‘Derde Mag’ glo agter diensleweringsoproer

sebokengDie Times berig dat ‘n “Derde Mag” vermoedelik agter die dodelike betogings oor dienslewering in Gauteng sit, en ‘n hoë-vlak van ondersoek daarna is reeds geloods.

Bewerings het vore gekom dat politieke partye en ander groepe geïnfiltreer is deur mense wat geweldgeteisterde gemeenskappe verder destabiliseer.

Woensdag het mense met ANC T-hemde op betogers in Sebokeng, in die Vaaldriehoek, geskiet.

Dit het tot die dood van Lerata Rabolila, 26, gelei en ‘n 34-jarige man is beseer. Die oproeriges van die Boiketlong-plakkerkamp het die strate ingevaar oor ‘n gebrek aan behuising en grond.

Gauteng Gemeenskapsveiligheid LUR Faith Mazibuko het Donderdag beveel dat die polisie die “onsigbare hand” van ‘n vermeende “Derde Mag” ondersoek.

Mazibuko se woordvoerder, Thapelo Moila, het gesê: “Hierdie protes, veral in Sebokeng, het ‘n element van mense wat die gemeenskap aanhits.”

Boiketlong was Donderdag vir ‘n tweede dag afgesper, met inwoners wat ‘n spoorlyn oorgeneem het, brandende versperrings opgerig het en skole laat sluit het.

Hulle soek glo geregtigheid vir die dood van die jongste slagoffer van die oproer.

“Die ANC sit hieragter. Hul lede, geklee in ANC T-hemde, probeer om ons protes te stop. Toe hulle nie kon nie, het hulle op ons geskiet,” sê ‘n leier van die gemeenskap Elvis Motaung.

Ander glo weer dit is ‘n “ander mag” wat sit agter die geweld.

Sebokeng se onrus volg na dae van geweld in Bronkhorstspruit se lokasie by Ekangala, Zithobeni en Rethabiseng, naby Pretoria.

Tshwane se burgemeester Kgosientso Ramokgopa het Donderdag gesê die protes word deur mense wat nie van plan is om te betaal vir dienste nie, gedryf.

“[Die gebrek aan] dienslewering is wanneer daar geen elektrisiteit, paaie, sport- en gesondheidsfasiliteite bestaan nie. Dit is nie die geval hier nie,” het Ramokgopa gesê.

ANC belowe geen geweld by DA-protes

daprotestDie ANC het te kenne gegee dat hulle geen geweld verwag wanneer die DA ’n optog na die ANC se hoofkantoor in Johannesburg lei nie.

Die ANC het vroeër gesê die optog is aanhitsing wat geweld sal meebring. Die DA-leier, Helen Zille, het ontken dat dit aanhitsing is soos die ANC beweer.

Die party het Donderdag in Gauteng gesê ANC-lede sal “nie gewelddadig optree teenoor die opposisie nie”.

David Makhura, Gautengse ANC-sekretaris, aan verslaggewers in Johannesburg gesê: “Die ANC-lede in die provinsie weet hulle word nie toegelaat om fisiek met lede van die opposisie te baklei nie.

“Die stryd tussen ons en die DA handel oor wie die beste visie vir Suid-Afrika het, oor wie die beste beleidsrigtings het om Suid-Afrika vorentoe te neem. Ons sal daar wees om hulle te ontvang en hulle op te voed oor ons planne om die ekonomie te transformeer,” het Makhura gesê.

Die DA beplan om Woensdag na Luthulihuis in Johannesburg op te ruk as deel van die party se “stryd om werkskepping”.

Binnelandse Sake oop vir registrasie-naweek

Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK
Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK

Die departement van binne­land­se sake sal die komende naweek alle kantore oopstel vir die publiek.

Voornemende Suid-Afrikaanse kiesers wat identiteitsdokumente nodig het om vir die 2014-verkiesing te registreer, sal gedurende die naweek ook daarvoor kan aansoek doen.

Die Onafhanklike Ver­kie­sings­kommissie (OVK) se laaste registrasieveldtog vind Saterdag en Sondag plaas.

‘n Woordvoerder van die OVK, Kate Bapela, het Donderdag gesê regi­s­­­trasienaweke word ter gerieflikheid van kiesers gehou.

Voornemende stemmers kan ná dié naweek nog steeds by munisipale kieskantore, wat in elke munisipali­teit beskikbaar is, regi­streer.

Die kieserslys sal om 17:00 op die dag wat pres. Jacob Zuma die verkiesing aankondig, eers sluit. Tot dan het stemmers die geleentheid om te registreer.

Die departement van binne­landse sake het gesê sy 403 kantore landwyd sal tussen 08:00 en 17:00 oop wees.

Smokkelsigarette onderskep

cigarettesSmokkelsigarette met ‘n geraamde straatwaarde van vyf miljoen rand is verlede by die Beitbruggrenspos in Limpopo onderskep, het RSG berig.

‘n Woordvoerder van die Valke, Dibero Molatjana, sê 38 buitelanders is tydens die maandlange operasie in hegtenis geneem.

Hy sê sindikate skep nou vals kompartemente in luukse voertuie, in plaas van swaar voertuie om opsporing te vermy.

Volgens die Tabakinstituut van Suider-Afrika het die staatskas oor die afgelope drie jaar sowat 12 miljard rand weens die wanpraktyke verloor.

Onwettige sigarethandel beloop 30 persent van die totale sigarettemark in Suid-Afrika, met die meeste van die produkte wat van Zimbabwe afkomstig is.

Mbeki wil Afrika se kapitaaluitvloei keer

Thabo Mbeki
Thabo Mbeki

Die voormalige president Thabo Mbeki is op ‘n besoek aan die Verenigde State van Amerika om kundigheid te werf vir die Afrika-Unie se paneel op Onwettige Finansiële Vloei.

Mbeki is die voorsitter van die paneel wat gestig is na ‘n besluit van die AU se ministers van Finansies, Beplanning en Ekonomiese Ontwikkeling in 2011.

Die paneel se missie is onder meer om aanbevelings te maak oor hoe om die onwettige uitvloei van multi- miljarde jaarliks uit die vasteland ​​te stuit.

Tussen 1980 en 2009 het Afrika glo ‘n verbysterende $1,2 triljoen dollar van die kontinent se rykdom verloor.

Mbeki het by die Verenigde Nasies in New York gesê die onwettige uitvloei van kapitaal uit Afrika kos die vasteland jaarliks sowat 600 miljard rand.

Hy sal ook vergader met die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds en die Amerikaanse departement van buitelandse sake.

Die kapitaaluitvloei is die gevolg van foutiewe handels-fakturering, belastingontduiking en terreur-finansiering.

Die geld vloei na ontwikkelde lande en belastingparadyse.

Die VN se adjunk sekretaris-generaal, Jan Eliasson, het aangedui dat ‘n oplossing van die uiterste belang sal wees vir Afrika om sy Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te haal.

 

VSA en VK destabiliseer die hele wêreld

protest9Regeringsgeboue word verwoes, geplunder. Dit gebeur in Kaïro, Kiev, Bangkok, en nou in Gauteng, Suid-Afrika. Die regerings staan magteloos op die kantlyn en toekyk.

In Suid-Afrika waar die polisie wel ingryp om gewelddadige oproermakers te stuit, word hulle van “brutaliteit” beskuldig deur dieselfde opposisie wat in die eerste plek die opstande gereël het.

Wat gaan aan? Leiers wat deur populêre steun aan bewind gebring is, word deur buitelands gesteunde “opposisie”-bewegings afgedreig om die staat wat in die pad staan te oorhandig. Waar is die mooi praatjies van verkiesings, vrede en stabiliteit?

Onder wit kiesers was die ANC nog nooit gewild nie, maar daar is nie meer ‘n opposisieparty in Suid-Afrika wat uitsluitlik wit kiesers verteenwoordig nie. Onder swartes word die ANC as ‘n legitieme regering beskou wat, al word die land ‘n Zimbabwe, nog steeds legitimiteit sal behou.

Zimbabwe se Robert Mugabe word as ‘n held beskou deur swart mense regoor die kontinent, al laat hy toe dat sy land gestroop word van hulpbronne ten koste van sy eie mense.

Die afgelope tyd beleef ‘n hele paar lande ‘n baie soortgelyke werklikheid as Thailand.

Soewereine verkose regerings is wêreldwyd onder beleg van gewapende boewe, bandiete en anti-sosiale elemente, selfs deur blatante terroriste. In lande soos Zimbabwe het dié wat voordeel trek uit die plundery dit reggekry om hul agenda goed te verbloem. In lande soos Sirië is die aanstigters opsigtelik.

Die sogenaamde vlugtelingkampe wat deur NAVO op die Turks-Siriese grens gebou is, is spesiaal vir Siriese terroriste ingerig, wat gehuisves, opgelei en bewapen word om die regering omver te werp.

Wapens en kontant is daar in oorvloed.

Die terreur wat hierdie mense in hierdie histories vreedsame en verdraagsame deel van die wêreld versprei, kan skaars met woorde beskryf word.

Kinders van ‘n grensdorpie vertel van strooptogte, diefstal en geweld, selfs moord, deur die anti-Assad-“rebelle”.

In die Siriese stad Adra, die stad wat voorheen deur al-Kaida en die pro-Westerse “opposisie” geplunder en verwoes is, is mense na bewering ‘n maand gelede vermoor, gestenig, lewendig in vate verbrand en onthoof.

Maar Washington demoniseer Assad se regering en dreig weer met militêre optrede. Die sogenaamde “elite” van die opposisie is deur die Weste afgekoop  sodat hulle met hul plundertog kan voortgaan.

Dít alles het in verskillende grade en met wisselende vlakke van geweld, in Thailand, Egipte, Sirië, die Oekraïne, Brasilië en Suid-Afrika gebeur.

Trouens, dit lyk asof Suid-Afrika regmaak vir ‘n tweede siklus van geweld en opstand. Dié keer oor “ekonomiese vryheid” wat die DA as ‘n “gebrek aan dienslewering” beskryf. Die oorvleueling van die twee begrippe behoort vir enige oningeligte reeds duidelik te wees.

‘n Sin vir alles-kom-my-toe word by die kritici van die regering aangewakker.

Die proses, die taktiek, is byna altyd dieselfde: Westerse media wat verkose, gewilde regerings demoniseer, dan “skandale” skep, ‘n nuwe “opposisie”-beweging bou, boewe uitkies en betaal sodat protes en uiteindelik geweld oorneem.

As die regering nasionalisties en regtig patrioties in sy verdediging van die belange van sy eie mense teen internasionale plundery is, is dit soveel te beter, want dan kan die Westerse media gal braak oor die agterlike nasionaliste wat nie “progressief” wil wees nie.

President Morsi en sy Moslem-broederskap, was ‘n bietjie te onentoesiasties oor samewerking met die Weste en die IMF. Hulle het nooit regtig “nee” gesê nie, maar die NWO vereis deesdae totale, onvoorwaardelike gehoorsaamheid, en opregte slawe.

Tensy die regerings in ontwikkelende lande soos die Filippyne, Indonesië, Uganda of Rwanda, nie ‘n duidelike boodskap aan Washington en Londen stuur betreffende hul onderdanigheid nie, staar hulle totale uitwissing in die gesig.

Totale verwoesting het Irak, Libië, Afghanistan, Viëtnam, Kambodja en Laos, wat sonder genade tot oorgawe gebombardeer is, tot die steentydperk laat terugkeer.

Dan is daar Nicaragua, Grenada, Panama, die Dominikaanse Republiek en Demokratiese Republiek van die Kongo, met sy oorvloed natuurlike hulpbronne.

Maar ten spyte van dít alles het die mense van Thailand gaan stem en handgemeen geraak met diegene wat probeer het om stemlokale te sluit.

En in die Oekraïne, ondersteun die meerderheid nog steeds hul regering.

En die jihadi-kaders is nog nie in beheer van Sirië nie.

In baie dele van die wêreld het hulle reeds besef wie hul werklike vyande is.

Stryd teen stropers kry R232m inspuiting

rhinopoachersDie Vredesparkstigting het ‘n skenking van R232 miljoen van die Nederlandse en Sweedse poskodeloterye ontvang vir die stryd teen renosterstropery.

Die geld sal teen stropers gebruik word om die renoster te bewaar.

Die Suid-Afrikaanse stryd teen renosterstropery het het ‘n groot hupstoot gekry met die inspuiting.

Die Stigting in Suider-Afrika is toegespits op oorgrensbewaringsgebiede en parke.

Die grootste voorbeeld hiervan is die Groot Limpopo-oorgrenspark, geskep deur parke in Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe saam te smelt.

Die skepping het gelei tot die vernietiging van grensdrade tussen lande, ‘n skuif wat die skuld kry vir die maklike beweging van stropers.

In die persverklaring het die stigting gesê die meerderheid van hierdie befondsing sal bestee word “op die verbetering van die bestaande pogings om renosters te beskerm in Suid-Afrika”.

Die land het 83% van die wêreld se oorblywende renosters, want die meeste ander bevolkings regoor die wêreld is gestroop tot uitwissing.

Die meeste renosters word in die Krugerwildtuin doodgemaak vir hul horings weens die grens van Mosambiek wat digby lê.

In 2006 het ‘n kilogram renosterhoring vir R8 000 op die swart mark verkoop. Nou kos dit R600 000. In ‘n verslag deur die raadgewende firma Dalberg is die globale handel in horing as R100 miljard per jaar aangedui, wat dit so waardevol soos kokaïen maak.

Stakers steek Oos-Londen se stadsaal aan die brand

fireDie Oos-Londense polisie moes rubberkoeëls en water-kanonne gebruik om stakende lede van die munisipale vakbond, Samwu, uitmekaar te jaag.

Die stakers het eiendom van die Buffalo Metro waaronder ook die stadsaal, aan die brand gesteek.

Amptenare van Samwu en vakbondlede eis ‘n veertiende tjek van die Metro.

‘n Polisie-woordvoerder, Stephen Marais, het bevestig dat mense in hegtenis geneem is.

‘Opposisie met swart leier kragtig’

mazibuko4Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, sê daar was geen wrywing in die DA oor die besluit om ‘n swart presidentskandidaat te kies nie.

Sy het gesê dit is ’n kragtige boodskap as ’n opposisieparty ’n swart leier het, en daarom was Ramphele die regte keuse.

Mazibuko het gesê ‘n party met ’n swart leier wat van die ANC weggebreek het, is simbolies kragtig omdat “DA-kiesers almal vroeër vir die ANC gestem het”.

Sy het gesê apartheid het vrese en stereotipes by mense ingeprent en dit is nog lank nie verby nie en ‘n samesmelting met Ramphele sou sulke probleme uit die weg geruim het.

Sy het haarself daarna weerspreek en gesê die geleentheid vir samesmelting of koalisie tussen die DA en Agang is egter nou vir goed van die baan.

Intussen het die IVP en die PAC ‘n samewerkingsooreenkoms onderteken wat ook deur die Vryheidsfront Plus, die ACDP en die UCDP bekragtig is.

Die partye het saam 58 setels in die nasionale vergadering. Hulle sal egter afsonderlik verkiesingsveldtogte hou in aanloop tot die algemene verkiesing.

Die sekretaris-generaal van die IVP, Sibongile Nkomo sê die land het ‘n alternatiewe opposisie nodig wat die mense kan verteenwoordig.

Grondeise weer oopgestel

Toneel uit Cry the Beloved Country
Toneel uit Cry the Beloved Country

Die parlementêre plattelandse ontwikkeling en grondhervormingskomitee het die Wysigingwetsontwerp oor die restitusie van grondregte bekragtig.

Die wysigingswet is daarop gemik om grondeise te heropen vir diegene wat die 1998 afsnydatum misgeloop het, het RSG berig.

Die komitee sê hy het onder meer aanbeveel dat die afsnydatum tot 30 Junie 2019 verleng word en dat eise wat nie later as 31 Desember 1998 ingedien is nie, voorkeur geniet.

Die komitee sal nou sy verslag vir finale goedkeuring aan die Nasionale Vergadering voorlê.