Jaar van die skaap of Eeu van die draak?

Die vieringe van die Chinese nuwe jaar wat die jaar van die skaap inlui, het pas tot ‘n einde gekom.

Fortuinvertellers in Hongkong sê die jaar van die skaap sal kalmer wees as die vorige jaar van die perd wat gekenmerk is deur katastrofiese lugrampe, wrede terreuraanvalle, globale politieke onstabiliteit, die Ebola-virus en oorloë.

Rusland, Indië en China, het intussen ‘n kragtige boodskap na die Weste gestuur: Dié drie lande is besig om ‘n komplekse trilaterale strategie op te stel wat’n netwerk van ekonomiese deurgange insluit, bekend as “Syroetes”.

Die nuwe Syroetes strek regoor Eurasië. Beijing is ook besig om ‘n maritieme weergawe, geskoei op die prestasies van Admiraal Zheng uit die Ming-dinastie, op te rig. Zheng was die bevelvoerder van ‘n vloot van meer as 200 vaartuie.

Moskou en Beijing beplan om ‘n nuwe hoë-spoed spoorverbinding, soortgelyk aan die Trans-Siberiese een aan te lê. Beijing is ook verbind tot sy groeiende strategiese vennootskap met Rusland wat kritieke finansiële en ekonomiese hulp betref. Terwyl sanksies Moskou in die gesig staar en ‘n rampspoedige olieprysoorlog dreig, is dit ‘n heel nuttige en voordelige vennootskap.

China se suidelike bure, te wete Afghanistan, is ten spyte van die 13-jarige Amerikaanse oorlog daar, vinnig besig om in die Chinese se hoëspoed ekonomiese baan ingetrek te raak, terwyl ‘n beplande China-Myanmar oliepyplyn as ‘n spelbreker beskou word in die herkonfigurasie van Eurasiese energiebehoeftes.

Dit is maar enkele projekte van die dolle vaart waarmee Beijing se leierskap gedefinieer word.

Die visie van ‘n nuwe, verbysterende infrastruktuur, sal China, Sentraal-Asië, die Midde-Ooste, en Wes-Europa verbind, in ‘n soort omgekeerde reis van Marco Polo, tot in Venesië.

China bekyk GMO-beheer

’n Chinese amptenaar het gister gesê dié land gaan te midde van toenemende kommer oor veiligheid sy navorsing, beheer en bewusmaking oor die genetiese modifikasie van organismes (GMO) verbeter.

“GM-tegnologie is baie belowend en daarom moet ons die voortou met navorsing neem aangesien China oor beperkte landbouhulpbronne beskik,” het die adjunkhoof van die mees gevorderde navorsingsgroep op die gebied van landbou, Han Jun, gesê.

Volgens Han is dit te danke aan hierdie groep uitstekende wetenskaplikes dat China op die gebied van navorsing oor genetiese manipulering van rys en mielies die voortou kon neem.

“Ons GMO-mark sal nie deur buitelandse produkte versadig word nie,” het hy gedurende ’n mediakonferensie gesê.

Bron: Xinhua

Krisis in die Oekraïne nader breekpunt

Minstens 7 mense is Maandag doodgeskiet en sowat 19 beseer in grofgeskut-aanvalle toe regeringsmagte en selfverdedigingsgroepe in Donetsk in die ooste van die Oekraïne op mekaar losgebrand het, het owerhede in dié land Woensdag gesê.

Die krisis in die Oekraïne nader breekpunt soos ontleders voorheen gewaarsku het dit sou, nadat die VSA ‘n kleurrewolusie vanaf Maidanplein georganiseer het om die land by NAVO in te lyf.

Die Oekrïene het in ‘n smeltkroes van konflik ontaard en word tans in flarde geskeur deur die bekende Atlantiese vyande van vrede.

Amerikaanse nuusbronne waaronder die Wall Street Journal, die Atlantic, Reuters en die LA Times is byna histeries in hul eenderse aandrang om ‘n volskaalse oorlog te bespoedig: “Bewapen Kiëf”.

Die selfverdedigingsmagte het hul stellings probeer beskerm na grofgeskut huise in vier gebiede van die stad getref het, het stadsowerhede in ’n verklaring bekend gemaak.

Onlangse samesprekinge om die geweld tot ‘n einde te bring, het Vrydag ’n dooiepunt bereik met regeringsfaksies onder Washington se invloed, wat die ontsporing van die vredesproses wil bewerkstellig.

Die vredesamesprekinge, deur Rusland voorgestel, was veronderstel om die geweld wat die lewe van meer as 5 300 mense geëis het, te beëindig. Die skrikwekkende dodetal is nalv die VN se jongste beramings.

Die vyandigheid tussen die pro-­Russiese selfverdedigingsgroepe en die Oekraïense regeringstroepe het in Januarie, ná ‘n maand van relatiewe kalmte, opnuut opgevlam, nadat die VSA en NAVO hernude steun vir die junta in Kiëf aangebied het.

Tans is hul grootste offensief Debaltseve, ’n spoorwegaansluiting wat vantevore ’n tuiste aan 25 000 mense gebied het en geleë is tussen die stede Luhansk en Donetsk, wat beide deur selfverdedigingsgroepe beheer word.

Sowat 2 000 van die inwoners het in die afgelope paar dae gevlug.

Selfverdedigingsgroepe het verlede week die dorp V­uhlehirsk, van ­kardinale belang in die opmars na Debaltseve, beskerm teen aanvalle deur regeringstroepe. ­Hulle dring egter aan dat hulle nie beplan om Debaltseve aan te val nie, vanweë potensiële groot burgerlike sterftes.

Die selfverdedigingsleier van Donetsk, Alexander Zakharchenko, het gesê hulle help om Vuhlehirsk vanweë die swaar gevegte in die gebied te ontruim.

Intussen het broodpryse in die land die hoogte ingeskiet agv die konflik.

Dodetal in Trans-Asia-vliegongeluk kan verder styg

Die Taiwannese media berig dat minstens 12 mense dood is in vanoggend se vliegongeluk, het RSG berig.

Die passasiersvliegtuig van Trans-Asia met minstens 53 mense aan boord het in die Taipei-rivier neergestort.

Die dodetal kan na verwagting nog verder styg.

Volgens die jongste inligting het een van die vliegtuig se motore onklaar geraak kort nadat hy by die Sungshan-lughawe in Taipei opgestyg het.

‘n Deel van die vliegtuig het ‘n brug getref en in die Keelung-rivier neergestort. Sowat 30 van die passasiers word nog vermis.

Sowat 16 mense is al gered. Die Taiwannese toerismeburo sê daar was meestal Sjinese toeriste op die vlug.

China wil Afrika moderniseer

China het onderneem om infrastruktuur op die Afrika-vasteland te moderniseer.

Die Volksrepubliek van China het ‘n Memorandum van Verstandhouding met die Afrika Unie onderteken vir die bou van moderne hoofweë, lughawens en treinspoorverbindings regdeur die vasteland.

Die moderniseringsplan sal 54 lande in Afrika raak.

Die voorsitter van die Afrika Unie Kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma sê dié ontwikkeling sal daartoe lei om die broodnodige streeksintegrasie te bespoedig.

Obama maak reg vir Indië

Die Amerikaanse president, Barack­ Obama, kom die naweek op sy tweede besoek in Indië aan. Washington is gretig om bande met Indië te herstel, om Rusland en China se goeie verhoudinge met dié Asiese reus te troef.

Obama sal die gas van premier Narendra Modi wees, wat skaars ’n jaar gelede ’n uitgeworpene­ in Washington was.

Benewens bilaterale gesprekke, sal die leiers van die wêreld se twee grootste “demokrasieë” hoof uitvoerende­ beamptes toespreek, aan ’n inbelprogram oor die radio deelneem en ’n skouspelagtige­ ­optog dophou wat glo die weerspieëling­ van hul hegte bande sal wees.

Obama en sy vrou, Michelle, sal ook die Taj Mahal besoek waar honderde­ fotograwe die paartjie se eerste besoek aan een van die wonders van die wêreld sal inwag.

Nog lande sluit by soektog na AirAsia-vlug aan

Die lugsoektog na die Air Asia-vliegtuig met 162 mense, wat oos van Java verdwyn het, sal Dinsdagoggend voortgaan.

Daar is nog geen aanduidings van waar die vliegtuig kon geval het nie.

Twee oliekolle is in die see opgemerk, terwyl ‘n Australiese vliegtuig drywende voorwerpe honderde kilometer verder gewaar het.

Meer as vyftien vliegtuie en 30 skepe neem vir die derde dag aan die soektog deel.

Die hoof van die Indonesiese Nasionale- en Soek-agentskap glo dat die vliegtuig iewers ter see geval het.

Lugverkeerbeheer het kontak met vlug QZ8501 verloor sowat ‘n uur nadat dit Sondag by die Juanda Internasionale Lughawe in Surabaya opgestyg het.

Nog lande gaan by die soektog na die vermiste passasiersvliegtuig van Air Asia aansluit, nadat die Amerikaanse vloot Dinsdag aangekondig het dat hulle aan die soektog in die Java See gaan deelneem.

Daar sal egter ook op land gesoek word. Minstens 21 vliegtuie en 30 skepe van lande soos Indonesië, Australië, Maleisië, Singapoer en Suid-Korea help reeds met die soektog oor ‘n gebied van sowat 10 000 vierkante seemyl.

China sal ook aan die soektog deelneem.

Eerste sooie vir Nicaragua-kanaal omgespit

Dit kan een van die mega-projekte van die 21ste eeu word vir die sowat ses miljoen mense in Nicaragua wat in uiterste armoede leef.

Die 300-kilometer-lange Nicaragua-kanaal wat die Karibiese See met die Stille Oseaan verbind, sal 100 jaar na die voltooiing van die Panamakanaal, die tweede kanaal deur die Sentraal-Amerikaanse vasteland wees.

Die Chinese maatskappy Hong Kong Nicaragua Kanaalontwikkeling (HKND) is van voorneme is om $40 miljard te belê in die projek, met die eerste skepe wat op die kanaal sal vaar teen 2019.

HKND het die gerespekteerde Britse raadgewende firma Environmental Resources Management sowat ‘n jaar gelede aangestel om die omgewings- en sosiale impak wat na verwagting 29.000 mense sal verplaas, te assesseer.

Nicaragua het Maandag ‘n sooispitseremonie gehou vir die skeepskanaal-projek.

Die kanaal sal na verwagting met die Panama-kanaal meeding en die ekonomie van die tweede armste land in die Amerikas ‘n hupstoot te gee.

Nicaragua se regering sê die kanaal van 278 kilometer lank, kan ekonomiese groei met meer as tien persent per jaar verhoog.

Die kanaal sal China ‘n ekonomiese houvas op die Amerikas gee.

‘n Woordvoerder van Nicaragua se president, Daniel Ortega, het dit beskryf as ‘n “groot Kersgeskenk” vir sy mense.

Die konstruksie sal aanvanklik 50.000 werkgeleenthede skep.

Gebou in Kenia stort ineen

Een persoon is dood en die vrees bestaan dat ander onder die puin vasgekeer of moontlik dood is, nadat ’n vyfverdiepinggebou in Nairobi Woensdag ineengestort het.

Sewe mense is lewendig uit die puin gered.

Vanweë die hoë aanvraag na behuising in Nairobi, systap sommige eiendomsontwikkelaars bouregulasies ten einde koste te bespaar en hul wins te vermeerder.

Die vyf-verdieping residensiële gebou het Woensdag naby die Makongeni-polisiestasie in Nairobi meegegee.

Meer as 30 gesinne het reeds vroeër in die gebou ingetrek wat nog onder konstruksie was en huurders het die grond, die eerste en tweede verdieping beset.

‘n Koerant van die Nation Media Group Publications, die Business Daily het berig dat die meeste geboue in die Eastlands-gebied nie ‘n aardbewing sal oorleef nie.

Dié bevinding is in ‘n verslag gepubliseer deur deur Raul Figueroa van die Carnegie Mellon Foundation gedoen is wat aangedui het dat 3 uit 4 geboue ernstige skade in die geval van ‘n aardbewing sal oorhou.

China se verskaffer van konstruksiemasjinerie, XCMG, het Woensdag die reddingsoperasie gelei.

Hongkongse protes rafel uit

Dit lyk asof nie kleurrewolusie in Hongkong nie die pyp gaan rook nie.

Hongkongse polisie het Donderdag begin om die toneel van die stad se sogenaamde “pro-demokrasie betogings” op te ruim.

Tente en versperrings is verwyder na twee maande se siviele ongehoorsaamheid en politieke opmarste en vergaderings die middestad van Hongkong lam gelê het.

Die meeste militante betogers het beloof om nie die stryd gewonne te gee nie.

China het intussen gemaan dat hulle nie morele lesse van Angelsaksers, die borge van die opstand, sal aanvaar nie.

‘n Paar dosyn betogers was Donderdag al wat oorgebly het van die tienduisende wat met die hoogtepunt van die betogings in die Admirality-distrik van die stad byeengekom het.

Noord-Korea wil weerbaarheid verskerp

Noord-Korea sê hy sal sy oorlogsvermoë aansienlik versterk in protes teen die goedkeuring van ’n mylpaal VN-resolusie teen die land se wydveroordeelde skending van menseregte, het AP berig.

‘n VN-komitee het Dinsdag die resolusie aanvaar waarin daarop aangedring word dat die Veiligheidsraad die Noorde se menseregte­situasie na die Internasionale Strafhof verwys. Voordat die VN gestem het, het die Noord-Koreaanse gesant met ’n kerntoets gedreig.

Vanjaar se resolusie sluit die nuwe idee in dat die absolute leier van die Noorde deur aanklaers geteiken kan word.

Pjongjang se ministerie van buitelandse sake het gister gesê die goedkeuring van die resolusie is ’n “ernstige politieke uitdaging” wat deur die VSA georkestreer is.

Die ministerie het ook gesê die Noorde se oorlogsweerbaarheid sal “op ’n onbeperkte wyse” versterk word om met Amerikaanse vyandigheid af te reken.

Hong Kong se opstand begin stoom verloor

Die sogenaamde “pro-demokratiese” opstand in Hong Kong begin stoom verloor.

Leiers het pas het planne laat vaar om ‘n referendum te hou oor of hulle van die regering se toegewings moet aanvaar.

Die betogers staar toenemende druk in die gesig. Die opstand, wat begin het op 28 September, is reeds in sy tweede maand en geen teken van toegewings van die Chinese regering is in sig nie.

Alhoewel daar nog mense op straat kampeer, begin hul getalle afneem. Betogers het gesê dit is omdat daar nie enige oplossing gevind kan word nie.

Talle het gesê dit sal beter wees om terug te trek want hulle kan nie net die strate beset met geen tydsbeperkinge nie.

Die leiers van weke-lange demokrasie-betogings sê hulle het besluit om die referendum te laat vaar ná onenigheid oor die formaat en het betogers om verskoning gevra, omdat daar nie met hulle beraadslaag is nie.

Hulle het egter onderneem om met die betogings vir “demokrasie” in Hong Kong voort te gaan.

NUMSA betoog oor lokomotieftenders

Die metaalwerkersvakbond, NUMSA, sê hulle lede word afgedank omdat buitelandse maatskappye tenders ontvang het om lokomotiewe te bou.

Dié tenders is aan Chinese en Noord-Amerikaanse maatskappye toegeken vir die bou van meer as ‘n duisend lokomotiewe. Dié buitelanders het SEB-vennote in Suid-Afrika.

Die Guptas en Duduzane Zuma is die belanghebbendes in die strategiese lokomotiefsubkontrakteringsmaatskappy wat hulle gekoop het terwyl die tenderproses aan die gang was.

Iqbal Sharma, is die voorsitter van die Transnetdireksie se tenderkomitee.

Volgens die metaalwerkersvakbond is nie minder nie as sewe Suid-Afrikaanse maatskappye met die nodige kwalifikasies oor die hoof gesien.

Vakbondlede het Donderdag betoog omdat Naledi Rail Engineering, Dorbyl, Wictra Holding, RRL Grindrod en Electro Motive Diesel nooit oorweeg is nie, terwyl die Chinese konsortium boonop geen ervaring in spoorweë het nie.

NUMSA eis dat die regering die toekenning van ‘n R50 miljard-tender van Transnet hersien.

Dit vorm deel van Transnet se rekapitalisasieprogram van R200 miljard.

Een van die maatskappye, Commuter Transport and Locomotive Engineering (CTLE), voorheen Union Carriage and Wagon, sal sowat 250 Numsa-lede moet afdank.

Spertyd vir oproer in Hong Kong kom nader

Te midde van ’n waarskuwing oor “ernstige gevolge vir openbare veiligheid” deur die Hongkongse regering en ’n naderende spertyd om die betogings te staak, het betogergetalle op straat afgeneem, maar is dit onseker of hulle aan die oproep gehoor gegee het of bloot asem skep voor hernude protesaksie.

Op die vasteland het die Kommunistiese Party se mondstuk, die People’s Daily, in ’n hoofartikel gesê dat Hongkong se beeld as beheerste stad reeds deur die agt dag lange protes vernietig is, het AFP berig.

Personeel van die universiteit het by studente gepleit om huiswaarts te keer nadat die beleërde leier, Leung Tsjoen-jing, aangedui het dat die regering vasbeslote is om sosiale orde te herstel. Hy het spesifiek verwys na die staatsdienspersoneel wat toegang tot die sentrale regeringskantore moet verkry om vandag te kan voortgaan om dienste aan die publiek te lewer.

Leung, wat twee jaar gelede met 689 stemme uit slegs 1 200 lede van ’n pro-Beijing-komitee verkies is, het op onheilspellende wyse gewaarsku dat die voortduur van huidige betogings ernstige gevolge vir die openbare veiligheid en sosiale orde mag inhou.

Tienduisende betogers het egter Saterdagaand die grootste byeenkoms nog bygewoon en die etlikes wat Sondag terug op straat was, het aangedui dat hulle geensins van voorneme is om op te gee nie.

“Ons veg vir ons beginsels en universele stemreg,” het studente gesê. “Die regering het nog glad nie op enige van die eise vir burgerlike nominasies gereageer nie, maar eis net dat ons moet onttrek.” Die betogers eis die reg om kandidate vir die volgende leiersverkiesing in 2017 te mag nomineer.

Daarenteen dring die kommunistiese regering van China, wat in 1997 weer soewereiniteit oor Hongkong van Brittanje oorgeneem het, daarop aan dat slegs voorafgoedgekeurde kandidate in die verkiesing mag staan.

Studenteleiers en die regering het aangedui dat hulle bereid is om in gesprek te tree, maar albei dring op sekere voorwaardes aan en intussen het ver­skeie botsings, veral in die digbevolkte Kowloon-distrik, plaasgevind.

Geweld het ook opnuut in die vroeë oggendure Sondag in die Mongkok-distrik opgevlam toe die onlustepolisie knuppels en pepersproei gebruik het om betogers wat hulle van samewerking met bendelede beskuldig het, in toom te hou.

Sedert die oproer verlede Sondag begin het, het 165 beseerdes reeds in hospitale beland en ly plaaslike ondernemings ook erg onder die oproer.