Karel Combrinck: Ope brief aan FW de Klerk

Mnr De Klerk, nou wil ek u eers ‘n guns vra : U is nou tagtig jaar oud. Moet tog asseblief nie iets onbesonne aanvang soos om lepel in die dak te steek voor die boere kan organiseer om u onderstebo op te hang nie.

Dis verbysterend dat daar nog mense is wat die vermetelheid en dikvelligheid kan hê om u skandelike oorgawe aan ‘n kommunistiese ANC-terroristebende te probeer verdedig. Lyk baie na ‘n nostalgiese uitstappie van ‘n paar van u lakeie na die dae toe u nog «president» was. Of miskien is daar mense wat sleg slaap oor wat hulle aangevang het.

Kom ons kyk na ‘n paar van hulle patetiese pogings :

In Die Burger van 18 deser verskyn ‘n artikel deur ene Alet Janse van Rensburg wat ondermeer soos volg lui :

«Diegene wat oudpres. FW de Klerk se hantering van die destydse onderhandelinge vir ’n demokratiese Suid-Afrika kritiseer, moet besef daar was geen alternatief vir die bestel wat hy suksesvol onderhandel het nie.

Só het oudkollegas van De Klerk hom Vrydag op sy 80ste verjaardag geprys vir die leierskap wat hy in ’n kritieke tyd in die land se geskiedenis aan die dag gelê het .»

U sal merk, mnr de Klerk, dat die berig, wat in beginsel veronderstel is om objektief en neutraal te wees, in kenmerkende Burger-styl duidelik in u guns bevooroordeeld is. Die inleidende paragraaf, wat sg die mening van u oudkollegas weergee, stel onomwonde u beleidsrigtings in ‘n positiewe lig. «Leierskap wat hy in ‘n kritieke tyd tyd in die land se geskiedenis aan die dag gelê het» bevat ook duidelik ‘n oordeel dat u beslissings reg en tot voordeel van die land en sy mense was. In belang van ewewig sou ‘n mens kon verwag het dat die berig ook die menings sou dra van mense wat minder lof vir u «onderhandelde» oorgawe het. Maar Die Burger, soos ons weet, het geen voorliefde vir objektiwiteit of ewewigtigheid nie.

En dan, mnr De Klerk, die ewige getokkel oor ‘n «onderhandelde» skikking: Hoeveel onderhandelingsvermoë en hoeveel diplomasie is nodig om ‘n land weg te gee?

«Dr. Kraai van Niekerk, destydse minister van landbou in die oorgangskabinet, het gesê ondanks kritiek teen De Klerk sou Suid-Afrika nie die demokrasie gehad het wat hy vandag het as dit nie vir De Klerk was nie.» Nogal ‘n taamlik onbeholpe sin, maar toemaar.

Maar die vraag is watter soort demokrasie het Suid-Afrika vandag en is dit die soort demokrasie wat enigiemand wil hê, een onder meer waar die Guptas besluit wie kabinetsministers moet wees? «Oorgangskabinet»! Watter soort gedrog is dit? Oorgawekabinet miskien. As ek die sin ietwat kan wysig: «Sonder De Klerk sou Suid-Afrika nie die katastrofiese en totaal mislukte demokrasie gehad het wat hy vandag het nie.»

En van die kant van die ou aartsbedrieër en vermaakliheidskunstenaar, Pik Botha :

“Hoewel daar baie ekonomiese en politieke druk teen apartheid was, was dit ’n etiese en morele motivering wat De Klerk daartoe gedryf het om ons daaruit te lei. Ons het besef dat dit waarmee ons besig is («apartheid»), sonde is en ons kon dit nie langer doen nie.”

Ons was nie in staat om ons land te behou nie, maar ons het darem die tweede prys gewen: Ons was «moreel». Mnr De Klerk u weet tog dat wanneer ‘n mens wil swig voor druk dan klink dit beter om te sê dis weens «morele redes» as om te erken «ek gooi die tou op». En dan, asseblief , wil Pik Botha sowaar vir ons kom preek oor wat «sonde» is? Kan ‘n mens grotesker!

Maar dan gaan die ou amateurgoëlaar voort :

“Daardie referendum het aan die ANC gewys dat twee derdes van die wit mense in die land verkies het dat De Klerk en sy regering die toekoms namens hulle onderhandel. Dit het ons gered toe alles in die weegskaal was. Ons sou nie uit ’n swakkere posisie kon onderhandel nie.”

U het dus uit ‘n posisie van krag onderhandel. Maar wat het u dan nou juis in u posisie van krag bereik? U sou, uit ‘n posisie van krag, ‘n vorm van selfbeskikking vir ons kon beding het. Maar dit is nie ‘n «alternatief» waarin u belang gestel het nie. U het net niks vir ons beding nie behalwe spookasems. Geen wonder Cyril Ramaphosa en die ANC-onderhandelingspan kon hulle gelag vir u nie beteuel nie. ‘n Mens sidder by die gedagte aan wat u sou «beding» het uit ‘n posisie van swakheid! Soos Pik Botha dit duidelik maak, die gedagte met die referendum was om die ANC te beïndruk en instede daarvan dat hulle beïndruk was, het hulle vir u gelag.

«Dr. Stoffel van der Merwe, oudminister van inligting en die uitsaaiwese, het gesê «mense vergeet dat ’n kompromis van nature iets is waarmee beide partye nie heeltemal tevrede is nie, maar waarmee albei kan saamleef. Daar was geen alternatief vir die stelsel wat hy suksesvol onderhandel het nie».

Weer die mite van «suksesvolle» onderhandeling en «geen ander alternatief nie». U hartsbegeerte was, soos u self sê, om die mag aan die ANC oor te gee, die mooiste dag in u presidensie. Het u hoegenaamd na ander alternatiewe gekyk? Wees tog vir een keer eerlik en erken kapitulasie was die enigste alternatief wat u oorweeg het. U het ons die verderf ingelei met oëverblindery oor «geen ander alternatief» nie. Volgens u was die enigste keuses apartheid of totale oorgawe. Dis net nuttige idiote wat dit kon glo. En ongelukkig is hulle altyd in die meerderheid.

En waar in hemelsnaam is die kompromis ? Dis tog bloot politiekery. Kompromis beteken in gewone taal «iets vir jou en iets vir my». Hulle het ‘n land present gekry en ons?

Nog Stoffel:

“Dit was grootliks te danke aan De Klerk wat in 1990 die sameloop van omstandighede – wat ’n unieke geleentheid geskep het vir ’n vreedsame oorgang – berekend benut het.”

Vreedsame oorgang miskien, maar vreedsame oorgang na wat? En hoe kon dit anders as vreedsaam wees as u die land eenvoudig verniet weggegee het? Waar is dus nou die wonderwerk?

(Kraai) Van Niekerk het ook gesê dat Suid-Afrika «gelukkig was om iemand soos De Klerk te hê wat die moed van sy oortuiging gehad het om die land op ‘n verantwoordelike wyse vorentoe te neem».

Die «moed» gehad om die land «vorentoe» te neem! Maar, mnr De Klerk, u weet dit tog, alles het inteendeel sedert u oorgawe agteruit gegaan en gaan nog steeds verder agteruit. Die «moed» wat u openbaar het en die «vorentoe» waarvan Van Niekerk en Van der Merwe praat, is moed en vooruitgang uit die oogpunt van die New York Times.

Die knaende refrein van «suksesvolle onderhandelings» laat ‘n mens ook noodwendig wonder wat «suksesvolle» onderhandelings mag beteken. As ‘n mens mooi lees en mooi luister, beteken dit oorgawe aan die ANC sonder bloedvergieting. Vanselfsprekend sal niemand bloed vergiet wat ‘n land verniet kry nie. As bloed vergiet moes word om ons selfbeskikking te waarborg, dan moes dit gebeur. Ons bloed is herhaaldelik deur ons geskiedenis heen vergiet, in die Anlo-Boere-oorlog, jare lank in Angola en elders, ter wille van ons vryheid. Om te sterf ter wille van ons vryheid sou tog eindeloos meer moreel gewees het as hierdie eerlose en vernederende oorgawe. En dan, mnr De Klerk, wat van al die bloed van witmense wat nou op plase en elders vergiet word? Alles deel van u «demokratiese» oorgang ?

U het ons die verderf ingelei met oëverblindery oor «geen ander alternatief nie». Daar was ander keuses ook behalwe apartheid of oorgawe en u weet dit, maar u het nie die wil en die «moed» gehad om hulle te oorweeg nie. U het net uitgesien na die grootste dag in u presidensie.

Baie van ons, Mnr De Klerk, en ek glo al meer en meer, is oortuig daarvan dat u motivering nie moraliteit was nie, maar eerder lafhartigheid, soeke na internasionale gewildheid en eiebelang. U het die wêreld gewen deur u siel te verkwansel. Nelson Mandela het van u ‘n wêreldfiguur gemaak: Die grootste hensopper in die geskiedenis.

ANC-oudminister gekaap

Netwerk24 het berig dat genl. Siphiwe Nyanda, voormalige minister van kommunikasie, glo Dinsdagaand in Rooihuiskraal, Centurion, gekaap is.

Drie kapers het blykbaar die generaal se blou Porsche Panamera toegeëien en daarmee in Centurion rondgery, volgens die ANC-woordvoerder, Keith Khoza.

Khoza het op sy Facebook-bladsy mense op hul hoede gestel om op die uitkyk te wees vir die drie kapers.

“Die persoon wat beroof is, is genl. Siphiwe ‘Gebhuza’ Nyanda. Die verdagtes het in die rigting van Johannesburg gery,” het Khoza op Facebook gesê nadat hy ‘n wenk van “vriende” ontvang het.

‘n Polisiewoordvoerder het egter gesê hulle is nie bewus van die kaping nie en kon nie dadelik die inligting bevestig nie.

Die motor is glo intussen weer teruggevind en die Nyanda is glo ongedeerd.

Karel Combrinck: Vrae aan FW de Klerk

FW de Klerk het onlangs by geleentheid van sy tagtigste verjaardag ‘n toespraak gelewer by die Kelvin Grove-klub in Nuweland. Waar anders? Hoe Engelser, hoe beter. Natuurlik sal die Engelse hom eer, hy was dan die ondergang van die Afrikaner. Dit kan ook wees dat hy dit nie meer waag om voor ‘n Afrikaanse gehoor op te tree nie en hy word waarskynlik ook nie genooi om dit te doen nie.

Nietemin, in die loop van die toespraak het hy stellings gemaak wat nogal insiggewend is. Ek haal aan uit ‘n berig in Die Burger :

Hy het gesê die beste dag van sy presidentskap was toe hy dit in 1994 (aan oudpres. Nelson Mandela) oorgegee het. “Dit was die hoogtepunt van my loopbaan, nié omdat ek dit aan die ANC of Mandela oorgegee het nie, maar eerder aan ’n nuwe bestel waar die grondwet en gereg die oppergesag was, eerder as die parlement.”

In die eerste plek, mnr De Klerk, u het die mag in die land oorgegee aan die ANC en niks anders nie. Om te beweer u het die mag aan ‘n nuwe bestel oorgegee waar die grondwet en gereg oppersag was, is mos gewoon net bogtery. Wil u die Suid-Afrikaanse publiek so waaragtig nogeens probeer bedrieg? Gelukkig maak dit nou nie meer saak nie, want mnr De Klerk, u was verlig om die presidentskap af te staan en nou is u, saam met ons, niks. Al waarvoor u deug is om fatsoenlike toesprakies te maak vir ryk, verveelde afgetrede Engelse omies en tannies in sosiale verenigings en rolbalklubs.

In die eerste plek word dit meer as duidelik dat u ‘n brandende begeerte gehad het om die mag in die land af te staan. Lesers hiervan sal opmerk, dat ons dit lankal reeds weet en dis waar ja. Dis net interessant dat u dit nou self so onomwonde erken.

‘n Verdere punt is dat die magsoorgawe die hoogtepunt van u loopbaan was omdat dit ‘n «nuwe en meer regverdige bestel tot stand sou bring waar die grondwet en gereg oppergesag was». Maar mnr De Klerk, as die bestel wat u beheer het dan so onregverdig was, waarom het u dit dan nie verander nie eerder as om die mag aan die ANC toe te vertrou om die veranderings vir u te maak? En wie of wat het u laat droom dat die ANC dit sou doen? U raadgewer Roelf Meyer?

Ook onstaan die vraag: maar mnr De Klerk, as u dan nie kans gesien het om die onregverdige bestel verder te voer nie en verder te regeer nie, waarom het u dan nie gewoon as president bedank nie, eerder as om ons almal saam met u die afgrond in te sleep?  En ook mnr De Klerk, was u so verlig om die mag aan die ANC af te staan omdat u gedink het hulle sou beter vaar as u self, of was u gewoon maar net sat van regeer en begerig om aan ander prioriteite aandag te gee ?

Mnr De Klerk, u beklemtoon in u outobiografie, u toesprake, ens., herhaaldelik dat geregtigheid u vernaamste beweegrede was om die beheer oor Suid-Afrika aan die ANC te oorhandig. Drie vrae hieroor:

a) Mnr De Klerk het u werklik gemeen ‘n kommunisties geïnspireerde ANC sou groter geregtigheid in die land moontlik maak ?

b) Kon die swetterjoel raadgewers en deskundiges oor volkekunde, volkereg en wieweetwatnog waaroor u beskik het nie ‘n alternatief bedink wat selfbeskikking vir die witmense van Suid-Afrika sou verseker en nog steeds regverdig sou wees nie? Of het u net geluister na Roelf Meyer ?

c) En dan, mnr De Klerk, die belangrikste vraag van almal, meen u dat die bestel waarin ons nou leef, en waarvoor u volle verantwoordelikheid het, naastenby regverdig is?

Leon Lemmer: Meerderheidsregering: Is dit die blanke kiesers se skuld?

‘n Getroue Praagleser en gewaardeerde -rubriekskrywer, Karel Combrinck, wil weet in hoeverre die blanke kiesers skuld het aan die roemlose 1994-oorgawe aan swart mag (kyk sy reaksie onderaan my Praagrubriek van 13 deser). Hierdie saak is dermate van deurslaggewende belang vir bv die selfrespek, -beeld en -vertroue van blankes/Afrikaners dat ek liewer ‘n aparte artikel hieroor skryf. Dalk is dit ook die regte manier om FW de Klerk se 80ste verjaardag te vier.

Ek verwys vervolgens na inligtingsbronne en verskaf aanhalings. Ek poog om die minimum kommentaar te lewer voordat ek tot enkele gevolgtrekkings kom. Hou in gedagte dat die referendum op 17 Maart 1992 gehou is, die Oorgangsgrondwet in 1993 goedgekeur is, die “eerste demokratiese” verkiesing op 26 en 27 April 1994 plaasgevind het, maar dat die finale Grondwet eers in 1996 beslag gekry het nadat ‘n oorweldigende meerderheid swartes sittingsreg in die parlement verkry en die Oorgangsgrondwet volgens hulle wense tot Grondwet verander is. Leon Wessels vertel: “Voor die stemming vir die aanvaarding of verwerping van die konsepgrondwet op 8 Mei 1996, flankeer FW openlik met die gedagte om teen die Grondwet te stem” (bron hier onder, p 279).

Hermann Giliomee I

Die vraag wat in die 1992-referendum met ‘n “Ja” of “Nee” deur die blanke kiesers beantwoord moes word, lui soos volg: “Steun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gerig is?” (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 358). Giliomee skryf: “Dit was ‘n valerige vraag wat die kiesers eenvoudig gevra het om die beginsel van onderhandeling te bekragtig, nie die resultaat nie” (358).

De Klerk het onderneem dat “die grondwetlike voorstelle ná voltooiing van die onderhandelinge op ‘n grondwetlike manier by die kiesers getoets sal word. ‘n Nuwe grondwetlike bedeling sal net met hul steun ingestel word” (Die Burger, 31 Maart 1990, aangehaal deur Giliomee, p 356, kursief deur hom bygevoeg). “Op Kodesa se openingsvergadering in Desember 1991 het De Klerk gesê enige wesenlike veranderinge, selfs oorgangsmaatreëls, moes deur die parlement gevoer word nadat ‘n mandaat in ‘n referendum verkry is” (356). “Die regering se sterk aandrang op minderheidsregte en ‘n grondwetlike wit veto sou óf tot Kodesa se verbrokkeling kon lei óf tot ‘n skeuring in die geledere van die ANC” (360).

“Daar was geen mandaat vir ope onderhandelinge nie. Lawrence Schlemmer het ná die referendum daarop gewys: ‘Wit mense het gewis nie ‘n toekomstige ANC-regering in gedagte gehad toe hulle onderhandelings gesteun het nie. Die mees fundamentele versekering wat die NP gegee het, was dat daar in die voorsienbare toekoms magsdeling in die vorm van gewaarborgde koalisieregering sal wees. NP-woordvoerders het ook die versekering gegee dat daar geen meerderheidsoorheersing sal wees nie” (358).Voor die referendum is ‘n advertensie “in koerante geplaas met die kragtige opskrif: As jy bang is vir meerderheidsregering, stem Ja. Dit het die kiesers verseker dat hulle, deur ja te stem, iets sou kon bereik wat nooit vir die Rhodesiërs beskore was nie – ‘n grondwet wat oorheersing deur die regerende party voorkom” (358).

Anelma le Roux het in ‘n 2008-verhandeling geskryf: “Dis vandag moeilik om te glo, maar ‘n ja-stem het vir magsdeling gestaan. Dit is sonder doekies omdraai onder die kiesers se aandag gebring dat niks anders as magsdeling aanvaar sou word nie. Dit is hierdie beloftes … waaraan die kiesers waarde geheg het toe hulle ja gestem het” (358). Colin Eglin het gesê “dit was ‘baie stout’ van De Klerk om te beweer dat hy by sy beloftes gehou het … Schlemmer het opgemerk: ‘Hulle [die blanke kiesers] het basies gestem om [De Klerk] ‘n mandaat te gee omdat hulle hom in ‘n baie hoë mate vertrou het om hulle nie uit te verkoop nie” (359; ook 426).

“Ebbe Dommisse, die redakteur van Die Burger, het geskryf dat De Klerk ‘n mandaat vir magsdeling gekry het, nie vir meerderheisregering nie. De Klerk het, ongeloofwaardig genoeg, die beskuldiging dat die kiesers nie geweet het waarvoor hulle stem nie verwerp” (359). Tydens die grondwetlike onderhandelings het Roelf Meyer “die NP-leierskorps se belofte geïgnoreer dat ‘n referendum gehou sou word as die skikking te veel van die partybeleid afwyk” (388). “Vanaf die begin van die onderhandelings teen die middel van 1992 tot hul afsluiting aan die einde van 1996 het Meyer gepraat asof hy ‘n vrye agent was, ongehinderd deur ‘n partymandaat” (389).

Oud-minister André Fourie het gesê: “In die loop van die onderhandelings het De Klerk sy basiese politieke filosofie verander. Hy het nie meer groepsgebaseerde politiek onderskryf nie, maar klassieke liberale individualisme aanvaar, die vestiging van gemeenskaplike waardes in die plek van minderheidsregte en minderheidsbelange” (413). Van Zyl Slabbert het in 1997 opgemerk dat “De Klerk se onderhandelingspan [teen die einde van die onderhandelinge] eintlik deel van Mandela se span was in die fasilitering van die oorgang na meerderheidsregering” (421).

Jan Heunis, die seun van Chris Heunis en ‘n NP-regsadviseur, het in 2007 geskryf: “Ek het gesien hoe ononderhandelbare aspekte binne enkele minute onderhandelbaar geword het” (421). Jan Heunis “onthou hoe geskok hy was toe Meyer hom vertel dat hy met Ramaphosa oor meerderheidsregering ooreengekom het. Dis nie die ooreenkoms oor meerderheidsregering op sigself wat hom geskok het nie, maar die feit dat Meyer tot iets ingestem het waarvoor hy nie ‘n mandaat gehad het nie” (423).

Toe behoudende NP-politici De Klerk daarvan beskuldig het dat hy aan die ANC se eise toegegee het, het De Klerk gesê: “Maar menere, julle verstaan nie. Ek en Nelson Mandela gaan die land regeer” (414). In 1993 het De Klerk egter sy kabinet meegedeel “dat hy Mandela se eis vir meerderheidsbesluitneming in die kabinet [van die Regering van Nasionale Eenheid] aanvaar het” (424). Tertius Delport, ‘n minister, was so ontsteld dat hy kort daarna na De Klerk se kantoor gestap en aan sy deur geklop het. “Toe hy oopmaak, het ek hom aan sy baadjielapelle gegryp en uitgeroep: ‘Wat het jy aangevang? Jy het die land weggegee. Jy het kinders laat onderhandel. Wat jy nou het, is nie magsdeling nie; dit is konvensionele meerderheidsregering. Ons het alle mag verloor'” (424). Rapport het in 1997 geskryf: “Die NP het ‘n mandaat van ons ontvang om te alle tye ons belange te beskerm en te beveilig. De Klerk het nie ‘n mandaat gekry om ons soos ‘n Judasbok na die politieke slagplaas te lei nie” (429). De Klerk het geantwoord “dat hy nooit ‘n wit minderheidsveto beloof het nie” (429). Volgens Giliomee was die 1992-referendum “veels te vroeg in die proses vir kiesers om die skikking te beoordeel” (430).

In ‘n pamflet oor NP-beleid het die NP met uitteksels uit De Klerk se toesprake in 1992 daarop geroem: “Ons hou ons beloftes” (426). Volgens Giliomee het dit nie gebeur nie: “De Klerk moes teruggaan op sy onderneming wat hy kiesers in die referendum van 1992 gegee het dat hy niks anders as magsdeling sou aanvaar nie” (440).

Hermann Giliomee II

“In die verkiesing van 1989 het die NP-leierskap belowe dat enige skikking wat radikaal van die NP se verkiesingsmanifes afwyk, aan ‘n referendum onderwerp sou word. De Klerk het dié belofte op 30 Maart 1990 en in Januarie 1992 herhaal … Daar sou magsdeling wees en geen rassegroep sou die ander kon oorheers nie. Elke groep sou oor selfbeskikking oor sy ‘eie sake’ beskik … Dit was van deurslaggewende belang op watter tydstip in die onderhandelingsproses hierdie referendum gehou sou word. As dit te vroeg gehou word, sou dit hom sonder enige werklike hefboom laat om die ANC se eise teen te staan. As hy die referendum aan die einde van die proses wou laat plaasvind, sou dit sekerlik sy swart onderhandelingsvennote baie ontstel het, want dit sou gelyk het of hy die blankes ‘n kans wou gee om ‘n veto uit te oefen. Maar feit is dat De Klerk ‘n spesifieke belofte aan sy kiesers gedoen het om aan die einde van die proses ‘n referendum te hou” (Hermann Giliomee, Die Afrikaners, Kaapstad: Tafelberg, 2004, p 590). “De Klerk skryf in sy outobiografie dat die meerderheid van die NP-koukus teen ‘n referendum [in 1992] gekant was omdat dit as ‘n oorhaastige stap beskou is” (591).

“Toe die referendum in 1992 gehou is, was daar die vooruitsig dat ‘n tweede referendum gehou sou word om kiesers oor die grondwet te toets. Op 23 Augustus 1989 is berig dat Roelf Meyer, adjunkminister van konstitusionele ontwikkeling, sê dat die regering nie ‘n nuwe grondwetlike stelsel sal invoer voordat die goedkeuring van die wit kiesers verkry is nie. Die Burger van 31 Maart 1990 rapporteer dat president De Klerk die vorige dag voor die Kaapse persklub verklaar het dat ‘die grondwetlike voorstelle op ‘n grondwetlike wyse by die kiesers getoets [sal] word en net met hulle toestemming sal ‘n nuwe bedeling ingevoer word’ … Die NP sou in die verkiesing van 1994 ‘n onoortuigende poging aanwend om te bewys dat die grondwet ooreenstem met die beloftes daaroor wat dit in 1989 aan die kiesers gedoen het … De Klerk het dus nie sy belofte gestand gedoen om die konsepgrondwet in ‘n referendum aan die kiesers voor te lê nie” (597). “Dit is so dat hy [De Klerk] sy belofte verbreek het om ‘n referendum oor die konsepgrondwet te hou, maar so ‘n referendum kon ook groot geweld ontketen het” (609).

“Nadat hy [De Klerk] in 1993 die Nobelprys saam met Mandela ontvang het, het hy sy prysgeld vir die bevordering van Afrikaans geskenk” (602). Kan iemand inligting hieroor verskaf?

Willie Esterhuyse

Oudminister Dawie de Villiers was “van mening dat die referendumvraag baie spesifiek ‘n onderhandelingsmandaat moet soek. Pik Botha … meen ‘n tweede referendum moet belowe word om die onderhandelde grondwet by wit kiesers te toets. Dit sou ‘n soort vetoreg aan wit kiesers gee, iets waaroor sommige NP-ondersteuners sterk gevoel het. De Villiers het hierteen kapsie gemaak en gereken dat ‘n mandaat vir onderhandeling ook ‘n mandaat vir die uitkoms van die proses is” (Willie Esterhuyse, Eindstryd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 293).

De Villiers reken dus dat as bv ‘n vakbondbestuur opdrag het om vir ‘n loonsverhoging te onderhandel en niks of te min bereik word, die vakbondlede gebonde is om daardie onbevredigende uitslag te aanvaar. De Klerk het klaarblyklik met De Villiers se drogredenasie verskil en ten minste aanvanklik eerder met Pik Botha saamgestem.

Leon Wessels

Leon Wessels, soos De Villiers ‘n oudminister en NP-grondwetonderhandelaar, beweer “dat ons ‘n mandaat gehad het om ons uit die politieke skaakmat te onderhandel” (Leon Wessels, Vereeniging, Kaapstad: Umuzi, 2010, p 302). ‘n Ander vergesogte mening van Wessels is: “Roelf Meyer was die regte man om De Klerk by te staan en die NP-onderhandelingspan te lei” (251).

Frederik van Zyl Slabbert

“Ek is nog steeds verstom oor hoe De Klerk volhou om te beweer dat wat hy gedoen het bloot die naatlose ontplooiing van aanvaarde Nasionale Party-beleid was. In 2004 voer ek ‘n uur lange indiepte-gesprek met hom op ‘n TV-geselsprogram op die kykNET-kanaal. Ek vra hom: ‘Wanneer het jy, en/of die NP, die beginsel van meerderheidsregering aanvaar?’ ‘O’, sê hy, ‘dis as partybeleid aanvaar by die NP-kongres in Februarie 1986.’ Direk ná die program ontvang ek drie telefoonoproepe: van Pik Botha, voormalige minister van buitelandse sake, van Barend du Plessis, voormalige minister van finansies, en van Roelf Meyer, hoofonderhandelaar en voormalige minister van grondwetlike ontwikkeling. Al drie is hoogs ontsteld en beweer onafhanklik van mekaar dat ‘FW lieg dat hy bars’*. Ek sê hulle kan die probleem van wat om te doen op die volgende week se geselsprogram oplos deur aan ‘n paneelbespreking deel te neem, wat hulle toe gedoen het. Hulle het FW uitmekaargetrek wat betref sy bewering dat hy die party, koukus en kabinet by die lewering van sy toespraak [2.02.1990] betrek het. Hulle het ook verwys na hoe erg hulle, veral Roelf, gesukkel het om FW de Klerk tydens kritieke oomblikke van die onderhandelingsproses te kontak. (De Klerk se huwelik was toe juis besig om te verbrokkel en hy het ‘n verhouding met sy huidige vrou gehad. Dit kon nie ‘n maklike tyd vir hom gewees het nie” (Frederik van Zyl Slabbert, Duskant die geskiedenis, Kaapstad: Tafelberg, 2006, p 34-35). [* By geleentheid het George Meiring, oudweermaghoof, van De Klerk gesê: “Hel, hy vat ‘n bietjie kortpad met die waarheid” (22).]

Van Zyl Slabbert skryf die ANC het “eenvoudig polities meer uitgeslape en bekwame onderhandelaars as die NP gehad … Toe onderhandelinge hervat word … aanvaar Meyer by ‘n kritieke vergadering van die Onderhandelingskomitee die beginsel van meerderheidsregering. Toe hy dit aan De Klerk rapporteer, sê De Klerk geskok, ‘My God, Roelf, jy het die land weggegee.’ Cyril [Ramaphosa] het my vertel die oomblik toe Roelf dié beginsel namens die regering se onderhandelingspan aanvaar, het hy (Cyril) gevra vir ‘n verdaging van 15 minute ‘sodat ons opsy kon gaan na ons eie kamer en kon uitbars van die lag.’ Vanaf hierdie punt het onderhandelings in een rigting gegaan vir die ANC, en in die ander vir die NP” (49-50).

Een van die NP se plakkate in die 1992-referendum het gelui: “Onderhandelinge Ja; Meerderheidsregering – Nooit!” (45). “Dit ly egter geen twyfel nie dat die ANC die hoofbegunstigdes van ‘n onderhandelde skikking was, en De Klerk en sy volgelinge die verloorders” (46). Na die 1989-verkiesing het De Klerk dit baie duidelik gestel “dat hy nooit meerderheidsregering sal aanvaar of so sal onderhandel dat hy die mag prysgee nie” (62). “De Klerk is steeds besig om versinde geskiedenis te skep oor homself en die rol wat hy vóór, gedurende en ná die oorgang van die ‘ou’ na die ‘nuwe’ Suid-Afrika gespeel het” (156).

Nelson Mandela

Oor De Klerk se 1992-referendum: “The ANC opposed the referendum on the principle that it was a vote that excluded all non-whites. At the same time, we were realistic: we certainly did not want white voters to rebuff Mr de Klerk’s efforts to pursue negotiations. Though we disdained the election on principle, we urged whites to vote ‘yes’. We saw such a vote as a signal of support for negotiations, not necessarily for de Klerk” (Nelson Mandela, Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 717).

Ek onthou Mandela het op sy arrogante manier oor die 1992-referendum gesê dat hy nog daardie enkele keer sou toelaat dat slegs blanke kiesers stem. Daarmee het hy ‘n moontlike tweede referendum geveto. De Klerk het aan feitlik alle ANC-eise toegegee; ook hierdie een. Daar is geen twyfel dat die blanke kiesers die grondwetlike ooreenkoms wat De Klerk & Seuns (kyk hier onder) aangegaan het, oorweldigend sou verwerp nie. Die blanke kiesers mag bv nie oor ‘n vetoreg beskik nie. Selfs voor die 1994-verkiesing is die ANC egter toegelaat om effektief ‘n vetoreg te hê en daar is geen einde in sig aan die misbruik wat die ANC sedertdien daarvan maak nie.

Slot

Op grond van die voorafgaande lyk dit vir my redelik om te beweer dat die (oorgrote) meerderheid blanke kiesers nie skuld het aan die huidige grondwetlike bedeling nie. Die skuld moet, in afnemende volgorde van aandadigheid, deur FW de Klerk en sy drie “onderhandelaars”/toegeërs, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers, gedra word. Izak de Villiers het verwys na die “NP & Seuns” wat deur die ANC liederlik ore aangesit is (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 434). Vorige politici wat namens die NP met grondwetlike sake en/of onderhandelings gemoeid was, soos Chris Heunis, Gerrit Viljoen en Tertius Delport, kan van aandadigheid aan die huidige politieke opset vrygespreek word, want hulle het hulle nie aan sulke buitensporige dwaashede skuldig gemaak nie.

Wat opval, is dat dit Afrikaanssprekende blankes is wat vir die ondergang van die blanke politieke bewind, asook vir die gebrek aan daadwerklike magsdeling, verantwoordelik gehou kan word. Dit is ook Afrikaanssprekende blankes wat hulle in die nuwe Suid-Afrika vir die afskaling en miskenning van Afrikaans beywer. In albei gevalle beskou ek hulle nie as Afrikaners nie. Daar is ‘n kwalitatiewe verskil, spesifiek ‘n kulturele gehalteverskil, tussen Afrikaanssprekende blankes in die algemeen en die kleiner maar hoogs verdienstelike kerngroep, die Afrikaners.

In November 1991 is eenparig besluit dat Engels die voertaal by die Kodesa-onderhandelings sou wees (Steyn, p 424). Dit het saamgeval met die afskaffing van Afrikaans as amptelike taal in Namibië. Mense soos die volgende het openlik hulle anti-Afrikaansgesindheid te kenne gegee: André P Brink, Max du Preez se Vrye weekblad, Willie Esterhuyse, Antjie Krog en Hein Willemse (419-422). ANC-gedienstigheid is vir hulle belangriker as Afrikanerkultuur.

Sedert die publikasie van ‘n brief op 7 deser is daar ‘n polemiek in Die Burger oor hoe daar oor De Klerk gedink moet word: twee briewe op die 9de en twee op die 14de. Ek wonder dikwels oor die mate waarin mense wat so selfversekerd in die openbaar hulle mening lug, ingelig is. Daar word tans ook oor die verdeling van plase (helfte vir die boer en die ander helfte vir die plaaswerkers) en onteiening (dalk geen of min vergoeding vir die boer) geredekawel. Ek wonder hoeveel mense weet van die plegtige versekering wat De Klerk, in die aanloop tot die finalisering van die Grondwet, aan die boere gegee het: “Julle kaart en transport is veilig” (Louis Changuion en Bertus Steenkamp, Omstrede land, Pretoria: Protea Boekhuis, 2011, p 272).

ANC-binnegevegte raak warm

Die polisie monitor die situasie by die KwaSithebe Nywerheidspark op Mandeni aan die KwaZulu-Natalse noordkus waar ‘n agtste fabriek gisteraand aan die brand gesteek is, het RSG berig.

Die polisie het ook hulle hande vol gehad toe onbekende mense probeer het om sakeondernemings naby die eMakhempini-sportveld aan die brand te steek.

Die skade by die fabrieke word reeds op 15 miljoen rand beraam.

Die geweld het uitgebreek oor die ANC se proses om kandidate te benoem vir die komende plaaslike verkiesings.

Die hoofmanne het ‘n nuwe indoena aangewys om kandidate vir die komende plaaslike verkiesing te kies.

Die protesgangers het vroeër geweier dat ANC-leiers hulle toespreek totdat sowat 120 mense, wat weens brandstigting en openbare geweld in hegtenis geneem is, vrygelaat word.

ANC keelvol vir Nederlandse bomplanters

Die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe het nou genoeg gehad van die Nederlandse bomplanters.

Hy het die Nederlandse anti-apartheidbeweging (AAM) gevra om hul inmenging in Suid-Afrika se besluite te staak.

Sy kommentaar volg na ‘n ope brief deur die AAM aan Mantashe en sy adjunk Jessie Duarte gerig is waarin hul “ernstige kommer” uitspreek oor die “onlangse polisie en ander amptelike ondersoeke na ‘n paar van ons kamerade”.

Die brief kom te midde van die bohaai oor ‘n ondersoek van die Valke teen ‘n geheime eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

AAM noem die minister van finansies, Pravin Gordhan by name in die brief.

In die brief word beweer dat Gordhan “vandag gebrandmerk is as vyand van die staat” terwyl hy en sy vriende ondergrondse weerstand teen apartheid gebied het.

In reaksie hierop het Mantashe gesê: “Inmenging met prosesse in ons land is nie solidariteit nie. Dit is inmenging.”

Hy het bygevoeg dat ‘n vriend van die ANC nie kwessies deur middel van ‘n ope brief sou hanteer nie.

“Ek dink dit is ‘n stap te ver,” het Mantashe gesê.

Die brief is onderteken deur die voormalige leiers van die Nederlandse AAM, insluitende sy oudpres Conny Braam, voormalige sekretaris-generaal Fons Geerlings, voormalige tesourier Kier Schuringa en die voormalige redakteur van ‘n anti-apartheid publikasie, Bart Luirink.

Luirink beskryf noukeurig die bande tussen die Nederlandse bomplanters en hoe hulle gehelp het met Operasie Vula, waarin Gordhan ook ‘n sleutelrol gespeel het.

Speaker wat oor sy vrou ry se moordverhoor uitgestel

Die moordverhoor van die bruin speaker van die Kara Hais-munisipaliteit in Upington, Thomas Basson, is tot Vrydag uitgestel.

Basson het na bewering met sy voertuig oor sy vrou gery.

Hy is aanvanklik in hegtenis geneem op `n aanklag van strafbare manslag, maar die aanklag is nou na moord verander.

Basson het tydens sy inhegtenisneming verlede jaar beweer dat hy per ongeluk sy vrou vir ‘n hond aangesien het.

Basson is toe van strafbare manslag aangekla, het ‘n polisiewoordvoerder, lt Olebogeng Tawana gesê.

‘n Lykskouing wat uitgevoer is op sy vrou, het egter aangetoon dat sy na bewering verwurg is nog voordat die motor oor haar gery het.

Daarna is die aanklag verander na moord in plaas van strafbare manslag.

Basson is ook aangekla van dwarsboming van die gereg omdat hy na bewering gepeuter het met die misdaadtoneel.

ANC-hoofsweep bedank skielik

Die ANC se hoofsweep in die Nasionale Vergadering, Stone Sizani het bevestig dat hy skielik bedank het uit die Parlement om sy nuwe pos as ambassadeur na Duitsland op te neem.

Sizani beweer daar is niks onwelriekend aan sy skielike bedanking nie. Hy sê hy is verlede Donderdag skielik in kennis gestel van sy herontplooiing.

Hy sê sy herontplooiing is nie die gevolg van swak prestasie nie.

Die party se Moloto Mothapo sê: “Die feit is dat hy herontplooi is en hy moes bedank met onmiddellike effek, sodat hy sy nuwe posisie met onmiddellike effek kon betrek.”

Die voormalige hoofsweep is aan die voorpunt van president Jacob Zuma se ondersteuners in die parlement te midde van klagtes oor staatsbesteding aan sy huis op Nkandla.

In Januarie het Sizani gesê Suid-Afrika moet dieselfde wet implementeer as in Duitsland waar holocaust-ontkenners tronk toe gestuur word.

“Rassiste moet tronk toe gestuur word,” het hy aan die politieke redakteur van die Sowetan, Moipone Malefane, gesê.

Sizani, wat nege jaar lank op Robbeneiland deurgebring het, het gesê “die wittes wat ons land gesteel het, het die ekonomie vir hulself gevat en gebruik swartmense om te werk vir hulle en nog voel hulle nie dat hulle ons iets skuld nie”.

“Dit laat my bloed kook. Hulle kan nie die haat in ons verstaan nie. Hierdie idee van hulle dat ons die ander wang moet draai, is verkeerd en moet tot ‘n einde kom.”

Sizani se vrou, Portia “Pankie” Sizani, is verlede maand vrygespreek op vyf aanklagte van geldwassery in die Port Elizabeth se handelshof.

Maar sy sal haar grootste wetsuitdaging in die gesig staar wanneer sy terugkeer na die hof op 26 Junie om die res van die bedrogaanklagte teen haar, te betwis.

Sy word daarvan beskuldig dat sy die Oos-Kaapse Departement van Onderwys bedrieg het deur die skepping van spookonderwysers.

Daar word beweer dat sy salarisse deur die bankrekeninge van sommige van die onderwysers gewas het voordat sy die kontant in haar eie sak gesteek het.

Een beseer in ANC-faksiegevegte

Minstens een persoon is beseer in faksiegeweld tussen ANC-ondersteuners op ‘n partysaamtrek in Durban terwyl die polisie teenstanders uit die stadion in Claremont verwyder het.

‘n Gedeelte van die skare het oproerig geraak toe die streekvoorsitter, Zandile Gumede, die podium bestyg het, het RSG berig.

‘n Gestoeiery het uitgebreek voordat die groep verwyder is. Die ANC se provinsiale voorsitter, Sihle Zikalala, het in sy toespraak die onlangse geweld veroordeel, insluitende die afbrand van ‘n raadslid se huis op Shakashead.

Zikalala het die versekering gegee dat die ANC sy sake op ‘n behoorlike manier sal hanteer en gesê diegene met probleme moet na die ANC toe kom en dit daar kom stel.

Hy het gewaarsku teen betogings en geweld.

Dan Roodt: Dis nou tyd om ANC te looi oor Afrikaans

Soos ons reeds Vrydag op hierdie webblad berig het, het Solidariteit en provinsiale leiers van die ANC in Gauteng, asook studenteorganisasies van die Universiteit van Pretoria (UP), Woensdag byeengekom om ‘n kompromie oor die taalkwessie by Tuks te vind. Dit word vandag met groot fanfare in Rapport aangekondig.

Volgens Rapport is:

“Een van die eerste besluite wat gevolg het op Woensdag se hoëvlak-vergadering by die Pretoriase stadsraadkantore tussen onder meer Solidariteit, AfriForum en AfriForum Jeug aan die een kant, en die ANC, SAKP, Sasco, Cosatu en Nehawu aan die ander kant, was die opskorting gister van Tukkies se plan om op aandrang van die EFF Afrikaans as onderrigtaal te skrap.”

Die ANC het reeds beheer oor swart studente op die kampusse verloor, wat deesdae erg antiwit en EFF-gesind is. Selfs die Thuli Madonsela, wat oor die algemeen as DA-gesind gesien word, se dogter by Tuks is ‘n EFF-ondersteuner.

Ook die jeugleier van die ANC op die kampus, Samkelo Cetyiwe, met wie PRAAG vandeesweek ‘n video-onderhoud gevoer het, het onomwonde gesê dat Afrikaans “afgeskaf moet word”.

Kennelik is hy nie geken in die besluit van sy provinsiale partybase nie. Na alle waarskynlikheid gaan radikale groepe op die kampus soos die EFF-jeug en UPrising dit nie aanvaar nie en aanhou moeilikheid maak. Die polisie sal egter in die komende week op die kampus ontplooi word om studente wat wil studeer teen onlusmakers te beskerm. Hopelik werk dit.

Enersyds is mens verheug dat daar moontlik nou vrede na die UP-kampus kan terugkeer, dog andersyds weet ‘n mens dat die ANC nooit sy beloftes hou nie. Ooreenkomste, veral met Afrikaners, word maklik aangegaan en ewe maklik verbreek. Ek en Steve Hofmeyr het destyds ‘n stel met Jacob Zuma by die fameuse braaivleis in Houghton afgetrap toe hy ons hart en siel belowe het dat Afrikaners, synde ‘n “spesiale groep in Suid-Afrika” op ‘n ewe spesiale bedeling geregtig is, veral wat die behoud van hul kultuur en onderwysinstellings betref. Daarvan het natuurlik dadels gekom.

Sluit aan by PRAAG!

Vroeër of later sou Afrikaners vir hul regte moes begin opstaan. Toe dit rugbaar raak dat Afrikaans summier by Tuks op aandrang van die EFF en die skaduagtige Engelse organisasie “UPrising” afgeskaf sou word, het beide studente en ouers in Pretoria hul stem begin dik maak. Bykans 14 000 mense het PRAAG se petisie vir die behoud van Afrikaans by Tukkies onderteken.

As u nog nie u naam en e-pos hier ingevul het nie, kan u dit steeds doen. Ons gaan môre ‘n memorandum aan prof. Cheryl de la Rey stuur, tesame met die 14 000 name.

[emailpetition id=”7″]

Soos in die negentiende en vroeë twintigste eeue, het Afrikaans weereens die sluitsteen van die Suid-Afrikaanse politiek geword. Afrikaans verteenwoordig ‘n skans teen amptelike ANC-beleid wat feitlik op alle gebiede diskriminasie teen blankes toepas. Engelse onderrig in Suid-Afrika is derdewêreldonderrig. Aan Engelse universiteite soos Wits of Kaapstad is daar ook so ‘n substraat van marxisme en radikalisme dat standaarde in alle vakke daaronder ly, selfs waar dosente nog in ‘n mate op meriete aangestel word. Maar omdat Afrikaanse skole en universiteite steeds ‘n tradisie van uitnemendheid voortsit, word Afrikanerjongmense toegerus om in die arbeidsmark mee te ding. Hier en daar knyp maatskappye selfs die oë vir rassewetgewing toe en stel blankes aan, bloot “om die werk gedoen te kry”.

Indien Afrikaans dus, soos die EFF en die Engelse groep UPrising dit wil, “afgeskaf” sou word, sou ons Afrikaanse kinders binne enkele jare hul enigste mededingende voordeel in ‘n antiwit stelsel – ‘n goeie opvoeding – verloor.

Daarom gaan die stryd vir Afrikaans om veel meer as bloot die behoud van ons taal en kultuur, hoe kosbaar albei ook al vir ons is. Wesentlik verteenwoordig Afrikaans ‘n laaste reddingsboot tussen ons en volslae ondergang en verarming, selfs volkmoord. Want as ons nie meer ekonomies kan oorleef nie, sal ons nie meer enige veiligheid kan bekostig nie en sal ons op nóg groter skaal as tans uitgemoor word.

Oor die afgelope 20 jaar het ons gesien hoe Afrikaners stap vir stap agteruit geboer het. Een na die ander het die skanse of die domino’s geval, tot hier waar ons feitlik daagliks om oorlewing moet stry. Net Vrydag ontmoet ek ‘n Afrikanervrou wat in ‘n woonstelgebou vol swartes en kleurlinge in Linden, Johannesburg woon. Toe sy kla oor die lawaai wat haar bure maak en hulle vriendelik vra om hul kinders in toom te hou dat hulle minder skree en amok maak, is sy onmiddellik as “rassis” uitgeskel. Selfs die eienaar van die gebou, ‘n welaf Duitser, het die kant van sy ander huurders teen haar gekies en wil haar summier uit die gebou smyt, sonder enige hofprosedure. Binnekort sit sy en haar kind op straat, bloot omdat sy wit en Afrikaans is.

Eintlik is ons reeds totaal uitgelewer: aan staatsmag, maar ook die mag van getalle. Die verskillende anti-Afrikaanse organisasies op die UP-kampus voel dat hulle nou demografies sterk genoeg is om Afrikaners toegang tot hul eie universiteit wat hulle en hul voorouers opgebou het, te ontsê. Tuks moet tot ‘n Afro-marxistiese universiteit met lae standaarde waar min bruikbare kennis gedoseer word, “getransformeer” word.

Maar die streep is nou getrek. Ons aanvaar nie meer om, soos in die verlede onder NP-leiding, willoos tot oorgawe gedwing te word nie. Afrikaners het ook regte, hoe polities onkorrek dit ook al mag klink.

Wat PRAAG betref, gaan ons nou tot die aanval oor. Ons gaan nie betoog of fisiek die EFF te lyf gaan nie. Maar ons gaan alle middele gebruik, soos die howe en ons verhoudinge met simpatiek gesinde groepe oorsee, asook ons toegang tot internasionale organisasies, om taaldiskriminasie en taalvertrapping te stuit. Die ANC verkeer onder die indruk dat hy alles oor die boeg van “ras” kan gooi, en geen blanke kan ooit ‘n rassestryd wen nie, so word daar geredeneer.

Dog benewens ras in hierdie land, is daar ook taal. En Afrikaans sou nie teen die Britse Ryk geseëvier het as ons nie in die verlede gedugte taalstryders was nie. Op ‘n stadium in die 1890’s het Olive Schreiner voorspel dat daar oor ‘n honderd jaar nêrens in Suid-Afrika meer Afrikaans of “Afrikander Dutch” gepraat sou word nie, slegs Engels. Wel, die honderd jaar het verbygegaan; en Afrikaans is steeds hier!

Die bres is geslaan. Die swetterjoel anti-Afrikaanse organisasies op die Tukskampus het oor die afgelope weke met geweld en histerie – waaronder die bekende aanklag van “rassisme” – gepoog om Afrikaans die doodskoot toe te dien. Daarin kon hulle egter nie slaag nie.

Toe PRAAG oorspronklik in 2000 gestig is, was ons versiende genoeg om in te sien dat die Afrikaanse stryd uiteindelik ons voortbestaan in dié land gaan bepaal.

Die oomblik van waarheid het nou aangebreek.

Die opstand het begin. Die ANC moet nou gelooi word soos nog nooit vantevore nie. Hulle moet ons naderhand smeek om op te hou baklei vir Afrikaans.

Vir ons gaan dit oor intellek teen blinde, Raka-agtige geweld. Ons moet die stoomroller van getalle met slim strategie beantwoord. Teenoor die kanon, die sluipskutterskoot wat sekuur tref. In die aangesig van die panga wat soos in Rwanda lukraak geswaai word, die rapier.

Die magtige mediagroep Naspers en sy Netwerk24 het reeds teen Afrikaans en vir die EFF gekies, want hy sanik aanmekaar dat ons “ter wille van die vrede” ons aansprake op taalregte en ‘n ordentlike opvoeding vir ons kinders moet laat vaar.

Die slagordes is opgestel: Netwerk24 + ANC + EFF téén Afrikaans en die Afrikaner. Dis Dawid teen Goliat. Maar ná alles het Dawid gewen.

Sluit asseblief by PRAAG aan, want in dié stryd wat nou ontketen is, kan ons nie sonder u steun oorleef nie.

Sluit aan by PRAAG!

Solidariteit, Afriforum, ANC en SAKP wil ‘vredesplan’ vir Tuks

Solidariteit en Afriforum sal saam met die ANC werk om ‘n “vredesplan” vir Tuks op te stel. Dit sluit ook die SAKP in.

Volgens prof. Cheryl de la Rey, rektor en visekanselier van die UP, sal klasse Maandag hervat word.

Provinsiale leiers van die ANC in Gauteng, Solidariteit en studenteorganisasies van die Universiteit van Pretoria (UP) het Woensdag glo byeengekom.

Daar is ook met die SAPD vergader wat onderneem het om Maandag die veiligheid op die UP se Hatfield- en Groenkloof-kampus te verseker.

‘n Oproep is ook gedoen dat die universiteit die huidige taalbeleidproses opskort.

‘n Lid van die taaltaakgroep, prof. Koos Malan, het dit betwis dat die groep Engels as algemene onderrigtaal aanbeveel het.

Hy het daarop gewys dat, anders as wat aangekondig is, die taakgroep steeds ’n model van veeltaligheid aanbeveel het.

Prof. Norman Duncan, die UP se viserektor: akademies, het in ’n e-pos erken dat die senaat die taakgroep se aanbevelings gewysig het tot Engels as me­dium. Dié kwessie sal glo binnekort voor die raad dien.

Etniese eise in Limpopo laat ANC bontstaan

Die etniese geskil tussen Vendas en Tsongas oor die samesmelting van Vuwani en Malamulele in Limpopo is nog steeds nie opgelos nie.

‘n Vergadering is gehou tussen die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Limpopo se LUR vir samewerkende regering, Makoma Makhurupetja en verteenwoordigers van die inwoners.

Dele van die munisipaliteite sal ‘n nuwe munisipaliteit in die Vhembe-streek vorm, maar inwoners het die voorstelle verwerp.

Hulle sê hulle is oorgehaal om kieserregistrasie tydens die registrasienaweek in Maart te ontwrig.

Die saak sal eers in April in die hooggeregshof aangehoor word.

Die OVK se provinsiale hoof, Nkaro Mateta sê egter hulle het reeds aansienlike vordering behaal met voorbereidings vir die verkiesing in die nuwe munisipaliteit.

In nog ‘n vergadering in Limpopo tussen amptenare van die departement van onderwys en die onderskeie beheerliggame van nege laerskole, het ouers verseg om die skole te laat open.

Die laerskole is in die Zoutpansberg-noord distrik. Die partye tot nie ‘n vergelyk kom tydens die vergadering wat in Louis Trichardt (Makhado) gehou is nie.

Ouers het die skoolhekke gesluit omdat daar volgens hulle nie genoeg onderwysers is nie.

Die groep se woordvoerder, Sibongile Tshikosi sê hulle wou oor die pad vorentoe vergader, maar amptenare wou slegs oor die gevolge praat indien die skole gesluit sou bly.

Tshikosi sê die skole sal gesluit bly totdat bykomende onderwysers aangestel word.

Onmin heers omdat swart Vhembe-kinders beter presteer as die res.

ANC jou rassistiese De Klerk uit

Die ANC nasionale uitvoerende lid, Nathi Mthethwa het oudpresident FW de Klerk daarvan beskuldig dat hy steeds toegewyd is aan sy rassistiese verlede.

Mthethwa, wat ook die Minister van Kuns en Kultuur is, het by ‘n ANC Jeugliga-saamtrek in Soshanguve, noord van Pretoria gepraat.

Hy sê die ANC sal nie toelaat dat rassiste hom oor rassisme leer nie, het RSG berig.

Hy sê die vrylating van oudpresident Nelson Mandela uit die tronk was nie uit die goedheid van De Klerk se hart nie, maar omdat die ANC hom met geen ander keuse gelaat het nie.

ANC ruk op na Bloemfontein ‘teen rassisme’

Die Vrystaatse ANC sal Saterdag in Bloemfontein as gasheer vir die party se 8 Januarie-feesvieringe optree.

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en provinsiale voorsitter, Ace Magashule, sal die hoofsprekers op die party se verjaardagsaamtrek wees wat op die hernoemde Dr. Petrus Molemela-stadion gehou gaan word.

Provinsiale sekretaris, William Bulwane, sê hulle verwag dat duisende ANC-afgevaardigdes van oor die provinsie heen die stadion sal volpak. Bulwane sê Malusi Gigaba, Lindiwe Zulu en Naledi Pandor is van die nasionale ANC-leiers wat die vieringe gaan bywoon.

Hy sê die saamtrek sal deur ‘n optog teen rassisme, asook ter ondersteuning van president Jacob Zuma, voorafgegaan word. Die optog sal vroeër die dag van Hoffman-plein na die stadion gehou word.

“Ons sal met landbou-organisasies, kerkleiers en belanghebbendes van verskillende rassegroepe vergader om rassisme te bespreek. Suid-Afrikaners is nie rassiste nie. Daar is enkele individue wat rassiste is en ons moet hulle isoleer.”