Die Republikein berig dat die moordenaars van die 76-jarige boer in Namibië nog op vrye voet verkeer.
Reinhard Schmidt van die Namibië Hoodia Jagplaas is Donderdagnag in sy huis op dié plaas deur aanvallers vermoor. Hy het vermoedelik weens versmoring gesterf.
Geen besonderhede oor die aanvallers is bekend nie.
Dit blyk dat buitelandse jagters die volgende dag op die plaas sou aankom.
Die polisie op Mariental het aan Republikein gesê Schmidt het vroeër Donderdagaand nog aandete saam met ander inwoners op die plaas geniet. Hy het daarna na sy huis gegaan en teen 21:00 sy vrou, me. Gudrun Schmidt, gebel wat in Duitsland is. Toe plaaswerkers die volgende oggend by Schmidt se huis na hom roep, was daar geen reaksie nie.
Die werkers het toe die bestuurder per radio laat weet dat daar fout by Schmidt se huis is. Die bestuurder het omstreeks 07:15 vir Schmidt dood in sy kamer gevind.
Die polisie vermoed Schmidt het versmoor het aangesien sy hande agter sy rug met ’n tou vasgemaak was en sy mond en neus met kleefband toegeplak was. Daar was geen teken van ’n worsteling nie.
“Ons vermoed ook dat mnr. Schmidt nie sy huis se deur gesluit het nie, want daar was geen teken van ’n inbraak nie. Die moordenaars moes bloot ingestap het,” het Gariseb verder gesê.
“Op die oomblik lyk dit asof diefstal die motief was. ’n Groot platskerm-televisie, ’n rewolwer, ’n geweer en ’n koelhouer wat vol drank was, word uit Schmidt se huis vermis.”
Die polisie en die plaasbestuur is sedert vroeg Vrydag met ’n intensiewe soektog na die moordenaars besig. Hulle het die spore van vermoedelik drie verdagtes gesny en ’n private vliegtuig is gebruik om die omgewing uit die lug te bespied.
Gariseb het gesê die spore het van die plaas af aanvanklik in die rigting van Schlip gelei en later in die rigting van Omamas weggeswenk.
Teen gisteroggend het die soekspan die spore op die B1-hoofpad tussen Kalkrand en Rehoboth verloor waar dit doodgeloop het.
“Dit lyk asof die verdagtes daar in ’n motor geklim het,” sê Gariseb.
Die polisie ondersoek ook die diefstal van ’n selfoon wat onlangs uit ’n ander huis op die plaas gesteel is. Hoewel die polisie nog nie ’n verband tussen die twee voorvalle kon vasstel nie, dui die ondersoek die selfoon is op Duineveld gebruik.
Die soektog na die verdagtes duur voort.
