuners wou sink, voortgaan.

Hier volg die verklaring van Afriforum:

AfriForum het Dan Roodt van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) skerp gekritiseer oor die rassistiese uitsprake oor swartmense wat hy gemaak het in ʼn satiriese insetsel wat uitgesaai is in die Amerikaanse TV-program “The Daily Show with Jon Steward”. Die insetsel wat in 2010 vervaardig is, is nou weer in die nuus nadat Roodt pas aangedui het dat hy die TV-program se vervaardigers wil dagvaar. Die insetsel kan gesien word by http://vimeo.com/28532814

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit jammer dat ʼn klein groepie randfigure se optrede telkens misbruik kan word om Afrikaners in ʼn slegte lig te probeer stel.

“AfriForum kan nie stilsit en toekyk hoe Afrikaners se billike aansprake, bespotlik gemaak word weens die rassistiese uitsprake van randfigure soos Roodt nie,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum glo in die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen Suid-Afrika se onderskeie gemeenskappe.

“Net soos wat AfriForum nie huiwer om standpunt in te neem teen die rassisme wat swartmense soos Julius Malema teenoor wittes uiter nie, spreek AfriForum hom ook sterk uit teen wit randfigure se rassisme,” het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel is dit belangrik dat die wêreld weet dat die oorgrote meerderheid Afrikaners nie rassistiese bullebakke is nie, maar ʼn groep met billike aansprake vir ʼn beter toekoms, gegrond op internasionaal erkende regte. Die feit dat Roodt ʼn randfiguur is, word volgens Kriel bevestig deur die feit dat Roodt se politieke party, Front Nasionaal, skaars meer as 5 000 stemme ontvang het tydens vanjaar se algemene verkiesing in Suid-Afrika. Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, verteenwoordig daarenteen tans gesamentlik meer as 250 000 huisgesinne.

“Die feit dat Dan Roodt se uitsprake met soveel effektiwiteit die slegste moontlike stereotipe van Afrikaners probeer bevestig, laat ʼn mens amper wonder of Roodt doelbewus daarop uit is om Afrikaners in ʼn slegte lig te stel,” het Kriel gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.