Polisie vang Indiër met R-1

Die polisie in Gauteng het Sondagaand ‘n Indiër in Actonville aan die Oosrand in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ‘n R1-aanvalsgeweer.

Die Indiërman is vermoedelik ‘n buitelander. Die gebied het die afgelope ruk onder xenofobiese geweld deurgeloop.

Die polisie het vroeër bevestig dat hulle orde herstel het nadat hostelbewoners paaie versper het. Die groep is met traanrook uiteengejaag voor daar by sakeondernemings ingebreek kon word.

Geen berigte van beserings is egter ontvang nie.

Actonville is in die 1950’s ingevolge die Groepsgebiedewet ingerig vir Indiërs.

Die Indiërgemeenskap van Actonville en die swart gemeenskap van Wattville is vroeër deur ‘n treinspoor wat vandag nie meer bestaan nie, geskei, maar woon nog steeds apart van mekaar.

Die Indiërs is verskuif uit Boksburg, Germiston, Nigel en Springs na Actonville en talle het munisipale huise ontvang terwyl sommige hul eie huise gebou het.

By Liberty Cinema, Actonville se sokkerstadion en Red Square in Khan Crescent, is politieke vergaderings gehou in die 1950’s.

Wat het koning Goodwill presies gesê?

Daar is die afgelope paar dae herhaaldelik na Koning Goodwill Zwelithini se onlangse kommentaar verwys wat sou gelei het tot gewelddadige aanvalle tussen plaaslike inwoners en buitelandse burgers in KwaZulu-Natal.

Sedert die toespraak, het die koning se woordvoerders ontken dat hy inwoners teen buitelanders aangehits het en gesê hy het in werklikheid net verwys na ongedokumenteerde buitelanders.

Uit ‘n vertaling van wat die koning presies gesê het toe hy gepraat het in Pongola verlede maand, blyk dit dat die koning ook sy onderdane berispe het.

Toepaslike dele van die toespraak is vertaal met die hulp van Zoeloe-akademici. Die spreekwoorde is direk vertaal.

Die koning klim onder diegene in wat hul nalatenskap van konings Dinizoeloe en Cetshwayo verwaarloos met hul verworwe vryheid uit luiheid en kriminaliteit.

“In 2015 praat ons van Suid-Afrikaners wat nie wil luister nie. Hulle wil nie werk nie, wat diewe is, kinders verkrag en by huise inbreek, lui mense wat nie grond wil bewerk nie. Daar is mense van ander lande wat na hulle kyk en sal sê ‘kom ons gaan eet die erfenis van daardie dommes’.

“As julle nou buite gaan kyk soos ek praat, sal julle sien hoe lyk hulle winkels. En al die soort goed wat buite hang, onnet en deurmekaar. Hulle het chaos na ons strate gebring, die buitelanders, dis vieslik vuil, jy kan nie eers sien wat binne is nie.

“Ek weet die politici hou nie daarvan om oor hierdie goed te praat nie, want die slegte mense word stemgeregtiges na vyf jaar. Die leiers moet my vergewe, maar in sulke omstandighede moet ek uitpraat.

“As iemand wat nie vyf jaar hoef te wag nie, [luide gelag] as Zoeloekoning wat groot respek in oral in die wêreld afdwing vir die bevryding van Afrika, sal ek nie stilbly as mense wat geen reg het, met hierdie land speel nie. Dit is tyd vir ons om ons sê te sê. Ek vra die regering om ons te help.

“Ons moet ons luise vang. Ons moet die miere van ons koppe haal en hulle in die son laat. Die buitelanders moet hulle tasse pak en gaan. [luide toejuiging]”

Afrika wys tande oor aanvalle op buitelanders

Die Nigeriese regering het glo ’n ultimatum aan die Suid-Afrikaanse regering gestel om die geweld teen hulle burgers te keer, en gedreig dat Suid-Afrikaanse ondernemings in Nigerië gesluit sal word indien dit aanhou.

Meer as 100 Suid-Afrikaanse maatskappye, waaronder MTN, Standard Bank, Sasol, Shoprite, Multi­Choice en Mr Price, doen sake in Nigerië, volgens die Nigeries-Suid-Afrikaanse Sakekamer.

Nigerië sê ultimatum, wat blykbaar aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Nigerië gerig was, kon nie deur MTN bevestig word nie.

MTN se totale omset verlede jaar het vir meer as die helfte op Afrika staatgemaak.

In Nigerië het die maatskappy in 2014 bykans R54 miljard se omset gehad, veel groter as die R39 miljard wat die maatskappy in Suid-Afrika genereer.

Die vier groot banke, naamlik FirstRand, Standard Bank, Barclays en Nedbank is ook op die vasteland gefokus. Standard Bank het die grootste teenwoordigheid in Afrika en byna ‘n derde van sy omset kom van buite die land.

Shoprite is die kontinent se grootste voedselkettingwinkelgroep en selfs in lande soos Angola en Nigerië wat afhanklik is van ‘n goeie olieprys, kon die kleinhandelaar ‘n styging van 15% in sy winste behaal.

Suid-Afrikaanse maatskappye bekommer dat die xenofobiese geweld hul beeld skade kan berokken.

Sasol het 340 Suid-Afrikaanse werkers inderhaas onttrek by gasaanleg in Temane, Noord-Mosambiek, nadat Mosambiekers oor hulle teenwoordigheid gekla het, het ‘n S­asol-woordvoerder gesê.

In 2014 het 30% van ons land se totale uitvoere na die res van Afrika gegaan, soveel as na Asië, terwyl net 13% van die totale invoer uit Afrika kom.

Afrika bied ‘n mark wat vervaardigde produkte insluit en nie net grondstowwe nie.

ANC, DA steun ‘Ons is een Mensdom’

Die ANC-premier van Gauteng, David Makhura en DA-leier Helen Zille het hulself ten sterkste uitgespreek teen die jongste vlaag vreemdelingehaataanvalle.

Beide het die geweld veroordeel. Makhura het aan ‘n optog van die Metodiste kerk in Yeoville, Johannesburg teen die xenofobiese geweld deelgeneem.

Die geweld het vroeër verlede week na Gauteng versprei met verskeie winkels van buitelanders wat geplunder is. Meer as 60 mense is reeds in verband met die aanvalle in die provinsie in hegtenis geneem.

Die minister van polisie Nathi Nhleko sê sy departement se “Ons is Een Mensdom” veldtog teen xenofobie sal tussen Mei en Oktober vanjaar na alle provinsies uitgebrei word.

Die veldtog sluit uitreikingsprogramme, opvoedingsprogramme en gesprekvoering oor xenofobie in.

Nhleko, wat die veldtog in Durban bekendgestel het, sê nasionale gesprekvoering moet plaasvind oor die voorkoms en patroon van geweld in die gemeenskap.

Zille het Sondag die hoofrede gelewer tydens haar party se Vrystaatse provinsiale kongres.

Dit sal waarskynlik haar laaste toespraak as leier van die party in die Vrystaat wees, ná sy haarself nie weer verkiesbaar gestel het vir volgende maand se federale kongres in Port Elizabeth nie.

‘n Emosionele Zille het ‘n beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners om geweld te laat vaar en ‘n beroep op die regering gedoen om goeie beleide daar te stel om ekonomiese groei te verseker.

Zille se party slaag nie daarin om swart stemme te trek nie, en sy moes noodgedwonge van die leierskap afsien sodat Mmusi Maimane as leier kan oorneem.

Die nuut-verkose leiers van die DA in die Wes-Kaap het hul steun aan Maimane toegesê as kandidaat vir die partyleierskap.

Die party se Wes-Kaapse kongres het die Kaapstad burgemeester, Patricia de Lille tot nuwe provinsiale leier verkies.

Al die lede van die nuwe Wes-Kaapse leierskorps het aangedui dat Maimane op hul steun kan staatmaak.

Maimane het vroeër bewerings dat die party nie gereed is vir ‘n swart leier nie, as onsin afgemaak en gesê die party het “nie-rassigheid” heeltemal aanvaar.

Dié verklarings strook nie met die party se gesukkel om swart stemme te trek nie.

Die Nigeriese konsul-generaal in Suid-Afrika, Uche Ajulu-Okele, het intussen ‘n beroep op Nigeriërs in Suid-Afrika gedoen om kalm te bly.

Sy het ‘n groep Nigeriese burgers by die Mahatma Gandhi-weg gebied in KwaZulu-Natal toegespreek.

Buitelanders wat in die gebied bly het vroeër gedreig om hulself te verdedig as plaaslike inwoners hulle winkels plunder of hulle intimideer.

Ajulu-Okele sê die Suid-Afrikaanse en Nigeriese regerings werk saam om wet en orde te herstel, die lewens van buitelanders te beskerm en xenofobiese aanvalle te beëindig.

Duisende swartes stroom vanoggend na die Moses Mabhida-stadion in Durban vir ‘n imbizo oor xenofobie.

Dié byeenkoms sal deur koning Goodwill Zweltithini toegespreek word. Sowat 10 000 mense, wat hoofmanne en tradisionele leiers insluit, sal van nege-uur af byeenkom.

Die Zoeloekoning word daarvan beskuldig dat hy tot die onlangse geweld bygedra het. Die koning voer aan dat ‘n toespraak van hom verdraai is en dat hy nooit aanvalle teen enigiemand aangemoedig het nie.

Die aanvalle teen buitelandse burgers het sowat twee weke gelede in KwaZulu-Natal begin en sedertdien na Gauteng versprei.

Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, het Sondag aangekondig dat die geweld teen buitelanders onder beheer gebring is.

President Jacob Zuma het intussen sy reis na Indonesië gekanselleer weens die geweld. Die adjunk-president Cyril Ramaphosa is in sy plek afgevaardig om die besoek te onderneem.

Xenofobiese aanvalle teen Suid-Afrikaners in Mosambiek

Xenofobiese geweld het uitgebreek in Mosambiek teen Suid-Afrikaners wat die buurland in ‘n haas moes verlaat, terwyl vragmotors wat goedere vervoer, tot stilstand gedwing is.

Een vragmotorbestuurder sê dat hy gedwing is om terug te keer na Suid-Afrika ná die vragmotor wat hy bestuur het by ‘n grensdorp onder klippe gesteek is.

Die bestuurder moes terugdraai na Suid-Afrika, en in Komatipoort gaan skuiling soek.

‘n Skare van ongeveer 300 mense het vragmotors uit Suid-Afrika by die Muamba-tolhek ingewag en onder die klippe gesteek omdat hulle “broers en susters” glo doodgemaak word.

Hulle het gesê verdien Suid-Afrikaners om te sterf, het die bestuurder aan News24 gesê. Mense kruip glo by verskeie polisiekantore weg.

Mosambiekers vertel hulle het SMSe ontvang wat gesê het hulle moet nie na Nelspruit (Mbombela) reis nie, want dit is te gevaarlik.

Hulle is gewaarsku dat dit baie gevaarlik is want Suid-Afrikaners maak hulle “roers en susters” daar dood.

Die Lebombo-grenspos is intussen gesluit, maar die Mosambiekse polisie en motoriste wat die paaie gebruik, sê die amokmakers is verwilder.

Die situasie lyk glo kalm op die oomblik en die verkeer vloei soos normaal.

Die Gautengse polisie het drie verdagtes in Alexandra, noord van Johannesburg, in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n Mosambiekse burger.

Die 35-jarige Emmanuel Sithole was ‘n straathandelaar. Die moord hou vermoedelik verband met die xenofobiese aanvalle, maar ander berigte lui dat hy in ‘n argument betrokke was.

‘n Foto van die aanval het in ‘n naweekkoerant verskyn. Die polisie soek steeds na ‘n vierde verdagte.

Gigaba loof buitelanders se bydrae tot SA

Buitelandse burgers moet nie aangeval word nie, omdat die meeste ‘n positiewe bydrae tot die land lewer, het die minister van Binnelandse Sake Malusi Gigaba Donderdag in die Parlement gesê

“Om mee te begin wil ons graag uitdruklik verklaar dat die meeste buitelandse burgers ‘n baie positiewe bydrae tot die samelewing maak,” het hy gesê.

Hy het xenofobiese aanvalle in Durban en ander dele van die land veroordeel tesame met president Jacob Zuma en al die opposisie partye.

Gigaba het gesê baie buitelanders in hospitale en skole sorg vir Suid-Afrikaners.

Hulle het ook die nasionale fiskus vergoot, alhoewel hulle hul geld uit Suid-Afrika stuur na hul eie lande.

Die Durbanse middestad was Donderdag ‘n chaotiese toneel van skokgranate, rubberkoeëls, traangas, en ‘n groot polisieteenwoordigheid toe ‘n vredesoptog wat gehou is om xenofobiese aanvalle te beëindig, in verdere geweld en plundery ontaard het.

‘n Burger van Burundi Moses Sefumama, moes gered word van ‘n skare deur die metropolisie in Durban, het News24 berig. Inwoners kla dat buitelanders dwelms aan kinders smous.

Die polisie moes mensekettings in die strate vorm met hul bevelvoerder wat skree “hou die lyn, hou die lyn” terwyl tierende swart skares probeer deurbreek.

Pres. Zuma het in sy toespraak in die parlement gesê die land sal ferm bly staan teen “rassisme, xenofobie, homofobie en seksisme.”

Motors aan die brand gesteek in Johannesburg

‘n Aantal motors in Jeppestown, Johannesburg is verlede nag aan die brand gesteek in die voortslepende geweld teen buitelanders.

‘n Groot polisiesteenwoordigheid is in die gebied ontplooi om geweld te probeer bekamp. Die motors het vermoedelik aan Mosambiekse burgers behoort.

Verskeie winkels in die Johannesburgse middestad is ook geplunder en gevandaliseer te midde van die xenofobiese golf wat tans oor die land tans spoel.

Intussen is ‘n Ethiopiese man steeds in ‘n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy aan die brand gesteek is in ‘n beweerde xenofobiese aanval aan die Oos-Rand van Gauteng.

Inwoners van Greenfields wat kwaad is vir hulle wyksraadslid, het na bewering die Ethiopiër, Fayis Abeyo aangeval en sy winkel geplunder.

In Ledig in Noordwes het inwoners ook buitelanders geteiken weens ontevredenheid met die munisipaliteit.

Swart ster wat Woolworths kritiseer se Britse konsert ontwrig

Swart musieksterre, Cassper Nyovest, Brickz en Kelly Khumalo moes vertonings in Brittanje kanselleer na dreigemente om hulle konserte te ontwrig.

‘n Woordvoerder van Elite Promotions, Ezra Sibanda, sê hulle het die konserte gekanselleer omdat die Britse polisie toestemming geweier het. Diegene met kaartjies vir konserte gekoop het, sal glo hulle geld terugkry.

Nyovest het Woolworths onlangs gekritiseer omdat hulle buitelandse musieksterre betaal om hul promosies te doen. Hy het gesê Suid-Afrikaanse bedrywe moet in die land belê.

Die ontwrigting is georganiseer oënskynlik teen die xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika, alhoewel die kunstenaars daarteen gekant is.

Opgesweepte swartes in Brittanje het glo gedreig om die konserte te boikot en ander konsertgangers te verhinder om dit by te woon, het die polisie gesê.

Khumalo sou in Manchester en Coventery optree, maar burgers van verskeie Afrikalande in Brittanje glo het gedreig om ‘n stokkie daarvoor te steek.

Buitelandse swartes in die VK beplan nou om aanstaande week na die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen op te ruk en te eis dat die Suid-Afrikaanse regering ‘n einde maak aan die geweld.

Buitelandse winkels in Johannesburg sluit na dreigemente

Winkels in buitelandse besit in Johannesburg se middestad het begin om hul deure te sluit ná gerugte dat ‘n skare dreig om op ‘n plunderveldtog te gaan.

Nuus24 berig dat die meeste winkels op Breëstraat reeds gesluit is.

Eyewitness News het getwiet dat daar dreigemente van geweld in die sentrum Johannesburg is en sommige winkels is alreeds geplunder

‘n Polisiewoordvoerder Wayne Minnaar sê die metropolisie monitor die situasie.

Geweld het die afgelope week vanaf gebiede buite Durban na die middestad versprei en polisieversterkings moes uit ander dele van die provinsie ingeroep word.

By Ledig naby Sun City in Noordwes is ook voorvalle van plundery en brandstigting teen buitelanders aangemeld.

Intussen het die VN se voormalige Hoëkommissaris vir Menseregte, Navi Pillay, in Durban oor voortgesette xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika gepraat.

Pillay het gesê Suid-Afrika moet ‘n strenger immigrasiebeleid instel en strenger beheer neem oor landsgrense.

Sy het Suid-Afrika se oop grense gekritiseer.

Die voormalige VN-amptenaar is deel van ‘n taakspan wat deur die KwaZulu-Natalse regering aangestel is om aandag te gee aan die geweld wat reeds vyf lewens geëis het, waaronder ook die van ‘n minderjarige.

Byna 2000 buitelanders is reeds na skuilplekke uitgedryf.

Die organisasie, Regslui vir Menseregte, sê die regering maatreëls in te stel om die integrasie van buitelanders in die samelewing te vergemaklik.

Hulle het gesê die regering en wetstoepassingsagentskappe moet optree om die huidige vlaag van geweld te ontlont.

Volgens Regslui vir Menseregte voel Suid-Afrikaners dat buitelanders hulle werksgeleenthede bedreig en dit lei tot misdaad en vreemdelingehaat.

Malawi het vroeër aangekondig dat hy sy burgers uit Suid-Afrika sal repatrieer na die toename in xenofobiese geweld.

Zimbabwe het gesê die aanvalle teen sy burgers in Durban sal nie betrekkinge tussen die twee lande beïnvloed nie.

VN spreek kommer uit oor xenofobiese geweld

Die Verenigde Nasies se Vlugtelingagentskap het sy kommer uitgespreek oor voortslepende xenofobiese geweld in die land.

Nog twaalf mense is intussen in hegtenis geneem in Durban vir openbare geweld waarin vyf mense reeds omgekom het.

Die plundery het Dinsdag na die Indiërbuurt Verulam uitgebrei.

Die Vlugtelingagentskap het berigte van buitelanders landwyd ontvang wat sê dat hulle vir hulle lewens vrees.

Die woordvoerder, Tina Ghelli sê talle vlugtelinge en asielsoekers word dakloos gelaat weens die geweld teen hulle en hulle het geen heenkome nie.

Die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba het gesê leiers moet hulle daarvan weerhou om opruiende taal te gebruik, wat deur sommige mense as kritiek teen die koning vertolk is.

Gigaba en ander ministers van die veiligheids-groepering het vroeër met die Zoeloekoning samesprekings gevoer oor sy kommer oor migrasie-bestuur.

Die vergadering het op versoek van die regering plaasgevind.

Zoeloes verjaag buitelanders

Grootskaalse plundery in Durban se lokasies het verlede nag uitgebreek soos spanning aangevuur deur xenofobiese retoriek en werkloosheid oorgekook het.

Verskeie mense is dood en duisende is uit hul wonings gejaag in die mees gewelddadige onlangse aanvalle teen buitelanders wat steeds in ‘n deel van KwaZoeloe-Natal voortduur.

Sporadiese geweld is veral in Suid-Durban opgemerk. Honderde polisielede is ontplooi in die stad van alle uithoeke van provinsie, terwyl duisende Zoeloes op buitelanders se winkels toegesak het.

Die eThekwini Metro se hele brandweer is na verneem word ontplooi in net KwaMashu alleen, soos plunderaars winkels aan die brand steek asook huise wat aan buitelandse burgers behoort.

Die polisie se Openbare Orde-eenheid het gesukkel om die eiendom van buitelanders te beveilig. Volgens berigte het groepe mense in Umlazi en in KwaMashu van winkel tot winkel beweeg en voedsel gebuit voordat winkels aan die brand gesteek is.

Die sentiment van Zoeloe-inwoners is vervat in kommentaar deur die Zoeloekoning Goodwill Zwelithini, wat voorgestel het dat nie-Suid-Afrikaanse burgers hulle “tasse moet pak” en terugkeer huis toe.

Zwelithini se opmerking volg te midde van die regering se pogings om duisende ontwortelde buitelanders aan te moedig om na hul gemeenskappe terug te keer.

Die vlaag xenofobiese geweld kan toegeskryf word aan buitelanders wat ongehinderd oor Suid-Afrika se grense stroom en meeding om werk in ‘n arbeidsmark waar werkloosheid reeds hoogty vier.

Berigte dat ‘n kind geskiet is, kon nie bevestig word nie.

‘n Groot groep swart mans wat by die Dalton mans-hostel in die Durbanse middestad saamgetrek het, is ook uiteengejaag.

Buitelanders in rep en roer oor Zoeloekoning se aanmerking

Meer as ‘n honderd buitelanders het by die polisiestasie op Isipingo in KwaZulu-Natal saamgedrom om aanklagte van aanranding en intimidasie in te dien, nadat tien van hulle winkels in die dorp, suid van Durban, geplunder is.

Hulle sê dit is veroorsaak deur Koning Goodwill Zwelithini se aanmerking dat hulle die land behoort te verlaat, het RSG berig.

Die plundery en aanvalle hou vermoedelik ook verband met vroeëre betogings by ‘n plaaslike pakhuis tussen Umlazi en Isipingo.

Buitelanders sê hulle leef in vrees, en het meer sigbare polisiëring in die omgewing gevra.

Polisie ontplooi in Limpopo teen xenofobiese geweld

Geweld teen Somaliërs in Ga-Sekgopo, oos van Pietersburg (Polokwane) in Limpopo, het daartoe gelei dat hulle hul moes hul winkels verlaat.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is ontplooi. “Die situasie is tans kalm en ‘n saak van openbare geweld word ondersoek,” het hy gesê.

‘n Somaliër is glo betrap met die selfoon van ‘n moordslagoffer. Die man is drie weke gelede vermoor. Inwoners het die Somaliër daarvan beskuldig dat hy verantwoordelik is vir die moord.

Volgens die polisie het een van die moordenaars moontlik die selfoon aan die Somaliër gegee, of verkoop of vir herstel ingehandig. ‘n Moordverdagte is intussen in hegtenis geneem.

Een verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord en nog ‘n persoon het homself Sondag aan die polisie oorgegee.

Sedert Sondag het geweld en plundery in 11 gebiede in Sekgopo die Somalies immigrante uit hul winkels gedwing.

Somaliese winkeleienaars in die gebiede het gesê hulle leef in vrees, aangesien plaaslike swart inwoners dreig om hulle lewend aan die brand te steek.

Een van die winkeliers het gesê hy het al sy voorraad verloor tydens die plundertog. “Ons het ons voorraad, kruideniersware, klere en boumateriaal verloor,” het hy gesê.

Ander eienaars is bekommerd dat hulle kollektief verantwoordelik sal gehou word vir een oortreding. “Dit is jammer, want ons is nie eers deel van hierdie selfoonherrie nie, maar omdat ons buitelanders is, word ons ook ingesluit. Ons bly al jare lank in hierdie gemeenskap. Ons was ‘n familie, ons was deel van hulle.”

Corrie Sanders se moordenaars skuldig bevind

Drie swart Zimbabwiërs is Dinsdag skuldig bevind aan die moord op die voormalige swaargewigbokskampioen Corrie Sanders.

Die staatsaanklaer het gesê sulke gedrag van Zimbawiërs lei tot aanvalle teen buitelanders. “Jy het net pyn en lyding na Suid-Afrikaanse gesinne gebring,” het die staatsaanklaer gesê.

Sanders (46) is tydens ‘n rooftog geskiet, en is die volgende dag in die Kalafong-hospitaal oorlede.

Hy het sy broerskind se 21ste verjaarsdagviering bygewoon by ‘n restaurant buite Brits toe hulle deur die drie swartes oorval is.

Regter Ferdi Preller het Paida Fish (21), Chris Moyo (28) en Samuel Mabena (29) in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Sanders is getref toe hy sy dogter Marinique wou beskerm. Hy was reeds swaar gewond toe hy haar na die grond toe getrek het en gesê het sy moet maak of sy dood is.

Die aanvallers het die gaste van hul persoonlike besittings soos handsakke, selfone en kontant beroof. Twee van die gaste kon Fish en Moyo tydens ‘n uitkenningsparade identifiseer.

Die drie swartes is ‘n paar dae later in Oukasie-lokasie gevang met die gesteelde items. Een het ‘n gegraveerde horlosie van een van die gaste gedra wat hy met ‘n rekkie om sy arm vasgemaak het. Die ander twee het onder meer motorsleutels en simkaarte van die gaste in hul besit gehad.

Sanders het in 46 gevegte slegs vier keer verloor en 31 keer gewen deur ‘n uitklophou. Hy het die WBO-swaargewigtitel in Maart 2003 in Hannover, Duitsland ingepalm nadat hy Wladimir Klitsckho van Oekraïne in die tweede ronde met ‘n uitklophou platgeslaan het.

Die swartes word Woensdag gevonnis.