Patoloë na Lesotho om sluipmoord te ondersoek

Die kantoor van adjunk-president Cyril Ramaphosa sê twee Suid-Afrikaanse patoloë gaan na Lesotho gestuur word om die omstandighede te ondersoek rondom die dood van die voormalige weermagbevelvoerder, luitenent-generaal Maaparankoe Mahao.

Ondersoekbeamptes van Zimbabwe en Namibië sal ook deel wees van die ondersoek.

Leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsmeenskap het Vrydagaand ‘n dringende ondersoek na sy dood gelas.

Ramaphosa se mandaat as SAOG-fasiliteerder in Lesotho is ook hernu.

Die regering van die koninkryk glo nou dat hy vermoor is in ‘n militêre operasie wat verkeerd geloop het.

Maar Koffi Kouakou, ‘n senior dosent aan die School Governance van Wits Universiteit, het gesê Mahao is vermoor in ‘n poging om die ondersteuningsbasis van die voormalige eerste minister van Lesotho, Tom Thabane te vernietig.

Hy het gesê die bedoeling van so ‘n sluipmoord sou ook wees om die klein koninkryk te destabiliseer en pogings om stabiliteit te herstel, te ondermyn.

Kouakou sê die grootste gevaar is dat die Thabane-kamp wraak sal soek en daarmee Suid-Afrika dwing om militêr in te gryp in Lesotho.

Volgens berigte het die opposisie-leiers, joernaliste en prokureurs wat teen premier Pakalitha Mosisili en sy weermag hoof, Tlali Kamoli gekant is, uit die land gevlug.

Drie opposisieleiers het glo uit die land gevlug, uit vrees vir hul lewens. Dit sluit in die voormalige eerste minister Tom Thabane, wat ‘n bondgenoot van Mahao was.

Meer onbestendigheid in Lesotho na sluipmoord

Adjunk-president Cyril Ramaphosa is dringend na Lesotho gestuur om met die premier Pakalitha Mosisili, te beraadslaag ná kommer oor meer politieke onbestendigheid in die Britse bantoestan.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sê dit volg nadat drie opposisiepartyleiers uit die land gevlug het en die onlangse moord op die voormalige weermagbevelvoerder in Lesotho, brigadier Maarparankoe Mahao.

Die Verenigde Nasies en die Afrika Unie het die dood van Mahao veroordeel.

Die VN se sekretaris-generaal, Ban ki-Moon het die regering versoek om die skuldiges aan te kla. Die voorsitter van die Au-kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, sê hulle veroordeel dit ten sterkste.

Die Regering van Lesotho sê dit het gebeur toe die soldate hom in hegtenis wou neem vir die beweerde mislukte staatsgreep verlede jaar.

Ramaphosa is die SAOG se fasiliteerder oor Lesotho.

Ramaphosa se ingryping kom nadat die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula vroeër ‘n afvaardiging, wat Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe insluit, na die land vergesel het vir samesprekings om glo sekere staatsliggame se verantwoordbaarheid aan die uitvoerende gesag te verseker en te versterk.

Mosisidi het Atul Gupta en sy neef, Essa Omar Aziz as sy raadgewers intussen afgedank na die moord. Hul paspoorte wat deur Mosisidi se voorganger, Tom Thabane uitgereik is, is ook teruggetrek.

Thabana se administrasie het aangevoer dat die Guptas Lesotho sou help om buitelandse beleggers te kry, maar Mosisidi se party, die Demokratiese Kongres, het dit teengestaan.

Die party sê om aan die Guptas diplomatieke paspoorte te gegee het was ‘n verleentheid in die lig van die Guptas se omstredenheid in Suid-Afrika.

Mosisidi se woordvoerder het die regering se standpunt bevestig en sê die Guptas voeg geen waarde tot Lesotho toe nie.

Burundi-verkiesing onbepaald uitgestel

President Jacob Zuma sê Afrikaleiers het op ‘n streekberaad in Angola besluit dat die presidentsverkiesing in Burundi vir ‘n onbepaalde tyd uitgestel moet word totdat daar weer politieke bestendigheid in die land is.

Die spesiale vergadering in Luanda is byeengeroep ná ‘n mislukte staatsgreep in Burundi teen president Pierre Nkurunziza, wie se besluit om vir ‘n derde termyn as staatshoof te staan, grootskaalse betogings en geweld in die land tot gevolg gehad het.

Zuma sê in ‘n verklaring daar is ook ooreengekom dat ‘n afvaardiging van staatshoofde van Kenia, Uganda, Tanzanië en Suid-Afrika Burundi so gou as moontlik sal besoek om die toestand te evalueer en by te dra tot die vreedsame oplossing van die huidige situasie.

Burundi se president keer terug

Die president van Burundi, Pierre Nkurunziza het na die hoofstad, Bujumbura teruggekeer, het RSG berig.

Nkurunziza was in Tanzanië toe ‘n weermaggeneraal aangekondig het dat hy hom in ‘n staatsgreep ontsetel het.

Die president het die weermag, polisie en die landsburgers gelukgewens omdat hulle die staatsgreep teengestaan het.

Soldate aan beide kante het vroeër op mekaar geskiet om beheer oor Bujumbura oor te neem.

Magte wat lojaal aan die president is, sê hulle het sedertdien die rebelle verdryf en het weer volle beheer oor die stad.

Die onrus in Bururndi word deur spanning tussen China, Rusland en die VSA gedryf.

Internasionale organisasies monitor Soedan-verkiesing

Met 15 onbekende kandidate wat teen hom staan, is daar geen werklike kompetisie vir die 71-jarige pres. Omar al-Bashir in die verkiesings wat gister in Soedan begin het nie.

Soedan verskyn op die VSA se lys van “terreurstate”. Stemmery word tans deur 15 internasionale organisasies, waaronder die Arabiese Liga, gemonitor.

Kiesers sal ook vir nasionale en staatswetgewers stem in die drie dag lange verkiesings wat waarskynlik deur Bashir se regerende National Congress Party (NCP) oorheers sal word, het AFP berig.

Die strate van die hoofstad, Kartoem, was gister stil met die aanvang van die verkiesing en stemdag wat tot ’n openbare vakansiedag verklaar is.

Hierdie verkiesings is die tweede sedert Bashir in 1989 aan bewind gekom het. Bashir het ’n demokraties verkose regering omvergewerp in ’n Islamities gesteunde staatsgreep en is Soedan se langsdienende leier sedert onafhanklikwording.

Hy het die 2010 presidentsverkiesing gewen wat deur die opposisie geboikot is en volgens Westerse waarnemers nie aan internasionale standaarde voldoen het nie.

Onder sy bewind het Soedan se ekonomie in duie gestort en die land het swaar gely onder die afstigting van Suid-Soedan in 2011 waar meer as driekwart van die land se oliereserwes is. Konflik teister die Suid-Kordofan- en Blou Nyl-state sedert 2011 en die Darfoer-streek sedert 2003.

Bashir is in 2009 deur die internasionale strafhof aangekla vir beweerde oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Darfoer, en die daaropvolgende jaar ook vir volksmoord.

Nagenoeg 300 000 mense is dood in gevegte in die westelike deel van die land, sê die Verenigde Nasies.

Amptenare sê met die uitsondering van een distrik van Darfoer en sewe in Suid-Kordofan, sal verkiesings by 7 100 stempunte landwyd gehou word.

Altesaam 44 politieke partye neem aan die staats- en nasionale verkiesings deel in ’n land met 38 miljoen mense.

Moslem wen Nigeriese verkiesing

Nigerië se Goodluck Jonathan is deur ‘n Moslem verslaan in Nigerië se mees onlangse verkiesing.

Muhammadu Buhari is as die wenner van die land se presidensiële verkiesing aangewys. Buhari, ’n 72-jarige voormalige militêre leier, is die leier van die Progressiewe Kongres.

Jonathan het Buhari Dinsdagmiddag haastig gebel en gelukgewens met sy oorwinning, in wat ontleders as ‘n noodsaaklike stap geloof het om geweld in Afrika se mees digbevolkte land te bekamp.

Buhari het 15,3 miljoen stemme op hom verenig teenoor Jonathan se 13,3 miljoen en sal nou moet ingryp om ’n ses jaar lange oorlog teen die Islamistiese terreurgroep Boko Haram te beëindig.

Boko Haram het al meer as 13 000 mense vermoor.

Buhari, ‘n vorige staatshoof, het ‘n demokraties verkose regering op 31 Desember 1983 tydens ‘n staatsgreep omvergewerp, maar is net 20 maande later deur die weermag uit die kussings gelig.

Hy het toe ’n reputasie verwerf as iemand wat sterk teen korrupsie en misdaad optree.

Kremlin ontken gerugte oor Poetin se gesondheid

Pres. Wladimir Poetin se woordvoerder­ het gerugte ontken wat op die internet oor die Russiese staatshoof se gesondheid versprei is.

Dmitry Peskof het Donderdag aan die Ekho Moskvy-radiostasie­ gesê die president is “absoluut gesond en bygevoeg dat sy handdruk nog só ferm is “dit kan jou hand breek. Peskof se kommentaar­ is met verwysing­ na die Kremlin se gewone reaksie op vrae oor die gesondheid­ van die voormalige­ president­, Boris Jeltsin, wat gedurende­ sy ampstermyn­ ’n hartoperasie­ ondergaan­ het.

Peskof het ook gesê Poetin sou nie by ’n vergadering met die Federale Veiligheidsdiens wees nie, al woon hy dit gewoonlik by.

’n Aankondiging wat Woensdag deur die Kremlin uitgereik is dat Poetin ’n reis na Kasakstan uitgestel­ ­het, het gerugte aanlyn ontketen met sommige mense wat gis dat Poetin ernstig siek is, en ander wat meen hy beplan om ’n bekende persoon in die regeringte ontsetel.

Britse nuusbronne het berig dat Poetin “nog lewe” maar “geneutraliseer” is in ‘n staatsgreep in Moskou.

‘n Voormalige veiligheidshoof sit glo volgens die Britse nuusbronne agter die komplot.

Poetin is laas op 5 Maart in die openbaar gesien toe hy die Italiaanse­ eerste minister, Matteo Renzi, in Moskou ontmoet het.

Die Kremlin se mediadiens het Woensdag ’n foto vrygestel van ’n vergadering tussen Poetin en die Karelia-streek se goewerneur­.

Plaaslike­ nuusagentskappe het egter reeds op 5 Maart oor dié ontmoeting­ gerapporteer.

Die Russiese nuusagentskap RBC het ’n anonieme bron in die Karelia-streekkantoor­ aangehaal wat gesê het die vergadering het al op 4 Maart plaasgevind.

Intussen is berig dat ‘n brand naby die Kremlin uitgebreek het in die Novodevichy-klooster.

Die presidente van Rusland, Wit-Rusland en Kasakstan sal in Astana op 20 Maart ontmoet, het die nuusagentskap Novosti Maandag berig.

Dié ontmoeting wat op 13 Maart sou plaasvind, is eers uitgestel, maar die Russiese afvaardiging het reeds hul deelname bevestig in Kazakhstan se hoofstad en Poetin se verskyning sal ‘n einde aan die gissings maak.

VSA ontken dat Sierra Leone se adjunkpresident asiel vra

Die Verenigde State van Amerika het Sondag ontken dat die vise-president van Sierra Leone, Samuel Sam-Sumana by die Amerikaanse ambassade in Freetown skuil.

Sierra Leone sukkel steeds met die Ebola-epidemie wat sedert verlede jaar woed.

‘n Amerikaanse amptenaar het gister bevestig dat die Amerikaanse ambassade in aanraking was met al die betrokke amptenare.

Die Amerikaanse regering het alle betrokkenes aangemoedig om die situasie op te los deur middel van wettige middele en om die oppergesag van die reg te respekteer.

Sam-Sumana Saterdag het Saterdag om asiel in die Verenigde State van Amerika aansoek gedoen. Hy beweer dat sy lewe in gevaar is. Sierra Leone se regerende party het ontken dat die vise-president bedreig word.

Sam-Sumana is op 6 Maart uit die regerende All People’s Congress-party geskors wat hom daarvan beskuldig dat hy “politieke geweld orkestreer” en probeer om ‘n nuwe party in sy tuisdistrik te vorm.

Sam-Sumana het die Amerikaanse ambassadeur Saterdag vir asiel gevra nadat soldate by sy woning opgedaag het en sy veiligheidswagte ontwapen het.

Hy het aan Associated Press gesê dat hy nie meer veilig voel in die land nie.

Hy sê hy is in kennis gestel deur top-amptenare in die presidensiële wag dat die soldate op die bevele van President Ernest Bai Koroma optree.

VSA kondig sanksies teen Venezuela aan

Die Verenigde State van Amerika het Venezuela Maandag as ‘n “nasionale veiligheidsbedreiging” verklaar in die ergste bilaterale diplomatieke geskil nog.

Sanksies sal teen sewe amptenare van die olieryke land ingestel word. Die land se intelligensiehoof, Gustavo Gonzalez, is een van die sewe.

President Nicolas Maduro het die sewe as nasionale helde verklaar en gesê hy verwerp die VSA se imperialisme.

Die Amerikaanse president Barack Obama het reeds die uitvoerende bevel onderteken, maar senior administrasie-amptenare het ontken dat Venezuela se energie-sektor of breër ekonomie geteiken word.

Vroeër in Februarie het Maduro Amerika daarvan beskuldig dat hulle agter die mislukte staatsgreep in Venezuela sit.

“Die noordelike imperiale mag verkeer in ‘n gevaarlike fase van desperaatheid, en gaan onderhandel met die vasteland [Suid-Amerika] se regerings om die omverwerping van my regering aan te kondig. En ek beskuldig vise-president Joe Biden hiervan,” het Maduro gesê.

Venezuela se leier het intussen aangekondig dat die land ‘n Amerikaans-geleide staatsgreep suksesvol afgeweer het. Dit sou na bewering ‘n aanval op die presidensiële paleis of ‘n ander topteiken behels.

Enige land wat deur die Amerikaanse administrasie as ‘n “bedreiging vir nasionale veiligheid” beskryf word, kan Amerikaanse sanksies te wagte wees.

Dieselfde proses is gevolg met lande soos Iran en Sirië, het Amerikaanse amptenare gesê.

Kommer dat weermag nie uitslag in Lesotho aanvaar nie

Dit is nie seker of adj.pres. Cyril Ramaphosa se pogings om stabiliteit in Lesotho te bewerkstellig, suksesvol sal wees nie.

Rama­phosa is deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aangewys om as hooffasiliteerder op te tree wat tot die verkiesing gelei het.

Terwyl die ver­kiesing Saterdag vreedsaam verloop het en die leiers van die vier die grootste partye aan internasionale waarnemers die versekering gegee het dat hulle wel die uitslag van die verkiesing sal eerbiedig, bestaan kommer dat senior weermagoffisiere nie die uitslag sal aanvaar nie.

Mothetjoa Metsing van die Lesotho Congress of Democrats (LCD), die party wat Lesotho tussen 1993 en 2012 regeer het, geniet steeds steun onder senior weermagoffisiere, terwyl premier Tom Thabane, van die All Basotho Convention, homself voortdurend teen die weermag verset.

Sy herverkiesing kan dus tot geweld lei. Hy het gewaarsku dat Lesotho nie ‘n “eiland” is nie en moet kennis neem van die wense van SAOG.

Thabane het die weermaghoof, lt.genl. Thali Kamoli, vroeër van sy pos onthef en sy afdanking het uiteindelik tot die mislukte staatsgreep gelei toe soldate wat ‘n polisiekantoor in Maseru aangeval het, Thabane se huis bestorm het, en die premier gedwing het om na Suid-Afrika te vlug.

Thabane het onderneem om die aanstigters van die mislukte staatsgreep in Augustus verlede jaar te vervolg, wat die moontlikheid van geweld na die verkiesing verhoog.

Indien geen party ‘n volstrekte meerderheid behaal nie, sal partye tot koalisiesamesprekings gedwing word.

Intussen loop die party van Thabane ver voor, selfs in wyke waar sy teenstander tradisioneel goed gevaar het.

Die stemme word nie elektronies getel nie, maar met die hand, het ‘n OVK-amptenaar Rethabile Pholo gesê.

Volgens die plaaslike media, het sowat 1,2 miljoen mense – uit ‘n bevolking van 2,2 miljoen – geregistreer om te stem.

Stormwolke pak weer saam in Lesotho

Die bemiddelaar van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, adjunkpresident Cyril Ramaphosa, moet ‘n nuwe politieke storm in Lesotho ontlont voordat die parlement weer byeenkom.

Ramaphosa woon vandag die heropening van die land se parlement by, het RSG berig.

Lesotho se adjunk eerste minister, Mothetjoa Metsing sê sy party, die LCD, aanvaar nie die eerste minister, Tom Thabane se besluit om die minister van kommunikaise, Selibe Mochoboroane af te dank nie.

Die saak is na Ramaphosa verwys. Politieke partye het ingestem om die Parlement te heropen sodat ‘n verkiesing in Februarie aanstaande jaar gehou kan word.

Daar is egter steeds vrese dat ‘n mosie van wantroue in Thabane ingedien kan word.

Veiligheidsmaatreëls by die parlement is verskerp.

Die opening word om half elf vanoggend deur koning Letsie die derde waargeneem.

President van Oekraïense junta kry staande applous in Washington

Die president van die Oekraïense junta, Petro Poroshenko, het `n gesamentlike sitting van die Amerikaanse Kongres in Washington toegespreek te midde van betogings tuis in Kiëf om hom te ontsetel.

Hy het voorheen sy steun aan vredespogings toegesê, maar intussen klaarblyklik van plan verander en Rusland se “anneksasie” van die Krim-Skiereiland veroordeel asook hul “aandeel” in die afskiet van vlug MH17 waarin byna 300 slagoffers omgekom het.

Die Russiese Vereniging van Ingenieurs het Donderdag ‘n verslag vrygestel wat toon dat die lugramp waarskynlik deur die Oekraïne veroorsaak is.

Die sjokeladekoning het Rusland se beweerde “aggressie teen die oostelike Oekraïne as ‘n bedreiging vir wêreldvrede” voorgehou voor ‘n waarderende Kongres wat hom staande applous gegee het.

Poroshenko het ook `n beroep op “dodelike” Amerikaanse militêre hulp gedoen om pro-Russiese selfverdedigingsmagte te beveg.

President Barack Obama het Rusland se betrokkenheid in die Oekraïne veroordeel, maar nie die VSA se aandeel in die staatsgreep wat die land gedestabiliseer het nie.

Hy het egter teruggedeins van openlike “dodelike” Amerikaanse militêre hulp en gesê hulp sal glo tot nie-gevaarlike toerusting beperk word.

‘n Brose skietstilstand heers tans in die ooste van Oekraïne, waar meer as drieduisend mense reeds sedert April omgekom het weens die oorlog wat Poroshenko en sy voorgangers teen hul eie inwoners verklaar het.

Lesotho se premier eis dat SA sy amp waarborg

Die Suid-Afrikaanse polisie, insluitend lede van ‘n elite taakmag, is in Maseru ontplooi nadat die voormalige weermagbevelvoerder van Lesotho Tlali Kamoli en sy troepe verlede maand verskeie polisiekantore bestorm het op soek na wapens.

‘n Polisieman is dood en verskeie ander beseer in die aanvalle wat premier Tom Thabane en lede van sy koalisieregering gedwing het om na Suid-Afrika te vlug.

Dit blyk nou dat Thabane die parlement in Junie ontbind het om ‘n beplande mosie van wantroue in hom te systap.

Ná ‘n noodvergadering van SAOG onder aanvoering van President Jacob Zuma vroeër hierdie maand, het Thabane die versekering gegee dat hy die parlement weer sal oopstel, maar dit het nog nie gebeur nie.

Thabane is steeds ‘n gas van ‘n Sandtonse hotel. Hy het gesê hy sal slegs terugkeer en die parlement oopstel “as veiligheid herstel is”.

Thabane het ná die vergadering belowe hy sal terugkeer na Lesotho waar hy onder die beskerming van die Suid-Afrikaanse magte sal wees.

Dit blyk nou dat hy ook verwag dat Suid-Afrika sy pos moet beskerm as hy uitgestem word. Dit wil voorkoms asof Thabane nie wil terugkeer sonder dié waarborg nie.

“Al wat ons vra van die SAOG is, kan ons hierdie klein probleempie van veiligheid uitsorteer?” het hy gevra, met verwysing na sy amp.

SA-troepe beskerm glo Lesotho se koalisie-regering

Die hoof van die weermag van Lesotho, luitenenant-generaal Maaparankoe Mahao, het ‘n beroep op buurlande gedoen om militêre hulp teen die voormalige bevelvoerder, Tlali Kamoli.

Mahao sê hy het die SAOG se veiligheidsliggaam versoek om in te gryp. Kamoli is ‘n week gelede deur die eerste minister Tom Thabane afgedank.

Mahao sê die land se weermag sal sukkel om Kamoli te beheer omdat hy verskeie wapenopslagplekke oorgeneem het en saam met soldate in die berge naby die hoofstad, Maseru skuil.

Thabane het verlede week vir vier dae na Suid-Afrika gevlug nadat Lesotho se weermag die polisiehoofkwartier beset het.

Volgens berigte is daar Suid-Afrikaanse troepe in die buurland om Thabane en sy koalisie-regering te beskerm.