Die geloofwaardigheid van die polisie het opnuut onder skoot gekom.
Dit volg na ‘n verslag van die navorsingsmaatskappy Futurefact waarin bevind is dat 76 persent van Suid-Afrikaners van mening is dat baie polisielede self misdadigers is.
Net meer as drieduisend mense het aan die meningspeiling deelgeneem.
Twee polisielede, onderskeidelik 35 en 44 jaar oud, is intussen op Pongola in die noorde van KwaZulu-Natal vasgetrek op aanklagte van roof en van ontvoering, het RSG berig.
Daar word beweer dat hulle onder ‘n groep mans was wat veiligheidswagte by ‘n winkel vasgebind, hulle in ‘n suikerrietland agtergelaat en toe die winkel gaan beroof het.
Die KwaZulu-Natalse LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Skakeling, Willies Mchunu, het die polisie se betrokkenheid by misdadige bedrywighede skerp veroordeel.
Mchunu sè die meerderheid polisielede in die provinsie is nog steeds mense van integriteit wat baie hard werk en hy het die publiek gevra om saam met die lede te werk en diegene te ontbloot wat by misdadige bedrywighede betrokke is.
‘n Woordvoerder van sy Departement, Sipho Khumalo, sè die polisielede sal later vandeesmaand in die landdroshof op Pongola verskyn.
Verskeie polisiebeamptes van die Douglasdale polisiestasie in die noorde van Johannesburg is blykbaar gister ontwapen nadat hulle kollegas gedreig het.
Die polisielede is na bewering op ‘n sloerstaking omdat hulle ontevrede is oor beweerde rassisme by die stasie.
Die Gautengse polisiewoordvoerder, kolonel Noxolo Kweza, wou nie kommentaar lewer nie.

