Boer van Brits oorleef bomaanval deur ‘genade’

Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord op ‘n familie van die Assen distrik naby Brits in Noordwes.

Die boer, Neels van Rensburg sê daar was ‘n bomaanval op sy huis, waarna wapens uit sy kluis gesteel is.

Miljoene rande se skade is aangerig aan die huis.

Van Rensburg was ‘n bekende renosterboer en het in ‘n stadium 45 renosters op sy plaas Buffelsdraai aangehou.

Hy het egter al die renosters verkoop nadat twee van dié renosters in 2011 op die plaas doodgeskiet en gestroop is.

Van Rensburg (67) en sy vrou, Rina (64), het nie Sondagaand op hul jagplaas geslaap nie.

Van Rensburg het al voorheen moeilikheid gehad. Hy meen die aanval was teen hom en sy vrou gerig en dit was alleen deur “genade” dat hulle nie in die ontploffing omgekom het nie.

Namibiese plaasmoord: Verdagtes vas

Vyf swart mans wat van die moord op mnr. Reinhard Schmidt op die Namibië Hoodia Jagplaas verdink word, is Dinsdagaand in Windhoek in hegtenis geneem, het die Republikein berig.

Hoofinspekteur Samuel Gariseb van die Mariental-polisie het gister gesê die vermeende misdadigers sal vandag na Kalkrand vervoer word waar die ondersoek na die moord voortduur.

Gariseb kon egter nie gister die name van die verdagtes verstrek nie, maar het gesê drie van die swartes het vermoedelik by Schmidt se huis ingebreek, terwyl die ander twee in ’n motor vir hulle gewag het.

Van die items wat hulle uit Schmidt se huis gesteel het, is intussen gevind en die ander items is vermoedelik reeds verkoop.

Schmidt, ’n Duitse burger en eienaar van die jagplaas buite Kalkrand, is verlede Vrydag­oggend dood in sy huis aangetref met sy hande agter sy rug vasgemaak en sy mond en neus met kleefband toegeplak. Die nadoodse ondersoek is nog nie voltooi nie, maar Schmidt het vermoedelik versmoor.

Die mans is vyf dae ná die moord in hegtenis geneem, nadat die polisie en bestuur van die jagplaas met ’n onverpoosde ondersoek die Vrydag begin het.

“Ons is baie dankbaar vir al die hulp en ondersteuning wat ons van die Kalkrand-polisie, plaasbure en die gemeenskap van ­Kalkrand en Schlip gekry het,” het Schmidt se dogter, dr. Anja Huppertz, Donderdag gesê.

“Die een positiewe ding uit hierdie tragedie is die besef dat daar werklik ’n gemeenskap van wit en swart bestaan wat saamstaan om die land te ontwikkel en sy wettigheid te verseker.”

Huppertz en haar ma, me. Gudrun Schmidt, het van Duitsland na Namibië gevlieg ná die nuus van die moord. Huppertz sê haar ouers het 40 jaar gelede Namibië besoek en omdat hulle lief vir die land geword het, wou hulle nog altyd ’n plaas hier koop. Schmidt was die eienaar van die Reinhard Schmidt Lennestadt RSL GmbH maatskappy in Duitsland wat die hoofverskaffer van plastiese en metaalinspuiters vir General Motors, Volkswagen, Ford en tot ’n minder mate BMW was. Die maatskappy het ook produksieaanlegte in Spanje, Portugal en Kanada gehad.

Schmidt word Maandag op die plaas begrawe.

Bejaarde op jagplaas vermoor

Die Republikein berig dat die moordenaars van die 76-jarige boer in Namibië nog op vrye voet verkeer.

Reinhard Schmidt van die Namibië Hoodia Jagplaas is Donderdagnag in sy huis op dié plaas deur aanvallers vermoor. Hy het vermoedelik weens versmoring gesterf.

Geen besonderhede oor die aanvallers is bekend nie.

Dit blyk dat buitelandse jagters die volgende dag op die plaas sou aankom.

Die polisie op Mariental het aan Republikein gesê Schmidt het vroeër Donderdagaand nog aandete saam met ander inwoners op die plaas geniet. Hy het daarna na sy huis gegaan en teen 21:00 sy vrou, me. Gudrun Schmidt, gebel wat in Duitsland is. Toe plaaswerkers die volgende oggend by Schmidt se huis na hom roep, was daar geen reaksie nie.

Die werkers het toe die bestuurder per radio laat weet dat daar fout by Schmidt se huis is. Die bestuurder het omstreeks 07:15 vir Schmidt dood in sy kamer gevind.

Die polisie vermoed Schmidt het versmoor het aangesien sy hande agter sy rug met ’n tou vasgemaak was en sy mond en neus met kleefband toegeplak was. Daar was geen teken van ’n worsteling nie.

“Ons vermoed ook dat mnr. Schmidt nie sy huis se deur gesluit het nie, want daar was geen teken van ’n inbraak nie. Die moordenaars moes bloot ingestap het,” het Gariseb verder gesê.

“Op die oomblik lyk dit asof diefstal die motief was. ’n Groot platskerm-televisie, ’n rewolwer, ’n geweer en ’n koelhouer wat vol drank was, word uit Schmidt se huis vermis.”

Die polisie en die plaasbestuur is sedert vroeg Vrydag met ’n intensiewe soektog na die moordenaars besig. Hulle het die spore van vermoedelik drie verdagtes gesny en ’n private vliegtuig is gebruik om die omgewing uit die lug te bespied.

Gariseb het gesê die spore het van die plaas af aanvanklik in die rigting van Schlip gelei en later in die rigting van Omamas weggeswenk.

Teen gisteroggend het die soekspan die spore op die B1-hoofpad tussen Kalkrand en Rehoboth verloor waar dit doodgeloop het.

“Dit lyk asof die verdagtes daar in ’n motor geklim het,” sê Gariseb.

Die polisie ondersoek ook die diefstal van ’n selfoon wat onlangs uit ’n ander huis op die plaas gesteel is. Hoewel die polisie nog nie ’n verband tussen die twee voorvalle kon vasstel nie, dui die ondersoek die selfoon is op Duineveld gebruik.

Die soektog na die verdagtes duur voort.