Duitsland het Turkye se dreigement om nie sy woord gestand te doen oor die omstrede ooreenkoms met die Europese Unie (EU) nie, verwerp.
Turkye het onderneem om die vloei van migrante na die EU te stop. Nou eis Turkye visumvrye toegang na die EU teen Oktober.
Gevra of Turkye die EU kon “afpers” oor die vlugteling-ooreenkoms, het Duitsland se minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, aan die koerant Rheinische Post gesê: “Dit is absurd.”
“Die feit is dat voorwaardes vir die visumvrye beleid geld, en dit is aan almal bekend,” het hy gesê.
“Turkye het onderneem om sy deel van die ooreenkoms na te kom. Dit is nog nie die geval nie en Turkye het nog werk om te doen.”
Die Turkse minister van buitelandse sake, Mevlut Cavusoglu, het in ’n onderhoud met die Duitse dagblad Frankfurter Allgemeine Zeitung gesê Ankara kan onttrek aan die ooreenkoms indien die EU Turke nie teen Oktober toelaat om sonder visums na die EU te reis nie.
Duitsland se visekanselier, Sigmar Gabriel, het teruggekap en gesê: “Nie Duitsland of Europa mag toelaat dat hulle afgepers word” deur Turkye oor die migrante-ooreenkoms nie.
Turkye en die EU het die omstrede ooreenkoms in Maart onderteken waarin Ankara ooreengekom het om Siriese vlugtelinge wat op Griekse eilande aangekom het, terug te neem in ruil vir politieke en finansiële aansporingsmaatreëls.
Kanselier Angela Merkel het die leiding met die ooreenkoms met Ankara geneem nadat Duitsland verlede jaar ’n rekordaantal migrante en vlugtelinge, ongeveer 2 miljoen ingeneem het.
Benewens visumvrye reise, sluit die ooreenkoms miljarde euro’s in bystand en versnelde samesprekings oor Turkye se aansoek om lidmaatskap van die EU in.
Betrekkinge is egter gespanne sedert pres. Recep Tayyip Erdogan se strawwe optrede teen vermeende samesweerders ná verlede maand se mislukte staatsgreep.
