praag.co.za

Tag: Boris Johnson

  • Karel Combrinck: Wil jy of wil jy nie — ‘n Engelse tameletjie

    Karel Combrinck: Wil jy of wil jy nie — ‘n Engelse tameletjie

    Binne enkele weke breek die oomblik uiteindelik aan vir Brittanje om die Europese Unie te verlaat. Of liewer, so lyk dit, want op daardie eilandjie is niks meer seker nie. Selfs in hierdie laat stadium is finaliteit oor die vorm wat hierdie uittrede moet aanneem, nog steeds nie in sig nie. Die huwelik tussen Brittanje en die Europese Unie was nooit ‘n gelukkige een nie. Gedurende die verlowingstadium al is die verhouding herhaaldelik verbreek en die egskeiding gaan skynbaar nog pynliker wees as wat die huwelik was.

    Hierdie wankelmoedige verhoudiing lê aan die wortel van die Engelse se besluit om formele bande met die Europese Unie te verbreek. As rede waarom hulle dit juis nou wil doen, word aangevoer die invloei van werkers uit Oos-Europa, Pole, Tsjeggië, Roemenië ens. wat bereid is om vir laer salarisse te werk en dus die Engelse werkers se arbeidsekerheid in gevaar stel.

    Eienaardig genoeg het die Engelse minder beswaar teen die instroming oor baie jare reeds, van Indiërs, Pakistani’s en Nigeriërs.

    Maar nou het dit tyd geword om die tasse te pak. En nog steeds word geredekawel oor of daar ‘n ooreenkoms moet wees of nie, of daar vir verdere uitstel onderhandel moet word of nie , of gelde wat deur Engeland aan die EU verskuldig is, betaal moet word of nie en selfs of daar weer ‘n referendum oor uittrede gehou moet word, ensomeer.

    Maar die mees tergende probleem is die posisie van Ierland. Die situasie is naamlik, soos ons weet, dat Noord-Ierland (of Ulster) ‘n Engelse provinsie is terwyl Ierland (Eire) ‘n onafhanklike republiek is. Wanneer Engeland dan finaal uittree uit die Europse Unie beteken dit dat Ulster outomaties ook uittree terwyl die Ierse Republiek lidland van die Europese Unie bly. En dit beteken op sy beurt natuurlik ‘n grens tussen Ulster en die Ierse Republiek met grenspolisie, doeaneposte, grensbelastings en wat ook al met grense tussen lande gepaard gaan.

    Ná jare van vrede en vrye beweging tussen Ulster en Ierland is ‘n harde grens ‘n nare vooruitsig wat deur alle partye vermy wil word. Om hierdie situasie te beredder, het die Europese onderhandelaars ‘n oplossing aan die hand gedoen wat gerieflikheidshalwe die ” Backstop position” genoem word. Die Backstop position kom daarop neer dat wanneer Engeland uit die EU tree, dan is die EU bereid om vir ‘n onbepaalde oorgangstydperk toe te laat dat daar geen harde grens tussen Ulster en Ierland sal wees nie. Dit beteken dus voortdurende vrye beweging van mense en goedere heen en weer. Die Engelse sien in hierdie oplossing die spook van vereniging van die twee ” Ierlande”, ‘n spook wat hulle hare laat regop staan. ‘n Aspek wat hiermee saamgaan, is dat die Britse Konserwatiewe Party deurgaans die wense in ag moet neem van die Ulster-parlementslede sonder wie se steun die party nie aan die lewe kan bly nie.

    Die Engelse het dus ‘n stokkie gesteek voor die Backstop-oplossing wat die hele onderhandelingsituasie steeds totaal oop laat. In hierdie (laat) stadium is daar  na jare van onderhandelings dus nog geen uittree-ooreenkoms nie en ook nog geen verstandhouding oor wat in Ierland gaan gebeur nie. Het iemand gepraat van afkophoenders of verkeerdeveerhoenders? ‘n Ooreenkoms wat mev Theresa May met die EU beding het, is deur die Britse parlement verwerp. Mnr Johnson, knaend oorhoops met sy eie parlement oor hierdie of daardie aspek van Brexit, het onlangs selfs sover gegaan as om die Britse parlement te ontbind, iets wat die Britse Hoërhof terstond weer ongeldig verklaar het.

    Hierdie tameletjie skep natuurlik ondraaglike probleme vir die duisende Europeërs wat in Engeland woon en werk en dieselfde vir Engelse wat in Europa woonagtig is.

    ‘n Ontwikkeling wat ook nog onder die oë gesien moet word, is dat die Skotte, wat nie ten gunste van Brexit was nie, na die Britse uittrede uit die EU van die Verenigde Koninkryk mag afskei. Daarna sal daar nog ‘n koninkryk wees, maar weinig meer om te verenig.

    Mnr Johnson het pas teruggekeer van Brussel waar ‘n nuwe ooreenkoms bereik is oor Britse uittrede uit die EU. Die ooreenkoms verskil in geringe mate van dié  wat bereik is met mev Theresa May ‘n jaar gelede, wat deur die britse parlement verwerp is en tot mev May se bedanking gelei het. Die Britse parlement het die naweek (19 Oktober) oor mnr Johnson se ” nuwe ” ooreenkoms gestem en dit ook verwerp. Hierdie week word weer oor die ooreenkoms gestem en skynbaar ook oor ‘n voorstel om die datum van uitttrede uit te stel.

    Dit is wat ‘n mens ‘n fiasko noem en die vraag is wie nou eintlik vir die fiasko verantwoordelik is.

    Minstens hierop is die antwoord redelik duidelik. Engeland het ‘n probleem geskep toe hulle ná jare se wik en weeg uiteindelik toegetree het tot ‘n gemeenskap waarvoor hulle in die eerste plek nie eintlik tande gehad het nie en waaruit hulle nou na vyftig jaar van lidmaatskap wil padgee. En as ‘n mens mooi nadink, het hulle die probleem in Ierland ook geskep deur in die eerste plek ‘n Britse kolonie daar te vestig. Dit is m.a.w. die soort gemors wat hulle wêreldwyd nagelaat het waar hulle kolonies gehad het, insluitende in ons eie land.

  • Dan Roodt: Sondagaktueel 5

    Dan Roodt: Sondagaktueel 5

    Steve Hofmeyr se hofsaak in die Stellenbosse Landdroshof word aanvanklik in dié potgooi bespreek, waarna nog ‘n hofsaak, dié van die staatspatoloog dr. James Blair Mwesigwa, aan die beurt kom. Mwesigwa het naamlik liggaamsdele van ‘n lyk onder sy beheer gesteel om vir moeitie te verkoop. Penny Sparrow se dood het tot groot leedvermaak op sosiale media, veral die sg. “Swart Twitter” gelei. Internasionaal is mnr. Donald Trump vandeesweek as ‘n “rassis” uitgekryt omdat hy na die smerigheid van die stad Baltimore, wat onder andere deur ‘n rotteplaag geteister word, verwys het.

  • Russe roep skaakmat in Sirië

    Russe roep skaakmat in Sirië

    Die Neocons bevind hulself in ‘n doodloopstraat na die ineenstorting van die Kerry-Lawrof-ooreenkoms om ‘n skietstilstand in Sirië uit te roep.

    Die Siriese weermag het die djihadis in die ooste van Aleppo vasgekeer, en die werklikheid van verdoemende nederlaag in Aleppo het uiteindelik by mense soos die Amerikaanse VN-ambasadeur Samantha Power ingesink.

    Die resultaat is Power se hewige diplomatieke storm met histeriese media-aktiwiteit wat probeer om die Russe in die verleentheid te stel om die offensief van die Siriese weermag in Aleppo te keer.

    Die rede vir hierdie aktiwiteit sedert die ineenstorting van die skietstilstand, is dat die Siriese weermag met Russiese hulp sy posisies gekonsolideer het en die djihadi-beheerde Oos-Aleppo in twee verdeel het.

    Verslae uit Aleppo toon dat die Siriese weermag en bondgenote reeds aansienlike magte naby of in die stad konsentreer het om die offensief te ondersteun. Die Russiese spesmagte is steeds by die sleutelroete Castellopad ontplooi, en daar is berigte dat tot 8000 Iraanse magte aangekom het in die stad.

    Russiese bedrywighede met SU25-vegvliegtuie by Khmeimim-lugmagbasis is ook hervat.

    Die belangrike punt om dus te verstaan, en een wat al die woedende retoriek van die laaste paar dae verduidelik, is dat die Westerse moondhede wat die Neocons ondersteun, deur die Siriese offensief teen die djihadis vasgekeer is in Aleppo.

    Dit is hierdie Amerikaanse Neocon-bewustheid van sy eie magteloosheid dat sy djihadi-protégés in Aleppo totale nederlaag in die gesig staar, wat verantwoordelik is vir al die woedende beskuldigings van “gruweldade” deur die Russe wat die afgelope week die hoofstroommedia deursuur.

    Samantha Power het Sondag, 25 September 2016 by die Veiligheidsraad van die VN, losgetrek en Rusland selfs van “barbarisme” beskuldig.

    Maar by ‘n Amerikaanse Senaatsvoorlegging op Donderdag 22 September 2016, het die Amerikaanse stafhoof, generaal Dunford, gesê as die VSA “beslissende optrede” neem deur die instelling van ‘n vliegspergebied, is dit so goed as ‘n oorlogsverklaring teen Rusland, en daarvoor sal hy nie pa staan nie.

    Die Republikeinse Senator John McCain, die ou verslete Neocon-oorlogsmous en intervensionis wat voortdurend druk toepas vir Amerikaanse militêre optrede by elke geleentheid en veral konflik met Rusland, het probeer om Dunford te dwing om te sê dat ‘n vliegspergebied nie dieselfde is as “totale beheer van die Siriese lugruim” nie, wat oorlog met Rusland en Sirië sou vereis. Maar Dunford wou nie byt nie.

    Beide McCain en Dunford weet baie goed dat die VSA nog nooit ‘n vliegspergebied opgedring het aan ‘n land waaroor hy nie “totale beheer van die lugruim” gehad het nie.

    Sonder ‘n vliegspersone is daar dus heeltemal niks wat die VSA kan doen om die verloop van die gevegte in Aleppo te verander nie.

    Die Britse minister van buitelandse sake Boris Johnson, het tydens ‘n televisie-onderhoud op Sondag 25 September 2016 min of meer toegegee dat die Neocons hulself vasgedraai het en dat ‘n propaganda-aanslag die laatse uitweg is.

    Johnson het gesê dat die enigste ding wat die Weste kan doen in hierdie situasie is om te probeer om die Russe in die verleentheid te stel.

    Die huidige histeriese aanklagte van “barbarisme”, “oorlogsmisdade”, die onbewese Russiese skuld vir die aanval op ‘n hulpkonvooi, klagtes oor die doelbewuste afsny van Aleppo se watervoorraad, en dies meer, moet in daardie lig beskou word.

    Na aanleiding van die ineenstorting van die skietstilstand, en met die kragdadige oplegging van ‘n vliegspergebied vir alle praktiese doeleindes uitgesluit, het Kerry met die absurde voorstel gekom dat Rusland en Sirië ‘n vliegspergebied oor hulself afkondig.

    Die Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lawrof, het intussen ten spyte van intense druk van die VSA en sy bondgenote – botweg eensydige skietstakings deur die Siriese weermag uitgesluit.

    In plaas daarvan het hy dit glashelder gestel dat ‘n skietstilstand net sal gebeur as die Siriese opposisie hulself werklik verbind tot die vernietiging van die ISIS-filiaal Jabhat Al-Nusra, soos wat die VSA in Februarie en in die onlangse Kerry-Lawrof-ooreenkoms belowe het hulle sou doen.

    Die Russe het skaakmat geroep in die stryd om Aleppo en die Neocons se kanse om hul djihadi-protégés in Sirië van totale nederlaag te red, asook uit die vernedering van ‘n openbare mislukking van hul strategie, is nou naby aan nul.

    Want tot hul groot verbasing, het Russe nog nie teruggedeins voor die propaganda-aanslag nie.

  • Theresa May knoei haar pad na premierspos oop

    Theresa May knoei haar pad na premierspos oop

    Die skielike onttrekking van Andrea Leadsom (foto hierbo) as kandidaat vir die leierskap van die Konserwatiewe Party in Brittanje, is deur die media moontlik gemaak wat haar opmerkings oor ma-wees in ‘n kwade lig gestel het.

    Haar enigste teenstander, Theresa May, was daarna die enigste kandidaat.

    As Leadsom nie onttrek het nie, kon die opvolgkwessie tot September geduur het en dit sou die Konserwatiewes meer tyd gegun het om ‘n beter kandidaat as May te stel.

    Leadsom was nie opgewasse teen die onverwagse vyandige media-veldtog nadat sy gesê het moederskap gee haar ‘n voorsprong bo die kinderlose May nie.

    Andrea Leadsom het aan die Telegraph gesê sy is “siedend kwaad” oor die media-manipulasie en bygevoeg dat Brittanje “regte” ‘n Brexit-kandidaat verdien, iets wat ‘n lang skadu oor May se opregtheid kaats.

    In haar uittredetoespraak het Leadsom egter die cliché herhaal dat sy dit in die belang van die land doen, want sakelui het sekerheid nodig ná die Brexit-referendum.

    Cameron het Dinsdag as premier in die Britse Laerhuis uitgetree toe hy sy bedanking by die paleis ingedien het. Ná die Brexit-­referendum was die plan dat hy in Oktober sou uittree.

    Maandag is May (59) as leier van die Konserwatiewe Partye aangewys nadat sy vroeër glo ook van Boris Johnson ontslae geraak het.

    Skindertonge beweer Boris Johnson is op aandrang van May se ondersteuners deur Michael Gove, sy kollega in die Brexit-veldtog, uit die wedloop gedwing.

    Gove, wat eers voorgegee het dat hy Johnson steun, het skielik sy eie kandidatuur aangekondig, en gesê hy glo nie Johnson “het die nodige leierskapsvaardighede” om die land te lei nie.

    Dit was ‘n deursigtige manier om May se kanse om as premier aangewys te word, te bewerkstellig, aangesien Gove allermins self oor leierseienskappe beskik.

    Gove se kanse op bevordering lyk egter nou rooskleurig met May aan die stuur.

    “Die land het gestem om die Europese Unie te verlaat en as eerste minister sal ek seker maak dat ons die Europese Unie verlaat,” het May Dinsdag verklaar, maar haar toewyding aan Brexit bly ‘n ope vraag.

    Dit is bekend dat May se ondersteuners in die Konserwatiewe Party gekant was teen Brexit en haar kennelik wil inspan om dit in hulle guns te bestuur.

    Die druk het Maandag reeds begin opbou dat May ‘n vroeë verkiesing uitroep, maar sy het haar party belowe sy sal dit nie oorweeg nie.

  • Skokbesluit van Boris Johnson se vertroueling lei tot sy bedanking

    Skokbesluit van Boris Johnson se vertroueling lei tot sy bedanking

    Een van die groot Brexit-voorstanders en Britse minister van justisie, Michael Gove, het in skokaangekondig verklaar dat hy verkiesbaar is om David Cameron as Brittanje se eerste mi­nister op te volg.

    Hy het terselfdertyd ’n skerp aanval van stapel gestuur op sy referendum-bondgenoot, Boris Johnson, wat intussen sy uittrede aangekondig het.

    “Ek wou help bou aan die span agter Boris Johnson sodat ’n politikus wat ten gunste van Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) ’n veldtog gevoer het, ons na ’n beter toekoms kan lei,” het Gove gesê.

    “Ek het egter tot die slotsom gekom dat Boris nie die leierskap kan bied of die span kan bou vir die taak wat voorlê nie. Om dié rede het ek besluit om my vir die leierskap beskikbaar te stel,” het hy bygevoeg.

    Die aankondiging is ’n gevoelige slag vir die voormalige burgemeester van Londen, wat ook sy kandidatuur wou aankondig.

    Selfs meer dramaties nog: Teen 11:53 voormiddag, net sewe minute voor die afsnytyd om die Toryleierskapstryd te betree, het Johnson kop uitgetrek.

    Gove was aanvanklik geoormerk as ’n potensiële minister van finansies in ’n Johnson-regering, maar die momentum het nou skerp in die rigting van die minister van binnelandse sake, Theresa May, geswaai. Sy het reeds haar kandidatuur aangekondig.

    Boris Johnson het gesê die verantwoordelikheid vir die implementering van Brexit is nou aan “iemand anders” toevertrou na hy homself dramaties uit die wedloop onttrek het.

    Op ‘n vraag of hy “verraai” voel deur sy langtermyn-vriend en kollega het hy geantwoord: “Ek kan ongelukkig nie verder gaan om te doen wat ek wou doen nie, so dit sal nou iemand anders wees en ek wens hom alle moontlike sukses toe.”

    Johnson het gesê hy het geen berou oor die veldtog nie en vra mense om positief te bly. Hy het die kritiek Michael Heseltine as “volledige nonsens” afgemaak.

    Aan die Arbeidersparty se kant staar Jeremy Corbyn, wat Dinsdag ’n gevoelige slag toegedien is toe partylede ’n mosie van wantroue teen hom aanvaar het, groot uitdagings in die gesig.

    Albei partye is in chaos gedompel ná Donderdag se referendum waarin Britte gestem het om uit die Europese Unie te tree.

    Die president van die Bank van Engeland het intussen aangedui dat rentekoerse aanstande maand waarskynlik verder verlaag sal moet word in reaksie op Brittanje se besluit om die Europese Unie te verlaat.

    Die president, Mark Carney, sê die onsekerheid wat deur die onttrekking aan die EU geskep is, kan vir ‘n geruimte tyd nog ‘n uitwerking hê op die land se ekonomie.

    Hy sê die sentrale bank sal alles in sy vermoë doen om dit teen te werk.

  • Petisie vir tweede Britse referendum ‘n bedrogspul

    Petisie vir tweede Britse referendum ‘n bedrogspul

    Die werklike aantal Britse burgers wat glo ‘n petisie onderteken het om nog ‘n referendum oor lidmaatskap van die Europese Unie te eis, is buitelandse ondertekenaars.

    Sommige kritici beweer dat ‘n “bot” of “script” gebruik word om name en ondertekenaars outomaties te genereer.

    Vanaf vroeg Sondagmiddag, het meer as 3,1 miljoen handtekeninge waarskynlik byna almal vals, geregistreer op die petisie. Maar ‘n ontleding van die data op die petisie toon dat die ondertekenaars uit die buiteland kom.

    Twitter-gebruikers sê hulle het ‘n PasteBin-skakel opgemerk wat dui op outomatiese handtekeninge. Handtekening uit die Vatikaanstad en vreemder nog, Noord-Korea, verskyn op die “Britse” petisie.

    Nie verbasend nie, het Media24 die bedrogspul as ‘n feit aangekondig.

    Anti-Brexit-aktiviste deel poskodes aanlyn uit ten einde meer handtekeninge te lok uit die buiteland.

    Die petisie het byvoorbeeld 2735 ondertekenaars uit Antarktika gehad waar slegs 250 Britte tans woon.

    Die Duitse kanselier, Angela Merkel, verkeer onder druk van Frankryk, Brussel en haar eie regering om Brittanje so gou as moontlik uit te kry uit die EU.

    Regse partye in Europa het Britte se besluit om die EU te verlaat, geloof.

    George Soros wat ‘n ekonomiese insinking vir Brittanje voorspel het, het intussen van deuntjie verander en gesê oor die lang termyn mag dit tot ekonomiese voorspoed lei.

    Kort na die uitslae van die referendum, wat in die vroeë oggendure Vrydag bekend geword het, het die Britse premier, David Cameron, huilend bedank.

    Boris Johnson, Michael Gove, en die minister van binnelandse sake, Theresa May word oorweeg as plaasvervangers van Cameron.

    Boris Johnson, die man wat waar­skynlik vir David Cameron as eerste minister gaan opvolg, het Vrydag gesê daar is geen haas om uit die EU pad te gee nie, maar die president van die Europese parlement, Martin Schulz, sê Brittanje kan nie meer insette lewer oor spertye nie.

    In Brittanje het Brexit met 52-48 persent stemme in die referendum geseëvier, maar ontleders meen die anti-EU-sentiment is selfs groter.

    Verdeeldheid binne die Arbeidersparty is besig om na ‘n totale ineenploffing te neig met die party se leier, Jeremy Corbyn, wat sy skadu-­minister van buitelandse sake, Hilary Benn, afgedank het.

    Corbyn probeer pogings om van hom ontslae te raak omdat hy teen Brexit was, stuit, maar dit sal ten koste van sy party wees. Geswore Arbeiderkiesers het gestem om die EU te verlaat, terwyl hul leier Corbyn, ‘n futlose veldtog gevoer het om te bly.

    Die senior partylid Margaret Hodge het reeds ‘n mosie van wantroue in Corbyn ingestel. As dit aanvaar word vir debat, sal die Arbeiders se parlementêre koukus daaroor moet stem.

    In Frankryk en Nederland het Ma­rine le Pen (Nasionale Front) en Geert Wilders (Partij voor de Vrijheid) reeds soortgelyke referendums as Brexit aangevra.

    In Oos-Europa, Skandinawië, Italië en Oostenryk, is daar soortgelyke weersin in Duitsland se eise dat hulle grense oopstel vir immigrante.

    Leopold Scholz, Media24 se tweederangse Soros-buikspreker en voorstander van oop grense, het die linkse onsin dat “Europa weer tot die histeriese nasionalisme en ekstreme onstabiliteit van voor 1945 kan terugkeer” herhaal.

    Dit is duidelik dat ‘n groepie bankiers Merkel omgekoop het sodat sy Duitsland se invloed in Brussel (hoofkwartier van die EU) gebruik om mag ten koste van nasionale regerings uit te oefen oor immigrasie en dat sy nou ironies genoeg juis deur demokrasie verhoed gaan word om daarmee aan te hou.

    Hierdie onbesonnenheid om hordes uit die Derde Wêreld in te laat, kan beteken dat Brexit die water­skeiding word wat aanstons tot die verbrokkeling van die EU kan lei.

    Merkel het met die leiers van die ses stigterslande van die EU se voorganger, die Europese Ekonomiese Gemeenskap, ‘n noodvergadering in Berlyn gehou.

    Duitsland, Frank­ryk, Italië, Nederland, België en Luxemburg het die moontlikheid bespreek om ‘n “Europa van verskillende snelhede” te oorweeg om die blok te red.

    Noord-Ierland en Skotland is ten gunste van voortsetting van lidmaatskap.

    Skotland se eerste minister, Nicola Sturgeon, wil met regstreekse onderhandelinge met Brussel begin en moontlik ’n tweede referendum in Skotland hou oor onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk, iets wat die einde van die VK mag beteken.

    In 2014 het die Skotte teen onafhanklikheid gestem, maar die kans op ‘n oorwinning lyk nou veel groter.

    Formele onttrekking uit die EU word bepaal deur artikel 50 van die Lissabon-verdrag. Die artikel is slegs vyf paragrawe en 250 woorde lank en het eintlik twee bepalings: ‘n Lidland wat uit die klub wil bedank, moet kennis gee van sy voorneme en het dan twee jaar tyd om sy verhouding met die res van die EU te heronderhandel. Indien spertyd nie gehaal word nie, val Brittanje weg uit die EU sonder enige waarborge, tensy elkeen van die lidlande individueel instem om die spertyd uit te stel.

    Dit is ‘n groot taak wat voorlê.­ ­Ooreenkomste tussen die EU en Brittanje beloop 80 000 bladsye en die Britse parlement sal die EU-besluite wat deel is van Britse wetgewing moet ignoreer. Vir die lui verteenwoordigers is dit blykbaar ‘n aangename vooruitsig.

    Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry sê Brittanje se onttrekking moet so gelykmatig moontlik gedoen word om ekonomiese ontwrigting te beperk.

    Kerry sal vandeesweek besoek bring aan Londen en die hoofkantoor van die EU in Brussel om die oorgang te bespreek.

    Volgens hom het Amerika gehoop dat die Britte sal verkies om lid van die EU te bly, maar dat Amerika die uitslag aanvaar.

  • Britte stem vandag oor Brexit

    Britte stem vandag oor Brexit

    Jeremy Corbyn, die leier van Brittanje se opposisie Arbeidersparty, het by ‘n byeenkoms in Manchester weer sy steun vir die veldtog om Brittanje in die Europese te hou, toegesê.

    Corbyn en premier David Cameron wil albei hê dat Brittanje in die EU bly, maar Corbyn het onlangs van plan verander nadat hy jare lank gesê het die VK moet uit die EU tree.

    Boris Johnson, die flambojante voormalige burgemeester van Londen (foto hierbo), lei die uittogstem om weer beheer te neem van die eilande en soewereiniteit te herstel.

    Meer as 12 000 sakeleiers het op die vooraand van die emosioneel uitputtende en sterk betwiste referendum verenig om te waarsku oor die gevolge sou Brittanje wegbreek uit die EU.

    Die wêreld se vyfde grootste ekonomie sal ’n gevoelige slag toegedien word indien Brittanje die eerste staat word om in die 60-jarige bestaan van die EU weg te breek het hulle gesê.

    EU-leiers het gewaarsku dat daar geen omdraaikans is as die Britte besluit om die 28-lidlande vaarwel te roep nie.

    “Uit is uit,” het die hoof van die Europese Kommissie Jean-Claude Juncker in Brussel gesê en dit duidelik gemaak dat enige kanse van ‘n post-referendum heronderhandeling oor Brittanje se lidmaatskap van die EU nie moontlik sal wees nie.

    Die Franse president, Francois Hollande het gesê ‘n uittrede deur die Verenigde Koninkryk sal “onomkeerbaar” wees.

    Die referendum het kommer oor die hele Europa laat ontstaan dat ‘n Britse onttrekking ‘n domino-effek kan sneller wat die integriteit van die blok dalk kan aantas.

    Die EU verkeer reeds onder groot druk weens die Eurosonebeleid en migrasiekrisisse wat deur Duitsland se onbesonne verwelkoming van derdewêreld mense geskep is.

    Selfs al is dit bly, sal die status quo nie meer ‘n opsie wees nie, meen leiers.

    “Wat ook al sy gevolg gaan wees, moet ons ‘n lang harde kyk na die toekoms van die Unie neem. Ons sou dwaas wees as ons so ‘n waarskuwingsein ïgnoreer soos die Britse referendum,” het die EU-president Donald Tusk vandeesweek gemaan.

    Meer as 80% van Amerikaners meen Brittanje behoort uit te tree.