praag.co.za

Tag: Cameron

  • Brexit wink na Cameron moet bieg oor Panama-dossier

    Brexit wink na Cameron moet bieg oor Panama-dossier

    Die Britse premier, David Cameron, moes sy inkomstebelastingopgawes van die afgelope sewe jaar bekend maak in die hoop om sy kritici se monde te snoer oor sy buitelandsde beleggings.

    Cameron het die eerste Britse leier geword om sy finansiële sake bloot te lê, maar sy mededingers in sy eie party asook die Arbeiders, het bloed geruik.

    Die premier se eie party steun nie Brittanje se deelname aan die EU nie en Boris Johnson, Londen se burgemeester se planne vir Brexit is besonder gewild onder die Tories, terwyl Cameron homself verbind het aan die EU.

    Die blootlegging kom slegs ure nadat hy ’n byeenkoms van Konserwatiewe Party aktiviste meegedeel het dat hy verkeerd was deur te huiwer met die erkentenis van sy belegging in Blairmore Holdings.

    Sy pa, Ian, ’n miljoenêr aandelemakelaar, het die belegging deur die Panamese regsmaatskappy Mossack Fonseca gereël.

    Uit die drie bladsye opsomming van die eerste minister se verdienstes en belasting, wat hy sedert 2009 daarop betaal het, blyk dit dat hy 9 501 Britse pond wins gemaak het toe hy die aandele in 2010 verkoop het, kort voordat hy eerste minister geword het.

    Sy vrou het dieselfde bedrag verdien, wat meegebring het dat hulle net-net die betaling van kapitale belasting vrygespring het.

    Volgens die dokumente het Cameron die afgelope jaar 75 898 pond belasting betaal.

    Cameron het planne aangekondig om ’n sogenaamde taakmag in die lewe te roep om Britse konsortiums en individue se betrokkenheid te ondersoek in fondse en maatskappye wat deur Mossack Fonseca geregistreer is.

    In ’n verklaring sê hy ondersoekbeamptes onder leiding van belastingowerhede en die nasionale agentskap vir misdaadondersoeke sou optree teen enige verkeerde optrede wat verband hou met die Panama-dossier.

    Vroeër het Cameron ’n openbare “mea culpa” uitgereik vir sy aanvanklike mislukking om sy belegging in Blairmore te erken. Hy het vir vier dae vrae oor die kwessie gesystap voordat hy Donderdag in ’n televisie-onderhoud met die sak patats vorendag gekom het.

    “Ek kon dit beter hanteer het. Ek weet daar is lesse hieruit te leer, en ek sal dit leer. Moenie No. 10 Downing Street of naamlose raadgewers die skuld gee nie. Gee my die skuld,” het hy Saterdag gesê.

  • Brexit kry hupstoot van Londense burgemeester

    Brexit kry hupstoot van Londense burgemeester

    Die Britse premier David Cameron, het by 10 Downing Street ‘n referendum aankondig oor Brexit.

    Cameron het gesê hy sal stemme werf sodat Brittanje deel van ’n “hervormde” EU bly.

    Die burgemeester van Londen, Boris Johnson, het teen Cameron uitgekom en gesê die stemmery is ‘n “geleentheid in ‘n leeftyd” vir die VK om uit die EU te tree.

    Johnson het sy jare lange ambisie om die volgende premier van Brittanje te word daarmee op die referendumuitkoms geplaas en die belangrikste Tory geword om ten gunste van Brexit uit te kom.

    Ander ministers het kort ná die aankondiging reeds in hul teenkanting rugbaar gemaak. Michael Gove, die minister van justisie, het hom by die Johnson se kamp aangesluit.

    Meer as die helfte van Britse kiesers wil nie deel van die EU wees nie, maar uitrede sal tot ekonomiese nadeel van die eilandbewoners wees.

    Theresa May, die ongewilde minister van binnelandse sake, is bo-aan die lys van ministers wat saam met Cameron in die EU wil bly.

    Cameron het die referendum beskryf as een van die grootste besluite waaroor sy landgenote in ’n baie lang tyd gaan stem.

    Die debat oor Brittanje se lidmaatskap het nuwe stukrag gekry nadat tienduisende vlugtelinge die afgelope paar maande deur die Europese gemeenskap gehuisves moes word.

    Maar Cameron het in ’n verklaring gewaarsku dat dit ’n “sprong in die donker” sou wees as Brittanje die EU sou verlaat.

    Daarom sal dit meer sin hê om eerder op hervormings binne die unie aan te dring het hy gesê.

    Brittanje beskik egter nie oor genoeg invloed om Duitsland te dwing daartoe nie, wat uiteindelik sal neerkom op leë verkiesingsbeloftes.

    Volgens Cameron weet die sakegemeenskap in Brittanje byvoorbeeld nie of hulle steeds gratis tot Europa se markte gaan toegang hê nie – ook nie of Britte elders in die EU seker gaan wees van hul werk nie.

    Dit kan ook prysstygings tot gevolg hê.

    Cameron het onlangs sy voorgestelde plan om die EU te hervorm ná ’n beraad in Brussel opgestel. Die plan sal glo aan Brittanje “spesiale status” binne die EU-blok van lande gee.