President Robert Mugabe het in ‘n gepubliseerde onderhoud eise verwerp dat hy twee gediskrediteerde amptenare moet ontslaan, terwyl die Zimbabwiese regering Donderdag sy bure gevra het vir ‘n $2miljardhulppakket om sy sukkelende ekonomie te help.
In die onderhoud met die staatsbeheerde Herald-koerant om sy 85ste verjaarsdag te gedenk, het Mugabe geweier om toe te gee aan eise van die MDC dat die goewerneur van die reserwebank Gideon Gono en die prokureurgeneraal Johannes Tomana ontslaan word.
“Ek sien geen rede hoekom die mense moet gaan nie, en hulle sal nie gaan nie,” het Mugabe in die onderhoud gesê. Gono word wyd geblameer vir die ondergang van Zimbabwe se ekonomie en ‘n inflasiekoers wat op 231 miljoen persent staan, en Tomana word daarvoor geblameer dat hy die vrylating van politieke gevangenes verhoed.
Intussen sal Zimbabwe se versoek vir $2 miljard om sy vervalle ekonomie en infrastruktuur te red na verwagting die tweedaagse konferensie van die 15-nasie-SAOG-groep oorheers, wat in Kaapstad moet plaasvind.
