praag.co.za

Afrikaans was eens ‘n koninklike en handelstaal in Europa

Written by

in

,

Dis nogal opvallend watter prominente rol Nederlanders, maar ook deesdae taalkundiges van die Potchefstroomkampus van die NWU, speel om die “kombuistaalteorie” van Afrikaans te bevorder! Eers was daar Valkhoff wat met sy boekie New light on Afrikaans and Malayo-Portuguese in die sewentigerjare die eerste skoot geskiet het. Toe ene Hans den Besten wat insgelyks beweer het dat die struktuur en woordeskat van Afrikaans aan Maleis en Koikoi ontleen is.

roodt_dan_wikiAlles dui egter daarop dat Afrikaans oor baie eeue heen “suiwer” gebly het, asook dat die taal eens ‘n hoë status as handels-, regs- en hoftaal in Noord-Europa geniet het.

Die geskrewe tradisie van Afrikaans is min of meer 800 jaar oud. Hoewel daar vandag na ons taal wat in die Middeleeue gepraat is as “Middelnederlands” verwys word, moet ons onthou dat nóg die staat Nederland nóg die taal “Nederlands” destyds bestaan het. Daarom het ons Middeleeuse digteres en briefskryfster Hadewijch die volgende in ‘n brief geskryf sonder om veel te wonder wat haar taal genoem word:

“Maer die rechte gheloeveghe hi sal weten dat die goetheit sijns liefs meerre es dan sijn sneven.”

In moderne Afrikaans lui dit so: “Maar die regte gelowige hy sal weet dat die goedheid van sy liefde meer is as sy dood.” Ons kan onmiddellik aflei dat “sneven” iets met doodgaan of sterf te make het. Trouens, die woord “sneef” as sinoniem vir “sneuwel” bestaan steeds in moderne Afrikaans en kan in die HAT opgekyk word.

Hadewijch het in die Hertogdom van Brabant gewoon wat dele van teenswoordige België en Nederland ingesluit het; vandaar die benaming “Brabants” wat aan die taal van daardie streek gegee is. As ons egter verby die verskille in spelling kyk, kan ons sien hoe min ons taal oor 800 jaar verander het!

Trouens, min ander tale ter wêreld kan hulle daarop roem dat hulle oor soveel eeue hul “reinheid, sterkte en hoogheid” behou het. Laasgenoemde drie terme verteenwoordig die opdrag van die Sweedse Akademie wat die wêreldberoemde Nobelpryse uitdeel, om die “Sweedse taal se reinheid, sterkte en hoogheid” (Svenska språkets renhet, styrka och höghet) te handhaaf.

Soortgelyk aan die verskille in spelling tussen Hadewijch se Middeleeuse Brabants en Afrikaans, verskil die Sweedse spelling ook van Afrikaans, maar ons kan sien dat al drie woorde (reinheid, sterkte en hoogheid) presies dieselfde is.

Ongeveer 95% van die woordeskat of leksikon van Afrikaans stem ooreen met dié van Nederlands, daarom is die twee tale onderling verstaanbaar. Afrikaans is egter geensins “vereenvoudigde Nederlands” nie. Vele Afrikaanse woorde kom ooreen met terme in Duits en die Skandinawiese tale, soos ons so pas vanuit die Sweedse voorbeeld kon aflei. Meer nog: Hoewel die eerste taalbeweging Afrikaans ter ere van ons vasteland vernoem het, kon ons dit ewe seer “Eurokaans” of “Nederduits” genoem het, want min mense besef watter merkwaardige ooreenkomste daar tussen die grammatika, idiome en woordeskat van verskeie Nederduitse dialekte en dié van Afrikaans bestaan.

Die woordjie “vir” wat ons aanmekaar gebruik, is afkomstig uit die Holsteinse dialek van Nederduits waar hulle dit “ver” spel (die Nederlanders sê “voor” en in Hoogduits is dit “für”). Net so bestaan die term “dörnat” in Holsteins (“deurnat” in Afrikaans), terwyl Hoogduits “durchnaß” gebruik.

Waarom staan die NG Kerk van Afrikaners as die “Nederduitse Gereformeerde Kerk” bekend en nie as die “Nederlandse Kerk” nie? Waarskynlik het die kerkvaders in die sewentiende eeu gevoel dat “Nederduits” ‘n beter beskrywing van die oorsprong van hul lidmate was as bloot “Nederlands”. Die Duitse dialek wat in die noordoostelike hoek van Duitsland, die deelstaat Mecklenburg-Voorpommere, asook die eiland Rügen, gepraat word, toon juis die grootste ooreenkomste met Afrikaans.

Op die Noord-Duitse eiland Rügen word selfs die beroemde Afrikaanse dubbele ontkenning aangetref! Die ongelukkige is egter dat die Nederduitse dialekte van Noord-Duitsland met hul fassinerende sleutels tot die herkoms van Afrikaans as gevolg van die tweede wêreldoorlog grotendeels uitgesterf het. Ongeveer driemiljoen mense praat nog Nederduitse dialekte, vergeleke met honderdmiljoen wat Hoogduits, die taal van die Suide, magtig is.

Daarom verteenwoordig Afrikaans nie net die taal van byna 400 jaar se geskiedenis in Suid-Afrika nie, maar ook ‘n voorafgaande 300 jaar se Europese geskiedenis toe Nederduits die lingua franca en handelstaal van die Hansa-stede was. Nederduits of dan Proto-Afrikaans, is in die 1300s reeds as regstaal deur die Deense konings gebruik. Tot en met die uitbraak van die vernietigende dertigjarige oorlog in Noord-Europa (1618-1648), was Nederduits ‘n groter taal as Engels, Frans, Russies of Spaans, tale wat vandag as wêreldtale gereken word.

Afgesien van J. du P. Scholtz en Edith Raidt, was daar oor die afgelope aantal dekades feitlik geen taalkundiges met insig in die verwikkelde Europese herkoms van Afrikaans nie. Boonop het hulle hul navorsing verrig in die tyd voor die internet toe al die inligting oor die Noord-Europese dialekte nie so geredelik soos vandag beskikbaar was nie. Die woord “mooi” word in die Hamburgse dialek gebruik (terwyl in Hoogduits “schön” gangbaar is) en selfs in ‘n intensiewe vorm as “mooi-mooi”.

Sulke herhalings (“plek-plek”, “gou-gou”, ens.) noem taalkundiges “reduplikasie”. Dit is een van die elemente van Afrikaans wat die kreoliste aanvoer om te beweer dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is, wat so ‘n neiging vanweë “taalkontak” met Khoisan, Xhosa, Maleis, Portugees of wat ook al ontwikkel het. Dít terwyl die V.O.C. sy amptenare verbied het om inheemse tale aan te leer! Intussen is reduplikasie ‘n algemene verskynsel en is daar ‘n Kanadese taalkundige aan ‘n Amerikaanse universiteit wat voorbeelde van regoor die wêreld versamel. Veral in Nederduits en die Skandinawiese tale wemel dit van reduplikasie. Die Sweedse woord vir “ouma” is “mormor”, letterlik “moedermoeder”.

Weens Afrikaans se “eenvoudige” grammatika, vergeleke met Nederlands en Duits, word daar ook aangevoer dat dit ‘n teken van kreolisme sou wees. Weereens is die grammatika van Sweeds feitlik ewe eenvoudig as dié van Afrikaans, ‘n Noord-Europese taal wat nooit in kontak met Afrika of Maleisië was nie, maar wel met Nederduits (ook Platduits genoem), wat die groot aantal Afrikaans-Nederlandse woorde in Sweeds verklaar.

Sover ek weet, is geen fonologiese studie nog onderneem om presies vas te stel hoe Afrikaans in die Noorde van Europa in die ou Hanse-handelsgebied inpas nie. Afrikaans val heelwat sagter op die oor as Nederlands of Hoogduits, sonder ‘n geleende Franse “R” vanuit die keel en klink daarom meer soos Nederduits of Sweeds.

Nog ‘n opvallende verskil tussen Nederlands en Afrikaans is die woord “baie” wat ons gedurig gebruik en wat glo uit Maleis afkomstig is. Die Hollanders sê “zeer” en “veel”. Dis een van die trofeë in die kreolis se ornamentekas. Ongelukkig vir kreoliste het ‘n redelik onlangse PhD-proefskrif in die VSA, Apperception and Linguistic Contact between German and Afrikaans (2011) bewys dat twee soortgelyke woorde in sowel sewentiende-eeuse Nederlands as Nederduits bestaan het. Daarom het die Afrikaanse woord deur appersepsie – en nie soseer ontlening nie – onmiddellik aan die Kaap inslag gevind.

Daar is geen faset van die Kreoolsteorie wat nie in een of twee akademiese artikels met verwysing na Nederduits of sewentiende-eeuse Nederlands vermorsel kan word nie. Want Afrikaans verteenwoordig ‘n samesmelting van Noord-Europese dialekte wat langsaam oor honderde jare plaasgevind het.

As sodanig is Afrikaans ‘n kleinood vir sowel Suid-Afrika as Europa. Gegewe die afgang van Nederduits, veral ná die tweede wêreldoorlog toe sprekers van Noord-Duitse dialekte deureenvermeng is, verteenwoordig Standaardafrikaans vandag ‘n lewende monument aan daardie verskeidenheid dialekte wat in die provinsies van die Lae Lande, maar ook die prinsdomme en stede van Noord-Duitsland, gepraat is.

Afrikaans is nóg ‘n “gemorstaal” soos die Potchefstroomse dosent Hans du Plessis in 2006 daarna verwys het, nóg ‘n “bastertaal” soos die nie-taalkundige Breyten Breytenbach in 1973 tydens sy marxistiese fase kwytgeraak het. Veel eerder is dit ‘n taal wat na vorm en struktuur veel suiwerder as Engels of vele ander Europese kultuurtale gebly het.

Nie verniet nie het die Australiese taalkundige en self ‘n kenner van Germaanse tale, Bruce Donaldson, opgemerk:

Because of a perceived threat to the separate identity of Afrikaners vis-à-vis their English-speaking compatriots, there is a longstanding fear of those international loanwords with cognate forms in English such that they are now regarded as dispensable anglicisms with preference being given to indigenous synonyms. This phenomenon has lead to an overall impression of the vocabulary of Afrikaans being more Germanic than that of Dutch. Many ingenious neologisms, but above all loan translations from English, further contribute to the overall puristic impression of the vocabulary, lugreëling ‘air conditioning’, rekenariseer ‘to computerize’, toebroodjie ‘sandwich’; droogskoonmaak ‘dry cleaning’, muurpapier ‘wall paper’, paneelklopper ‘panel beater’. (König, E., red. The Germanic languages, bl. 503)

Die feit dat Afrikaans vandag onder uiters negatiewe politieke omstandighede en die oorheersing van ‘n Engelse staatstaal oorleef, getuig verder van sy adellike grootsheid wat van die 1300s tot vandag toe voortleef en nog wag om deur skrywers en veral taalkundiges ontdek te word.


Comments

19 responses to “Afrikaans was eens ‘n koninklike en handelstaal in Europa”

  1. Willem Avatar
    Willem

    Dit is ‘n hoogs insiggewende artikel hierdie, en net so interessant! Baie dankie!

  2. leonlemmer Avatar
    leonlemmer

    Daar word reeds lank gewag op Wannie Carstens se nuwe boek. Ek hoop Dan Roodt sal sy Europese perspektief op Afrikaans gebruik om drogargumente te weerle. Roodt sou as direksielid van die Afrikaanse Taalraad baie vir Standaardafrikaans kon vermag.

  3. Hans Onrust Avatar
    Hans Onrust

    heb dit even ‘gauw gauw’ gelezen 😉 en moet ook met Rügen direct weer even aan Klaus Störtebeker die in Hamburg onthoofd (geen galg)zou wezen (stort de beker) i.p.v. Jack Sparrow denken…….

    https://www.youtube.com/watch?v=HgSh_wTKPDM

  4. Henrietta Avatar
    Henrietta

    In 2009 met die
    ROOTS-konferensie, was daar afgevaardigdes uit al die Nederlands-sprekende lande hier in SA . Binne ‘n dag of twee kon almal mekaar verstaan sonder dat daar tolke nodig was. Freek Robinson het daardie tyd oor RSG se Praat Saam gesê dat rofweg getel, het die afgevaardigdes sowat 30 miljoen mense in verskillende lande van die wêreld verteenwoordig – met bietjie moeite sou hierdie mense dus mekaar kon verstaan.

    Kom ek speel duiwelsadvokaat en vra: Indien Maleis- en Koikoi-sprekendes (wat glad nie Afrikaans magtig is nie) op dieselfde wyse bymekaar geroep word na ‘n konferensie waar Afrikaans die spreektaal is, sou hul dan ook mekaar met ‘n bietjie moeite kon verstaan?

  5. Henrietta Avatar
    Henrietta

    Hier skryf
    prof Jacques van der Elst by dieselfde 2009 ROOTS konferensie oor Afrikaans as
    wetenskapstaal:

    http://www.litnet.co.za/Article/die-uitbou-van-wetenskapstaal-en-tersiere-ruimtes-en-wat-nederlands

  6. Riempies Avatar
    Riempies

    Vir my is Afrikaans een van die mooiste tale nie net om dit
    my taal is nie maar die woord klanke is van die suiwerste van alle tale –
    Afrikaans het nie keel – neus – of insluk of kies blaas klanke nie. Dit is mooi
    volronde duidelike klanke.

    Hierdie kosbare inligting van dr. Dan moet aan ons kinders
    en onkundige volwassenes oorgedra word dat hulle kan besef dat Afrikaans n
    superieure taal is wat gekoester en beskerm moet word.

    Ons kan nie toelaat dat hierdie taal van ons uitfaseer word
    deur derdewereld swart mense nie en geinfiltreer word met Kaaps nie. Kaaps is
    nie ons taal nie – Kaaps is n dialek wat ontstaan het binne die kleurlingvolk uit
    Afrikaanse woorde – eie geskepte woorde en engels.

  7. Karel Combrinck Avatar
    Karel Combrinck

    Daar kan geen verskil van mening wees oor die feit dat Afrikaans ‘n Noord-Europese oorsprong het nie. Dis bŀoot ‘n feit. Die kwasie wysgere wat vir politieke en ideologiese redes, of uit kwaadwilligheid, probeer betoog dat Afrikaans ‘n sg. “kreooltaal” is, doen dit op grond van die sprinkelling woorde van Oosterse afkoms wat in Afrikaans opgeneem is. Soos ek reeds elders opgemerk het, is hierdie enkele Oosterse woorde soos die speserye in ons kookkuns. Dit is niks om oor skaam te wees nie, maar dit doen ook geen afbreuk aan die Noord-Europese geaardheid van ons taal nie en maak dit net meer buigsaam en kleurvol. Die aanhaling praat van “ŀoan translations from English”. Feit is die Engelse woordeskat is omtrent in sy geheel “loan translations” uit ander tale. Vir die helfte daarvan is dit Frans en vir die res, Saksies (Duits), Noorweegs, Deens, Friesies en wat nog. As aanduiding, kom ons lys net die woorde in die aanhaling wat Frans is, of uit Frans afkomstig:

    because, perceived, separate, identity, vis-à-vis, compatriots, international, forms, regarded, dispensable, preference, indigenous, synonyms, phenomenon, impression, vocabulary, ingenious, translation, contribute, puristic, air, conditioning, panel.

    Nota: Alle woorde in Engels wat eindig met “tion” (mention), of “ssion”, (impression) of “able” (readable), of “ible” (edible) is uit Frans afkomstig. Maar daar is natuurlik ook nog ‘n legio ander woorde uit Frans wat nie so eindig nie.

    N.S. Met sy Marxistiese agtergrond het Breyten Breytenbach seker die uitdrukking “bastertaal” as ‘n kompliment bedoel.

    1. Willem Avatar
      Willem

      Wat is die totaal van Maleisiese woorde in Afrikaans?
      Kerrie, borrie, piesang, oerangoetang, blatjang.. en dit is min of meer dit, is dit nie?
      Niks om oor skaam te wees nie, maar nou nie juis ‘n oorweldigende invloed nie!

      1. Karel Combrinck Avatar
        Karel Combrinck

        Hallo Willem. Nes jy sê, allesbehalwe oorweldigend. ‘n Mens wil darem nie hê die speserye moet oorweldigend wees nie of hoie?

    2. Henrietta Avatar
      Henrietta

      Ja Karel jy is doodreg: haal al die leenwoorde uit Engels en hulle praat gebare-taal!

  8. RSA PATRIOT Avatar
    RSA PATRIOT

    Praat Afrikaans of hou jou bék!

  9. henkst Avatar
    henkst

    In ‘n voordrag (tans as DVD beskikbaar) het dr. Helena Liebenberg onderstaande oor ‘baie’ te sê gehad.
    Herkoms van die woord baie
    Vyf jaar na Van Riebeeck se aankoms land die eerste Oosterse slawe aan die Kaap en saam met hulle kom ook Maleis-Portugese woorde aan wal, waaronder die woord banjak wat tans baie in Afrikaans is. Dit lyk egter vir my of die herkoms van baie nie eenduidig verklaar kan word asof dit in die Ooste as banjak ontstaan het en deur die slawe na die Kaap gebring is nie.
    Vanwaar my twyfel? Want in Platduits beteken die woord bannig presies dieselfde as Afr. baie, byvoorbeeld “Buten is ’t bannig dokig.” (dokig ‘newelrig, mistig’) en in Fries beteken banjer dieselfde as baie. Volgens Ndl. etimologiese woordeboeke behoort die vorm banjer tot die volkstaal, waarin die woord, in afgeleide betekenis, heel algemeen gebruik word. In sommige streke van die Kaap is banje ’n wisselvorm van baie – my vriendin wat in Stellenbosch opgegroei het, het haar soms ‘verspreek’ en dan banje gebruik; haar pa was van Citrusdal en haar ma van die Swartland.
    Groot was my blydskap toe ons tydens ons werk by die Kaapse Argief afgekom het op die 1793-dagboek van die VOC-dienaar Louies Reijnders, wat hy gehou het op die VOC-skip Ablasserwaard op reis via Portsmouth na Batavia. Die beskrywing is die spreektaal van waarskynlik ’n nie-Nederlandsspreker in geskrewe vorm
    Die transkripsie lui soos volg:
    “30 ten Anker gekomen op de Reede van Portsmout[h] zijnde Een zeer goede Haven, maar het was er Banjer kout (4e reël van onder) alhier weird het volk gedresseert om met het geschut te kunne omgaan om in tijd van nood, den vijand te kunne ataqueeren”.
    Op Google vind ek onlangs die volgende in Platduits: “Bannig ist ja wohl so ’n Allerweltswort” en dit wil ek graag beaam.
    Volgens eertydse Afrikaanse historiese taalkundiges het Afr. baie uit Bahasa Indonesia banjak ontstaan. Volgens my het Bahasa Indonesia banjak ’n rol gespeel, maar die inslag in Afrikaans is versterk deur die Friese banjer en die Platduitse bannig, wat al drie waarskynlik na ’n gesamentlike brontaal teruggevoer sou kon word. Dit is hoogs onwaarskynlik dat hierdie woord deur die onderskeie Germaanse spraakgebiede uit die Ooste ontleen sou word. Vermoedelik het hierdie vorme behoort tot ’n veel ouer woordeskat wat eeue tevore van die Germaanse spraakgebied na die Ooste oorgedra is. As daar enige oordrag tydens die VOC-tydperk moes wees, sou die woord tog ook in Nederlands bekend wees, wat nie die geval is nie.
    Ondersteuning hiervoor blyk uit die talekaart wat aantoon dat Indonesies buite die NOSTRATIESE TALEGROEP val en tot die AUSTRIESE TALEGROEP behoort. Volgens navorsing deur dr. Jan Picard en prof. Vic Webb van Pretoria blyk dat Indonesies eerder beskou kan word as ’n taal wat uit Sanskrit ontwikkel het en dus ook tot die Germaans-Indiese talefamilie behoort, in plaas daarvan dat dit onder die Austriese talefamilie resorteer. Hierdie bevinding verklaar die merkwaardige voorkoms van so ’n geweldige groot aantal Sanskrit-‘leenwoorde’ in Indonesies. Dit versterk ook my standpunt oor die eintlike herkoms van Afr. baie.

    1. Karel Combrinck Avatar
      Karel Combrinck

      Interessant en insiggewend. Ek was ook altyd onder die indruk “baie” kom van die Indonesiese banje of banja, maar hierdie betoog dat dit mag kom van die Friesiese banje klink vir my oortuigend. Dit neem natuurlik nie weg nie van die feit dat heelparty woorde in Afrikaans wel van Indonesiese oorsprong is en al wat ‘n mens daaroor kan sê is, wat daarvan?

  10. G Avatar
    G

    Let wel dat hierdie kennis nie voortvloei van die rassiste jagters van daai agtergeblewe patetiese organisasie met sy baaaie lede, Naarspers Basson gatgabbas nie. Daai ghwarre van die vakbond praat nie namens my nie

  11. Karel Combrinck Avatar
    Karel Combrinck

    Gelees. Dankie Helena. Dit het my terselfdertyd sommer die geleentheid gegee om Taaloord ook te ontdek. Was nie bewus daarvan dat dit bestaan nie.
    Beste groete.

  12. Sjert Avatar
    Sjert

    Miskien Prof van der Merwe se ‘Herkoms en ontwikkeling van Afrikaans’ wat iewers in die laat sestiger, vroeë sewentigs gepubliseer is?
    Later in die sewentigs ook – ‘Die Ontstaan van Afrikaans’.

  13. Gas Avatar
    Gas

    Die verskyning van W.W. Claassens se boek Die geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806, wat sy baseer het op haar doktorale proefskrif, het ’n klein opskudding in koskringe veroorsaak. Claassens het die mite dat die Afrikaner se kookkuns deur Maleiers bepaal en inhoud gegee is, die nek ingeslaan. En so val die NSA-mites een na die ander.

  14. Dave Avatar
    Dave

    Baie dankie vir ‘n insiggewende en uiters interessante artikel, Dan. Vir heelwat jare (en steeds somtyds) het ek in forums met Nederlanders gesels en kon ‘n goed genoeg Nederlandse opinie skryf dat ‘n Hollander my eendag gekritiseer het oor dit wat hy genoem het ‘die Amsterdam-Nederlands’, wat ek in hul forum gebruik. Wat egter opvallend is, is die verskil in sinsbou. Die sinsbou in Nederlandse gramatika vergelyk met diè van Engels, terwyl ons’n heel anders is. Dit skep die vraag waarom ons as Afrikaanssprekendes, sinne anders aan mekaar spyker as wat in Europeuse tale gedoen word.

  15. hansbosch Avatar
    hansbosch

    Maurice ek stem saam jou en wil graag ‘n paar anekdotes toevoeg.

    Ongeveer 1995 het my vader in ons treinrit die Friese plekname uitgewys name, dit klink Engels.

    Hy het altyd van die Duitse trekarbeiders gepraat wat so fluks en eerbaar op die boerdery gewerk het. Hannekemaaijers uit Oldenburg of Holztein. As 10 jarige kind het in die vakansie al saamgewerk. Pouses was dit vir almal bier en geen limonade.

    Gronningen was ‘n Hanzestad en het al vir langer as 8 eeue ‘n ander land en see kultuur as die Hollanders. Die kutluur staan veel meer oop vir Noorse en Baltiese kultuur.

    Den Helder in Friesland is die hawestad waar die meeste Afrikaners op die skip geklim het. Die kontrakte vir die arbeiderklas wat tipies weer vryburgers geword het was in Den Helder gesluit.

    Gronnings het ook ‘n sagter G en ronder vokale soos die Duitsers en Vlamminge. Gronningers praat gemaklik Patduits.

Leave a Reply