Nelson Mandela se testament van 40 bladsye wat Maandag gelees is, het belangstelling gaande gehad omdat daar reeds ‘n uitgebreide familietwis oor sy erflating woed.
Dit is Maandag onthul dat Mandela en Graca Machel, die weduwee van die afgestorwe Mosambiekse rewolusionêre leier, glo binne gemeenskap van goedere getroud was.
Machel is daarom geregtig op die helfte van Mandela se boedel.
Spesifieke items in die boedel is aan haar bemaak, maar sy kan baie meer opeis. Mandela se erflating is glo nagenoeg R46 miljoen werd, maar dit moet nog geëvalueer word.
Mandela het ook R50 000 aan verskeie van sy personeellede, onder wie Zelda la Grange, bemaak.
Zille in haar kombuisbediende-mondering, sweep swart gemoedere op oor grond
Die DA en Agang se openbare gesoenery het toe niks vermag nie. Dr. Mamphela Ramphele en Helen Zille se baie kortstondige politieke bondgenootskap het binne net enkele dae in ‘n openbare vyandskap geëindig.
Dit volg na ’n ultimatum wat Zille aan Ramphele gestel het om deel te neem aan ‘n optog na Luthuli-huis teen die ANC. Ramphele – wat waarskynlik na ANC-vermanings besef het dit sou tot geweld lei – was beslis dat sy nie tot so iets ingestem het nie
Zille het Mampi-Rampi daarvan beskuldig dat “sy nie vertrou kan word nie”. Die DA-leier het pas ‘n grootskaalse swartsmeerskinderveldtog teen haar “beste vriendin” van stapel gestuur in ‘n poging om haar eie voortvarende politieke onbeholpenheid toe te smeer.
Die DA-leier, wat self met ‘n vertrouensprobleem en haar eie grootheidswaan worstel, het Sondagaand in ’n verklaring bevestig dat die DA en Agang SA se paaie gaan skei.
Die onverwagse vyandskap sal Maandag in afsonderlike nuuskonferensies in Johannesburg belig word.
Volgens die DA het hulle nuutaangewese presidentskandidaat in die komende verkiesing die ooreenkoms tussen die twee partye verbreek.
Ingeligte bronne binne die DA sê Zille is woedend omdat sy dit nie kon regkry om Mampi-Rampi se manipuleer nie.
Uiteraard sal dit beteken dat Mampi-Rampi ook nie meer die DA in die voorste gestoeltes in die komende algemene verkiesing sal verteenwoordig nie.
Ramphele se woordvoerder, Andrew Gasnolar, het Sondagaand bevestig dat sy nie meer die DA se presidentskandidaat sal wees nie.
Zille sê Ramphele het die die media, Agang-ondersteuners en die DA mislei deur aan elkeen ‘n ander verhaal voor te hou.
In werklikheid het Zille haarself en haar party met haar eie egoïstiese ywer en leë beloftes gesink.
Sy het deurentyd names Ramphele besluite geneem terwyl sy nie tred gehou het met die anti-DA sentiment onder Agang se ondersteuners nie. Praag het verlede week oor die ontevredenheid onder Agang-kiesers oor die skielike samesmelting berig.
Dié onverkwiklike toestand wat deur Zille se aandagsug meegebring is, het die ooreenkoms tussen die twee vryers gou laat versuur.
Beeld het Maandag Zille se beeld probeer red met ‘n emosiebelaaide, karakterskendende aanval teen Mampi-Rampi.
Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega sal na verwagting besoek aflê in Ha-Kutama, net buite Makhado in Limpopo, nadat oproer en geweld in die gebied uitgebreek het.
Gemeenskapslede het vier huise, twee voertuie en twee polisiemotors tydens die oproerogheid in ligte laaie gelaat.
Die ontstoke inwoners eis dat nege mense in hegtenis geneem word vir die moord op ‘n 38-jarige swart man in ‘n nabygeleë woongebied. Hulle glo die nege is vir die man se dood verantwoordelik.
Die situasie in die swart woongebiede buite Tzaneen in Limpopo is steeds kalm.
Die polisie in Limpopo het gesê dat die eenhede wat openbare orde handhaaf steeds die gebied monitor.
Relela en Kubjana is verlede week in chaos gedompel toe ‘n oproerige skare ‘n satelliet-polisiestasie aangeval het.
Die stasie in Relela het kwaai onder vandale deurgeloop. Vyftien polisiebeamptes is beseer en 19 polisievoertuie is beskadig.
Drie mense is tydens die oproer dood. Inwoners sê hulle is deur die polisie doodgeskiet.
Nege verdagtes sal môre op aanklagte van openbare geweld, saakbeskadiging en brandstigting in die plaaslike landdroshof verskyn, en nog nege is steeds in aanhouding tot hul volgende hofverskyning aanstons.
Die munisipaliteit van Mogale City het intussen die gewelddadige oproer deur Heuningklip-inwoners naby Krugersdorp veroordeel.
Die skare oproeriges het die N14 met brandende buitebande versper in ‘n poging om grond te beset.
Geweld het losgebars het toe personeel van ‘n privaat veiligheidsmaatskappy hulle van die grond afgejaag het.
Vier mense is beseer, toe die Rooimiere met rubberkoeëls op die skare losgetrek het.
‘n Woordvoerder van Mogale City sê die grond sal beskikbaar gemaak word aan gesinne wat van plase in die omgewing afgesit is.
Besige taxiroetes in en om Johannesburg sal na verwagting gesluit wees Maandag as die Nasionale Taxi-alliansie (NTA) begin met ‘n protes wat duisende pendelaars gestrand sal laat.
Die NTA se woordvoerder Theo Malele het gesê die regering se versuim om bedryfstelsellisensies betyds uit te reik aan taxibestuurders beteken hulle moet e-tol betaal.
“Sanral en die regering beweer dat ons vrygestel word van e- tolhefings en tog het hulle geweet dat byna 80% van taxi’s nie bedryfslisensies het nie.”
Die NTA is die moederliggaam van ‘n groot aantal taxi-verenigings oor die hele land .
“Die regering se weiering om bedryfstelsellisensies uit te reik beteken dat ons bedrywighede onwettig op die paaie is,” sê Malele .
“Van Maandag gaan ons die paaie oorneem en verbyry sonder om e-tol te betaal,” het hy bygevoeg .
Hy het gesê geaffilieerde verenigings van ander provinsies sal by die protes aansluit .
Maar die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-organisasie (SANTACO) het geweier om by die protes aan te sluit omdat hulle glo die haakplek sal binnekort opgelos word.
Die burgerregtegroep Afriforum wil appelleer teen die besluit van die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika om nie ‘n klagte oor onetiese gedrag te ondersoek nie.
‘n Klagte is by die Raad ingedien teen die LUR vir Gesondheid in KwaZulu-Natal, Sbongiseni Dhlomo en die voormalige Geneesheer-Generaal, Vejaynand Ramlakan.
Die twee het vroeër erken dat hulle destyds in 1985 plofstof vir ‘n reeks aanvalle op burgerlike teikens verskaf het.
Die uitvoerende hoof van Afriforum, Kallie Kriel, sê hulle is van mening dat die Raad se besluit polities gedrewe is en daar geen regsgronde daarvoor bestaan nie.
Die Raad verwys na artikel 31 van die wet op die Waarheidskommissie, wat bepaal dat geen getuienis daarvan in strafregtelike sake gebruik mag word nie.
Kriel sê dit is geen strafregtelike prosedure nie, en bloot ‘n verskoning om ‘n skuiwergat te kry.
Die Raad oorweeg tans die skorsing van dr Wouter Basson uit die mediese beroep nadat hy skuldig bevind is aan onetiese gedrag.
Basson is in Desember verlede jaar deur ‘n tugpaneel van die raad op gesondheidsberoepe (RGB) in Pretoria skuldig bevind aan onprofessionele en onetiese gedrag in verband met sy betrokkenheid by die ontwikkeling van chemiese en biologiese wapens onder die NP-bewind.
Prof. Jannie Hugo, voorsitter van die tugpaneel, het gesê Basson was steeds ‘n mediese dokter wat etiese regulasies ook in tye van konflik moes oorweeg.
Basson het vroeër aangevoer dat hy as hoof van Projek Coast en Delta G ten eerste ‘n soldaat was en nie ‘n dokter nie, bevele uitgevoer het, en dat mediese etiese regulasies in gedurende konflik van vredesitasies verskil.
Aanklagte teen ‘n vermeende plaasmoordenaar is Donderdag teruggetrek.
Dit is een van drie swart verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle Sarel Pretorius op die plaas Roodepoort naby Barkly-Oos vermoor het.
‘n Klerk van die hof sê onvoldoende bewyse teen Thandeka Mthiyane (33) het veroorsaak dat die aanklagte teruggetrek is in die landdroshof op Barkly-Oos.
Die saak teen die ander twee beskuldigdes, Bongani Nojokwe (31) en Vumile Dingalibala (28) is tot 13 Februarie uitgestel en die twee sal in polisie-aanhouding bly.
Nojokwe en Dingalibala is in Gauteng vasgetrek na ’n intensiewe ondersoek. Pretorius is twee weke gelede vermoor en sy vrou is in die badkamer toegesluit tydens die aanval.
Mthiyane het saam met die twee verdagtes in die hof verskyn as ’n medepligtige van Gauteng.
Tydens die inhegtenisneming is daar op R74 000 kontant en twee 9 mm-pistole beslag gelê.
’n Stadsraadsvergadering van die Stellenbosch-munisipaliteit het Woensdag in geweld ontaard toe ’n swart DA-raadslid ’n wit opposisielid met die vuis geslaan het.
Die voorval is deur die stadsraad in ’n verklaring bevestig, het Beeld berig.
Nyaniso Jindela (DA) het André van der Walt (Stellenbosch Civic Association) geslaan oor ‘n “rassistiese” aanmerking.
Van der Walt het tydens die raadsvergadering vir Jindela glo “you stupid” genoem. Die speaker, Cyril Jooste, het Van der Walt gevra om sy woorde terug te trek, waaraan hy toe gehoor gegee het.
Tydens ‘n koffiepouse, ‘n rukkie daarna beweer Jindela is hy ‘n “dom kaffer” genoem waarop hy toe vir Van der Walt “geklap” het.
Van der Walt het ’n klag van aanranding by die polisie ingedien.
‘n Raadslid sê Van der Walt het nie ’n rassistiese aanmerking gemaak nie. Hy het wel gesê dat Jindela “dom vrae vra en sy tyd mors”.
Hy het aan Die Burger gesê Van der Walt is so hard met die vuis geslaan deur Jindela dat hy twee van sy tande verloor het en op die grond neergeval het.
Van der Walt was besig om ’n wysiging ’n raadsitem te motiveer toe Jindela die spoor byster geraak het en deurentyd wou weet waaroor daar gepraat word.
Die raadslid van die Stellenbosch Civic Association het sy ontsteltenis oor die munisipaliteit se eensydige verklaring uitgespreek.
Die bekende Trichardt-gedenkmonument, ‘n wawiel, in die middestad van Nelspruit met sy historiese brons sonwyser, is oopgebreek en van alles gestroop.
Die loodkapsule wat sedert 1938 in die monument bewaar word en eers in 2038 oppgemaak moes word, is ook weg.
Die sogenaamde tydkapsule sou ondermeer historiese dokumente bevat om die Groot Trek se eeufees in 1938 te herdenk.
Gerugte dat twee Transvaalse veldponde vir bewaring deur die nageslag in die kapsule in Nelspruit geplaas is, doen al lankal die rondte.
Dit is egter onwaarskynlik dat die metaalstropers daarvan sou weet.
‘n Goue veldpond kan deedae tot ‘n miljoen rand stuk op die wêreld muntmark haal. Dis die mees gesogte munt ooit uit Suid Afrika.
Minder as 900 daarvan is ten tye van die Vryheidsoorlog op Pelgrimsrus gemunt van die staatsgoud uit Pretoria wat later as die mistieke Kruger Miljoene bekend sou staan.
Die Historiese Belangegroep van Mpumalanga het sy telleurstelling oor die skending van ‘n erfenis baken uitgespreek.
‘n Dingende beroep word op skroothandelaars gedoen om op die uitkyk te wees vir die sonwyser en dit liewer terug te besorg as om dit te vernietig.
Planne om die stadsraad te nader en die sonwyser en tydkapsule in veilige bewaring te plaas en die brons met ‘n harsnamaaksel te vervang, is nooit ten uitvoere gebring nie.
Woensdag se rentekoersverhoging – die eerste in vyf jaar – kan dalk net die begin wees.
Die goewerneur van die Reserwebank, Gill Marcus het aangekondig dat die repokoers met ‘n halwe persentasiepunt sal verhoog word tot 5,5%. Die primakoers sal gevolglik klim tot 9%.
As jy R1 miljoen op jou verband skuld, sal dit jou sowat R319 meer elke maand kos, volgens Eerste Nasionale Bank se eiendomsontleder.
Hy het huiseienaars gewaarsku om voorsiening te maak vir die styging.
Die rand se onlangse daling het inflasionêre verwagtinge geskep en die sentrale bank genoop om op te tree.
’n Onderhandelaar van Gift of the Givers en sy gesin moes uit Jemen vlug nadat onderhandelinge met al Kaida, wat ’n Suid-Afrikaner van Bloemfontein gyselaar hou, skipbreuk gely het.
Hulle dreig om Pierre Korkie te onthoof as die losprys nie betaal word nie. Intussen het Brittanje ‘n resolusie by die VN ingedien om nie lospryse vir gyselaars te betaal nie. Die resolusie is aanvaar.
“Ons het Anas al-Hamati en sy gesin Dinsdagoggend uit Jemen onttrek,” het die hoof van Gift of the Givers, dr. Imtiaz Sooliman, aan Sapa gesê.
Die gesin is tans in Doebaai.
Pierre Korkie se ontvoerders het Sondag herhaal dat die Suid-Afrikaanse regering die losprys van R33 miljoen moet betaal vir sy vrylating.
Hulle glo al-Hamati, die Gift se kantoorbestuurder in Jemen, het die losprysgeld gesteel wat die Suid-Afrikaanse regering reeds oorhandig het.
Intussen is nog geen inligting van die departement van Internasionale Betrekkinge oor die lot van ‘n Suid-Afrikaanse man wat aangehou word in Ekwatoriaal-Guinee ontvang nie.
Die 47-jarige lugvaart-konsultant van Wildernis in die suid-Kaap, Daniel Janse van Rensburg word in ‘n gevangenis aangehou nadat hy sake gedoen het met ‘n voormalige regeringsamptenaar.
Sy familie, wat hom in September verlede jaar laas gesien het, is desperaat in afwagting op nuus.
Sy vrou, Melanie sê die regering hou hulle nie op hoogte nie.
Die bomdreigemente by Sanral is glo deur ’n werknemer self van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap gemaak.
Die man van Soweto is op aanklag van terrorisme in hegtenis geneem weens sy beweerde rol in die onlangse voorvalle by die maatskappy se bedryfsentrum in Samrand naby Midrand.
Die woordvoerder vir die Valke, kapt. Paul Ramaloko, sê die 28-jarige is Woensdagmiddag by die kantoor waar hy werk, in hegtenis geneem. Hy het bygevoeg dat die man se beweegredes nie bekend is nie.
Die dreigemente het daartoe gelei dat die gebou drie keer in ’n week ontruim moes word.
Die Valke het ook beslag gelê op ’n selfoon wat vermoedelik deur die werknemer gebruik is om ’n bomdreigement te maak.
Die Waterkloof-vier sal op 11 Februarie vrygelaat word, het Beeld berig.
Christoff Becker, Reinach Tiedt, Gert van Schalkwyk en Frikkie du Preez, almal van Waterkloofhoërskool wat in Januarie 2007 in die Pretoriase landdroshof elk tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is weens onder meer moord, kan op paroolontslag staatmaak.
Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het hul parool Woensdagaand bevestig.
“Hulle kon voordeel trek uit ’n spesiale vonnisvermindering van ses maande. Ingevolge wetgewing het die vier nou die helfte van hul vonnisse uitgedien en het hulle in aanmerking gekom vir parool totdat hul vonnisse in 2019 verval.
Die departement het gesê daar word van hulle verwag om aan streng paroolvoorwaardes te voldoen en enige oortreding kan hul terugstuur na die gevangenis.
Die Parlement se portefeuljekomitee oor polisie het die aanstelling van Robert McBride as hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), goedgekeur.
Die voorsitter van die komitee, Annelize van Wyk, sê die nominasie sal nou na die Nasionale Vergadering verwys word wat na verwagting McBride se aanstelling as die hoof van Opod sal goedkeur.
Die direktoraat is al sonder ‘n permanente hoof vir meer as ‘n jaar. Opposisiepartye,waaronder die Demokratiese Alliansie, Congress of the People en die African Christian Democratic Party, is ontstoke oor die nominasie en het gesê McBride is nie geskik vir die pos nie as gevolg van sy persoonlike regsprobleme in die verlede.
Maar, die minister van polisie, Nathi Mthethwa het lede vermaan en gesê dat McBride vrygespreek is van dronkbestuur aanklagte tydens sy termyn as Ekurhuleni Metro-polisiehoof.