Boer van Brits oorleef bomaanval deur ‘genade’

Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord op ‘n familie van die Assen distrik naby Brits in Noordwes.

Die boer, Neels van Rensburg sê daar was ‘n bomaanval op sy huis, waarna wapens uit sy kluis gesteel is.

Miljoene rande se skade is aangerig aan die huis.

Van Rensburg was ‘n bekende renosterboer en het in ‘n stadium 45 renosters op sy plaas Buffelsdraai aangehou.

Hy het egter al die renosters verkoop nadat twee van dié renosters in 2011 op die plaas doodgeskiet en gestroop is.

Van Rensburg (67) en sy vrou, Rina (64), het nie Sondagaand op hul jagplaas geslaap nie.

Van Rensburg het al voorheen moeilikheid gehad. Hy meen die aanval was teen hom en sy vrou gerig en dit was alleen deur “genade” dat hulle nie in die ontploffing omgekom het nie.