Boer van Brits oorleef bomaanval deur ‘genade’

Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord op ‘n familie van die Assen distrik naby Brits in Noordwes.

Die boer, Neels van Rensburg sê daar was ‘n bomaanval op sy huis, waarna wapens uit sy kluis gesteel is.

Miljoene rande se skade is aangerig aan die huis.

Van Rensburg was ‘n bekende renosterboer en het in ‘n stadium 45 renosters op sy plaas Buffelsdraai aangehou.

Hy het egter al die renosters verkoop nadat twee van dié renosters in 2011 op die plaas doodgeskiet en gestroop is.

Van Rensburg (67) en sy vrou, Rina (64), het nie Sondagaand op hul jagplaas geslaap nie.

Van Rensburg het al voorheen moeilikheid gehad. Hy meen die aanval was teen hom en sy vrou gerig en dit was alleen deur “genade” dat hulle nie in die ontploffing omgekom het nie.

Boere, EFF ruk op vir wittes se borgaansoek na gefnuikte plaasaanval

Vier wit boere van Parys in die Vrystaat sal na verwagting vanoggend in die dorp se landdroshof om borgtog aansoek doen.

Talle wit boere uit die omgewing het opgedaag om die wittes te ondersteun in hul borgaansoek.

Die mans staan tereg op aanklagte wat verband hou met die dood van twee vermeemde swart plaasaanvallers verlede Woensdag nadat hulle ‘n plaasmoord verydel het deur vinnig op te tree.

Die twee swartes is in polisieaanhouding dood. Hulle is deur sowat 50 wit boere aangekeer nadat hul beplande aanval op die boer Loedie van der Wetshuizen misluk het.

Van der Westhuizen kon betyds die paniekknoppie druk, waarna die boosdoeners gevlug het.

Die plaasaanval op Biesiesbult word deur die EFF as ‘n loongeskil voorgehou. Kgotso Morapela, Vrystaatse leier van die EFF, sê hulle gaan by die hof betoog.

Van der Westhuizen het egter aan Netwerk24 gesê dat hy die twee nie ken nie.

Vrystaat Landbou (VL) om kalmte gemaan by Dinsdag se hofverskyning. “Weens die huidige landelike misdaadklimaat het frustrasievlakke breekpunt bereik en wil VL ‘n versoek rig vir kalm optrede van die groter publiek om verdere toename in geweld en misdaad te verhinder,” het VL in ‘n verklaring gesê.

Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr., Anton Loggenberg en Boeta van der Westhuizen sal na verwagting Dinsdag aansoek om borgtog doen.

Boere wat lewens en grond wil beskerm kan reken op rassevergelding

Boere wat hul eie lewens en grond teen swart aanvallers wil beskerm, kan reken op die regime se rassevergelding.

Alhoewel die 72-jarige Vrystaatse boer van Parys te hulp gesnel is toe twee swartes hom wou vermoor, word Loedie van der Westhuizen se eie seun, Boeta, nou aangekla van moord.

Boeta het die naweek in die gevangenis deurgebring saam met drie ander wit boere van die omgewing.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê die wit boere staan voorlopig tereg weens moord.

Die twee swart aanvallers het geld geëis, maar moes op die vlug slaan toe die hulp opdaag. Hulle is uiteindelik aangekeer.

Tientalle boere was op die toneel waar die mans aangerand is toe die polisie opdaag. Albei mans het egter nog geleef toe die polisie hulle weggeneem het.

Een van die mans is by sy aankoms by die hospitaal in Parys dood en die ander een is by sy aankoms by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein dood verklaar.

Die aanvallers was nie werknemers van Van der Westhuizen nie.

Boere leef in vrees dat een van hulle volgende kan wees nadat die 40-jarige boer Johan Strydom in 2010 met ’n ysterstaaf geslaan is en agter sy eie Mazda-bakkie gesleep is. Strydom het nie die aanval oorleef nie.

Loedie se dogter is die joernalis Alet Rademeyer.

praag.co.za nader 19 000 gepubliseerde artikels!

Die webblad wat u tans lees, beskik reeds oor 18 907 gepubliseerde artikels – alles in Afrikaans. Oor die volgende paar weke sal ons die 19 000-kerf verbysteek. Om dit in perspektief te stel: dit verteenwoordig ongeveer 10 miljoen woorde, oftewel die ekwivalent van 150 boeke van 300 bladsye elk. Al ons inhoud is gratis aanlyn beskikbaar, asook soekbaar vir die wêreldwye lesers van Afrikaans.

Dink gerus daaraan om ons geldelik te ondersteun en by PRAAG aan te sluit. Sonder u ondersteuning kan ons nie aangaan om daagliks vir u nuus en onverskrokke pro-Afrikaanse menings te bring nie.

Sodra ons die mylpaal van 19 000 artikels bereik, sal ons dit beslis onder u aandag bring en dit ook hier by ons vier. Daarna mik ons vir 20 000 Afrikaanse artikels. Let ook daarop dat ons geskiedenisstukkies deur prof. Jaap Steyn en ander ‘n gebalanseerde blik op die Afrikanergeskiedenis bied wat in hierdie tye van marxistiese en polities korrekte oorheersing so skaars soos hoendertande is.

Wegholveldbrand rig groot skade aan by Zastron

‘n Wegholveldbrand het Maandag duisende hektaar weidinggrond in die Zastron-distrik verwoes asook die bekende Aasvoëlberg-buitelugsentrum vernietig, het OFM berig.

Voorsitter van die Zastron Brandbeskermingsvereniging, Steyn van Ronge, sê ‘n brand wat vermoedelik deur lede van ‘n inisiasieskool in die gebied begin is, het weens matige tot sterk winde vinnig na die suide van dié Vrystaatse dorp versprei. Die droë en warm weersomstandighede het sake vererger.

Van Ronge sê weens ‘n tekort aan water op die dorp moes boere, inwoners en plaaswerkers water vanuit vee se krippe gebruik om die brande te blus. Daar word geraam dat tussen 3 000 en 5 000 hektaar grond vernietig is en minstens drie plase hul totale weidinggrond verloor het.

Rondawels, bome en geboue by die buitelugsentrum, beter bekend as die Buitelugskool, het tot op die grond afgebrand.

Dit kom ná nog ‘n brand wat tien dae gelede tussen 10 000 en 15 000 hektaar in dieselfde omgewing vernietig het.

Van Ronge sê dit smeul steeds plek-plek vandag, maar weens stiller wind is daar geen onmiddellike brandgevaar nie.

Afriforum sê nuwe dokumentêr is nie anti-ANC nie

‘n Vollengte dokumentêre film oor die gebruik van geweld deur die ANC en ander bevrydingsorganisasies in Suid-Afrika sal vroeg in 2016 aan die publiek bekendgestel word.

Die dokumentêr, Tainted Heroes, is in Engels en is twee ure lank.

Dit behandel die geskiedenis vanaf die Soweto-studenteopstande in 1976 tot en met die inhuldiging van oudpresident Nelson Mandela in 1994.

Volgens die film se vervaardiger, Ernst Roets is die dokumentêr nie ‘n anti-ANC film nie, maar bevat wel ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se geskiedenis wat deur die ANC-regering onder die mat gevee word.

Roets, die ondervoorsitter van Afriforum, het gesê nie almal wat by die ANC betrokke was, is onbevlekte helde nie. Hulle wil poog om dié eensydige siening van die ANC te verander.

Roets het nie gesê wie hy dink die werklike helde in die ANC is nie.

Drie bejaardes slagoffers van swart aanvallers

‘n Bejaarde inwoner van Hoopstad, Adri Maree (67), is Saterdagmiddag vir dood agtergelaat nadat sy in haar motorhuis deur swartes oorval is.

Sy is eers Sondagoggend deur ‘n kennis ontdek en is na ‘n hospitaal in Bloemfontein gehaas.

Maree het veelvuldige kopbeserings opgedoen, en haar gesig is erg vermink. Sy verkeer tans onder swaar verdowing.

Nog twee bejaardes, Thomas Gardiner (76), en Rina Langenhoven (67) het ook onder swart aanvallers deurgeloop. Langenhoven van Haenertsburg in Limpopo het nie die aanval oorleef nie.

Langenhoven se drie swart aanvallers wat haar op Sweet Mist Farm doodgemartel het, is intussen aangekeer. Een was voorheen in haar diens.

Gardiner is Sondagaand in sy huis in Doorn, Welkom, deur swartes aangeval, maar kon die polisie ontbied voordat hy doodgemaak is.

Sy aanvallers het hom met ‘n tuinvurk aangerand en ernstig beseer voordat die polisie opgedaag het.

Die swartes het daarna op die vlug geslaan met die slagoffer se selfoon en beursie.

Gardiner word tans in die hospitaal in Welkom behandel.

Gedugte taalstryder Pieter Kapp oorlede

Prof. Pieter Kapp (76), gedugte taalstryder en emeritus-hoogleraar in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch is Sondagoggend in die hospitaal in Somerset-Wes oorlede.

Kapp, gewese president van die universiteit se konvokasie, is verlede week geopereer maar het weens bloeding op die brein in ‘n koma verval.

Kapp het homself as president van die konvokasie tot 2011, onvermoeid vir die bevordering van Afrikaans as akademiese en onderrigtaal beywer.

Kapp was ook lid van die beheerraad van die Hugenotevereniging van Suid-Afrika.

Sy boek Nalatenskappe Sonder Einde – Die Verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers is onlangs bekend gestel.

Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Tulbach geskud

‘n Aardbewing het Tulbagh en Saron Woensdag weer eens geskud.

Tulbach is in 1969 deur ‘n verwoestende skudding in puin gelê, ‘n ramp wat bejaarde inwoners nog onthou.

Die aardbewing het 3,7 op die Richterskaal gemeet en sowat 10 sekondes lank geduur. Dorpe so ver as Paarl en Melkbosstrand het ook die trillings waargeneem.

Klaarblyklik voel inwoners al die afgelope maand waarskuwingstrillings.

Die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, Anelene de Beer, het aan Netwerk24 gesê geen skade of beserings is aangemeld nie.

Stellenbosch: status quo word gehandhaaf met ‘gelyke status vir Afr en Eng’

Die snelle verengelsing van die Universiteit van Stellenbosch is vir die oomblik gestuit nadat ‘n raadsvergadering gisteraand besluit het om die rektor en Engelssprekende dosente se voorstel om Engels die “hooftaal” te maak met ‘n “oorweldigende meerderheid” van 21 stemme teen drie verwerp het. Twee lede van die raad het buite stemming gebly. Die status quo sal gehandhaaf word met Afrikaans en Engels wat albei as doseer- en voertale behou word. Die volledige mosie lui soos volg:

1. Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het kennis geneem van die konsep-dokument van die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch wat op 12 November 2015 bekendgemaak is. Verder bevestig die Raad sy ondersteuning ten opsigte van die mosie van die Uitvoerende Komitee van die Raad – UK(R) – aangeneem op 15 November 2015.

2. Vir sover die konsep-voorstel en verklaring van die Bestuur die amptelike Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) raak, verklaar die Raad die volgende:

2.1 Die Raad bly verbind tot die Taalbeleid soos aanvaar op 22 November 2014 en die interpretasie daarvan deur prof Wim de Villiers in sy inhuldigingsrede: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n isiXhosa universiteit nie; Stellenbosch is ‘n meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in hierdie kategorie, wat bitter nodig is in ‘n land met 11 amptelike tale”.

2.2 Die Raad verklaar onomwonde dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie. Daarom versoek die Raad die Bestuur om met die oog hierop die nodige meganismes verder uit te bou en deurlopend te monitor. Indien dit sou beteken dat die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken oorskry, sal dit die ondersteuning van die Raad geniet.

2.3 Tegelykertyd verklaar die Raad dat dit nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie. Die Raad versoek dat óók die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word. Die Raad bevestig hiermee dat die Universiteit se meertalige aanbod as ‘n strategiese bate vir US beskou word en as ‘n kompeterende voordeel uitgebou moet word.

2.4 Wat die administratiewe en kommunikasie-taal aan die US betref, besluit die Raad dat taal nooit uitsluitend mag wees vir studente en personeel nie. Die Raad aanvaar dat, soos tans, amptelike dokumente en kommunikasie daarom in Afrikaans sowel as in Engels beskikbaar sal wees. Studente, personeel en die publiek sal steeds aangespreek word in die taal van hul voorkeur, hetsy Afrikaans of Engels en indien moontlik ook isiXhosa.

2.5 Wat die voertaal van vergaderings en byeenkomste aan die US en in universiteitskoshuise betref, versoek die Raad dat dit onderling gereël word met die oogmerk om niemand uit te sluit nie.

3. Die Raad beskou die groeiende diversiteit in die studente-demografie aan die US as ‘n groot bate vir sowel die akademiese as persoonlike vorming van die studente wat kies om aan die US te studeer. Die Raad sal daarom saam met Bestuur kreatief wil bly dink hoe onderlinge begrip en waardering vir almal verbonde aan die US bevorder kan word, en die verrykingspotensiaal van die diversiteit maksimaal ontsluit kan word.

Intussen gaan die pro-Engelse agitasie op die kampus egter voort. In vandag se Media24-koerante verskyn ‘n rubriek van prof. Amanda Gouws waarin sy haar steeds uitspreek ten gunste van die aanvaarding van Engels as enigste doseertaal. Sy beweer dat studente wat in Afrikaans studeer, “Afrikanerbagasie” het en die eerste is om die land te verlaat waar hulle elders geredelik verengels:

Die kinders van ouers wat so op Afrikaanse onderrig aandring, is die eerstes wat die land verlaat as hulle afstudeer het en skielik in die openbare en die privaat sektor agterkom dat hul Afrikanerbagasie (let wel, nie die taal nie) hul kniehalter. In ’n ander land is hulle bereid om hul taal op te gee.

Ons moet ons kinders vir ’n globale wêreld grootmaak. Dit is ’n wêreld waarin almal ten minste in Engels moet kan funksioneer.

Gouws hou ook, strydig met die amptelike taalbeleid, informele opnames in haar klasse om te bepaal of die meerderheid ten gunste van Engels is, waarna sy in Engels klas gee. Sy skryf:

In my tweedejaarsklas van ongeveer 300 studente het ek in die eerste lesing gevra hoeveel in Engels onderrig wil word. Dit was ongeveer 80%, alhoewel net 60% Engelssprekend was. Die studente het gekies. Die res het die tolkdiens slegs een week gebruik. Wat die studente wil hê, is gehalteonderrig wat hulle vir ’n globale wêreld – hier ter lande of oorsee – voorberei.

PRAAG het gister ‘n petisie met 455 name van skrywers, kunstenaars, sportmense en lede publiek wat ten gunste van Afrikaans as voertaal is, aan die rektor en die raad van die Universiteit van Stellenbosch gestuur om in ag te neem by sy besluit. Dít, asook ander insette, het waarskynlik die deurslag gegee – in weerwil van die rektor en meer as 200 Stellenbosse dosente wat die universiteit wil verengels.

PRAAG sal later vandag ‘n verklaring uitreik waarin die besluit verwelkom word, maar op die herverafrikaansing van dié instelling aangedring word.