Nasionale minimumloon op die tafel

Die portefeuljekomitee oor Arbeid sal openbare verhore oor die hele Suid-Afrika hierdie week hou om die lewensvatbaarheid van ‘n nasionale minimumloon te ondersoek.

‘n Sessie sal Donderdag in Bloemfontein Stadsaal gehou word, nadat dit Woensdag in Johannesburg afgeskop het.

Landboubelanghebbendes meen egter ‘n nasionale minimumloon kan arbeidsverhoudinge verder vertoebel, aangesien die ANC plaaswerkers aanmoedig tot arbeidsonrus binne ‘n klimaat van grondgryp.
 
Die groot hoeveelheid ongeskoolde werkers in die sektor, sowel as die impak op produksiekoste en eindgebruikerpryse moet in ag geneem word, sê hulle.

Die minister van Arbeid Mildred Oliphant het die idee van ‘n nasionale minimumloon geopper in haar begrotingsrede verlede jaar.
 
Sy het dit regverdig omdat daar ‘n sekere vlak van beskerming teen uitbuiting van werkers behoort te wees.
 
Sessies sal dié week in Port Elizabeth in die Oos-Kaap en in Pinetown, KwaZulu-Natal gehou word.

Regering wil gesprekke oor platinum-loondispuut fasiliteer

mildredAdjunk-president Kgalema Motlanthe het Dinsdag gesê die regering sal wanhopige gesprekke tussen Amcu en platinummaatskappye Woensdag fasiliteer om te verhoed dat ‘n staking die brose sektor lamlê en verdere skade aan die land se reputasie aanrig.

Die minister van Arbeid, Mildred Oliphant voer vandag namens die regering samesprekinge met mynmaatskappye en vakbonde in aanloop tot Amcu se beplande staking wat more begin.

Amcu en mynmaatskappye het Dinsdag samesprekings gevoer in ‘n poging om die staking af te weer, het RSG berig.

‘n Groep ontevrede werkers het geëis dat ‘n werkersvergadering gehou moet word om hulle deelname aan die staking by platinummyne te bespreek.

Een van die maatskappye, Impala Platinum het gesê hy probeer ‘n vergadering met vakbondlede hou om klarigheid oor die griewe te kry.

Anglo American Platinum, Impala Platinum en Lonmin Platinum sê dat Amcu se salariseise onrealisties en onbekostigbaar is.

Die bestuurshoofde van die maatskappye het in ‘n gesamentlike verklaring gesê hulle is bekommerd oor die vakbond se eis van R12.500.

Amcu het Maandag kennis gegee van ‘n staking in die platinum- en goudmynbedrywe.

Goudmynmaatskappye wat lede is van die Kamer van Mynwese doen vandag in die Arbeidshof aansoek om ‘n hofbevel om die staking te verbied.

Drie Suid-Afrikaners geskiet in Lesotho

Maseru
Maseru

Drie Suid-Afrikaners is in ‘n mislukte transito-rooftog net buite Maseru in Lesotho doodgeskiet.

‘n Burger van Lesotho het gehoor hoe die drie planne vir die rooftog maak.

Die Lesothopolisie en die weermag is oor hul planne ingelig en ‘n skietery het net buite die hoofstad in Khubetsoana ontstaan waarin die mans doodgeskiet is.

Die verdagtes het in ‘n dubbelkajuitbakkie gery en was met AK 47 gewere gewapen.

Hulle was ook in besit van 90 rondtes ammunisie en polisie-reflekteerders.

Suid-Afrika en Lesotho het intussen Dinsdag ‘n memorandum van verstandhouding onderteken op arbeidsake.

Minister van Arbeid Mildred Oliphant het in ‘n toespraak wat voorberei is vir aflewering in Pretoria gesê probleme in die arbeidsmark en moontlike oplossings is die enigste manier om positiewe resultate te bereik.

Sy het gesê Suid-Afrika kan Lesotho help in gebiede soos die hersiening van loonvasstellings, eise met die vergoedingskommissie, en ook die moontlikhede van die stigting van ‘n Werkloosheidsversekeringsfonds. – RSG/praag

‘Eienaars moet meer vir plaaswerkers doen’

De Doorns
De Doorns

Die minister van arbeid, Mildred Oliphant, sê hoewel goeie werk gedoen is om die lewensomstandighede van plaaswerkers te verbeter, is daar nog sake wat aandag moet geniet.

Sy het gepraat na ‘n seminaar deur die departement van arbeid met plaaswerkers op Sitrusdal aan die Kaapse weskus.

Die seminaar het gevolg na ‘n weeklange besoek van die departement aan die Kaapse Weskus en die Wynlandgebied.

Die minister sê eienaars van twee plase wat sy besoek het, het werkers se huise opgegradeer, maar dat hulle werkers te veel huur vra.

Werkstoestande en beroepsveiligheid op plase is ook op die seminaar bespreek.

Intussen het die plaaswerkersvakbond, BAWUSA, Oliphant versoek om die verhoging van die minimumloon wat op 1 Maart 2014 in werking tree, te heroorweeg.

‘n Woordvoerder van die vakbond, Nosey Pieterse, sê ‘n verhoging van inflasie plus twee persent is nie voldoende vir werkers om te oorleef nie.

Hy het ook gevra vir algehele voldoening aan die loon sektorale vasstelling van R105 per dag. Die nuwe loon is vroeër vanjaar vasgestel ná onrus op plase in die Wes-Kaap. – RSG

 

ANC-minister loof Woolworths

Mildred OliphantDie minister van arbeid, Mildred Oliphant, het Woolworths vir sy standpunt oor gelyke indiensneming geloof.

“As die regering van Suid-Afrika en diegene wat transformasie nastreef, sal ons aanhou om maatskappye soos Woolworths aan te moedig om met die transformasie en integrasie van die samelewing voort te gaan,” het sy in ‘n verklaring gesê.

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) en die vakbond Solidariteit het vandeesweek ‘n veldtog begin om Woolworths te boikot nadat die maatskappy vertoë geïgnoreer het om indiensnemingsadvertensies wat blankes uitsluit van sy webwerf te verwyder.

Woolworths het gesê hy het as ‘n werkgewer met meer as 50 werknemers ‘n verpligting om sy rassevoorkeurteikens na te kom.

Oliphant het gesê Woolworths is een van die maatskappye wat in 2009 onderhewig was aan ‘n hersieningsproses kragtens die Wet op Gelyke Indiensneming.

“Tydens die proses, soos enige ander werkgewer wat hersien is, het Woolworths onderneem om sy maatskappy te transformeer deur sy gelyke-indiensnemingsplan, wat deur die direkteur-generaal goedgekeur is, te implementeer,” het sy gesê.

Die minister het gesê nadat ‘n opvolghersiening in die 2011/2012-boekjaar gedoen is, het die maatskappy vordering getoon.

“Daar is egter diegene wat dit nie kan verdra om integrasie in die werkplek en die samelewing te sien nie; hulle wil fout vind met diegene wat werklik gelyke indiensneming implementeer as ‘n manier om ons pynlike verlede en wanbalans aan te spreek.”

Фильчаков прокурор