Die Valke, die polisie en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika probeer glo om meer inligting te kry oor ‘n gewapende roof by die OR Tambo-lughawe.
Die rooftog was omstreeks kwart voor agt gisteraand. ‘n Bedrag wat enigiets tussen 20 en 40 miljoen rand is glo gebuit.
Volgens ACSA is geen skote gevuur nie en niemand is beseer nie. Die rowers het weggekom.
Die polisie sê dit is nog onbekend wat gesteel is en wou nie berigte bevestig dat miljoene rand van ‘n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens gesteel is nie.
Die woordvoerder sê die polisie weet wat gebeur het maar inligting sal eers later bekendgemaak kan word.
‘n Vliegtuig van die Emirates-lugdiens moes ‘n noodlanding moes uitvoer op die Doebaai-lughawe.
Die 282 passasiers en 18 bemanningslede is ongedeerd.
Daar was glo ‘n Suid-Afrikaner aan boord van die vlug. ‘n Dik, swart rookwolk was sigbaar bo die gestrande vliegtuig op foto’s wat op sosiale media versprei is.
Volgens ‘n verklaring van die lugdiens was vlug EK521 op pad van Thiruvananthapuram in Indië na Doebaai, maar moes om 10:00 Woensdag ‘n noodlanding uitvoer nadat ‘n brand aan boord ontstaan het.
“Ons is nog nie seker wat die brand veroorsaak het nie,” lui die verklaring.
“Emirates kan bevestig dat alle passasiers en bemanningslede veilig is,” het die lugdiens getwiet, maar die voorval sal glo wye vertragings veroorsaak.
Die Doebaaise lughawe het getwiet dat alle vlugte deur die voorval geraak is en tot verdere kennisgewing vertraag sal wees.
Die lugsoektog na die Air Asia-vliegtuig met 162 mense, wat oos van Java verdwyn het, sal Dinsdagoggend voortgaan.
Daar is nog geen aanduidings van waar die vliegtuig kon geval het nie.
Twee oliekolle is in die see opgemerk, terwyl ‘n Australiese vliegtuig drywende voorwerpe honderde kilometer verder gewaar het.
Meer as vyftien vliegtuie en 30 skepe neem vir die derde dag aan die soektog deel.
Die hoof van die Indonesiese Nasionale- en Soek-agentskap glo dat die vliegtuig iewers ter see geval het.
Lugverkeerbeheer het kontak met vlug QZ8501 verloor sowat ‘n uur nadat dit Sondag by die Juanda Internasionale Lughawe in Surabaya opgestyg het.
Nog lande gaan by die soektog na die vermiste passasiersvliegtuig van Air Asia aansluit, nadat die Amerikaanse vloot Dinsdag aangekondig het dat hulle aan die soektog in die Java See gaan deelneem.
Daar sal egter ook op land gesoek word. Minstens 21 vliegtuie en 30 skepe van lande soos Indonesië, Australië, Maleisië, Singapoer en Suid-Korea help reeds met die soektog oor ‘n gebied van sowat 10 000 vierkante seemyl.
Daar word vermoed dat die vermiste AirAsia-vliegtuig van vlug QZ8501 wat Sondag tussen Surabaya en Singapoer verdwyn het, op die bodem van die see verkeer. Die soektog daarna word vanoggend voortgesit.
Die lugredery het verklaar dat hy alle pogings steun om die vliegtuig te vind en sy volle samewerking bied.
Die lugredery het bevestiging ontvang van die Nasionale Soek- en Reddingsagentskap van die Republiek van Indonesië (Basarnas) dat ʼn internasionale opsporings- en reddingspoging van Indonesië, Singapoer en Maleisië geloods is.
AirAsia het intussen ʼn regstelling uitgereik oor die nasionaliteit van die passasiers en bemanning aan boord van vlug QZ8501. Een van die passasiers is van die Verenigde Koninkryk, een van Singapoer, een van Maleisië, drie van Suid-Korea, en 149 van Indonesië. Een van die bemanningslede is van Frankryk en ses van Indonesië.
Die vliegtuig is ʼn Airbus A320-200 met die registrasienommer PK-AXC. Dit het soek geraak nadat die kaptein, wat oor 20 537 vlugure se ervaring beskik, versoek het om die vlugroete weens gure weersomstandighede aan te pas.
Die noue bande tussen die ANC en die wapenhandelaar Ivor Ichikowitz is weereens gedemonstreer toe dit so pas aan die lig gekom het dat pres. Jacob Zuma vir sy staatsbesoek aan China van Ichikowitz se privaat straler gebruik maak. Blykbaar huur die staat die vliegtuig wat “amptelik aan Fortune Air behoort”.
Ivor Ichikowitz
Die straler moes gister inderhaas op Pietersburg land aangesien “sterk neuswinde” die brandstofverbruik die hoogte laat inskiet het. Anders as wat elders berig is, “was dit nie ‘n noodlanding nie”.
Die Boeing 727-200 was onderweg van die Maledive na die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria. Fortune Air wou ook nie navrae beantwoord nie aangesien die vliegtuig met ‘n lugmagroepsein vlieg.
Die hoof van die Suid-Afrikaanse lugmag, luitenant-generaal Zakes Msimang, het verklaar dat dit geen noodlanding was nie, maar bloot ‘n landing om nog brandstof in te neem.
“Dit maak nie saak hoe goed mens ’n vlug beplan nie, die weer speel altyd ’n rol en ’n vlieënier sal nie kanse waag nie.
“Omdat die weer tans baie onvoorspelbaar is, het die vlieëniers dus op Pietersburg geland om te verseker dat die vliegtuig genoeg brandstof het om Waterkloof toe te vlieg.
“Die weer tussen Pietersburg en Waterkloof moes ook in berekening gebring word. As Waterkloof dus weens gure weer op kort kennisgewing nie bereikbaar sou wees nie, moes die vliegtuig genoeg brandstof gehad het om na ’n ander lughawe uit te wyk.”
Ivor Ichikowitz, wat die hoofborg van die Joodse Raad van Afgevaardigdes in Suid-Afrika is, is ‘n voormalige dramastudent aan die Universiteit van die Witwatersrand wat in die vroeë negentigerjare by wapenhandel in Afrika betrokke geraak het. Ná die revolusie in 1994 het hy Suid-Afrika se Mirages en ander wapentuig oorsee gaan verkwansel en uit kommissies en ander inkomste skatryk geword. Sy firma, die Paramount-groep, word tans as die grootste wapenhandelaar in Afrika beskou en hy beskik ook oor etlike kontrakte om Suid-Afrikaanse weermag- en lugmagtoerusting in stand te hou.
Volgens berigte verkeer Zuma se presidensiële vliegtuig, die Inkwazi, tans in Switserland vir ‘n diens.