Taxi-gevegte in Lesotho spoel oor grens na SA

maseru-8Taxi-gevegte het die verkeer op die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho tot stilstand gedwing.

Die oproer het oor die grens gespoel toe ‘n taxi uit Lesotho onder die klippe gesteek is. Motoriste kon laat Dinsdagmiddag steeds nie deur die grenspos beweeg nie.

Die polisie het versterkings na die grens ontbied terwyl gesprekke tussen taxi-bestuurders voortduur.

Minstens twee mense het skietwonde opgedoen en ‘n onbekende aantal het geringe beserings opgedoen in ‘n vars taxi-geweld in Lesotho se hoofstad, Maseru.

Pendelaars was verlede week gestrand gelaat toe privaat taxi- en busoperateurs besluit het om te staak weens ‘n gebrek aan veiligheid na aanleiding van die skietery.

‘n Taxi-bestuurder is glo deur een van die regering se buswerknemers geskiet.

Die privaat taxi-ondernemers het klein blokkades op die groot paaie gehou sodat die stad se regeringsbusse nie die roetes kon gebruik nie.

Geweld het uitgebreek en ‘n man is geskiet nadat geweerskote weerklink het en klippe na die polisie gegooi is.

Die taxi-oorlog in Lesotho is verskerp sedert die regering van premier Pakalitha Mosisili besluit het om die regering se busdiens te verbeter omdat die private operateurs glo volgens hom onbetroubaar is en die opposisie ondersteun wat die regering omver wil werp.

Die taxi- en privaat busoperateurs het intussen ‘n petisie aan die regering oorhandig om te kla onder meer oor die bykomende regeringsbusse op die plaaslike roetes sowel as vasgestelde tariefpryse, wat operateurs voel nie ooreenstem met die stygende koste van onderdele en brandstof nie.

Die situasie bly gespanne in die meeste hoofroetes na die stad , terwyl swaar gewapende polisie ‘n oog hou.

6 thoughts on “Taxi-gevegte in Lesotho spoel oor grens na SA”

Maak 'n opvolg-bydrae