‘n Getroue Praagleser en gewaardeerde -rubriekskrywer, Karel Combrinck, wil weet in hoeverre die blanke kiesers skuld het aan die roemlose 1994-oorgawe aan swart mag (kyk sy reaksie onderaan my Praagrubriek van 13 deser). Hierdie saak is dermate van deurslaggewende belang vir bv die selfrespek, -beeld en -vertroue van blankes/Afrikaners dat ek liewer ‘n aparte artikel hieroor skryf. Dalk is dit ook die regte manier om FW de Klerk se 80ste verjaardag te vier.
Ek verwys vervolgens na inligtingsbronne en verskaf aanhalings. Ek poog om die minimum kommentaar te lewer voordat ek tot enkele gevolgtrekkings kom. Hou in gedagte dat die referendum op 17 Maart 1992 gehou is, die Oorgangsgrondwet in 1993 goedgekeur is, die “eerste demokratiese” verkiesing op 26 en 27 April 1994 plaasgevind het, maar dat die finale Grondwet eers in 1996 beslag gekry het nadat ‘n oorweldigende meerderheid swartes sittingsreg in die parlement verkry en die Oorgangsgrondwet volgens hulle wense tot Grondwet verander is. Leon Wessels vertel: “Voor die stemming vir die aanvaarding of verwerping van die konsepgrondwet op 8 Mei 1996, flankeer FW openlik met die gedagte om teen die Grondwet te stem” (bron hier onder, p 279).
Hermann Giliomee I
Die vraag wat in die 1992-referendum met ‘n “Ja” of “Nee” deur die blanke kiesers beantwoord moes word, lui soos volg: “Steun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gerig is?” (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 358). Giliomee skryf: “Dit was ‘n valerige vraag wat die kiesers eenvoudig gevra het om die beginsel van onderhandeling te bekragtig, nie die resultaat nie” (358).
De Klerk het onderneem dat “die grondwetlike voorstelle ná voltooiing van die onderhandelinge op ‘n grondwetlike manier by die kiesers getoets sal word. ‘n Nuwe grondwetlike bedeling sal net met hul steun ingestel word” (Die Burger, 31 Maart 1990, aangehaal deur Giliomee, p 356, kursief deur hom bygevoeg). “Op Kodesa se openingsvergadering in Desember 1991 het De Klerk gesê enige wesenlike veranderinge, selfs oorgangsmaatreëls, moes deur die parlement gevoer word nadat ‘n mandaat in ‘n referendum verkry is” (356). “Die regering se sterk aandrang op minderheidsregte en ‘n grondwetlike wit veto sou óf tot Kodesa se verbrokkeling kon lei óf tot ‘n skeuring in die geledere van die ANC” (360).
“Daar was geen mandaat vir ope onderhandelinge nie. Lawrence Schlemmer het ná die referendum daarop gewys: ‘Wit mense het gewis nie ‘n toekomstige ANC-regering in gedagte gehad toe hulle onderhandelings gesteun het nie. Die mees fundamentele versekering wat die NP gegee het, was dat daar in die voorsienbare toekoms magsdeling in die vorm van gewaarborgde koalisieregering sal wees. NP-woordvoerders het ook die versekering gegee dat daar geen meerderheidsoorheersing sal wees nie” (358).Voor die referendum is ‘n advertensie “in koerante geplaas met die kragtige opskrif: As jy bang is vir meerderheidsregering, stem Ja. Dit het die kiesers verseker dat hulle, deur ja te stem, iets sou kon bereik wat nooit vir die Rhodesiërs beskore was nie – ‘n grondwet wat oorheersing deur die regerende party voorkom” (358).
Anelma le Roux het in ‘n 2008-verhandeling geskryf: “Dis vandag moeilik om te glo, maar ‘n ja-stem het vir magsdeling gestaan. Dit is sonder doekies omdraai onder die kiesers se aandag gebring dat niks anders as magsdeling aanvaar sou word nie. Dit is hierdie beloftes … waaraan die kiesers waarde geheg het toe hulle ja gestem het” (358). Colin Eglin het gesê “dit was ‘baie stout’ van De Klerk om te beweer dat hy by sy beloftes gehou het … Schlemmer het opgemerk: ‘Hulle [die blanke kiesers] het basies gestem om [De Klerk] ‘n mandaat te gee omdat hulle hom in ‘n baie hoë mate vertrou het om hulle nie uit te verkoop nie” (359; ook 426).
“Ebbe Dommisse, die redakteur van Die Burger, het geskryf dat De Klerk ‘n mandaat vir magsdeling gekry het, nie vir meerderheisregering nie. De Klerk het, ongeloofwaardig genoeg, die beskuldiging dat die kiesers nie geweet het waarvoor hulle stem nie verwerp” (359). Tydens die grondwetlike onderhandelings het Roelf Meyer “die NP-leierskorps se belofte geïgnoreer dat ‘n referendum gehou sou word as die skikking te veel van die partybeleid afwyk” (388). “Vanaf die begin van die onderhandelings teen die middel van 1992 tot hul afsluiting aan die einde van 1996 het Meyer gepraat asof hy ‘n vrye agent was, ongehinderd deur ‘n partymandaat” (389).
Oud-minister André Fourie het gesê: “In die loop van die onderhandelings het De Klerk sy basiese politieke filosofie verander. Hy het nie meer groepsgebaseerde politiek onderskryf nie, maar klassieke liberale individualisme aanvaar, die vestiging van gemeenskaplike waardes in die plek van minderheidsregte en minderheidsbelange” (413). Van Zyl Slabbert het in 1997 opgemerk dat “De Klerk se onderhandelingspan [teen die einde van die onderhandelinge] eintlik deel van Mandela se span was in die fasilitering van die oorgang na meerderheidsregering” (421).
Jan Heunis, die seun van Chris Heunis en ‘n NP-regsadviseur, het in 2007 geskryf: “Ek het gesien hoe ononderhandelbare aspekte binne enkele minute onderhandelbaar geword het” (421). Jan Heunis “onthou hoe geskok hy was toe Meyer hom vertel dat hy met Ramaphosa oor meerderheidsregering ooreengekom het. Dis nie die ooreenkoms oor meerderheidsregering op sigself wat hom geskok het nie, maar die feit dat Meyer tot iets ingestem het waarvoor hy nie ‘n mandaat gehad het nie” (423).
Toe behoudende NP-politici De Klerk daarvan beskuldig het dat hy aan die ANC se eise toegegee het, het De Klerk gesê: “Maar menere, julle verstaan nie. Ek en Nelson Mandela gaan die land regeer” (414). In 1993 het De Klerk egter sy kabinet meegedeel “dat hy Mandela se eis vir meerderheidsbesluitneming in die kabinet [van die Regering van Nasionale Eenheid] aanvaar het” (424). Tertius Delport, ‘n minister, was so ontsteld dat hy kort daarna na De Klerk se kantoor gestap en aan sy deur geklop het. “Toe hy oopmaak, het ek hom aan sy baadjielapelle gegryp en uitgeroep: ‘Wat het jy aangevang? Jy het die land weggegee. Jy het kinders laat onderhandel. Wat jy nou het, is nie magsdeling nie; dit is konvensionele meerderheidsregering. Ons het alle mag verloor'” (424). Rapport het in 1997 geskryf: “Die NP het ‘n mandaat van ons ontvang om te alle tye ons belange te beskerm en te beveilig. De Klerk het nie ‘n mandaat gekry om ons soos ‘n Judasbok na die politieke slagplaas te lei nie” (429). De Klerk het geantwoord “dat hy nooit ‘n wit minderheidsveto beloof het nie” (429). Volgens Giliomee was die 1992-referendum “veels te vroeg in die proses vir kiesers om die skikking te beoordeel” (430).
In ‘n pamflet oor NP-beleid het die NP met uitteksels uit De Klerk se toesprake in 1992 daarop geroem: “Ons hou ons beloftes” (426). Volgens Giliomee het dit nie gebeur nie: “De Klerk moes teruggaan op sy onderneming wat hy kiesers in die referendum van 1992 gegee het dat hy niks anders as magsdeling sou aanvaar nie” (440).
Hermann Giliomee II
“In die verkiesing van 1989 het die NP-leierskap belowe dat enige skikking wat radikaal van die NP se verkiesingsmanifes afwyk, aan ‘n referendum onderwerp sou word. De Klerk het dié belofte op 30 Maart 1990 en in Januarie 1992 herhaal … Daar sou magsdeling wees en geen rassegroep sou die ander kon oorheers nie. Elke groep sou oor selfbeskikking oor sy ‘eie sake’ beskik … Dit was van deurslaggewende belang op watter tydstip in die onderhandelingsproses hierdie referendum gehou sou word. As dit te vroeg gehou word, sou dit hom sonder enige werklike hefboom laat om die ANC se eise teen te staan. As hy die referendum aan die einde van die proses wou laat plaasvind, sou dit sekerlik sy swart onderhandelingsvennote baie ontstel het, want dit sou gelyk het of hy die blankes ‘n kans wou gee om ‘n veto uit te oefen. Maar feit is dat De Klerk ‘n spesifieke belofte aan sy kiesers gedoen het om aan die einde van die proses ‘n referendum te hou” (Hermann Giliomee, Die Afrikaners, Kaapstad: Tafelberg, 2004, p 590). “De Klerk skryf in sy outobiografie dat die meerderheid van die NP-koukus teen ‘n referendum [in 1992] gekant was omdat dit as ‘n oorhaastige stap beskou is” (591).
“Toe die referendum in 1992 gehou is, was daar die vooruitsig dat ‘n tweede referendum gehou sou word om kiesers oor die grondwet te toets. Op 23 Augustus 1989 is berig dat Roelf Meyer, adjunkminister van konstitusionele ontwikkeling, sê dat die regering nie ‘n nuwe grondwetlike stelsel sal invoer voordat die goedkeuring van die wit kiesers verkry is nie. Die Burger van 31 Maart 1990 rapporteer dat president De Klerk die vorige dag voor die Kaapse persklub verklaar het dat ‘die grondwetlike voorstelle op ‘n grondwetlike wyse by die kiesers getoets [sal] word en net met hulle toestemming sal ‘n nuwe bedeling ingevoer word’ … Die NP sou in die verkiesing van 1994 ‘n onoortuigende poging aanwend om te bewys dat die grondwet ooreenstem met die beloftes daaroor wat dit in 1989 aan die kiesers gedoen het … De Klerk het dus nie sy belofte gestand gedoen om die konsepgrondwet in ‘n referendum aan die kiesers voor te lê nie” (597). “Dit is so dat hy [De Klerk] sy belofte verbreek het om ‘n referendum oor die konsepgrondwet te hou, maar so ‘n referendum kon ook groot geweld ontketen het” (609).
“Nadat hy [De Klerk] in 1993 die Nobelprys saam met Mandela ontvang het, het hy sy prysgeld vir die bevordering van Afrikaans geskenk” (602). Kan iemand inligting hieroor verskaf?
Willie Esterhuyse
Oudminister Dawie de Villiers was “van mening dat die referendumvraag baie spesifiek ‘n onderhandelingsmandaat moet soek. Pik Botha … meen ‘n tweede referendum moet belowe word om die onderhandelde grondwet by wit kiesers te toets. Dit sou ‘n soort vetoreg aan wit kiesers gee, iets waaroor sommige NP-ondersteuners sterk gevoel het. De Villiers het hierteen kapsie gemaak en gereken dat ‘n mandaat vir onderhandeling ook ‘n mandaat vir die uitkoms van die proses is” (Willie Esterhuyse, Eindstryd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 293).
De Villiers reken dus dat as bv ‘n vakbondbestuur opdrag het om vir ‘n loonsverhoging te onderhandel en niks of te min bereik word, die vakbondlede gebonde is om daardie onbevredigende uitslag te aanvaar. De Klerk het klaarblyklik met De Villiers se drogredenasie verskil en ten minste aanvanklik eerder met Pik Botha saamgestem.
Leon Wessels
Leon Wessels, soos De Villiers ‘n oudminister en NP-grondwetonderhandelaar, beweer “dat ons ‘n mandaat gehad het om ons uit die politieke skaakmat te onderhandel” (Leon Wessels, Vereeniging, Kaapstad: Umuzi, 2010, p 302). ‘n Ander vergesogte mening van Wessels is: “Roelf Meyer was die regte man om De Klerk by te staan en die NP-onderhandelingspan te lei” (251).
Frederik van Zyl Slabbert
“Ek is nog steeds verstom oor hoe De Klerk volhou om te beweer dat wat hy gedoen het bloot die naatlose ontplooiing van aanvaarde Nasionale Party-beleid was. In 2004 voer ek ‘n uur lange indiepte-gesprek met hom op ‘n TV-geselsprogram op die kykNET-kanaal. Ek vra hom: ‘Wanneer het jy, en/of die NP, die beginsel van meerderheidsregering aanvaar?’ ‘O’, sê hy, ‘dis as partybeleid aanvaar by die NP-kongres in Februarie 1986.’ Direk ná die program ontvang ek drie telefoonoproepe: van Pik Botha, voormalige minister van buitelandse sake, van Barend du Plessis, voormalige minister van finansies, en van Roelf Meyer, hoofonderhandelaar en voormalige minister van grondwetlike ontwikkeling. Al drie is hoogs ontsteld en beweer onafhanklik van mekaar dat ‘FW lieg dat hy bars’*. Ek sê hulle kan die probleem van wat om te doen op die volgende week se geselsprogram oplos deur aan ‘n paneelbespreking deel te neem, wat hulle toe gedoen het. Hulle het FW uitmekaargetrek wat betref sy bewering dat hy die party, koukus en kabinet by die lewering van sy toespraak [2.02.1990] betrek het. Hulle het ook verwys na hoe erg hulle, veral Roelf, gesukkel het om FW de Klerk tydens kritieke oomblikke van die onderhandelingsproses te kontak. (De Klerk se huwelik was toe juis besig om te verbrokkel en hy het ‘n verhouding met sy huidige vrou gehad. Dit kon nie ‘n maklike tyd vir hom gewees het nie” (Frederik van Zyl Slabbert, Duskant die geskiedenis, Kaapstad: Tafelberg, 2006, p 34-35). [* By geleentheid het George Meiring, oudweermaghoof, van De Klerk gesê: “Hel, hy vat ‘n bietjie kortpad met die waarheid” (22).]
Van Zyl Slabbert skryf die ANC het “eenvoudig polities meer uitgeslape en bekwame onderhandelaars as die NP gehad … Toe onderhandelinge hervat word … aanvaar Meyer by ‘n kritieke vergadering van die Onderhandelingskomitee die beginsel van meerderheidsregering. Toe hy dit aan De Klerk rapporteer, sê De Klerk geskok, ‘My God, Roelf, jy het die land weggegee.’ Cyril [Ramaphosa] het my vertel die oomblik toe Roelf dié beginsel namens die regering se onderhandelingspan aanvaar, het hy (Cyril) gevra vir ‘n verdaging van 15 minute ‘sodat ons opsy kon gaan na ons eie kamer en kon uitbars van die lag.’ Vanaf hierdie punt het onderhandelings in een rigting gegaan vir die ANC, en in die ander vir die NP” (49-50).
Een van die NP se plakkate in die 1992-referendum het gelui: “Onderhandelinge Ja; Meerderheidsregering – Nooit!” (45). “Dit ly egter geen twyfel nie dat die ANC die hoofbegunstigdes van ‘n onderhandelde skikking was, en De Klerk en sy volgelinge die verloorders” (46). Na die 1989-verkiesing het De Klerk dit baie duidelik gestel “dat hy nooit meerderheidsregering sal aanvaar of so sal onderhandel dat hy die mag prysgee nie” (62). “De Klerk is steeds besig om versinde geskiedenis te skep oor homself en die rol wat hy vóór, gedurende en ná die oorgang van die ‘ou’ na die ‘nuwe’ Suid-Afrika gespeel het” (156).
Nelson Mandela
Oor De Klerk se 1992-referendum: “The ANC opposed the referendum on the principle that it was a vote that excluded all non-whites. At the same time, we were realistic: we certainly did not want white voters to rebuff Mr de Klerk’s efforts to pursue negotiations. Though we disdained the election on principle, we urged whites to vote ‘yes’. We saw such a vote as a signal of support for negotiations, not necessarily for de Klerk” (Nelson Mandela, Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 717).
Ek onthou Mandela het op sy arrogante manier oor die 1992-referendum gesê dat hy nog daardie enkele keer sou toelaat dat slegs blanke kiesers stem. Daarmee het hy ‘n moontlike tweede referendum geveto. De Klerk het aan feitlik alle ANC-eise toegegee; ook hierdie een. Daar is geen twyfel dat die blanke kiesers die grondwetlike ooreenkoms wat De Klerk & Seuns (kyk hier onder) aangegaan het, oorweldigend sou verwerp nie. Die blanke kiesers mag bv nie oor ‘n vetoreg beskik nie. Selfs voor die 1994-verkiesing is die ANC egter toegelaat om effektief ‘n vetoreg te hê en daar is geen einde in sig aan die misbruik wat die ANC sedertdien daarvan maak nie.
Slot
Op grond van die voorafgaande lyk dit vir my redelik om te beweer dat die (oorgrote) meerderheid blanke kiesers nie skuld het aan die huidige grondwetlike bedeling nie. Die skuld moet, in afnemende volgorde van aandadigheid, deur FW de Klerk en sy drie “onderhandelaars”/toegeërs, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers, gedra word. Izak de Villiers het verwys na die “NP & Seuns” wat deur die ANC liederlik ore aangesit is (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 434). Vorige politici wat namens die NP met grondwetlike sake en/of onderhandelings gemoeid was, soos Chris Heunis, Gerrit Viljoen en Tertius Delport, kan van aandadigheid aan die huidige politieke opset vrygespreek word, want hulle het hulle nie aan sulke buitensporige dwaashede skuldig gemaak nie.
Wat opval, is dat dit Afrikaanssprekende blankes is wat vir die ondergang van die blanke politieke bewind, asook vir die gebrek aan daadwerklike magsdeling, verantwoordelik gehou kan word. Dit is ook Afrikaanssprekende blankes wat hulle in die nuwe Suid-Afrika vir die afskaling en miskenning van Afrikaans beywer. In albei gevalle beskou ek hulle nie as Afrikaners nie. Daar is ‘n kwalitatiewe verskil, spesifiek ‘n kulturele gehalteverskil, tussen Afrikaanssprekende blankes in die algemeen en die kleiner maar hoogs verdienstelike kerngroep, die Afrikaners.
In November 1991 is eenparig besluit dat Engels die voertaal by die Kodesa-onderhandelings sou wees (Steyn, p 424). Dit het saamgeval met die afskaffing van Afrikaans as amptelike taal in Namibië. Mense soos die volgende het openlik hulle anti-Afrikaansgesindheid te kenne gegee: André P Brink, Max du Preez se Vrye weekblad, Willie Esterhuyse, Antjie Krog en Hein Willemse (419-422). ANC-gedienstigheid is vir hulle belangriker as Afrikanerkultuur.
Sedert die publikasie van ‘n brief op 7 deser is daar ‘n polemiek in Die Burger oor hoe daar oor De Klerk gedink moet word: twee briewe op die 9de en twee op die 14de. Ek wonder dikwels oor die mate waarin mense wat so selfversekerd in die openbaar hulle mening lug, ingelig is. Daar word tans ook oor die verdeling van plase (helfte vir die boer en die ander helfte vir die plaaswerkers) en onteiening (dalk geen of min vergoeding vir die boer) geredekawel. Ek wonder hoeveel mense weet van die plegtige versekering wat De Klerk, in die aanloop tot die finalisering van die Grondwet, aan die boere gegee het: “Julle kaart en transport is veilig” (Louis Changuion en Bertus Steenkamp, Omstrede land, Pretoria: Protea Boekhuis, 2011, p 272).
