Die ANC-premier van Gauteng, David Makhura en DA-leier Helen Zille het hulself ten sterkste uitgespreek teen die jongste vlaag vreemdelingehaataanvalle.
Beide het die geweld veroordeel. Makhura het aan ‘n optog van die Metodiste kerk in Yeoville, Johannesburg teen die xenofobiese geweld deelgeneem.
Die geweld het vroeër verlede week na Gauteng versprei met verskeie winkels van buitelanders wat geplunder is. Meer as 60 mense is reeds in verband met die aanvalle in die provinsie in hegtenis geneem.
Die minister van polisie Nathi Nhleko sê sy departement se “Ons is Een Mensdom” veldtog teen xenofobie sal tussen Mei en Oktober vanjaar na alle provinsies uitgebrei word.
Die veldtog sluit uitreikingsprogramme, opvoedingsprogramme en gesprekvoering oor xenofobie in.
Nhleko, wat die veldtog in Durban bekendgestel het, sê nasionale gesprekvoering moet plaasvind oor die voorkoms en patroon van geweld in die gemeenskap.
Zille het Sondag die hoofrede gelewer tydens haar party se Vrystaatse provinsiale kongres.
Dit sal waarskynlik haar laaste toespraak as leier van die party in die Vrystaat wees, ná sy haarself nie weer verkiesbaar gestel het vir volgende maand se federale kongres in Port Elizabeth nie.
‘n Emosionele Zille het ‘n beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners om geweld te laat vaar en ‘n beroep op die regering gedoen om goeie beleide daar te stel om ekonomiese groei te verseker.
Zille se party slaag nie daarin om swart stemme te trek nie, en sy moes noodgedwonge van die leierskap afsien sodat Mmusi Maimane as leier kan oorneem.
Die nuut-verkose leiers van die DA in die Wes-Kaap het hul steun aan Maimane toegesê as kandidaat vir die partyleierskap.
Die party se Wes-Kaapse kongres het die Kaapstad burgemeester, Patricia de Lille tot nuwe provinsiale leier verkies.
Al die lede van die nuwe Wes-Kaapse leierskorps het aangedui dat Maimane op hul steun kan staatmaak.
Maimane het vroeër bewerings dat die party nie gereed is vir ‘n swart leier nie, as onsin afgemaak en gesê die party het “nie-rassigheid” heeltemal aanvaar.
Dié verklarings strook nie met die party se gesukkel om swart stemme te trek nie.
Die Nigeriese konsul-generaal in Suid-Afrika, Uche Ajulu-Okele, het intussen ‘n beroep op Nigeriërs in Suid-Afrika gedoen om kalm te bly.
Sy het ‘n groep Nigeriese burgers by die Mahatma Gandhi-weg gebied in KwaZulu-Natal toegespreek.
Buitelanders wat in die gebied bly het vroeër gedreig om hulself te verdedig as plaaslike inwoners hulle winkels plunder of hulle intimideer.
Ajulu-Okele sê die Suid-Afrikaanse en Nigeriese regerings werk saam om wet en orde te herstel, die lewens van buitelanders te beskerm en xenofobiese aanvalle te beëindig.
Duisende swartes stroom vanoggend na die Moses Mabhida-stadion in Durban vir ‘n imbizo oor xenofobie.
Dié byeenkoms sal deur koning Goodwill Zweltithini toegespreek word. Sowat 10 000 mense, wat hoofmanne en tradisionele leiers insluit, sal van nege-uur af byeenkom.
Die Zoeloekoning word daarvan beskuldig dat hy tot die onlangse geweld bygedra het. Die koning voer aan dat ‘n toespraak van hom verdraai is en dat hy nooit aanvalle teen enigiemand aangemoedig het nie.
Die aanvalle teen buitelandse burgers het sowat twee weke gelede in KwaZulu-Natal begin en sedertdien na Gauteng versprei.
Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, het Sondag aangekondig dat die geweld teen buitelanders onder beheer gebring is.
President Jacob Zuma het intussen sy reis na Indonesië gekanselleer weens die geweld. Die adjunk-president Cyril Ramaphosa is in sy plek afgevaardig om die besoek te onderneem.
