China suur oor ontplooiing na Spratly-eilande

Viëtnam het verskeie van sy eilande gefortifiseer in die Suid-China See wat die bron van ernstige dispute tussen China en die VSA is.

Nuwe mobiele vuurpyllanseerders is glo na die eilande ontplooi, maar Viëtnam se minister van buitelandse sake sê die inligting is “foutief”.

Amerikaanse militêre personeel sê van die toerusting is na vyf basisse van die Spratly-eilande ontplooi.

Hierdie lanseerders is in staat om China se aanloopbane en militêre installasies oorkant die noodsaaklike handelsroete te bereik, het Westerse veiligheidsbronne gesê.

‘n Internasionale arbitrasie-paneel se bevinding verlede maand dat China se ekspansionistiese maritieme aansprake in die Suid-China See onwettig is, het vroeër woedende reaksie in Beijing ontlok.

China het Woensdag in ‘n verklaring gesê hulle het steeds volle soewereiniteit oor die gebied en is gekant teen “onwettige uitbreiding”.

Rousseff in staat van beskuldiging gestel met Rio Spele in volle swang

Met die oë van die wêreld op die Olim­piese Spele in Rio de Janeiro, het senatore in die Brasiliaanse hoofstad Brasilia, dié week met 59 stemme teen 21 teen die geskorste leier, Dilma Rousseff (foto bo) gestem, in ’n 20-uur lange sessie waarvan hoofregter Ricardo Lewandowski die voorsitter was.

’n Skuldigbevinding sal beslis daartoe lei dat Rousseff van haar pos onthef word en ’n einde aan die 13-jaar lange bewind van haar regerende Werkersparty maak. Dit sal meebring dat die tussentydse president, Michel Temer, die res van haar termyn tot 2018 sal volstaan.

Rousseff se teenstanders het net ’n eenvoudige meerderheid in die 81-setel senaat nodig gehad om haar te laat verhoor vir manipulering van regeringsrekeninge en besteding sonder goedkeuring van die kongres, wat hulle aanvoer haar gehelp het om in 2014 herkies te word.

’n Uitspraak word teen die einde van die maand verwag en sal ’n tweederdemeerderheid in die senaat verg om Rousseff skuldig te bevind. Dit is vyf stemme minder as wat haar opponente kon bemeester.

Woensdag se stemmery toon egter dat die beweging om van Rousseff ontslae te raak, steun in die senaat gewen het, wat in Mei met 55 stemme teen 22 gestem het om met beskuldigingsprosedures te begin, wat in Desember 2015 in die laerhuis geïnisieer is.

Dit sal Temer se hand versterk terwyl hy streef om sy eie legitimiteit te vestig en Brasilië se ontevrede onderklas te bestuur. Ten minste die helfte van die land is fel gekant teen die Spele.

Die heersende onsekerheid het sy pogings in die wiele gery om die fiskale krisis, wat hy van Rousseff geërf het, aan bande te lê. Waarnemers waarsku dat die ekonomie oënskynlik op pad is na die ergste resessie sedert die 1930’s.

Temer, Rousseff se konserwatiewe voormalige visepresident, wat die mag in Mei oorgeneem het, het senatore aangemoedig om die verhoor so vinnig moontlik af te handel sodat hy planne in werking kan stel om openbare besteding aan bande te lê, ’n oortoegeeflike pensioenskema kan hervorm en vertroue in die regering se finansies kan herstel.

Beleggers verwag dat indien Rousseff met die meer sakevriendelike Temer vervang word, dit Brasilië se wisselkoers sal verstewig en aandelepryse op die Sao Paulo-aandelebeurs sal opjaag.

Rousseff het ontken dat sy enige iets verkeerd gedoen het en skryf haar beskuldiging toe aan pro-Amerikaanse sameswering wat ’n tegniese boekhouding-slenter gebruik het om haar onwettig uit die kussings te lig.

Etniese geweld teister Ethiopië

Oproer in Ethiopië het in November 2015 in die Oromia-streek begin wat die hoofstad omring. Planne van die regering om die grense van Addis Abeba, die setel van die Afrika-Unie uit te brei, het aanleiding tot die openbare uitbarstings gegee.

Oor die naweek het owerhede ten minste 100 mense gedood en ‘n algehele verbod op alle internetgebruik geld.

Die streek se Oromo-bevolking vrees dat hul plaasgrond onteien sal word. Ondanks die feit dat die regering hierdie planne laat vaar het en die betogings met geweld onderdruk het, het hulle die woede onderskat wat dit uitgelok het.

Onluste het sedertdien na ander dele van Oromia versprei, en meer onlangs ook na die noordelike Amhara-streek uitgebrei, het AFP berig.

Dit het tot onmin gelei in regeringsgeledere van dié sleutel Amerikaanse bondgenoot en belangrike vennoot in Oos-Afrika se stryd teen terrorisme.

“Sedert hulle aan bewind gekom het, het die regime nog nooit so ’n slegte belewenis gehad nie. Ethiopië lyk soos ’n vliegtuig wat ’n sone van uiterste turbulensie beleef,” het ’n onafhanklike navorser, Rene Lafort, gesê.

Ondanks wat hy as ’n “staat van beleg” op die Oromia-streek beskryf, het die opstand in onlangse weke geen teken van afname getoon nie en betogers daag toenemend openlik die regering uit.

Een vergadering is selfs Saterdag in Addis Abeba gehou, ’n rare gebeurtenis in die magsetel van die land. Die Ethiopiese regering word onder die mees onderdrukkende in Afrika geag.

Meer as 140 mense is dood toe veiligheidsmagte die aanvanklike Oromia-grondbetogings onderdruk het. Menseregtegroepe het berig van mense wat voor die voet doodgeskiet is en ander wat gemartel is.

In die jongste optrede die naweek is, volgens Amnestie Internasionaal, meer as 100 mense dood. Die veiligheidsmagte het volgens berigte met lewendige ammunisie op die skare gevuur.

“Die krisis is sistemies, omdat dit die fondamente van ’n regeringsmodel skud wat 25 jaar gelede in werking gestel is en wat outoritêr en gesentraliseer is,” het Lafort verduidelik.

Die betogers het verskillende griewe, maar is verenig in hul ontevredenheid met die land se leiers, wat meestal uit die noordelike Tigray-streek kom en minder as tien persent van die bevolking verteenwoordig.

Die eerste minister, Hailemariam Desalegn, staan aan die hoof van die Ethio­pian People’s Revolutionary Democratic Front (EPRDF), wat in die verkiesings verlede jaar al die setels in die parlement gewen het.

Al kom hy van die Wolayta-minderheidsgroep, is hy in die regering omring deur Tigriërs wat ook die veiligheidsmagte en posisies van ekonomiese mag domineer.

Prof. Getachew Metaferia, ’n hoogleraar in politieke wetenskap aan die Morgan State University in Amerika, beskryf die toedrag van sake as ’n staat wat deur ’n etniese minderheid beheer word en hul wil op die meerderheid afdwing.

Volgens hom is dit ’n noodsaaklike faktor om begrip vir die onluste te kry.

Meer as 60 persent van die land se nagenoeg 100 miljoen mense is óf Amhara óf Oromo.

“Daar is geen fundamentele bespreking met die mense nie, geen dialoog nie en die vlakke van frustrasie is aan die oplaai. Ek dink nie dinge sal na normaal terugkeer nie,” het die professor gesê.

Die land se leiers het daarin geslaag om verbysterende ekonomiese groei en ’n vinnig verbeterde gesondheidsbedeling te vestig, wat die beeld van die land aansienlik van die hongersnoodgeteisterde land van die 1980’s verander het.

Maar dit het ten koste van sekere regte gekom. Ethiopië is nommer 142 uit 180 lande in vanjaar se Verslaggewers Sonder Grense se persvryheid-indeks.

Ná die omverwerping van die diktator, Mengistu Haile Mariam in 1991, het Meles Zenawi met ’n ystervuis tot sy dood in 2012 geregeer waarna Hailemariam die leisels oorgeneem het.

Egipte muilband polisie

Egipte se parlement het Dinsdag beperkings op die polisie goedgekeur wat hulle onder meer verhinder om inligting aan die media te verskaf.

Kritici sien dit as ‘n poging om menseregteskendinge en korrupsie toe te smeer.

Kragtens wysigings aan die polisiewet moet polisiebeamptes voortaan geskrewe toestemming van die ministerie van binnelandse sake hê, alvorens hulle inligting mag verskaf of enige dokumente, verslae of foto’s mag publiseer wat met hul werk verband hou.

Die straf vir oortreders is ongespesifiseerde gevangenisstraf en boetes tot so hoog soos 20 000 Egiptiese pond.

In Februarie, het die Egiptiese president Abdel Fattah el-Sisi gelas dat voorstelle aan die parlement voorgelê word nadat ‘n junior polisiebeampte ‘n taxibestuurder oor ‘n nietige tariefargument doogeskiet het en inwoners woedend gereageer het.

Maar dié maatreëls kom vermoedelik nadat daar botsende verklarings uitgereik is oor die lugramp op 19 Mei deser, toe EgyptAir vlug MS804, vanaf Parys na Kaïro, in die Middellandse See neergestort het en 66 passasiers dood is.

Die Franse minister van buitelandse sake Jean-Marc Ayrault het Egipte se minister van buitelandse sake Sameh Shoukry verlede week geskakel en gevra om aandag te skenk aan die stygende kommer van die families van die slagoffers van die ramp.

Hy het gesê dat die families van die slagoffers nog steeds wag vir die terugkeer van menslike oorskot en persoonlike besittings, en hulle het steeds nog geen duidelike uiteensetting van die redes wat gelei het tot die ongeluk ontvang nie.

Intussen is die oorskot van die Egipties-Amerikaanse Nobelpryswenner vir chemie, Ahmed Zewail, deur Kaïro se strate gelei.

Zewail het ’n begrafnis met volle militêre eer gekry wat deur Egipte se president en topregeringsleiers bygewoon is.

Zewail, wat pres. Barack Obama se raadgewer oor wetenskap en tegnologie was, het verlede Dinsdag in Amerika gesterf. Hy was 70 jaar oud

NYT loods histeriese aanval teen Trump

Vyftig sogenaamde Republikeinse veiligheidskenners, insluitende ‘n voormalige direkteur van die Amerikaanse intelligensiediens (CIA), het Maandag die party se presidentskandidaat, Donald Trump, uitgekryt as ongekwalifiseerd om die land te lei en gesê hy sal die “mees roekelose president in Amerika se geskiedenis” wees.

Die verklaring is die jongste verwerping van Trump se kandidatuur deur veteraan Republikeinse veiligheidspesialiste en word deur die felheid van die taalgebruik gekenmerk.

“Mnr. Trump skiet te kort aan karakter, waardes en ondervinding om president te wees. Hy verswak Amerika se morele gesag om die leier van die vrye wêreld te wees. Hy beskik nie oor basiese kennis en geloof in die Amerikaanse grondwet, Amerikaanse wetgewing en Amerikaanse instansies, insluitende geloofsvryheid, mediavryheid en ’n onafhanklike regbank nie,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring sal nie een van die vyftig ondertekenaars vir Trump stem nie.

“Uit ’n buitelandse beleidperspektief, is Donald Trump nie bevoeg om president of opperbevelvoerder te wees nie.

Ons is inderdaad daarvan oortuig dat hy ’n gevaarlike president sal wees wat die land se nasionale veiligheid en welstand in gevaar sal stel,” lui die verklaring wat eerste in die New York Times gepubliseer is.

Trump het die koerant voorheen daarvan beskuldig dat hulle partydig is en nie belangstel daar in om objektief te wees nie. Hy het ook gesê hy vrees dat die verkiesing in November ‘n gekonkel gaan wees.

Intussen het Julian Assange op die Nederlandse televisieprogram Nieuwsuur gesuggereer dat Seth Rich (foto bo), ‘n Demokratiese medewerker die bron vir die Wikileaks-eposkraak was en nie die Russe nie.

Die Clinton-veldtogvoerders het Rusland die skuld gegee vir die vrystelling van gekraakte eposse wat aantoon hoe Clinton die Demokratiese verteenwoordigers manipuleer.

Rich is vermoor.

Mali gaan steeds gebuk onder djihadiste-aanvalle

Minstens vyf Malinese soldate word vermis ná ’n aanval in die sentrale Mopti-streek van Mali, waar gewapende Islamitiese ekstremiste aktief is, het ’n militêre woord­voerder gesê.

Die aanvallers het Maandag een van die weermag se posisies tussen Tenenkou en Sevare aangeval. Die weermag gee Ansar Dine die skuld vir die aanval.

Ansar Dine is ’n hoofsaaklik Toeareg-groep wat vroeg in 2012, met die hulp van twee ander bewegings, waaronder Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM), beheer oor die noordelike woestyngebied geneem het.

Die djihadiste is in Frans-geleide militêre operasies in 2013 uit die gebied verdryf, maar hulle voer steeds aanvalle van hul skuilings in die woestyn uit.

Ansar Dine het aanspreeklikheid aanvaar vir ’n aanval op ’n militêre basis by Nampala op 19 Julie waarin 17 soldate dood en 37 gewond is en ses vermis word.

Voortgesette internasionale militêre betrokkenheid sedert Januarie 2013 het die Islamitiese vegters uit belangrike bevolkingsentrums verdryf, maar groot dele van die land is steeds nie onder die beheer van Malinese of internasionale magte nie.

Djihadistiese groepe het vroeg verlede jaar begin om aanvalle in die sentrale en noordelike dele van Mali uit te voer.

Zuma betuig medelye aan Pakistanse selfmoordbomslagoffers

President Jacob Zuma het sy medelye aan Pakistan betuig ná ‘n dodelike terreuraanval op ‘n hospitaal in die stad Quetta.

Minstens 70 mense is dood en meer as 100 is beseer nadat ‘n bom gister by die ingang na die noodeenheid van die hospitaal ontplof het.

Tientalle regslui was uit protes by die hospitaal byeen nadat die lyk van ‘n kollega, wat vroeër doodgeskiet is, daarheen geneem is.

Die aanval was blykbaar ‘n selfmoord-bomaanval. Die meeste mense wat gedood is, is regslui.

Zuma het die daad ten skerpste veroordeel en gesê Suid-Afrika sal voortgaan om terreur te help beveg.

Die aanval dui op faksiegevegte in die land. Na Irak en Afghanistan, is Pakistan derde op die lys van lande waar selfmoordbomaanvalle die meeste voorkom.

Die aanval is glo uitgevoer deur ‘n mededinger van ISIS, die Jamaat-oer-Ahrar.

Die groep het minstens 70 mense in April gedood in ‘n soortgelyke aanval in Lahore toe Christene tydens Paasfees geteiken is.

Pakistanse regsgeleerdes het begin staak nadat dosyne van hul kollegas Maandag omgekom het.

Volgens mediese personeel was ongeveer 60 van die oorledenes regsgeleerdes, wat by die hospitaal vergader het om oor die sluipmoord van die president van die Baloetsjistan balie, Bilal Anwar Kasi, Maandagoggend te rou.

Dit was die jongste en dodelikste van ‘n reeks aanvalle teen regsgeleerdes in Pakistan. Militante beskou hulle as ‘n verlenging van die regering en gevolglik geregverdigde teikens.

“Hoe swak en pateties is hierdie mense wat hospitale teiken, waarheen vrouens en kinders gaan om behandeling te kry?” het Ashtar Ausaf Ali, Pakistan se prokureur-generaal by ‘n betoging buite die hooggeregshof in die hoofstad Islamabad gesê.

Die president van die hooggeregs­hof-balie, Ali Zafar, het ‘n beroep op die regering gedoen om meer beskerming aan regsgeleerdes te verleen.

Referendum oor grondwet wys Thailand se ‘bamboesdiplomasie’

Thailand se inwoners het begin stem in ’n referendum oor ’n nuwe grondwet wat deur die militêre junta opgestel is en die weg sal baan vir ’n algemene verkiesing in 2017, maar ook voorsiening maak vir toekomstige regerings om op die voorwaardes van die weermag te regeer.

Dit is die eerste toets vir die junta onder leiding van die eerste minister, Prayuth Chan-ocha (foto bo links, op besoek aan China), wat politieke aktiwiteit onder­druk het tydens die twee jaar sedert hy ná ’n staatsgreep in 2014 aan bewind gekom het.

Voor die referendum het menings­opnames getoon dat ’n klein meerderheid ten gunste van die nuwe grondwet was, maar die meeste kiesers was besluiteloos.

Prayuth het gesê hy sal nie bedank indien Thailand die grondwet verwerp nie en dat algemene verkiesings volgende jaar sal plaasvind, ongeag die uitslag.

Ongeveer 200 000 polisiebeampes is vir die verkiesing ontplooi. Thailand se grootste politieke party het die nuwe grondwet voor die verkiesing verwerp, maar daar was geen tekens van betogings of onluste nie.

Die junta, voorheen bekend as die Nasio­nale Raad vir Vrede en Orde, het kritiek van die grondwet verbied en die owerhede het dosyne mense, insluitende politici en studente-aktiviste wat uitsprake teen die grondwet gemaak het, aangehou en aangekla.

Thailand se houding staan bekend as die ‘bamboesdiplomasie” wat na die winde van verandering buig. Die land se toenadering tot Rusland en China het intussen egter gesorg dat hulle uitgesluit is uit die 2014-RIMPAC-militêre see-oefeninge wat deur die VSA gelei is.

Rio Spele ingelui deur ‘n ontploffing

Die Rio Olimpiese Spele het met ‘n ontploffing afgeskop toe militêre plofstofdeskundiges ’n verdagte pakket naby aan die eindpunt van die mans se fietswedren by Copacabana-strand opgeblaas en vrees by toe­skouers ingeboesem het.

By ‘n perdesportbyeenkoms in Deodoro, wat op ’n militêre basis is, het ‘n dwaalkoeël deur die seildak van die mediasentrum geskeur en op die vloer beland.

“Alle owerhede het die versekering gegee dat die koeël niks met die Spele of die Olimpiese familie of die media te doen gehad het nie. Die area was nie die teiken nie,” het ’n woordvoerder van die Spele, Mario Andrada, gesê.

Die openingseremonie was ’n glansgeleentheid, met atlete van deelnemende lande wat ouder­gewoonde in die Maracanã Olimpiese stadion deur Griekeland binne­gelei is.

Meer as 11 000 atlete van 206 nasionale Olimpiese komitees, insluitende vir die eerste keer Kosovo en Suid-Soedan, neem vanjaar deel. Altesaam 28 sportdissiplines word aangebied, insluitende sewes-rugby­ en gholf, wat in 2009 deur die internasionale Olimpiese komitee ingesluit is.

Rio de Janeiro is die eerste Suid-Amerikaanse stad om die somer­spele aan te bied. Dit is ook die eerste keer dat die Olimpiese Spele in ’n Portugeessprekende land aangebied word en die hele somerspele in die winter aangebied word.

Die aanloop tot die Spele is deur omstredenheid geteister, insluitende die onstabiliteit van die land se federale regering, kommer oor gesondheid en veiligheid oor die Zika-­virus en ernstige besoedeling in Guanabara-baai.

Dwelmskandale het die Russiese span sowel as die Keniaanse span getref, en meegebring dat talle Russiese atlete verbied is om aan die Spele deel te neem, terwyl die Keniane steeds welkom is.

Dié politiekery om die Russe uit te hou sal sorg vir minder belangstelling. Ook is onthul dat die Spelekomitee nie naastenby genoeg fondse het nie en deur die staat geborg sal moet word.

Ten minste die helfte van Brasilië se inwoners is fel gekant teen die Spele.

VSA erken dat ISIS uitbrei

Ná die VSA Dinsdag nog lugaanvalle teen ISIS-teikens in Libië van stapel gestuur het – ‘n uitbreiding van Amerikaanse militêre operasies buite Irak en Sirië – het NBC News ‘n kaart van die globale uitbreiding van die terreurgroep bekom.

Die kaart is deel van ‘n geklassifiseerde inligtingstuk wat deur die Withuis ontvang opgedateer is vir “Augustus 2016” en wat voorberei is deur die Nasionale Teenterrorisme Sentrum.

Dit toon ‘n drie-voudige toename in die aantal plekke rondom die wêreld waar ISIS werksaam is.

Die VSA se departement van buitelandse sake het dokumente wat aandui dat in 2014, toe die Amerikaanse militêre veldtog teen die ekstremiste begin het, was daar net sewe lande waarin die terroriste aktief was.

Teen 2015, volgens die State Department se eie beramings, was dit reeds byna dubbel, met 13 lande.

Die huidige inligtingsessiekaart toon 18 lande waar ISIS ten volle operasioneel is. Die kaart vertoon ook ‘n nuwe kategorie – “aspiranttakke” – en ‘n lys van ses lande waar hulle wortel skiet, naamlik Egipte, Indonesië, Mali, die Filippyne, Somalië en Bangladesj.

Die VSA was suksesvol in die aanval op die “ISIS-kern” in Irak en Sirië, maar die “hittekaart” is waarskynlik ‘n baie groter een as al die aspirerende gebiede gewys word waar ISIS graag verder wil uitbrei en reeds terroriste-aanvalle uitgevoer het, sê ontleders.

“Dit is regverdig om te sê dat die hele ruimte tot stryd uitbrei vir ISIS,” het een NBC-ontleder bygevoeg.

In ‘n verkiesingsjaar waarin die stryd teen terreur ‘n fokuspunt is, erken selfs die Amerikaanse regering dat die slagveld al hoe groter raak.