Wat het koning Goodwill presies gesê?

Daar is die afgelope paar dae herhaaldelik na Koning Goodwill Zwelithini se onlangse kommentaar verwys wat sou gelei het tot gewelddadige aanvalle tussen plaaslike inwoners en buitelandse burgers in KwaZulu-Natal.

Sedert die toespraak, het die koning se woordvoerders ontken dat hy inwoners teen buitelanders aangehits het en gesê hy het in werklikheid net verwys na ongedokumenteerde buitelanders.

Uit ‘n vertaling van wat die koning presies gesê het toe hy gepraat het in Pongola verlede maand, blyk dit dat die koning ook sy onderdane berispe het.

Toepaslike dele van die toespraak is vertaal met die hulp van Zoeloe-akademici. Die spreekwoorde is direk vertaal.

Die koning klim onder diegene in wat hul nalatenskap van konings Dinizoeloe en Cetshwayo verwaarloos met hul verworwe vryheid uit luiheid en kriminaliteit.

“In 2015 praat ons van Suid-Afrikaners wat nie wil luister nie. Hulle wil nie werk nie, wat diewe is, kinders verkrag en by huise inbreek, lui mense wat nie grond wil bewerk nie. Daar is mense van ander lande wat na hulle kyk en sal sê ‘kom ons gaan eet die erfenis van daardie dommes’.

“As julle nou buite gaan kyk soos ek praat, sal julle sien hoe lyk hulle winkels. En al die soort goed wat buite hang, onnet en deurmekaar. Hulle het chaos na ons strate gebring, die buitelanders, dis vieslik vuil, jy kan nie eers sien wat binne is nie.

“Ek weet die politici hou nie daarvan om oor hierdie goed te praat nie, want die slegte mense word stemgeregtiges na vyf jaar. Die leiers moet my vergewe, maar in sulke omstandighede moet ek uitpraat.

“As iemand wat nie vyf jaar hoef te wag nie, [luide gelag] as Zoeloekoning wat groot respek in oral in die wêreld afdwing vir die bevryding van Afrika, sal ek nie stilbly as mense wat geen reg het, met hierdie land speel nie. Dit is tyd vir ons om ons sê te sê. Ek vra die regering om ons te help.

“Ons moet ons luise vang. Ons moet die miere van ons koppe haal en hulle in die son laat. Die buitelanders moet hulle tasse pak en gaan. [luide toejuiging]”

Koning Goodwill Zwelithini is bankrot

Koning Goodwill Zwelithini is bankrot en kan selfs nie kruideniersware vir sy huishouding bekostig nie.

Die huishouding bestaan uit ses vroue en 27 kinders het die Sunday Times berig.

Die KwaZulu-Natalse regering sal nou die koning finansieel moet ondersteun, ondanks die feit dat hy R54,2 miljoen se jaarlikse ondersteuning van die nasionale regering kry.

Volgens die berig is die trust wat op die been gebring is om te verseker dat die koninklike huishouding selfonderhoudend is, bankrot.

Regter Jerome Ngwenya, voorsitter van die trust, het gesê die rede vir die trust se probleme is die feit dat daar nooit ten volle bereken of begroot is nie. Die trust, wat vyf jaar gelede deur die provinsiale regering op die been gebring is, het ten doel gehad om die departement van koninklike huishoudings te vervang maar albei bestaan tans neffens mekaar.

“Al die geld wat die trust ontvang het, is deur die departement oorgeplaas as of die trust ʼn entiteit van die departement is. Die departement het, ten spyte van ooreenkomste wat met die trust bereik is, in gebreke gebly om gelde oor te dra soos die ooreenkoms vereis en het mindere bedrae oorgedra,” het Ngwenya gesê.

Die trust se waarnemende finansiële beampte, Bonginkosi Qunta, het verlede week aan die KwaZulu-Natalse finansiële komitee gesê die trust het geen geld nie.

Nie Ngwenya of Qunta kon verduidelik waarop die trust die toegekende geld spandeer het of hoeveel geld die trust tot op datum ontvang het nie.