Nosey Pieterse sit sy landbourewolusie voort

Nosey Pieterse, die uiters omstrede hoofsekretaris van Bawusa sê die landbouvakbond se werkers wil ‘n dubbelsyferverhoging hê.

Plaaswerkers wat aan Bawusa behoort, het kennis gekry van uitsluiting by die werkplek nadat hulle Maandag by Douglas Green Bellingham in die Boland begin staak het.

Die varkboer Pieterse, is ‘n skatryk begunstigde van bemagtigingstransaksies.

Vrae oor sy teenwoordigheid by die jongste protes sal nie te ruste gelê word nie. Hy het gedurende die laaste oproer in die Boland kospakkies uitgedeel wat deur die vorige minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, betaal is.

Bawusa eis ‘n 10 persent verhoging, terwyl die bestuur 7 persent aanbied. Sowat 80 vakbondlede neem aan die staking deel.

Pieterse sê hulle is ook ingelig dat die werkgewer aansoek om ‘n interdik gaan doen, maar het gesê dat stakers alleen ‘n dubbelsyfer-verhoging sal oorweeg.

Die feit dat Joemat-Pettersson voorheen R10-miljoen van die regering se voedselsekuriteitbegroting op die kospakkies uitgegee het – geld uit openbare fondse – is vir Pieterse geen probleem nie.

Hy het voorheen gesê hy glo hy en ‘n paar van die plaaswerkers is betrokke by ‘n landbourewolusie.

‘Eienaars moet meer vir plaaswerkers doen’

De Doorns
De Doorns

Die minister van arbeid, Mildred Oliphant, sê hoewel goeie werk gedoen is om die lewensomstandighede van plaaswerkers te verbeter, is daar nog sake wat aandag moet geniet.

Sy het gepraat na ‘n seminaar deur die departement van arbeid met plaaswerkers op Sitrusdal aan die Kaapse weskus.

Die seminaar het gevolg na ‘n weeklange besoek van die departement aan die Kaapse Weskus en die Wynlandgebied.

Die minister sê eienaars van twee plase wat sy besoek het, het werkers se huise opgegradeer, maar dat hulle werkers te veel huur vra.

Werkstoestande en beroepsveiligheid op plase is ook op die seminaar bespreek.

Intussen het die plaaswerkersvakbond, BAWUSA, Oliphant versoek om die verhoging van die minimumloon wat op 1 Maart 2014 in werking tree, te heroorweeg.

‘n Woordvoerder van die vakbond, Nosey Pieterse, sê ‘n verhoging van inflasie plus twee persent is nie voldoende vir werkers om te oorleef nie.

Hy het ook gevra vir algehele voldoening aan die loon sektorale vasstelling van R105 per dag. Die nuwe loon is vroeër vanjaar vasgestel ná onrus op plase in die Wes-Kaap. – RSG