Talle roubeklaers by Korkie-diens verwag

‘n Groot aantal roubeklaers word by die diens van die voormalige biologie-onderwyser van Grey Kollege in Bloemfontein verwag.

Pierre Korkie is verlede naweek in ‘n mislukte ontsettingspoging deur die VSA in Jemen dood tesame met ‘n Amerikaanse aangehoudene.

Die Amerikaanse State Department het intussen in ‘n verklaring gesê hulle was nie daarvan bewus dat ‘n Suid-Afrikaner aangehou word nie.

Yolandé en Pierre is in Mei 2013 in Taiz, Jemen, as gyselaars geneem, maar die ontvoerders het haar in Januarie vanjaar sonder ’n losprys vrygelaat.

Die roudiens vind om 10:00 op Vrydag plaas.

Johan Volsteedt, gewese skoolhoof van Grey Kollege, Pierre Korkie se kollega, sal as spreker by die roudiens optree.

Na verwagting sal heelwat oudkollegas en oudleerlinge die diens bywoon.

Korkie se vrou, Yolandé, het Dinsdag by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê daar is talle vrae oor haar man se dood, nadat sy oorskot op Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria aangekom het.

Korkie word oorleef deur sy vrou Yolandé en die egpaar se kinders, Lize-­Marie (15) en Pieter-Ben (17).

Sy twee kinders het tydens die mediakonferensie strak voor hulle uitgestaar.

Vrae oor Korkie se dood

Die oorskot van die Suid-Afrikaner, wat in ‘n Amerikaanse operasie gedood is, het Dinsdagoggend by die Waterkloof Lugmagbasis in Pretoria aangekom.

‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word waarby Amerikaanse amptenare glo ook teenwoordig sal wees. Eers daarna sal sy liggaam aan sy familie oorhandig word.

Pierre Korkie, ‘n biologie-onderwyser aan Grey Kollege, en ‘n Amerikaner, Luke Somers, is Saterdagoggend in Jemen doodgeskiet tydens ‘n mislukte bevrydingspoging deur Amerikaanse Spesmagte.

‘n Woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Nelson Kgwete sê Korkie se familie het die vliegtuig ingewag.

Yolande Korkie, sy eggenoot, het gesê daar is talle onbeantwoorde vrae oor sy dood. Berigte dat al-Kaïda deur die VSA befonds word, duik gereeld op.

Pierre en sy vrou is op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen ontvoer. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat nadat Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het.

Korkie se ontvoerders het vroeër ʼn losprys van $3 miljoen (ongeveer R32 miljoen) vir sy vrylating geëis. Klaarblyklik het die familie reeds ‘n deel van die geld ingesamel.

Korkie en ander gyselaars is vroeër verskuif nadat al-Kaïda gewaarsku is dat hulle dalk ontset kan word.

Afgevaardigdes van die departement, die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse ambassades was ook teenwoordig by die lugmagbasis.

Die Amerikaanse regering het intussen veiligheidsmaatreëls verskerp by sy fasiliteite wêreldwyd voor die vrystelling van ‘n senaatverslag wat die Amerikaanse intelligensiediens, die CIA, se “omstrede ondervragingsmetodes”, marteling, kritiseer.

Brittanje en Kanada het reeds hul missies in die Egiptiese hoofstad Kaïro gesluit uit vrees vir wraakaanvalle weens die verslag en aanvalle op Westerlinge.

Die Withuis het Maandag bevestig dat hulle verwag dat die verslag bekendgemaak gaan word.

Die Amerikaanse administrasie het bevestig dat stappe gedoen is om alle Amerikaanse ambassades en ander belange wêreldwyd te beveilig te midde van vrese van ‘n gewelddadige teenreaksie.

Dit is egter seker dat die verslag die beeld van gewone Amerikaners sal aantas.

Die minister van Buitelandse Sake, John Kerry het verlede week voete gesleep en gewaarsku dat die vrystelling tot geweld kan lei.

Die verslag gaan na verwagting besonderhede bekendmaak oor die geheime program wat onder oudpresident George W. Bush se regering gebruik is om al-Kaïda verdagtes te ondervra.

President Barack Obama het van die metodes wat gebruik is as marteling bestempel.

Die VSA het talle internasionale konvensiese en ooreekomste bekragtig en onderteken waarin hulle onderneem het om nie aangehoudenes te martel nie, maar dit geminag.

Pierre Korkie: Onderhandelaar vlug uit Jemen

pierrekorkie
Pierre Korkie

’n Onderhandelaar van Gift of the Givers en sy gesin moes uit Jemen vlug nadat onderhandelinge met al Kaida, wat ’n Suid-Afrikaner van Bloemfontein gyselaar hou, skipbreuk gely het.

Hulle dreig om Pierre Korkie te onthoof as die losprys nie betaal word nie. Intussen het Brittanje ‘n resolusie by die VN ingedien om nie lospryse vir gyselaars te betaal nie. Die resolusie is aanvaar.

“Ons het Anas al-Hamati en sy gesin Dinsdagoggend uit Jemen onttrek,” het die hoof van Gift of the Givers, dr. Imtiaz Sooliman, aan Sapa gesê.

Die gesin is tans in Doebaai.

Pierre Korkie se ontvoerders het Sondag herhaal dat die Suid-Afrikaanse regering die losprys van R33 miljoen moet betaal vir sy vrylating.

Hulle glo al-Hamati, die Gift se kantoorbestuurder in Jemen, het die losprysgeld gesteel wat die Suid-Afrikaanse regering reeds oorhandig het.

Intussen is nog geen inligting van die departement van Internasionale Betrekkinge oor die lot van ‘n Suid-Afrikaanse man wat aangehou word in Ekwatoriaal-Guinee ontvang nie.

Die 47-jarige lugvaart-konsultant van Wildernis in die suid-Kaap, Daniel Janse van Rensburg word in ‘n gevangenis aangehou nadat hy sake gedoen het met ‘n voormalige regeringsamptenaar.

Sy familie, wat hom in September verlede jaar laas gesien het, is desperaat in afwagting op nuus.

Sy vrou, Melanie sê die regering hou hulle nie op hoogte nie.

Britse VN-resolusie teen lospryse eenparig aanvaar

Grant
Mark Lyall Grant

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het ‘n beroep op lande gedoen om die betaling van lospryse te staak.

‘n VN-resolusie is eenparig goedgekeur, wat ledestate verhoed om lospryse aan groepe te betaal wat bande met al Kaida het.

Die resolusie is nie bindend nie, maar wil terreurgroepe verhinder om geld so in te samel.

Al Kaida verdien honderde miljoene dollar deur lospryse te eis.

Groepe wat bande het met al Kaida het in die laaste drie jaar meer as een miljard rand in lospryse ontvang, het Brittanje se VN-ambassadeur Mark Lyall Grant aan verslaggewers gesê.

Dit kom te midde van pogings om die Suid-Afrikaanse onderwyser, Pierre Korkie, vry te laat wat in Jemen as gyselaar aangehou word.

The Gift of the Givers Foundation se verteenwoordiger in Jemen sal voortgaan om te onderhandel met al Kaida vir die vrylating van die Bloemfonteinse onderwyser, maar van buite die land.

Die stigter van die Suid-Afrikaanse Moslemliefdadigheidsorganisasie Imtiaz Sooliman het gesê die onderhandelaar Anas al-Hamati moet Jemen verlaat nadat die ontvoerders hom beskuldig het dat hy die losprys vir Korkie se vrylating gesteel het.

Hulle glo die Suid-Afrikaanse regering het die losprys  verlede week in Jemen betaal.

Die adjunk-Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Ebrahim Ebrahim het Jemen verlede week besoek, en ‘n vergadering met topregeringsamptenare oor Korkie se saak bespreek.

Alhoewel sekere state reeds weier om ontvoeringslospryse te betaal onder ‘n resolusie wat in 2001 aangeneem het, het die Britse regering ‘n nuwe resolusie opgestel wat ontwerp is om politieke druk op lande wat steeds lospryse betaal, te verhoog.

Die resolusie skep geen nuwe wetlike verpligtinge nie.