Nóg ‘n bom ruk metrostasie in Brussel

Net na 9:00 het ‘n ontploffing die Maelbeek-metrostasie in die middestad van Brussel geskud, nie ver van die gebied wat die meeste van kerninstellings van die Europese Unie huisves nie, volgens die Belgiese uitsaaier RTBF.

Die EU-administrasie in Brussel het alle afsprake gekanselleer.

Die jongste aanval kom net ‘n uur na die verwoestende aanval op die lughawe in Brussel en het die lewens van ten minste 13 mense geëis.

Die Brusselse vervoerowerheid het op Twitter gesê dat alle metrovervoer nou gesluit is.

“Vir die oomblik, weet ons dat daar ten minste een, moontlik twee ontploffings was. Ons ondersoek nog,” het Sandra Eyschen, ‘n woordvoerder vir die Belgiese federale polisie verklaar.

“Daar is ‘n hele paar beseer, ons het nog nie presiese getalle nie, en ongelukkig, blyk dit dat daar ‘n paar sterftes was.”

België het haastig sy bedreigingstatus tot die maksimumvlak aangepas, het die Associated Press berig, met verwysing na die minister van Binnelandse Sake, Jan Jambon.

Na die ontploffings by die Zaventemlughawe vanoggend na 8:00 wat die lewens van elf mense geëis het, is die status eers na oranje gestel.

Die paaie na die lughawe is gesluit, en treindiens daar is opgeskort. Die lughaweowerhede het ‘n boodskap op Twitter gepos wat mense waarsku om weg te bly.

Maandag het die Belgiese owerhede gevra vir die publiek se hulp om Najim Dachraoui, 24, ‘n medepligtige van die Parysverdagte Abdeslam, op te spoor.

Die owerhede is ook op soek na Mohamed Abrini, 31, wat verfilm is saam met Abdeslam by ‘n vulstasie op ‘n snelweg na Parys twee dae voor die 13 November-aanvalle.