ANC probeer EFF-lede glo omkoop om in Johannesburg vir hom te stem

Die EFF het oor die naweek in ‘n verklaring beweer dat lede van dié radikale afromarxistiese party tot R500 000 per stem aangebied is om vir die ANC se kandidaat in Johannesburg te stem as die burgemeester vandag aangewys word. Die omkoopgeld sou blykbaar in kontant betaal word.

Maar die EFF gaan nou ‘n strafregtelike klag van omkopery en korrupsie teen die ANC lê, volgens die party se woordvoorder Mbuyiseni Ndlozi.

“Die EFF in Johannesburg gaan ‘n saak van omkopery teen die ANC se Dan Bovu aanhangig maak wat meen dat ons demokrasie te koop is. Die ANC in Johannesburg moet weet dat geen mate van omkopery hom ooit met die mense gaan versoen wat hom in ‘n verkiesing verwerp het nie. Die ANC moet erken dat hy verslaan is en nie poog om verkiesings deur korrupsie te wen nie,” sê Ndlozi.

“Selfs al sou die ANC Maandag daarin slaag om ‘n raadslid te koop, sal die burgemeester nie hou nie want politieke partye beskik oor die reg om raadslede te vervang. Ons sal daarom so maak en verseker dat die ANC in Johannesburg uit die mag gestel word.”

Partye in Johannesburg gaan heel waarskynlik vandag tydens die eerste sitting van die nuwe stadsraad ‘n burgemeester en speaker aangwys. Tydens die plaaslike verkiesing op 3 Augustus kon die ANC nie daarin slaag om ‘n algehele meerderheid in die land se grootste en rykste stad te behaal nie. Die Johannesburgse metro sal heel moontlik deur ‘n koalisie tussen die DA en die EFF oorgeneem word, soortgelyk aan wat Vrydag in die hoofstad, Pretoria, gebeur het.

Die telling van nuwe raadslede is soos volg: ANC: 121; DA: 104; EFF: 30. Dit plaas die EFF in die gunstige posisie dat hy kan bepaal watter van die twee groter partye gaan regeer. Die res van die 270 setels in die Johannesburgse raad is deur kleiner partye ingepalm.

Gister het die ANC se kandidaat en huidige burgemeester, Parks Tau, gesê dat hy nie langer burgemeester mag wees nie, maar dat sy party gereed staan om die rol van opposisie in die stadsraad te speel. Volgens hom word daar steeds ter elfder ure samesprekings oor koalisies gevoer en sal die uitslag vandag eers onthul word.

Mangaung-metro moet weer stem vir burgemeester en speaker

Die eerste amptelike vergadering van die nuwe Mangaung-metroraad moes Donderdagoggend vir ure vertraag word toe die verkiesingsproses vir die uitvoerende burgemeester en die speaker verkeerd uitgevoer is.

Die vergadering was reeds in ‘n gevorderde stadium en die burgemeester, Olly Mlamleli, en speaker, Mxolisi Siyonzana, het reeds hul toesprake gelewer, toe DA-raadslid, Dulandi Leech, alles tot stilstand laat kom het.

Leech het op ‘n punt van orde opgestaan en uit die Wet op Munisipale Strukture aangehaal.

Sy het gesê die verkiesing van die speaker en die burgemeester is onwettig, want volgens die wet moet dit met ‘n geslote stembrief geskied.

Siyonzana moes onmiddellik sy posisie opgee en die Onafhanklike Verkiesingskommissie is ingeroep om die verkiesing van voor af te doen.

Die vergadering is met ure vertraag, maar die uitslag sal waarskynlik nie verander nie.

Die EFF werk nou saam met die DA om beheer van sekere metro’s by die ANC oor te neem. Julius Malema, EFF-leier sê die doel is om van die ANC ontslae te raak.

Die DA se burgemeesterskandidaat vir Tshwane, Solly Msimanga sal na verwagting die nuwe burgemeester van die metroraad word.

Die stad sal Vrydag sy eerste raadsvergadering hou.

Die EFF het onderneem om vir die DA te stem wat in koalisie met die kleiner partye getree het.

Die uittredende burgemeester, Kgosientsho Ramokgopha van die ANC meen dat sy party se aanwysing van ‘n Zoeloe die ANC stemme gekos het. Die ANC se keuse van Thoko Didiza het tot wydverspreide onluste gelei voor die verkiesing.

Hy sê die stempersentasie was so laag dat dit die ANC se posisie verswak het.

Die EFF-leier sê sy party sal vir die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Herman Mashaba stem.

Mashaba het Donderdag aangebied om afstand te doen van die pos, nadat die EFF hul bedenkinge oor sy kandidaatskap uitgespreek het. Malema het gesê Mashaba haat homself en respekteer nie arm mense nie.

Munisipale bestuurders verdien meer as Zuma

Tshwane-metro se munisipale bestuurder Jason Ngobeni is Suid-Afrika se hoogsbetaalde staatsamptenaar met sy R3 miljoen jaarlikse salarispakket.

Hy verdien verdien meer as die president, adjunkpresident en kabinetsministers.

Die munisipale bestuurder van platsak Gauteng se plaaslike munisipaliteit Emfuleni, Yunus Chamda (middel, foto hierbo), verdien R2,4 miljoen per jaar ten spyte van die feit dat die ouditeur-generaal voorbehoude uitgespreek het oor die vermoë van die munisipaliteit om voort te gaan as ‘n lopende saak in sy laaste jaarverslag.

Chamda se R2,4-miljoen jaarlikse pakket is die hoogste van ‘n plaaslike munisipale bestuurder. Sy salaris is byna dubbel dié van die munisipale bestuurder vir die Sedibeng-distrik.

President Jacob Zuma verdien R2,8 miljoen per jaar. Ministers in sy kabinet te verdien om R2,3 miljoen, terwyl provinsiale premiers sowat R2.1 miljoen verdien.

Die 2014/15 salarisse van byna alle munisipale bestuurders is vervat in ‘n reaksie deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DKRTS) na ‘n parlementêre vraag.

Ngobeni is in 2011 aangestel in die pos, en selfs toe het hy meer verdien as die president.

Amptenare het toe gesê dat ‘n gunstige salarispakket moes oorweeg word in ‘n poging om hom te behou in die posisie.

Ander munisipale bestuurders se salarisse wissel van tussen R1,9 miljoen vir Buffalo City en R2,8 miljoen vir Ekurhuleni.

In eThekwini en Mangaung is munisipale bestuurders op gelyke voet teen sowat R2,4 miljoen elk, terwyl die Stad Kaapstad munisipale bestuurder net meer as R2,2 miljoen verdien.

Die Johannesburgse munisipale bestuurder ontvang R2,6 miljoen per jaar.

In Nelson Mandela Bay, is die posisie wat kom met ‘n salarispakket van R2 miljoen, is vakant.

Nóg ‘n bom ruk metrostasie in Brussel

Net na 9:00 het ‘n ontploffing die Maelbeek-metrostasie in die middestad van Brussel geskud, nie ver van die gebied wat die meeste van kerninstellings van die Europese Unie huisves nie, volgens die Belgiese uitsaaier RTBF.

Die EU-administrasie in Brussel het alle afsprake gekanselleer.

Die jongste aanval kom net ‘n uur na die verwoestende aanval op die lughawe in Brussel en het die lewens van ten minste 13 mense geëis.

Die Brusselse vervoerowerheid het op Twitter gesê dat alle metrovervoer nou gesluit is.

“Vir die oomblik, weet ons dat daar ten minste een, moontlik twee ontploffings was. Ons ondersoek nog,” het Sandra Eyschen, ‘n woordvoerder vir die Belgiese federale polisie verklaar.

“Daar is ‘n hele paar beseer, ons het nog nie presiese getalle nie, en ongelukkig, blyk dit dat daar ‘n paar sterftes was.”

België het haastig sy bedreigingstatus tot die maksimumvlak aangepas, het die Associated Press berig, met verwysing na die minister van Binnelandse Sake, Jan Jambon.

Na die ontploffings by die Zaventemlughawe vanoggend na 8:00 wat die lewens van elf mense geëis het, is die status eers na oranje gestel.

Die paaie na die lughawe is gesluit, en treindiens daar is opgeskort. Die lughaweowerhede het ‘n boodskap op Twitter gepos wat mense waarsku om weg te bly.

Maandag het die Belgiese owerhede gevra vir die publiek se hulp om Najim Dachraoui, 24, ‘n medepligtige van die Parysverdagte Abdeslam, op te spoor.

Die owerhede is ook op soek na Mohamed Abrini, 31, wat verfilm is saam met Abdeslam by ‘n vulstasie op ‘n snelweg na Parys twee dae voor die 13 November-aanvalle.