Soos die afgelope elektrisiteits- en voortslepende sekuriteitskrisis vir ons uitwys, kan ons al hoe minder staatmaak op staats- of semi-staatsinstellings om die mees basiese dienste te verskaf. Dit is kenmerkend hoe die swaar hand van die ANK soos ‘n vernietigende tsoenami alles korrupteer en in ‘n wanfunksionele toestand dompel; hier dink ek byvoorbeeld aan die SAPD, Eskom, Telkom, die distrikshowe en die Landbank, net om ‘n paar op te noem.
Elke nou en dan haal hierdie instansies se onbeholpenheid die koerantopskifte en ontketen 'n legio briewe, klaagliedere en petisies – ná die chaos van die afgelope matriekeindeksamen was dit die onderwysdepartement se beurt.
Dit is gevolglik ook geen verrassing om te verneem dat Praag ‘n petisie van stapel gestuur het, wat versoek (let wel, nie eis nie) dat:
- 'n outonome Afrikaneronderwysowerheid tot stand gebring moet word;
- die oorblywende Afrikaanse skole, wat slegs 'n geringe persentasie skole in Suid-Afrika verteenwoordig, aan so 'n outonome Afrikaneronderwysowerheid oorgedra word, tesame met ten minste twee universiteite of kampusse, waarvan een in die noorde van die land en 'n ander in die suide gevestig moet wees;
- staatsubsidie aan die Afrikaneronderwysowerheid vanuit die nasionale onderwysbegroting toegewys moet word.
Dit is dan nie omdat ek die gronde vir hierdie versoeke of die legitimiteit daarvan betwis, dat ek hierdie brief skryf nie, maar eerder omdat ek bedenkinge koester oor die effektiwiteit van petisies binne die huidige Suid-Afrikaanse konteks.
In hierdie verband het dr Pieter Mulder ons mos reeds die staaltjie vertel van hoe Sy Edele Nelson Mandela hom gevra het hoekom hy nog nie Afrikaners voor die parlement sien toi-toi het oor ‘n saak nie. Dit wil gevolglik vir my lyk dat, tensy ons bereid is om onsself swart te smeer en hierdie petisie al dansende by die parlement te gaan oorhandig terwyl van ons makkers asblikke omkeer en winkelvensters stukkend gooi, ons nie veel reaksie hierop moet verwag nie.
Dit bring my dan by die vraag: Nou wat staan ons te doen?
Hier wil ek graag ‘n bladsy uit Orania se boek neem. Jy kan nou maar van Orania dink wat jy wil, maar dis 15 jaar later en daar is dit nog steeds – groter en sterker. Toegegee, nie so groot en sterk soos ons graag sou wou sien nie, maar daar staat hy nietemin. Wanneer die kritici met sterre in hul oë en leë plompe handjies Orania kritiseer, dan wonder ek somtyds: Wat as prof. Boshoff nie destyds Vluytjeskraal gekoop het nie, maar besluit het om verder met die ANK te onderhandel? Sou daar ‘n Orania gewees het en wat sou die kritici dan alles kon kwytraak?
Net soos Orania kan ons aan vele ander instansies dink waar Boere die inisiatief geneem het om ‘n eie alternatief teenoor die staatsbeheerde liggaam te stel. Hier dink ons byvoorbeeld aan Kleinfontein, Radio Pretoria, Afrikaner Volkseie Sport, die Oranje Sakekamers ens.
Ons hoef nie lank te dink om soortgelyke opvoedingsinstansies op te noem nie. CVO-skole, Afrikaanse Protestantse Akademie, Kenweb en die meer onlangse Pionier-Instituut se name kom na vore.
Terwyl die hele Afrikanerdom in rep en roer was oor die ideologiese indoktrinering wat in staatsleerplanne aan ons kinders voorgehou word, en al wat Suid-Afrikaner is teen die bors gestuit is deur die chaos wat die uitslae van 2008 se matrieks omring het, het die BCVO soos gewoonlik sy matriekuitslae bekend gemaak. Uitslae van leerlinge wat ‘n leerplan met ‘n Christen-Afrikaner-onderbou gevolg het en steeds aan internasionale standaarde voldoen.
Ekself kan getuig hoe my vrou – wat aan ‘n CVO-skool gematrikuleer het en by die Afrikaanse Protestantse Akademie ‘n BA-graad verwerf het – se kwalifikasies sonder enige probleme deur UK Naric (die Verenigde Koninkryk se nasionale agentskap wat adviseer rondom die standaarde van internasionale kwalifikasies) as die Britse ekwivalent aanvaar is.
Is die sleutel dan nie om eerder ons eie selfstandige en selfbeheerde strukture as alternatief vir die staat se gemors te vestig nie? In plaas van tyd, energie en hulpbronne op onderhandelings te verspil, kan ons dit mos eerder vir die vestiging van hierdie alternatiewe aanwend. Ken ons nie die ANK se meesterlike vermoë om alle netelige kwessies met burokratiese rooi lint en uitgerekte onderhandelings vas te draai terwyl die status quo net eenvoudig gehandhaaf word nie?
Dat daar sentimentele bande met die huidige strukture bestaan, kan nie betwyfel word nie, maar of die waarde van hierdie strukture gelykstaande aan jou kind se opvoeding is, kan met reg gevra word.
Daar waar Praag ook reeds met die gedagte van selfbeskikking en ‘n moontlike volkstaat geflankeer het, sal ek verwag dat die mense van Praag tog die nut van alternatiewe strukture en liggame sal insien.
In my geestesoog sien ek hoe die Oranje Sakekamers die boublokke vir ‘n parallelle ekonomie neersit, die Regslui vir Afrikaans arbitrasie as ‘n bekostigbare alternatief teenoor die howe vestig en dit onder ons mense gepropageer word, ons besighede en huise deur ons eie veiligheidsnetwerke en –liggame beskerm word, ons kinders deur ons eie instansies primêr, sekondêr en tersiêr opgelei word en laastens word ‘n Afrikanerraad uit noodsaak in die lewe geroep om die samewerking en wisselwerking tussen hierdie instansies te koördineer en te reguleer.
Terwyl bogenoemde duidelik oorvereenvoudig is, glo ek die gedagte bly steeds relevant. Met tyd moet die Boer homself dan effektiewelik loswikkel van enige houvas wat die staat oor hom mag hê. Gevolglik sal die staat vir alle doeleindes oorbodig vir ons voortbestaan word en sal ons genoeg mag hê om eise te stel en nie versoeke te rig nie.
Die grondvraag sal natuurlik die grondvraag bly en hierdie kwessie sal ons ook met tyd onder mekaar moet uitklaar, maar die hele dinamika van hierdie kwessie sal verander namate die magsewewig verskuif; tog sal ‘n geïdentifseerde gebied waar die Afrikaner die natuurlike meerderheid vorm, onmisbaar in ons strewe na selfregering bly.
In tye soos vandag is dit glad nie ongewoon om die woord “vryheid” in gesprekke te hoor nie, maar eerder as wat vryheid ‘n eindbestemming is soos wat baie mense voorhou, is dit ‘n lewensbeskouing en karaktertrek. Niks verhoed ons om nou reeds vry te begin lewe en die boeie van die onderdrukker in ons daaglikse lewe op die mees vreedsame manier te verbreek nie.