Burundi-verkiesing onbepaald uitgestel

President Jacob Zuma sê Afrikaleiers het op ‘n streekberaad in Angola besluit dat die presidentsverkiesing in Burundi vir ‘n onbepaalde tyd uitgestel moet word totdat daar weer politieke bestendigheid in die land is.

Die spesiale vergadering in Luanda is byeengeroep ná ‘n mislukte staatsgreep in Burundi teen president Pierre Nkurunziza, wie se besluit om vir ‘n derde termyn as staatshoof te staan, grootskaalse betogings en geweld in die land tot gevolg gehad het.

Zuma sê in ‘n verklaring daar is ook ooreengekom dat ‘n afvaardiging van staatshoofde van Kenia, Uganda, Tanzanië en Suid-Afrika Burundi so gou as moontlik sal besoek om die toestand te evalueer en by te dra tot die vreedsame oplossing van die huidige situasie.