Rousseff in staat van beskuldiging gestel met Rio Spele in volle swang

Met die oë van die wêreld op die Olim­piese Spele in Rio de Janeiro, het senatore in die Brasiliaanse hoofstad Brasilia, dié week met 59 stemme teen 21 teen die geskorste leier, Dilma Rousseff (foto bo) gestem, in ’n 20-uur lange sessie waarvan hoofregter Ricardo Lewandowski die voorsitter was.

’n Skuldigbevinding sal beslis daartoe lei dat Rousseff van haar pos onthef word en ’n einde aan die 13-jaar lange bewind van haar regerende Werkersparty maak. Dit sal meebring dat die tussentydse president, Michel Temer, die res van haar termyn tot 2018 sal volstaan.

Rousseff se teenstanders het net ’n eenvoudige meerderheid in die 81-setel senaat nodig gehad om haar te laat verhoor vir manipulering van regeringsrekeninge en besteding sonder goedkeuring van die kongres, wat hulle aanvoer haar gehelp het om in 2014 herkies te word.

’n Uitspraak word teen die einde van die maand verwag en sal ’n tweederdemeerderheid in die senaat verg om Rousseff skuldig te bevind. Dit is vyf stemme minder as wat haar opponente kon bemeester.

Woensdag se stemmery toon egter dat die beweging om van Rousseff ontslae te raak, steun in die senaat gewen het, wat in Mei met 55 stemme teen 22 gestem het om met beskuldigingsprosedures te begin, wat in Desember 2015 in die laerhuis geïnisieer is.

Dit sal Temer se hand versterk terwyl hy streef om sy eie legitimiteit te vestig en Brasilië se ontevrede onderklas te bestuur. Ten minste die helfte van die land is fel gekant teen die Spele.

Die heersende onsekerheid het sy pogings in die wiele gery om die fiskale krisis, wat hy van Rousseff geërf het, aan bande te lê. Waarnemers waarsku dat die ekonomie oënskynlik op pad is na die ergste resessie sedert die 1930’s.

Temer, Rousseff se konserwatiewe voormalige visepresident, wat die mag in Mei oorgeneem het, het senatore aangemoedig om die verhoor so vinnig moontlik af te handel sodat hy planne in werking kan stel om openbare besteding aan bande te lê, ’n oortoegeeflike pensioenskema kan hervorm en vertroue in die regering se finansies kan herstel.

Beleggers verwag dat indien Rousseff met die meer sakevriendelike Temer vervang word, dit Brasilië se wisselkoers sal verstewig en aandelepryse op die Sao Paulo-aandelebeurs sal opjaag.

Rousseff het ontken dat sy enige iets verkeerd gedoen het en skryf haar beskuldiging toe aan pro-Amerikaanse sameswering wat ’n tegniese boekhouding-slenter gebruik het om haar onwettig uit die kussings te lig.

Zuma klou soos ‘n neet

Suid-Afrika se president klou soos ‘n neet en sy vyande raak raadop.

Media24 en Times Media het reeds elke “meningsvormer” in Engels en Afrikaans ingespan om van die ou indoena ontslae te raak, maar Jacob Zuma steur hom nie daaraan nie.

Die DA-mosie om die president in ‘n staat van beskuldiging te plaas, is intussen in die Parlement verslaan.

Die presidensie het vroeër ‘n verklaring uitgereik wat lui dat mediaberigte verkeerd is en dat die Grondwethof slegs bevind het dat die president versuim het om sy Grondwetlike verpligtinge na te kom.

Zuma se vyande, het sy korreksie van mediaberigte dat hy nie sy ampseed oor die Nkandla-kwessie geskend het nie, as ‘n kwessie van semantiek afgemaak.

Selfs die bang, maar aandagsugtige Riaan van Heerden het met ‘n reuse kruippoging ook sy stemmetjie gevoeg by die beswaardes.

‘n Grondwetkenner, David Unterhalter moes toegee dat die president korrek is, en dat die uitspraak verkieslik meer politieke slaankrag moes opgelewer het.

Vroeër het die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel sy stem gevoeg by dié van Britse agente in die ANC wat Zuma gevra het om te bedank.

Manuel het in ‘n onderhoud met Soweto TV gesê die uitspraak teen die president dui op ‘n “groot krisis” omdat hy die grondwet geskend het.

Die voormalige tesourier-generaal van die ANC, Matthews Phosa, die ANC-veteraan Ahmed Kathrada en verskeie ander het ook reeds die president se bedanking geëis.

Die minister van finansies, Pravin Gordhan het gewaarsku dat kredietgraderingsagentskappe die politieke situasie in Suid-Afrika in ag sal neem waneer die land se kredietgradering later vanjaar hersien word.

Gordhan sê die politiek, die ekonomie en die fiskale situasie word oorweeg wanneer die agentskappe besluite neem.

Hy sê Suid-Afrikaners moet daarvan bewus wees.