Afrika wys tande oor aanvalle op buitelanders

Die Nigeriese regering het glo ’n ultimatum aan die Suid-Afrikaanse regering gestel om die geweld teen hulle burgers te keer, en gedreig dat Suid-Afrikaanse ondernemings in Nigerië gesluit sal word indien dit aanhou.

Meer as 100 Suid-Afrikaanse maatskappye, waaronder MTN, Standard Bank, Sasol, Shoprite, Multi­Choice en Mr Price, doen sake in Nigerië, volgens die Nigeries-Suid-Afrikaanse Sakekamer.

Nigerië sê ultimatum, wat blykbaar aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Nigerië gerig was, kon nie deur MTN bevestig word nie.

MTN se totale omset verlede jaar het vir meer as die helfte op Afrika staatgemaak.

In Nigerië het die maatskappy in 2014 bykans R54 miljard se omset gehad, veel groter as die R39 miljard wat die maatskappy in Suid-Afrika genereer.

Die vier groot banke, naamlik FirstRand, Standard Bank, Barclays en Nedbank is ook op die vasteland gefokus. Standard Bank het die grootste teenwoordigheid in Afrika en byna ‘n derde van sy omset kom van buite die land.

Shoprite is die kontinent se grootste voedselkettingwinkelgroep en selfs in lande soos Angola en Nigerië wat afhanklik is van ‘n goeie olieprys, kon die kleinhandelaar ‘n styging van 15% in sy winste behaal.

Suid-Afrikaanse maatskappye bekommer dat die xenofobiese geweld hul beeld skade kan berokken.

Sasol het 340 Suid-Afrikaanse werkers inderhaas onttrek by gasaanleg in Temane, Noord-Mosambiek, nadat Mosambiekers oor hulle teenwoordigheid gekla het, het ‘n S­asol-woordvoerder gesê.

In 2014 het 30% van ons land se totale uitvoere na die res van Afrika gegaan, soveel as na Asië, terwyl net 13% van die totale invoer uit Afrika kom.

Afrika bied ‘n mark wat vervaardigde produkte insluit en nie net grondstowwe nie.

Senior bankbeampte sit agt jaar vir bedrog

standard‘n Senior beampte van Standard Bank is Maandag in die Bellville-handelshof tot agt jaar tronkstraf gevonnis.

Die 52-jarige Fowzia Davids is skuldig bevind op aanklagte van bedrog wat R1, 163 000 beloop en geldwassery.

Davids het ‘n goeie salaries verdien as privaat bankier by Standard Bank en moes die bank se spesiale kliënte op hoogte hou van gespesialiseerde produkte.

Landdros Sabrina Sonnenberg het gesê Davids het haar tot dobbelary gewend om te vlug van die druk van familielede wat haar om raad genader het weens haar pos by die bank. Haar dobbelgewoontes het tot verslawing gelei.

Sonnenberg het gesê as ‘n Moslem het Davids geweet dat die Islam-geloof dobbelary verbied. Om dié rede het sy nie Moslem-drag gedra tydens haar gereelde besoeke aan die GrandWest Casino in Kaapstad nie.

Die landdros het gesê Davids het ‘n kliënt geteiken wat dikwels oorsee was en nie gereeld sy bankrekening nagegaan het nie. Terwyl die kliënt oorsee was, het sy geld uit sy rekening na haar man se bankrekening oorgeplaas en toe na haar eie.

Sonnenberg het saamgestem met die staatsaanklaer, Zama Matayi, dat die bedrogspul goed beplan en tussen Junie 2008 en Mei 2009 goed uitgevoer is.

Sy het gesê die kliënt het ongerymdhede by die bank aangemeld. Davids is weens die senioriteit van haar pos toegelaat om alleen te werk en dit het dit maklik gemaak om die verduistering weg te steek.

Die bank moes die kliënt terugbetaal en sy reputasie het ook skade gely. – Sapa

Ondersteuning vir Afrikaans by Standard Bank gevra

Beste vriende,

Ek vra jul ondersteuning in my voortslepende stryd teen Standard Bank om hul Afrikaanse kliënte se taalregte te handhaaf. Die bank is al geruime tyd besig om Afrikaans stelselmatig uit te wis. Al die brosjures in Standard Bank se tak op Montagu is net in Engels, waar dit voorheen tweetalig was. Al die plakkate teen die mure en die inligtingstekens is nou ook in Engels. Twee-derdes van die mense in Montagu en omgewing is Afrikaans.

Een stem wat protes aanteken, word maklik van die tafel gevee. As ‘n klomp mense beswaar aanteken, kan Standard Bank dalk begin kennis neem.

Die nuutste belediging is die onderstaande eentalige “self service banking newsletter”. Ek het die nuusbrief aan hulle teruggestuur met die versoek om in my voorkeurtaal diens te ontvang. Sien my brief hieronder.

As elkeen van julle ‘n e-pos aan die adres hieronder (Information@standardbank.co.za) kan stuur en namens jouself of jou organisasie protes aanteken teen hierdie eentalig Engelse nuusbrief, en elkeen van julle net een ander mens kan motiveer om dieselfde te doen, kan Standard Bank dalk besef hy kan geld verloor as hy voortgaan om Engels in sy Afrikaanssprekende kliënte se keel af te dwing.

Stuur asb. ‘n afskrif van jul briewe aan my en vra ook ander om afskrifte aan my te stuur. As geen reaksie van Standard Bank se “konsultante” (almal net Engels) ontvang word nie, kan ek al die briewe na ‘n hoër gesag aanstuur.

Baie dankie vir julle samewerking in die belang van Afrikaans.

feathered frenzyОлександр Фільчаков прокурор