Elektriese fout lei glo tot AirAsia-vliegramp

‘n Elektriese fout en die bemanning se onvermoë om die vliegtuig te beheer, het tot die val van die AirAsia A320 verlede jaar in die See van Java gelei waarin 162 mense dood is.

Die ongelukverslag is Dinsdag bekend gemaak.

Vlug QZ8501 het op 28 Desember in stormagtige weer neergestort toe dit op ’n kort vlug van die Indonesiese stad Surabaya na Singapoer onderweg was.

Die ramp het tot ’n reuse- internasionale soektog gelei met skepe en vliegtuie van verskeie nasies wat deelgeneem het. Die oorskot van 56 slagoffers is gevind.

Vier waarskuwingsboodskappe het op die gesentraliseerde elektroniese moniteringstelsel vir vliegtuie (ECAM) binne ‘n tydperk 14 min verskyn.

Die bemanning het na elk van die eerste drie waarskuwingsboodskappe ECAM-prosedures gevolg.

Na die vierde waarskuwing egter het die NTSC gesê dat die vlugdata-opnemer “verskillende handtekeninge aangeteken het wat soortgelyk is aan die herstel van FAC [flight augmentation computer] se rekenaarstroombrekers wat gelei het tot ‘n elektriese onderbreking van die vlugrekenaar.

Daarna het ‘n vyfde en sesde waarkuwing die vlugstelsel afgesluit en moes die bemanning die vliegtuig self beheer wat daartoe gelei het dat die tuig begin rol het en daarna gestol het.

AirAsia se vlugopnemer gevind

Duikers het Maandag die vlugdataopnemer van die AirAsia-vliegtuig wat op 28 Desember 2014 met 162 persone aan boord in Indonesië neergestort het, opgespoor.

Die vliegtuig, wat meer as twee weke gelede in die Javaanse See gestort het, se vlugopnemer na die oppervlak gebring nadat dit onder ‘n vlerk van die vliegtuig gevind is.

Duikers kon die wrakstuk Sondag bereik nadat drie Indonesiese skepe seine opgespoor het.

Die direkteur van die nasionale reddingsagentskap, Bambang Sulistyo het gesê die span het ‘n gedeelte van die swart houer waarin die vlugopnemer was, opgespoor.

Die kajuitopnemer is egter nog soek. Duikers fynkamp nog die seebodem in die gebied om die stemopnemer te vind.

Die opsporing van die twee instrumente sal deurslaggewend wees om die oorsaak van die ramp te bepaal.

AirAsia het Sondag op sy Facebook bevestig altesaam 48 liggame is al gevind waarvan 32 reeds geïdentifiseer is. Die soektog duur voort.

AirAsia Vlug QZ8501 het op 28 Desember 2014 tussen Soerabaja in Indonesië en Singapoer verdwyn.

Die Airbus A320-200 met 162 persone aan boord het verdwyn nadat die vlieënier van koers afgewyk het weens slegte weersomstandighede.

AirAsia-vliegtuig vermoedelik op seebodem

Daar word vermoed dat die vermiste AirAsia-vliegtuig van vlug QZ8501 wat Sondag tussen Surabaya en Singapoer verdwyn het, op die bodem van die see verkeer. Die soektog daarna word vanoggend voortgesit.

Die lugredery het verklaar dat hy alle pogings steun om die vliegtuig te vind en sy volle samewerking bied.

Die lugredery het bevestiging ontvang van die Nasionale Soek- en Reddingsagentskap van die Republiek van Indonesië (Basarnas) dat ʼn internasionale opsporings- en reddingspoging van Indonesië, Singapoer en Maleisië geloods is.

AirAsia het intussen ʼn regstelling uitgereik oor die nasionaliteit van die passasiers en bemanning aan boord van vlug QZ8501. Een van die passasiers is van die Verenigde Koninkryk, een van Singapoer, een van Maleisië, drie van Suid-Korea, en 149 van Indonesië. Een van die bemanningslede is van Frankryk en ses van Indonesië.

Die vliegtuig is ʼn Airbus A320-200 met die registrasienommer PK-AXC. Dit het soek geraak nadat die kaptein, wat oor 20 537 vlugure se ervaring beskik, versoek het om die vlugroete  weens gure weersomstandighede aan te pas.