Daarom: waarom gebruik die Afrikaner, wat veel meer rede het om onafhanklikheid van die ANC se Nguni-empaaier op te eis as 'n spul agterlike Tibetaanse monnike, nie óók die Sokkerwêreldbeker om ons vryheidstryd wêreldkundig te maak nie?
Afrikaanse organisasies en politieke partye wat Afrikanerselfbeskikking voorstaan, behoort bymekaar te kom en 'n strategie te beplan oor hoe om die Afrikaner se sug na vryheid voor die TV-kameras en op voorblaaie tydens die Sokkerwêreldbeker te vestig. Met die powere vertoning van die gasheersokkerspan, die sogenaamde Bafana Bafana, gaan 'n horde verveelde internasionale joernaliste in elk geval na interessanter stof vir hul afwagtende tuisgehoor op soek wees.
Elke besoekende sokkergeesdriftige behoort 'n pamflet in die hand gestop te word waarin die sistemiese rassisme en geweld van die ANC-regime opgesom word. Hoe daar op elke gebied teen ons gediskrimineer word by wyse van SEB, rassekwotas, taaldiskriminasie, ensovoort, asook die moordbendes wat ons teister en deur die owerheid verdra word omdat hy wéét dat die stroom Afrikaneremigrante weens geweld op die duur sy etniesesuiweringstrategie dien.
Die besoekers gaan self kennis maak met geweld en waarskynlik sal die media daaroor berig omdat Franse, Duitsers of Australiërs insgelyks deur die ANC se menslike troeteldiere, die misdadigers, aangeval gaan word. Die gepaardgaande vraag na agtergrondkennis in die internasionale media rondom die geweldskultuur in Suid-Afrika sal die geleentheid skep om die Afrikaner se huidige lyding en verdrukking internasionaal uit te dra.
Net soos die Dalai Lama en sy monnike, wil ons ook vry wees om onsself te regeer en nie langer deur die aanhangers van kommunisme, sentralisme en Mugabeagtige Afrofascisme oorheers te word nie.
Suid-Afrika verteenwoordig 'n oud-kolonie waarvan Jan Smuts gesê het dat sy lot altyd van buite sy grense bepaal sal word. De Klerk het in 1994 op aandrang van die Britte en Amerikaners oorgegee omdat hy en die destydse Afrikaner-elite lewensmoeg geraak het en nie meer 'n benul gehad het oor hoe om die land sonder Anglo-Amerikaanse intellektuele en politieke insette te regeer nie. Daarom het hy ons volk en ons voortbestaan op die altaar van sy persoonlike ambisie om 'n Nobelprys te ontvang, geplaas.
Dog sport en veral sportboikotte het 'n belangrike rol gespeel om 'n verwronge beeld van die destydse NP-beleid die wêreld in te stuur. Omdat sport soveel media-aandag geniet, raak dit dikwels 'n politieke speelbal, vanaf Hitler se Berlynse Spele van 1936 tot die Tibetane se pogings om hul onafhanklikheidstryd tydens verlede jaar se Olimpiese byeenkoms in Beijing 'n hupstoot te gee. Betogings teen Springbokrugby in die verlede is goed deur die ANC en die destydse anti-Suid-Afrikaanse element gebruik om die vorige bewind op diplomatieke gebied te isoleer.
Die ANC se komende sokkerpartytjie mag die grootste geleentheid sedert die Tweede Vryheidsoorlog wees waardeur ons internasionale simpatie vir ons vryheidstryd kan opwek.
Vir die komende veldtog tydens die Sokkerwêreldbeker behoort daar twee slagspreuke te wees: "Afrikaneronafhanklikheid nóú!", asook "Stop Afrikanervolksmoord!" Die twee kwessies gaan hand aan hand, want die enigste manier waarop ons aan uiteindelike ondergang en uitwissing gaan ontkom, is deur selfbeskikking in 'n eie grondgebied.
Vryheidsgesinde Afrikanerorganisasies behoort dadelik aan die werk te spring om die veldtog te beplan en te loods.
Wie het gesê Afrikaners stel nie in sokker belang nie?