Verhoor begin van Britse bankier oor grumoorde in Hongkong

Video’s wat ‘n Britse bankier gemaak het van die marteling en gewelddadige dood van twee Indonesiese vroue wat hy na bewering vermoor het, sal vir ‘n jurie vertoon word.

‘n Regter het Maandag in ‘n hof in Hongkong gelas dat die jurie daarna kyk nadat Rurik Jutting se verhoor begin het.

Jutting het vir Bank of ­America Corp gewerk.

Jutting (31), wat aan die Universiteit van Cambridge gestudeer en skoolgegaan het aan Winchester College, een van die prestige­rykste private skole in Brittanje,­ ontken skuld op klagte van moord op grond van verminderde aanspreeklikheid.

Hy beken skuld op klagte van manslag.

Hy is twee jaar gelede in hegtenis geneem nadat twee lyke in sy luukse woonstel gevind is.

Jutting het verskeie opnames van die moord gemaak. In een kan gesien word hoe die eerste slagoffer doodgemaak word en in ‘n ander praat hy oor sy planne vir die tweede slagoffer, lui die klagstaat.

Die polisie het die lyke van Sumarti Ningsih (23) en Seneng Mujiasih (26) in Oktober 2014 in sy woonstel gevind. Albei se kele was afgesny.

Lees verder.

Grondwetlike krisis dreig in Hongkong

Dosyne pro-Beijing wetgewers het dié week uit Hongkong se wetgewende raad gestap om die inswering van twee pro-onafhanklikheid aktiviste te verhinder. Dit lê die grondslag vir ‘n grondwetlike krisis in die Chinees-­beheerde stad.

Die onafhanklikheidsonderwerp is lank reeds taboe in die voormalige Britse kolonie wat ingevolge die een-land-twee-stelsels-beginsel regeer word sedert dit in 1997 onder China se bewind gekom het.

Pro-Beijing wetgewers sê hulle het geen keuse gehad as om uit te stap nie nadat die twee aktiviste geweier het om verskoning te vra nadat hulle “die moederland beledig het.”

Yau Wai Ching, pro-onafhanklikheidsaktivis, het op sy beurt gesê die pro-establishment kamp behoort om verskoning te vra omdat “hulle die mense van Hongkong verraai het”.

Anti-Chinese wetgewers maak amok by inswering

Die insweringsplegtigheid wat Hongkong se wetgewende sessie afgeskop het, het Woensdag in ’n klug ontaard toe pasverkose “pro-demokrasie” wetgewers met opset die ampseed verdraai het, in ’n teken van protes teen Beijing.

Hulle het ook baniere vertoon waarop geskryf is dat Hongkong nie deel van China is nie, het AP berig. Hulle het ook vir demokratiese selfbeskikking vir die semi-outonome Chinese stad tydens die ampsaflegging gevra.

Die uitdagende optrede is ’n voorspel van wat na verwagting ’n chaotiese termyn vir Hongkong se semi-demokratiese wetgewende raad sal wees, nadat ’n groep jeugdige kandidate in September verkies is en opposisiegetalle in die raad laat toeneem het.

Die nuwelinge verteenwoordig sommige van die golf voetsoolvlak aktiviste wat ná die 2014 pro-demokrasie straatbetogings na vore getree het. Hulle kon nie daarin slaag om toegewings van Beijing te kry nie, en dit het tot die opkoms van ’n onafhanklikheidsbewegingen politieke ontwaking van veral die stad se jeug gelei.

Hongkongse protes rafel uit

Dit lyk asof nie kleurrewolusie in Hongkong nie die pyp gaan rook nie.

Hongkongse polisie het Donderdag begin om die toneel van die stad se sogenaamde “pro-demokrasie betogings” op te ruim.

Tente en versperrings is verwyder na twee maande se siviele ongehoorsaamheid en politieke opmarste en vergaderings die middestad van Hongkong lam gelê het.

Die meeste militante betogers het beloof om nie die stryd gewonne te gee nie.

China het intussen gemaan dat hulle nie morele lesse van Angelsaksers, die borge van die opstand, sal aanvaar nie.

‘n Paar dosyn betogers was Donderdag al wat oorgebly het van die tienduisende wat met die hoogtepunt van die betogings in die Admirality-distrik van die stad byeengekom het.

Ivoorsmokkelaar vas by OR Tambo

ivory‘n Chinese vrou is in die streekhof in Kemptonpark aan die Oos-Rand tot ‘n boete van R50.000 of drie jaar tronkstraf gevonnis nadat sy probeer het om ivoor deur Suid-Afrika na Hongkong te smokkel.

Sy is een van talle Asiese smokkelaars wat die afgelope tyd vasgevat is.

Chinese doeanebeamptes het Augustus in Hongkong op 1 120 olifanttande, 13 renosterhorings en vyf luiperdvelle beslag gelê.

Dit beteken 3 ton ivoor is sedert Januarie vanjaar teruggevind.

‘n Woordvoerder van die Inkomstediens, Adrian Lackay, sê die vrou wou meer as 13 kilogram ivoor uitsmokkel.

Die 58-jarige Jialing Yang is Vrydag op die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem.

Yang beweer dat sy die ivoor by ‘n vlooimark in Mosambiek gekoop het.

Vier mans en drie vroue is na samewerking deur die Inkomstediens, die polisie en Interpol by die lughawe in Hongkong vasgetrek.

Die sewe mense het van Dubai oor Johannesburg na Hongkong gereis.

Grace Ge Gabriel, die Internasionale fonds vir dierewelsyn, Ifaw, se streekdirekteur in Asië, het vroeër gesê olifantstropery in Afrika is buite beheer en die groot beslagleggings is bewys hiervan.

Die meeste ivoor is bedoel vir die Asiese mark, veral China, waar dit as “wit goud” bekend is en vanweë die skaarsheid, al duurder raak.

Die Wildlife Trade and Monitoring Network (Traffic) lei tans labrador-honde op om doene-amptenare te help met die opsporing van onwettige handel in wilde diere se horings of velle.

Die labradors kan ivoor, renosterhoring, tierbeendere, luiperdvelle, ietermagogskubbe en varswaterskilpaaie uitsnuffel selfs al is dit dig verpak.