Vermeende korrupte Lesotho-immigrasiebeamptes voor

Vier-en-twintig swart verdagtes wat immigrasiebeamptes insluit, het in die landdroshof in Ladybrand in die Vrystaat verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Die polisie sê nog twee verdagtes is Maandag in hegtenis geneem.

Die inhegtenisnemings volg na ‘n ondersoek deur die Valke en die departement van Binnelandse Sake wat twee jaar geduur het.

Die verdagtes het glo omkoopgeld aanvaar in ruil vir vervalste dokumente by die Maseru-grenspos. Ses van die hulle is glo Lesotho-burgers.

Die verdagtes is tussen 28 en 41 jaar oud en is in hegtenis geneem met die beëindiging van Projek Cone.

Die saak is uitgestel tot 10 en 11 Oktober vir formele borgtogaansoeke. Die verdagtes sal in aanhouding bly.

SA-troepe beskerm glo Lesotho se koalisie-regering

Die hoof van die weermag van Lesotho, luitenenant-generaal Maaparankoe Mahao, het ‘n beroep op buurlande gedoen om militêre hulp teen die voormalige bevelvoerder, Tlali Kamoli.

Mahao sê hy het die SAOG se veiligheidsliggaam versoek om in te gryp. Kamoli is ‘n week gelede deur die eerste minister Tom Thabane afgedank.

Mahao sê die land se weermag sal sukkel om Kamoli te beheer omdat hy verskeie wapenopslagplekke oorgeneem het en saam met soldate in die berge naby die hoofstad, Maseru skuil.

Thabane het verlede week vir vier dae na Suid-Afrika gevlug nadat Lesotho se weermag die polisiehoofkwartier beset het.

Volgens berigte is daar Suid-Afrikaanse troepe in die buurland om Thabane en sy koalisie-regering te beskerm.

Taxi-gevegte in Lesotho spoel oor grens na SA

maseru-8Taxi-gevegte het die verkeer op die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho tot stilstand gedwing.

Die oproer het oor die grens gespoel toe ‘n taxi uit Lesotho onder die klippe gesteek is. Motoriste kon laat Dinsdagmiddag steeds nie deur die grenspos beweeg nie.

Die polisie het versterkings na die grens ontbied terwyl gesprekke tussen taxi-bestuurders voortduur.

Minstens twee mense het skietwonde opgedoen en ‘n onbekende aantal het geringe beserings opgedoen in ‘n vars taxi-geweld in Lesotho se hoofstad, Maseru.

Pendelaars was verlede week gestrand gelaat toe privaat taxi- en busoperateurs besluit het om te staak weens ‘n gebrek aan veiligheid na aanleiding van die skietery.

‘n Taxi-bestuurder is glo deur een van die regering se buswerknemers geskiet.

Die privaat taxi-ondernemers het klein blokkades op die groot paaie gehou sodat die stad se regeringsbusse nie die roetes kon gebruik nie.

Geweld het uitgebreek en ‘n man is geskiet nadat geweerskote weerklink het en klippe na die polisie gegooi is.

Die taxi-oorlog in Lesotho is verskerp sedert die regering van premier Pakalitha Mosisili besluit het om die regering se busdiens te verbeter omdat die private operateurs glo volgens hom onbetroubaar is en die opposisie ondersteun wat die regering omver wil werp.

Die taxi- en privaat busoperateurs het intussen ‘n petisie aan die regering oorhandig om te kla onder meer oor die bykomende regeringsbusse op die plaaslike roetes sowel as vasgestelde tariefpryse, wat operateurs voel nie ooreenstem met die stygende koste van onderdele en brandstof nie.

Die situasie bly gespanne in die meeste hoofroetes na die stad , terwyl swaar gewapende polisie ‘n oog hou.

Drie Suid-Afrikaners geskiet in Lesotho

Maseru
Maseru

Drie Suid-Afrikaners is in ‘n mislukte transito-rooftog net buite Maseru in Lesotho doodgeskiet.

‘n Burger van Lesotho het gehoor hoe die drie planne vir die rooftog maak.

Die Lesothopolisie en die weermag is oor hul planne ingelig en ‘n skietery het net buite die hoofstad in Khubetsoana ontstaan waarin die mans doodgeskiet is.

Die verdagtes het in ‘n dubbelkajuitbakkie gery en was met AK 47 gewere gewapen.

Hulle was ook in besit van 90 rondtes ammunisie en polisie-reflekteerders.

Suid-Afrika en Lesotho het intussen Dinsdag ‘n memorandum van verstandhouding onderteken op arbeidsake.

Minister van Arbeid Mildred Oliphant het in ‘n toespraak wat voorberei is vir aflewering in Pretoria gesê probleme in die arbeidsmark en moontlike oplossings is die enigste manier om positiewe resultate te bereik.

Sy het gesê Suid-Afrika kan Lesotho help in gebiede soos die hersiening van loonvasstellings, eise met die vergoedingskommissie, en ook die moontlikhede van die stigting van ‘n Werkloosheidsversekeringsfonds. – RSG/praag