Die petisie lui soos volg:
Geagte mnr. Jacob Zuma, mev. Naledi Pandor en ander gesaghebbendes oor onderwys in Suid-Afrika,
Ons, die ondergetekendes versoek dat daar onverwyld:
1. 'n outonome Afrikaneronderwysowerheid tot stand gebring moet word;
2. die oorblywende Afrikaanse skole, wat slegs 'n geringe persentasie skole in Suid-Afrika verteenwoordig, aan so 'n outonome Afrikaneronderwysowerheid oorgedra word, tesame met ten minste twee universiteite of kampusse, waarvan een in die noorde van die land en 'n ander in die suide gevestig moet wees;
3. staatsubsidie aan die Afrikaneronderwysowerheid vanuit die nasionale onderwysbegroting toegewys moet word.
In sy begronding van die noodsaak vir 'n Afrikaneronderwysowerheid, skryf Dr. Dan Roodt van PRAAG, soos volg op die aksiegroep se tuisblad, www.praag.org:
Wat die Afrikaanse universiteite betref, is die toestand nog veel erger as by skole. Taal- en rassediskriminasie teen Afrikanerstudente het 'n alledaagse verskynsel geword. Van die vyf Afrikaanse universiteite wat oor geslagte deur Afrikaners opgebou is, kan slegs die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit tans nog as 'n Afrikaanse kampus beskou word. Die onlangse besluit om van die US 'n tweetalige instelling te maak, het die doodsklok vir Afrikaans aan Stellenbosch gelui en taalkenners verwag dat Engels binne enkele jare Afrikaans uit die lesingsale sal verdryf terwyl rassekwotas soos by die Universiteit van Pretoria in professionele studierigtings ingestel sal word om Afrikanerstudente van die reg te beroof om vrylik die kwalifikasies van hul keuse na te streef.
Nie eens in die tydvak van die Britse Ryk en van pro-Britse SAP-regerings is daar soveel skreiende onreg teen die Afrikaner en Afrikaans gepleeg nie. Vandaar hierdie petisie wat oor twee of drie weke aan die topbestuur van die regerende ANC, onder andere aan mnr. Jacob Zuma, oorhandig sal word.
Daarom vra ons elke Afrikanerouer, -student en -hoërskoolleerling, asook diegene wat self in die verlede aan ons voortreflike Afrikaanse skole of universiteite gestudeer het, om onverwyld die petisie hieronder te teken en ook landwyd en internasionaal onder alle Afrikaners te versprei."
Op www.praag.org is gereedskap te vinde om die petisie te onderteken en te versprei:
- Kliek op die skakel om die petisie aanlyn te voltooi – http://www.praag.org/aksies/petisie.html
- Gebruik die "Recommend this article" skakel en stuur dit aan jou vriende en kennisse
- Kliek op die knoppies regs bo "PDF en "Druk" om dit te druk en te voltooi en terug te faks aan: 0866797849.
- Vir diegene sonder internettoegang, maar met 'n selfoon, stuur 'n sms aan nommer 34110 met die woord "onderwys", gevolg deur jou naam en 'n vriend of familielid se e-posadres, indien beskikbaar. Net die woord "onderwys" en jou naam is egter ook goed genoeg, soos byvoorbeeld: onderwys Jan van der Merwe.
