Hongersnood tref Nigerië

Niemand weet hoeveel kinders van die honger in Nigerië sterf nie.

In vlugtelingkampe en gebiede wat te gevaarlik is as gevolg van die teenwoordigheid van die ekstremiste, volgens Dokters Sonder Grense, dreig ‘n humanitêre krisis van “katastrofiese” afmetings in die noordooste van Nigerië.

Boko Haram het sy greep verloor in sommige gebiede en van sy slagoffers begin te voorskyn tree.

“Dit is kinders wat basies honger was al hul lewens lank,” sê Jean Stowell, ‘n Amerikaanse dokter in beheer van die sentrum in Maiduguri, die streek se grootste stad. Die sentrum het vervierdubbel in grootte van 110 beddens in die afgelope weke.

Byna ‘n kwartmiljoen kinders is erg ondervoed omdat Boko Haram handel en boerdery ontwrig het. Sowat 2 miljoen mense in die streek kon nog nie bereik word nie.

Met Nigerië in ‘n resessie en sonder hulp van buite, dreig ‘n reuse hongersnood.

Nigerië se regering ondersoek verslae van amptenare wat voedselhulp aan die vlugtelinge steel.

Dokters Sonder Grense asook UNICEF se werkers word deur djihadiste geteiken.

In Bama, die streek se tweede grootste stad, sterf ses mense per dag van wanvoeding en diarree. In die vlugtelingkamp moet gesinne tevrede wees met vier handevol rys vir ‘n week.

Noord-Korea voer vyfde kerntoets uit

Noord-Korea het bevestig dat hy ‘n vyfde kerntoets uitgevoer het, ure nadat seismiese stelsels ‘n ontploffing naby sy kerntoetsterrein waargeneem het.

Dit is soortgelyk aan ‘n aardbewing van 5,3 op die Richterskaal.

Die staatstelevisie in Noord-Korea sê dié land het nou die kennis om kernplofkoppe op ballistiese vuurpyle te monteer.

Dit blyk ook dat daar geen lekkasie van kernmateriaal was tydens die toets nie en dat daar geen impak om die omgewing was nie.

Suid-Korea het intussen ‘n noodvergadering van sy nasionale veiligheidsraad belê.

Suid-Korea se intelligensiediens is bekommerd dat Noord-Korea vinniger vorder met die miniaturisering van kernkoppe vir missiele, het ‘n wetgewer by die vergadering gesê.

Kim Byung-Kee, ‘n lid van intelligensiekomitee in die Suid-Koreaanse parlement sê die Noorde se bedoeling is om ‘n sterk beeld van sy leier, Kim Jong Un (foto, heel regs) uit te straal ter die herdenking van die ontstaan van die Republiek in 1948 en om internasionale sanksies uit te daag.

Noord-Korea word deur die VN verbied om enige kern- of missieltegnologie te toets en bykomende sanksies is reeds ingestel ná sy vierde kerntoets in Januarie.

Die VN se waghondagentskap het hul “diep kommer” uitgespreek oor die toets.

Asiese markte het gedaal na die aankondiging van die toets. Na verwagting sal dit dieselfde uitwerking hê op Europese markte waar die FTSE 100, die DAX in Duitsland en die CAC 40 almal vanoggend laer geopen het.

VN, Israel sê Jodehaat op hoogste vlakke ooit

Jodehaat en demonisering van Israel is op “die hoogste vlak van ons leeftyd,” sê Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies.

Danny Danon het by ‘n hoë-vlakvergadering oor antisemitisme Woensdag by die VN se hoofkwartier in New York gepraat.

“Oor ‘n derde van Europese Jode is bang om ‘n hoofbedekking of Ster van Dawid te dra in die openbaar,” sê Danon.

“Meer as die helfte van Franse Jode oorweeg om te emigreer omdat hulle nie veilig voel om as Jode in Frankryk te woon nie. Vandag hoor ons dinge oor Jode en die Joodse volk wat ons gedink het tot die bladsye van die geskiedenis hoort. … Anti-Semitisme is terug in die alledaagse lewe sonder skaamte.”

Danon het ook gesê sosiale media bied ‘n “nuwe soort bedreiging” in die sin dat anti-Semitisme baie vinnig globaal versprei.

“Die gebruik van die gereedskap van aanlyn sosiale netwerke om die Joodse volk en die Joodse staat te demoniseer, dit is Anti-Semitisme 2.0.”

“Die vyande van die Jode gebruik die gereedskap van moderne tegnologie om Jode regoor die wêreld te teiken en te teister,” het hy gesê, en bygevoeg dat die moderne wêreld die lewe makliker vir anti-Semiete maak want “al wat jy nodig het, is Wi-Fi, ‘n Facebookrekening, en ‘n diep haat vir Jode.”

“Dit is meer doeltreffend as die Protokolle van die Ouderlinge van Sion,” het hy bygevoeg.

Die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon het die forum via video toegespreek, en anti-Semitisme “een van die wêreld se oudste, mees deurdringende en dodelikste vorms van haat” genoem.

Britte vaar uit teen Chinese lugdiens se ‘rassisme’

‘n Britse Hindoe, Vivendra Sharma (foto) het uitgevaar teen die Chinese lugdiens Air China en hulle van “rassisme” beskuldig.

Air China het skynbaar hul passasiers gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle sekere gebiede in Engeland besoek waar etniese minderhede met donker velle woon.

Die raad, in Engels en Mandaryns, is deur ‘n Chinese joernalis raakgesien in ‘n tydskrif wat Air China op hul vliegtuie beskikbaar stel.

Volgens berigte is baie Britte woedend oor die beeld wat die lugdiens van Londen weergee.

Sharma, ‘n lid van die Arbeidersparty wat ‘n nie-wit distrik in Londen verteenwoordig, het Woensdag gesê dat hy het aan die ambassadeur van China in Brittanje geskryf, en eis ‘n verskoning vir die “blatante onwaarheid en rassistiese stellings”.

Haze Fan, ‘n produsent van CNBC, het ‘n foto getwiet van die tweetalige artikel van die tydskrif. Gebiede waar daar nie wittes woon nie, moet glo vermy word, het die tydskrif aanbeveel.

Die tydskrif berig dat Londen oor die algemeen veilig is, maar dat toeriste nie saans alleen moet uitgaan nie en vroue nie op hul eie moet reis nie.

Luidens die berig moet mense versigtig wees as hulle, soos dit gestel word, gebiede binnegaan wat hoofsaaklik deur Indiërs, Pakistani’s en swart mense bewoon word nie.

Air China het nie op die berigte gereageer nie.

Merkel waarsku dat linkses ‘hul woorde moet kies’ sodat regses nie steun wen nie

Kanselier Angela Merkel het Woensdag haar regering se hantering van die vloed­golf migrante wat Duitsland verlede jaar binnegekom het, verdedig.

Sy het toegegee dat heelwat nog gedoen moet word en gewaarsku dat kommer, wat tot toenemende steun vir anti-immigrasie nasio­nalistiese partye gelei het, met erns bejeën moet word.

Merkel het gesê linkse partye moet hul taalgebruik en retoriek aanpas sodat regses nie ontstig word en stemme kry nie.

Sy het wetgewers in Berlyn meegedeel dat sedert verlede jaar dieselfde tyd toe sy hulle toegespreek het, Duitsland ’n “ver pad” gekom het om honderdduisende migrante te “integreer”.

Die Duitse media steek die ware toedrag van sake oor migrante-integrasie, aanvalle en verkragtings egter weg.

“Die situasie is aansienlik beter as verlede jaar, maar baie moet nog baie gedoen word,” het Merkel sonder ironie gesê.

Die afgelope naweek het Merkel se Christelike Demokratiese Unie (CDU) ’n vernederende derde plek behaal in verkiesings in Mecklenburg-Wes-Pomeranse, waar Merkel se parlementêre kiesafdeling geleë is.

Die nasionalistiese anti-­immigrasie Alternatief vir Duitsland (AfD) het die oorwinning behaal.

Dié deelstaat is die tuiste van enkele migrante, maar Merkel het ná die verkiesing erken dat die uitslae meer met nasionale as plaaslike kwessies te doen het.

Sy het die Bundestag, waar die AfD nie verteenwoordiging het nie, meegedeel dat die verkiesing ’n weerspieëling was van die “blou oog” wat “diegene wat op slagspreuke en die soeke na maklike oplossings staatmaak” toegedien het.

Sy het gewaarsku dat kiesers se kommer, hetsy gegrond of ongegrond, moet ernstig deur almal opgeneem word, omdat die AfD steun van al die hoofpartye afgerokkel het.

Vrygewige Obama ontmoet ook vloekende Duterte in Laos

President Barack Obama het wit-skuld-diplomasie en ‘n oop beursie probeer om Laos in Suid-Oos-Asië na Amerika se kant oor te wen, nadat dit by die G20-beraad geblyk het dat Rusland al hoe meer vriende in die streek maak.

Obama het die Viëtnam-oorlog gebruik – wat die VSA verloor het – om hulde aan die oorlewendes te bring wat vermink is deur meer as 80 miljoen onontplofde bomme wat Amerika dekades gelede op Laos afgegooi het.

Daarna het hy wit Amerikaners “lui”, “afgeslote” en “oningelig” genoem. Dit was duidelik dat hy nie homself ingesluit het in dié negatiewe kommentaar nie.

Hy het onderneem dat Amerika nagenoeg US$90 miljoen oor die volgende drie jaar sal bestee om te help om dit op te ruim.

Ongeveer 20 000 mense is sedert die einde van die oorlog in ontploffings van ou bomme dood of beseer.

‘n Halfeeu gelede het Amerika Laos die geskiedenis se mees gebombardeerde land gemaak, en nagenoeg 2 miljoen ton plofstof in ’n koverte nege jaar lange operasie van die Viëtnam-oorlog afgegooi.

Obama is die eerste Amerikaanse president om Laos te besoek.

Ondertussen het die Filippynse ­president, Rodrigo Duterte Obama kortliks ontmoet Woensdag, net enkele dae na die vuurvreter-politikus die Amerikaanse president ‘n “seun van ‘n hoer” genoem het.

Die ontmoeting het plaasgevind net voor ‘n ete tydens ‘n beraad van die plaaslike leiers in Laos, het amptenare aangedui.

In ‘n bondige verklaring, het die Withuis gesê: “Obama het ‘n kort gesprek met President Duterte voor die ASEAN gala-dinee gehad.”

Obama het Dinsdag se beplande vergadering met Duterte “afgestel” na die Filippynse president se belediging die vorige dag. Die Filippynse beurs het skerp gedaal daarna.

Sy uitbarsting was na aanleiding van Amerikaanse bewerings dat Obama beplan om Duterte oor die kole te haal omdat sy anti-misdaadveldtog reeds 3000 lewens geëis het in net meer as twee maande.

“Jy moet respek hê. Moet nie net weggooivrae vra en stellings maak nie. Seun van ‘n hoer, ek sal vir julle vervloek in daardie forum [ASEAN],” het Duterte aan verslaggewers gesê toe hy gevra is oor sy boodskap aan Obama.

Die twee lande bots oor satellietbeelde wat Chinese aktiwiteit aan die kus van die Filippyne toon.

Duterte se regering het gesê hulle het bewyse dat China stappe doen om met baggerwerk te begin, ‘n groot eskalasie.

Maar die Withuis sê die Chinese aktiwiteit in die gebied is op dieselfde vlak as die vorige maande.

Duterte het vroeër Woensdag in ‘n verklaring gesê hy sal langs Obama sit by die gala-dinee ten spyte daarvan dat hy Obama gevloek het.

Iran verbied by hajj in Saoedi-Arabië

Arabiese Golfstate het Iran daarvan beskuldig dat hulle probeer om die hajj te “verpolitiseer”, nadat die land se opperleier die Saoedi-owerhede oor die bestuur van die jaarlikse pelgrimstog gekritiseer het.

Ten minste 2426 mense, insluitend 464 Iraniërs, is dood in die stormloop by verlede jaar se pelgrimstog in Saoedi-Arabië (foto). Volgens Saoedi-owerhede, is net 769 dood.

Die Ayatollah Ali Khameini het die Saoediërs van moord beskuldig: “Die hartelose en moorddadige Saoediërs het die beseerdes saam met die dooies in houers opgesluit.

“In plaas daarvan om aan hulle mediese behandeling te gee, hulle te help of ten minste hul dors te les, is die oorlewendes almal vermoor.”

Die hoof van die sesnasie Golf Samewerkingsraad sê die Ajatolla se opmerkings waarin hy Rijad van die moord op Iranse pelgrims by verlede jaar se hajj beskuldig, is “onvanpas en aanstootlik.”

Abdoellatif al-Zajani sê die opmerkings is ’n “duidelike aanhitsing en ’n desperate poging om die hajj te verpolitiseer”.

Vanjaar is die eerste keer in byna drie dekades dat Iraniërs nie deel van die jaarlikse pelgrimstog na Moslem heilige plekke in Saoedi-Arabië sal wees nie, nadat gesprekke oor logistiek en veiligheid in Mei ’n dooie punt bereik het.

Die woordewisseling tussen die twee lande wat nie diplomatieke ­betrekkinge het nie, kom op die vooraand van die pelgrimstog wat Saterdag begin.

Saoedi-Arabië het Iran daarvan beskuldig dat hulle nie ware Moslems is nie, maar Zoroastrane, ‘n antieke pre-Islamitiese geloof. Sjeikh Abdul-Aziz Al-as-Sheikh het Woensdag gesê: “Ons moet verstaan dat hulle nie Moslems is nie.”

Saoedi-Arabië se bevolking is byna 90 persent Soenni en is lank reeds in stryd met die 95 persent Sjia Iran – twee denominasies wat sedert die 7de eeu in konflik verkeer, maar meer onlangs word Saoedi-Arabië daarvan beskuldig dat hulle Islamitiese fanatisme en terreur aanmoedig met ondersteuning aan ISIS.

Withuisteenstanders mik vir die pylvak

Die twee teenstanders in die wedloop om die Withuis, Hillary Clinton en Donald Trump, het die week afgeskop en met hul twee maande lange oorblywende resies voor die Amerikaanse presidentsverkiesing begin.

Die kandidate het Werkersdag, die tradisionele dag waarop die pylvak-wedloop begin, gebruik om hul argumente te stel waarom hulle die beste vir werkende klas Amerikaners sal wees.

Die Demokraat, Clinton, het voorgeloop in nasionale meningspeilings, en het aansienlik harder werk in sogenaamde swaai-state en ook heelwat meer geld as Trump vir haar veldtog uitgegee.

Die gewilde Republikeinse aanspraakmaker op die Withuis, Trump, wie se veldtog klaarblyklik nie stuit teen kritiek oor sy “kwetsende” retoriek nie, loop tans voor met 45% teenoor Hillary se 43%.

Die wedloop sal oor die volgende 63 dae al hoe feller raak.

Gerugte oor Clinton se gesondheid wil nie gaan lê nie. Een van haar swart veiligheidsbeamptes (bo) loop glo konstant naby haar met een of ander soort medikasie byderhand met ‘n blitstoedieningstoestel.

Clinton het onlangs veiligheidspersoneel wat snuffelhonde aanhou uit haar kantoor weggejaag. Skindertonge beweer dit is omdat sy dwelms gebruik.

Wittes wat in swart omgewingsaktiviste ontpop versper Londense aanloopbaan

Alle vlugte na en van die London City-lughawe is ontwrig nadat betogers Dinsdag aanloopbane uit protes teen “sistemiese rassisme” uitbreidingsplanne versper het.

Maar die swartes aan die ontvangkant van die beweerde “sistemiese rassisme” wou niks weet van die aksie nie.

Volgens die polisie onderhandel hulle met nege wit betogers wat daarin geslaag het om die aanloopbane te bereik. Die betogers het ’n driepoot opgerig en hulle daaraan vasgemaak.

Die groep, Black Lives Matter, het op sosiale media gesê die beplande uitbreidings sal die plaaslike gemeenskap aan omgewingsdegradering blootstel.

Die groep sê “wanneer swart mense in Brittanje 28 persent meer geneig is as wit landsgenote om aan lugbesoedeling blootgestel te word, weet ons omgewingsongelykheid is ‘n rassistiese krisis”.

Omgewingskwessies raak glo swartmense in Suider-Afrika veral sê hulle. “Teen 2050 sal daar 200 miljoen klimaatvlugtelinge wees… sewe uit tien van die lande wat die meeste geraak word deur klimaatsverandering is in Suider-Afrika.”

Maar die swartes in die VK was nie beïndruk deur hul moeite en rassensitiwiteit nie.

Hulle wou op Twitter weet waar die swartes is wat deelneem en hoekom daar slegs nege wit aktiviste is sonder ‘n swart gesig daarby.

Gaboen se president lag beskuldigings van skynverkiesing af

Gaboen se pasverkose pres. Ali Bongo steur homself nie aan die betwiste verkiesingsuitslae nie, selfs nadat sy minister van justisie bedank het en die voormalige koloniale heerser, Frankryk, voorgestel het dat die stemme oorgetel word.

Die Franse eerste minister, Manuel Valls, het gesê dit is noodsaaklik om ’n duidelike verkiesingsproses te hê omdat “twyfel” bestaan.

Frankryk het sy stem by dié van die Europese Unie en Amerika gevoeg, wat reeds gevra het dat die volledige uitslae vir elke stempunt gepubliseer moet word.

Dit kom ure nadat die minister van justisie, Seraphin Moundounga, wat ook die adjunkpremier is, láát Maandag bedank het en geëis het dat die stemme oorgetel word.

Gaboen se herverkose president (foto, saam met sy vrou Sylvia) het internasionale oproepe verlede week afgelag, en gesê dit is ‘n kwessie vir die land se konstitusionele hof om te besluit.

Die Europese Unie het die geldigheid van die verkiesing bevraagteken. Frankryk is besonder gretig om ‘n nuwe president in die olieproduserende land aan te wys.

Op ‘n vraag gedurende ‘n onderhoud Woensdag of hy ‘n sal toelaat dat stemme weer getel word, het Bongo aan Frankryk se RTL-radio gesê: “Wat mense moet my vra om te doen, is om die wet toe te pas. Ek kan die wet nie oortree nie.”

Noord-Korea treiter Japan met missieltoetse

Noord-Korea het tydens die afsluiting van die G20-beraad in China, drie middelafstand-missiele afgevuur, wat ongeveer 1 000 kilometer getrek en naby Japan geland het.

Dit word beskou as ’n magsvertoon wat met die ekonomiese spitsberaad saamval.

Noord-Korea het die afgelope tyd ’n reeks missieltoetse uitgevoer, wat op die ou einde daarop gemik is om langafstand-kernmissiele te ontwikkel wat in staat is om Amerika te bereik.

Sulke toetse is redelik algemeen, veral met die internasionale aandag op Noordoos-Asië waar die G20-spitsberaad plaasvind.

China is Noord-Korea se enigste belangrike bondgenoot, maar betrekkinge tussen die buurlande is gespanne midde ’n reeks Noord-Koreaanse kern- en missieltoetse, wat deur baie as uitlokking beskou word.

Suid-Korea se gesamentlike stafhoofde sê die drie ballistiese missiele, waarskynlik almal Rodongs, is uit die dorp Hwangju in Noord-Korea afgevuur, voordat dit in die see geval het.

Hulle het die lanserings as “gewapende protes” bestempel wat daarop gemik is om Noord-Korea se militêre vermoë tydens die byeenkoms van die G-20 te demonstreer, dae voor die Noord-Koreaanse regering se 68ste herdenking.

Die drie missiele wat gister afgevuur is, het geval binne Japan se eksklusiewe ekonomiese sone, die 200 seemyl aflandige gebied waar ‘n land soewereine regte vir ontginning en benutting van hulpbronne het, het die ministerie van verdediging in Tokio gesê.

Die Japanse kabinetsekretaris, Yoshihide Suga, het die lanserings as “’n ernstige bedreiging” vir Japan se veiligheid bestempel en gesê Tokio het via Japan se ambassade in Beijing by Noord-Korea beswaar gemaak.

Marine Le Pen looi Sarkozy se radikale Moslem-vriende

Die leier van FN Marine Le Pen sê sy is bewus daarvan dat Sarkozy weer probeer om haar “verregse” verkiesingsplatform te beset met allerlei geluide oor “radikale Islam” en swemdrag.

Le Pen sê egter die verskil tussen die beeld wat Sarkozy wil bevorder van homself in sy verkiesingsveldtogte, en die verbintenisse wat hy in die geheim het met ekstremisme, is kommerwekkend.

“Dit is duidelik dat Nicolas Sarkozy wil hê mense moet dink dat hy die media-kampioen van die stryd teen Islamitiese radikalisme is, maar sy trou aan die globale promotor van Wahhabisme is duidelik. Dit is die doktrine van die mees fanatiese en radikale organiseerders wat die ergste afskuwelike in die naam daarvan pleeg.”

Marine Le Pen Sarkozy verder gediskrediteer: “Hoe kan ons glo dat die Franse moet staatmaak in hul stryd teen Islamisme op ‘n politieke figuur wat kruip by die Qataris of die Saoedi’s?”

Nicolas Sarkozy probeer tans sy “anti-Islam-houding” by kiesers bemark deur te velde te trek teen Moslemswemdrag of boerkini’s.

Die FN se vise-president Florian Philippot (foto) het egter Vrydag gesê die Wet van 2004 wat godsdienstige simbole in skole verbied moet uitgebrei word na alle openbare ruimtes, en nie net die Islamitiese sluier maar ook die Joodse kippa moet verbied word.

Hy het ook gesê kruise moet nie te groot wees om omstredenheid uit te lok nie.

Die voormalige Franse president, Sarkozy, wat van plan is om in die volgende jaar se presidentsverkiesing weer te staan, kan geregtelike vervolging in die gesig staar oor beweerde onwettige finansiering van sy mislukte 2012 presidensiële aanslag, het ondersoekbeamptes aangekondig.

“Aanklaers vra dat almal wat aangekla word, verhoor moet word,” het ‘n bron aan AFP gesê.

‘n Ondersoekende landdros moet nou besluit of die aanklaers se aanbevelings aanvaar sal word.

Reeks bomaanvalle ruk Sirië

‘n Reeks bomaanvalle het Sirië geruk, hoofsaaklik in gebiede onder beheer van die regering.

Die aanvalle kom te midde van gespanne onderhandelinge tussen Rusland en die VSA rakende Sirië tydens die G20-beraad en die Siriese regering se suksesse teen die inval van ISIS.

Van die minstens 48 mense wat dood is, was minstens 35 in pres. Bashar al-Assad se kusvesting, Tarsus, het die staatsmedia berig.

Die stad is ook die tuiste van ’n Russiese vlootbasis.

Die Islamitiese Staat-groep (ISIS) het aanspreeklikheid vir een van die aanvalle teen ’n Koerdiese veiligheidspos in Hasakeh aanvaar, maar niemand het nog verantwoordelikheid vir aanvalle in Tarsus, die regeringsbeheerde stad, Homs, en ’n weermagdeursoekpunt op ’n pad buite Damaskus aanvaar nie.

Gerugte dat Saudi-Arabië verantwoordelik is, is geopper aangesien Turkye hul eis dat die Siriese president moet afstap van sy pos, laat vaar het.

Die VSA en Rusland kon nie ‘n skietstakingooreenkoms vir Sirië bereik by die G20-beraad in China nie weens “gapings” in die gesprek.

Obama dreig met kuberoorlog na China, Rusland skroewe aandraai by G20

By die G20-beraad in China het president Obama gedreig om ‘n kuberoorlog teen Rusland te loods en gesê: “Kyk, ons beweeg in ‘n nuwe era hier waar ‘n aantal lande ‘n groot kapasiteit het. En eerlik, ons het meer kapasiteit as enigiemand, beide aanvallend en verdedigend.”

Die kil betrekkinge tussen die VSA aan die een kant en Rusland en China aan die ander, was duidelik uit die ontmoeting tussen die onderskeie staatshoofde (foto bo) by die beraad in Hangzhou.

Die kommentaar van Obama bestaan nie in ‘n vakuum nie, met die Withuis wat ‘n federale ondersoek na “Russiese inmenging” in die 2016 presidensiële veldtog van stapel gestuur het na aanleiding van ‘n brief deur Senator Harry Reid aan die FBI se Direkteur James Comey.

Daarin beweer Reid dat Poetin verkiesingsuitslae tot voordeel van Donald Trump kan manipuleer wat hy as ‘n “verraderlike agent van Rusland” in drie uit vyf paragrawe skets.

Die Chinese weermag het intussen aangekondig dat hulle Siriese soldate van die mediese dienste sal voorsien om Rusland by te staan.

Maar almal verstaan ​​dat hierdie ooreenkoms en Chinese toetrede die magsbalans in die Midde-Ooste teen die Obama-administrasie gelaai het.

Vir die afgelope vier jaar, is die helfte van die militêre dokters in Sirië opgelei in China, alhoewel die Volksrepubliek van China voorheen geweier het om betrokke te raak in enige vorm van samewerking wat deur Washington as militêre hulp geïnterpreteer kan word.

Rusland het voorheen ‘n identiese ooreenkoms met Sirië aan die begin van 2012 aangegaan, maar militêre hulp is drie en ‘n half jaar later goedgekeur.

Kennelik het die ooreenkoms ‘n Amerikaanse vrees aangewakker dat China ook binnekort militêr in Sirië sal toetree.

Afrika is intussen hoog op die beraad se ontwikkelingsagenda geplaas na druk deur China.

Een van die konsepresolusies deur leiers van die voorste nywerheidslande wat in Hangzhou was instemming tot samewerking om ekonomiese groei in Afrika te bevorder.

Die Chinese president, Xi JinPing, het deur middel van ‘n tolk gesê Afrikabevolkings sal bevoordeel word deur inklusiewe groei.

Nie-Westers leiers wat die beraad van die G20-lande bygewoon het wat pas in China te einde geloop het, eis die hervorming van die wêreld se leningsinstellings soos die Internasionale Fonds en die Wêreldbank.

Hulle eis dat die IMF sy kwota en stemreg herverdeel sodat dit ‘n regverdige weerspieëling is van die status van opkomende markte en ontwikkelende lande.

Xi JingPing het deur ‘n tolk gesê finansiële instellings behoort sensitief te wees teenoor armer lande.

‘n Aksieplan op die Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling vir 2030 is aanvaar en dit is die eerste keer dat die G20 as ‘n groep hul steun toesê aan nywerheidsontwikkeling in Afrika en alle ander ontwikkelende lande.

Die leiers van die sterk nywerheidslande het ook onderneem om handelbeperkings te verwyder en die wêreldekonomie op ‘n groeipad te plaas.

Die IMF het die wêreldgroei vir die jaar tot net bokant drie persent aangepas en vir aanstaande jaar tot tussen drie en vier persent.