Op haar Facebook-blad en in ‘n privaatepos, het die sangeres en Rooi-Oktober-aktivis Sunette Bridges ‘n uitspraak van dr. Dan Roodt – waarin hy noem dat redelike steun selfbeskikking vir Afrikaners moontlik sal maak – as ‘n “infame leuen” verwerp.
Bridges skryf:
Hierdie is jou stelling: Dan Roodt: “Melville, as die Front Nasionaal / Front National net ‘n paar 100 000 stemme kan kry, kan ons somme binne enkele maande ‘n volkstaat kry, met ‘n baie groot stuk grond en dele van die stedelike gebiede daarby!”
Ek volstaan daarby dat dit ‘n infame leuen is.
Voer julle debatte op FN se webblad, BKA en Praag. Ek is nie te vinde daarvoor nie.
Groete
Sunette
Dr. Dan Roodt, wat saam met verskeie ander groepe en aktiviste op die bestuur van die nuwe politieke party, Front Nasionaal dien, het hierop soos volg gereageer:
Beste Sunette,
Dis nogal ongelukkige woordgebruik om dit ‘n “infame leuen” te noem. Ek het ‘n mening uitgespreek, gegrond op my interpretasie van die grondwet en die volkereg.
Indien daar beduidende steun vir selfbeskikking is, beskik ons oor al die regte om dit uit te oefen! Die syfer wat blykbaar deur die VN aanvaar word vir “beduidende steun” is 35% van die bevolking. Gestel daar is 2 miljoen Afrikaners en ongeveer 1 miljoen stemgeregtigdes. Dan, indien 350 000 vir die FN stem, het ons ‘n saak uitgemaak om tot die volgende stap oor te gaan, naamlik onderhandeling oor grondgebied. Ons kan ook ander lande of internasionale organisasies vra om hierby te bemiddel.
Indien daar geen vordering is nie, is daar ander remedies ook. Uiteraard sal ons met omsigtigheid moet handel, maar ons kan selfs soos Kosowo oorgaan tot ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring. Dit sal ń aantal hofsake in SA en internasionaal ontketen waartydens ons kan bewys watter dele van die land ons reeds jare lank bewoon, waar ons monumente, dorpe, ens, geleë is, waarna die hof geen keuse sal hê as om ons gelyk te gee nie.
Die Kosowo-uitspraak van 2010 het die sogenaamde uti possidetis-reël gewysig en voortaan mag geen staat ‘n volk met identifiseerbare grondgebied in sy midde daarvan weerhou om onafhanklikheid te eis nie. Ook die SA Grondwet maak daarvoor voorsiening in artikel 235, maar die Grondwet is ondergeskik aan die volkereg in dié geval. En die volkereg steun ons saak nog baie sterker as die grondwet. Dis waarop my uitspraak gegrond is. Nou kan jy my vertel waarom ek verkeerd is.
Dit het tydens die hoogverraadverhoor in Bloemfontein aan die lig gekom dat Afrikanerr-informante wat deur die polisie gebruik word om op ander Afrikaners te spioeneer hoofsaaklik deur geld gemotiveer word.
Mnr. Jaco Scherman het vir die staat getuig dat sy “onderneming geldelike probleme ondervind en dat hy vir elke verslag wat hy vir sy hanteerder geskryf het, betaal is. Volgens hom “het hy nie baie geld ontvang nie, maar hoe meer inkriminerend die verslag is, hoe meer geld word ek betaal.”
Scherman getuig tans in die hoogverraadverhoor van mnr. Johan Prinsloo, wat na bewering deel van die “Bloemfontein-komplot” sou wees. Dié groep sou die ANC se nasionale kongres in Desember 2012 met mortiere en ander wapens aanval.
Volgens Scherman het hy “egter nie die groep vir die geld geïnfiltreer nie, maar omdat hy in reg en verkeerd glo”.
Prinsloo staan tereg op aanklagte van hoogverraad, sameswering om aan terreurdade deel te neem, asook die besit van onwettige ammunisie. Hy is in Desember tesame met Martin Keevy, Mark Trollip en Hein Boonzaaier in hegtenis geneem.
Die saak teen Boonzaaier is intussen teruggetrek en hy sy verhaal elders hier op praag vertel. Hy is besig om die staat vir miljoene rande weens wederregtelike arrestasie en gevangenskap te dagvaar.
Scherman het verder getuig dat hy Prinsloo in 2011 opgesoek het, nadat sy hanteerder hom aangesê het om ‘n organisasie genaamd die Vrye Burger-weerstandsbeweging binne te dring.
Honderde mense het by die nuwe politieke party, Front Nasionaal, aangesluit nadat die party se webwerf gistermiddag laat aanlyn verskyn het. Dít binne slegs enkele ure en sonder dat dit amptelik aangekondig is. Mnr. Hannes Engelbrecht, ‘n joernalis van Potchefstroom en aktivis van Boere-Krisis-Aksie, is onlangs op Dunottar tot leier van die party verkies.
Meeste mense het van die nuwe webblad via Twitter en Facebook verneem, met die nuus wat soos ‘n veldbrand versprei het. Vele mense op Facebook het gesê: “Daar is niemand anders om voor te stem nie. Julle het my stem!”
Een aktiewe PRAAG-lid het laat weet: “Ek is nou ‘n trotse lid van Front Nasionaal!” Dog een van ons lesers, ‘n Afrikaner uit Hamburg, Duitsland het op Facebook sy bedenkinge uitgespreek:
“Dit is myns insiens nie Praag se plek om enige politieke party te promoveer nie. Indien Praag die Afrikaner se Russia Today of Al Jazeera gaan word, kan hy nie bekostig om eensydigheid ten opsigte van steun aan ‘n spesifieke politieke entiteit te toon nie.”
Iemand anders uit Pretoria het weer gesê:
“Front Nasionaal moet nie net nog ‘n politieke party wees nie dit moet ‘n lewenswyse word. Politieke partye veral in blanke geledere geniet nie meer die aansien wat hulle vroeër jare gehad het nie. Front Nasionaal moet buiten partypolitiek ook direk betrokke raak by die Afrikanergemeenskap self want ek dink dis waar die probleem vandaan kom dat mense sê: ‘Maar politici soek net ons stem en na die verkiesing sien jy hulle nie meer nie.’ Die VF het die Afrikaner vergeet; dit gaan nou om ander politieke doelwitte as om Afrikanerselfbeskikking of -opheffing. Front Nasionaal moet uit die gemeenskap vir die gemeenskap wees.”
In sy algemene repliek op Facebook op hierdie en ander kommentare het dr. Dan Roodt, die onderleier van Front Nasionaal, soos volg gereageer:
“Front Nasionaal moet die parlementêre speerpunt van ‘n breë Afrikanerbeweging wees wat vir ons mense werk skep, ‘n plek in die ekonomie oopstoei, na hul veiligheid begin omsien, maar hulle ook van nuuts af aan weer opvoed en kultiveer. Ons is ook moeg vir Hollywood-losbandigheid, dekadensie, dwelms vir ons kinders waarmee ons bietjie-vir-bietjie finaal tot niks afgebreek word. Slawe, met ons jong dogters wat prostitute en dwelmslawe van Nigeriërs word. Hoe laag het ons nie geval onder die ‘leiding’ van FW en Naarpers nie!”
Anell Fourie, tesouriere van Front Nasionaal
Terselfdertyd sal sowel PRAAG as Front Nasionaal hul onderlinge identiteite behou, met PRAAG wat as gemeenskapsmedia-orgaan Afrikaanse nuus en menings publiseer, en Front Nasionaal wat die parlementêre geveg vir die Afrikaner en goedgesinde blankes aanpak.
Soortgelyk aan die nuwe Europese politieke partye wat opgang maak, bestaan Front Nasionaal ook nie uit beroepspolitici nie, maar uit ‘n verskeidenheid aktiviste en gewone mense. Die jongste FN-bestuurslid is die tesouriere, me. Anell Fourie van Pretoria, wat berading aan verkragtingslagoffers verskaf. Haar blootstelling aan die skadukant van die “reënboognasie” het haar oortuig om polities betrokke te raak. Sy het ook verlede jaar aktief aan die Rooi Oktober-betoging teen geweldsmisdaad deelgeneem.
Na afloop van ‘n debat op Facebook gisteraand, het mnr. Hannes Engelbrecht, leier van Front Nasionaal, die volgende verklaring uitgereik betreffende argumente wat tydens die debat gebruik is.
1. Eenheid
“Volkseenheid” en “saamstaan” is tot ‘n groot mate ‘n mite. Met die Groot Trek was daar talle trekleiers soos Tirchardt, Landman, Maritz ens. Plus sewe verskillende kerkgenootskappe. Teen die einde van die Tweede Vryheidsoorlog het tot soveel as 20% van die “Boere” as National Scouts en Hensoppers vir die Britse magte gewerk.
Selfs met Republiekwording het Verwoerd skaars meer as 50% steun gehad. Die naaste wat ons nog ooit aan “eenheid” was, was in 1977 toe Vorster meer as 70% van die stemme getrek het.
Ons is ‘n individualistiese volk (vanuit ons Franse erfenis) en pleks dat ons dit as ‘n swakheid moet beskou, moet ons dit eerder as ‘n sterkpunt beskou, want dit het nog altyd debat gestimuleer. Ons spits ons toe op daardie enersdenkendes wat dieselfde kultuur en Westerse lewensbeskouing het.
2. Vryheidsfront
Dr. Pieter Mulder van die VF Plus, in koalisie met die ANC, ‘n multikulturele party.
Elke politieke handboek en elke woordeboek in die hele wye wêreld sal dieselfde definisie gee as ‘n persoon van een party in ‘n ander party se regering dien: dis ‘n “koalisie”, “alliansie” of “pakt”. Jy kan die adjunkministerskap van dr Mulder versiersuiker soos jy wil en dosyne redes daarvoor aanvoer – dit bly ‘n feit. Dis ‘n koalisie met ‘n multikulturele party. Presies dieselfde met die “koalisie” wat nou voor die verkiesing met die oorwegend swart en multikulturele partye soos Cope aangekondig is. Hoe kan jy praat van selfbeskikking en terselfdertyd ‘n multikulturele koalisie goedpraat? Ons het geen probleem met die VF+ se geskrewe beleid of sy lede nie. Ons het wel ‘n enorme probleem met die siening van die leierskap.
3. Deelname
Front Nasionaal neem deel aan die verkiesing, nie om deel van ‘n multikulturele staat te word nie, maar om ten minste ons saak vir selfbeskikking op die internasionale toneel te plaas. Enigeen wat dink jy gaan iets regkry sonder internasionale steun en sonder instemming van die Verenigde Nasies is bietjie naïef. Die VN en wêreldregerings steur hulle eenvoudig nie aan kleiner groepies nie, maak nie saak hoe sterk jou saak is of hoe goed jou argumente is nie. Ons sal móét steun bewys vir selfbeskikking en die verkiesing as “referendum” is ‘n goeie begin. Vir iets om aan die VN voorgelê te word moet ‘n lidland van die VN die saak vir jou verder voer. Ons het reeds gesien hoe die Nederlandse en Vlaamse parlementslede van die Europese Parlement ons saak stel in 2012 en 2013. As die Franse Front Nasionaal en die Griekse Golden Dawn se parlementslede ons ook begin steun, word die saak al sterker. Ongelukkig is selfbeskikking ‘n “politieke saak” en Europese “politici” moet ons ondersteun; en politici verstaan net één ding: stemme vir ‘n saak tydens ‘n verkiesing.
4. Nog ‘n party
Sedert 1910 was daar nog altyd vier of vyf “wit” partye en dit het voortgeduur tot 1994. Sedertdien het ons baie buite-parlementêre partye en een parlementêre party – die Vryheidsfront. Ongelukkig is dit so dat jy nie uit blinde lojaliteit vir ‘n party moet stem nie. As die VF+ nie in 20 jaar uiting gegee het aan dít wat ons verwag nie, is dit tyd vir ‘n nuwe party. Nes die Mulders, Groenewalds en Boshoffs die reg het om ‘n politieke party te bedryf; net so het enigiemand anders ook die reg om ‘n politieke party te bedryf. Ons standpunt is dat as 10% van die bevolking wit is, daar darem seker 5% parlementariers moet wees wat na ons belange omsien? Wie gaan vir ons baklei teen regstellende aksie, kwotas, diskriminasie, swart ekonomiese bemagtiging?
5. Geldsake
Die DA gaan sowat R174m aan die verkiesing bestee. Dis aanvaarde praktyk (mens argumenteer nie eers daaroor nie) dat partye geld insamel vir hulle stryd. Selfs kleiner organisasies soos Boervroueliga, FAK, AWB samel geld in om hulle doelstellings na te streef. Front Nasionaal het die reg om verkiesingsgeld in te samel – ons het die reg om dit te bestee om ons beleid te bevorder. Dit het deur die eeue so gewerk en dit werk nog steeds so.
6. Persoonlikhede
FRONT NASIONAAL is nie rondom persoonlikhede gebou nie, want persoonlikhede het op die ou einde voete van klei. Ons dagbestuurslede is nie van dieselfde dorp/stad of selfs dieselfde provinsie nie. Ons is wyd versprei onder mense wat net dieselfde doel nastreef van oral in die land. Ons het ook die mees demokratiese Reglement van Orde van enige SA politieke party met ‘n stelsel van terugroeping/”recall” soos in die Voortrekker- en Boererepublieke gegeld het en wat nou nog in Swede en Switserland van krag is. Terugroeping beteken dat enige kongres van FN te eniger tyd met ‘n gewone meerderheidstem ontslae kan raak van enige verkose ampsdraer wat nie sy of haar werk doen nie. Daarby moet die dagbestuur elke drie jaar weer verkies word. FN wil nie mense in posisies plaas waar hulle vir twintig jaar sit en niks doen en jy kan nie ontslae raak van hulle nie.
Ook ons aanwysing van kandidate is die modernste in die hele SA. Sewe dagbestuurslede oorweeg lyste as individue, waarna die sewe lyste gekonsolideer word. Daarmee keer ons dat families en vriende bevoordeel word. (Kyk gerus na die omstrede kandidatelys van die DA wat eintlik maar deur Zille opgestel is met haar voormalige woordvoerder en sekretaris wat hoog op die lys is). Van die Vryheidsfront se nepotisme gaan ek nie eers praat nie.
7. Sosiale media
Die sosiale media is hoog op ons prioriteitslys. Ons almal weet van Naspers se rol in 1994 se oorgawe en die rol wat hulle steeds speel. Vir die eerste keer in die laaste vyftig jaar bereik ons deur Facebook en Twitter meer mense as wat Naspers se Afrikaanse koerante bereik. Ons moet daarvan gebruikmaak. Beeld, Volksblad en Burger kan ons ignoreer soos hulle wil – ons boodskap gaan na honderde duisende mense toe. Natuurlik gaan almal wat jou boodskap kry nie vir jou stem nie, maar ten minste gaan hulle weet van jou; iets wat nie in die verlede die geval was nie.
8. ‘n Wiskundige model
‘n Wiskundige model wat deur nagraadse studente van die PUK gebruik is, het gewys dat ons kan reken op omtrent 500.000 stemme. Ons nismark was daardie 800.000 mense wat “nee” gestem het tydens die 94-verkiesing. ‘n Meevaller is derduisende wat skielik moeg geraak het vir die DA en ook mense wat ontnugter is deur ander partye. Ons besef ons tyd is kort om verkiesing te veg en mense te oortuig. Ons het daarom nie ‘n idée hoeveel stemme ‘n mens regtig kan verwag nie. Ons sal enigiets bokant 50.000 as ‘n bonus beskou. Maar my hart is op ‘n halfmiljoen stemme en tien volksverteenwoordigers wat uit ons belastinggeld betaal word eerder as tien “multikulturele parlementariërs” van ander partye.
9. Selfbeskikking
Selfbeskikking gebeur nie oornag nie. Dit sal waarskynlik nie in my, dr Dan Roodt of Gordon Fox se leeftyd gebeur nie. Dis ‘n lang proses wat stapsgewys gevolg moet word. Eerste prioriteite is om beheer oor jou eie onderwys, kultuur en volkslewe te verkry. Om ‘n grondgebied te bepaal, was die werk van die Volkstaatraad – dit het ongelukkig nie gerealiseer nie. Ons sal moet om ‘n ronde tafel kyk na ons demografiese, stempatrone en geskiedkundige aansprake. Orania, Boererepublieke, Noord-Kaap, Ohrigstad, Oase; almal; sal moet insette lewer. Ons gaan beslis nie op ‘n klein plekkie sit en krepeer nie – daarvoor het ons voorouers te veel in hierdie land belê. Dit moet lewensvatbaar wees.
10. Boer vs Afrikaner
Ons stel nie belang in so ‘n debat nie. Dit is reeds in 1992/93 afgehandel en was een van die groot redes waarom die “Nee”-stem verloor het en ons in vandag se chaos beland het. Afrikaander is reeds in die 1700s gebruik. De la Rey se sekretaris het gepraat van Afrikaners. Ons was al Vryburgers, Voortrekkers, Boere, Afrikaners, Bittereinders… Boer is ‘n kulturele begrip en Afrikaner ‘n geskiedkundige begrip. Dis snaaks dat diegene wat nou die term “Boer” vir hulleself wil opeis en al die ander tot die hel wil verdoem, géén beswaar gehad het om tydens die Grensoorlog in die loopgraaf saam met die Kaapse Afrikaner, die Porra of die Soutie te lê nie! Hulle haal ook nie graag aan dat daar tydens die Vryheidsoorlog ‘n Ierse, Russiese, Buitelander- en Nederlandse kommando was wat saam met die Boere geveg het nie en dat tientalle Kaapse Rebelle deur die Britte tereggestel is nie.
Die burgerregtegroep Afriforum wil appelleer teen die besluit van die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika om nie ‘n klagte oor onetiese gedrag te ondersoek nie.
‘n Klagte is by die Raad ingedien teen die LUR vir Gesondheid in KwaZulu-Natal, Sbongiseni Dhlomo en die voormalige Geneesheer-Generaal, Vejaynand Ramlakan.
Die twee het vroeër erken dat hulle destyds in 1985 plofstof vir ‘n reeks aanvalle op burgerlike teikens verskaf het.
Die uitvoerende hoof van Afriforum, Kallie Kriel, sê hulle is van mening dat die Raad se besluit polities gedrewe is en daar geen regsgronde daarvoor bestaan nie.
Die Raad verwys na artikel 31 van die wet op die Waarheidskommissie, wat bepaal dat geen getuienis daarvan in strafregtelike sake gebruik mag word nie.
Kriel sê dit is geen strafregtelike prosedure nie, en bloot ‘n verskoning om ‘n skuiwergat te kry.
Die Raad oorweeg tans die skorsing van dr Wouter Basson uit die mediese beroep nadat hy skuldig bevind is aan onetiese gedrag.
Basson is in Desember verlede jaar deur ‘n tugpaneel van die raad op gesondheidsberoepe (RGB) in Pretoria skuldig bevind aan onprofessionele en onetiese gedrag in verband met sy betrokkenheid by die ontwikkeling van chemiese en biologiese wapens onder die NP-bewind.
Prof. Jannie Hugo, voorsitter van die tugpaneel, het gesê Basson was steeds ‘n mediese dokter wat etiese regulasies ook in tye van konflik moes oorweeg.
Basson het vroeër aangevoer dat hy as hoof van Projek Coast en Delta G ten eerste ‘n soldaat was en nie ‘n dokter nie, bevele uitgevoer het, en dat mediese etiese regulasies in gedurende konflik van vredesitasies verskil.
Aanklagte teen ‘n vermeende plaasmoordenaar is Donderdag teruggetrek.
Dit is een van drie swart verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle Sarel Pretorius op die plaas Roodepoort naby Barkly-Oos vermoor het.
‘n Klerk van die hof sê onvoldoende bewyse teen Thandeka Mthiyane (33) het veroorsaak dat die aanklagte teruggetrek is in die landdroshof op Barkly-Oos.
Die saak teen die ander twee beskuldigdes, Bongani Nojokwe (31) en Vumile Dingalibala (28) is tot 13 Februarie uitgestel en die twee sal in polisie-aanhouding bly.
Nojokwe en Dingalibala is in Gauteng vasgetrek na ’n intensiewe ondersoek. Pretorius is twee weke gelede vermoor en sy vrou is in die badkamer toegesluit tydens die aanval.
Mthiyane het saam met die twee verdagtes in die hof verskyn as ’n medepligtige van Gauteng.
Tydens die inhegtenisneming is daar op R74 000 kontant en twee 9 mm-pistole beslag gelê.
Die bekende Trichardt-gedenkmonument, ‘n wawiel, in die middestad van Nelspruit met sy historiese brons sonwyser, is oopgebreek en van alles gestroop.
Die loodkapsule wat sedert 1938 in die monument bewaar word en eers in 2038 oppgemaak moes word, is ook weg.
Die sogenaamde tydkapsule sou ondermeer historiese dokumente bevat om die Groot Trek se eeufees in 1938 te herdenk.
Gerugte dat twee Transvaalse veldponde vir bewaring deur die nageslag in die kapsule in Nelspruit geplaas is, doen al lankal die rondte.
Dit is egter onwaarskynlik dat die metaalstropers daarvan sou weet.
‘n Goue veldpond kan deedae tot ‘n miljoen rand stuk op die wêreld muntmark haal. Dis die mees gesogte munt ooit uit Suid Afrika.
Minder as 900 daarvan is ten tye van die Vryheidsoorlog op Pelgrimsrus gemunt van die staatsgoud uit Pretoria wat later as die mistieke Kruger Miljoene bekend sou staan.
Die Historiese Belangegroep van Mpumalanga het sy telleurstelling oor die skending van ‘n erfenis baken uitgespreek.
‘n Dingende beroep word op skroothandelaars gedoen om op die uitkyk te wees vir die sonwyser en dit liewer terug te besorg as om dit te vernietig.
Planne om die stadsraad te nader en die sonwyser en tydkapsule in veilige bewaring te plaas en die brons met ‘n harsnamaaksel te vervang, is nooit ten uitvoere gebring nie.
Die Waterkloof-vier sal op 11 Februarie vrygelaat word, het Beeld berig.
Christoff Becker, Reinach Tiedt, Gert van Schalkwyk en Frikkie du Preez, almal van Waterkloofhoërskool wat in Januarie 2007 in die Pretoriase landdroshof elk tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is weens onder meer moord, kan op paroolontslag staatmaak.
Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het hul parool Woensdagaand bevestig.
“Hulle kon voordeel trek uit ’n spesiale vonnisvermindering van ses maande. Ingevolge wetgewing het die vier nou die helfte van hul vonnisse uitgedien en het hulle in aanmerking gekom vir parool totdat hul vonnisse in 2019 verval.
Die departement het gesê daar word van hulle verwag om aan streng paroolvoorwaardes te voldoen en enige oortreding kan hul terugstuur na die gevangenis.
Die boeke van ‘n gewilde skrywer is van die Christelike Uitgewers Maatskappy (CUM) se winkelrakke gehaal, na Huisgenoot berig het oor sy beweerde kindermolestering.
Ds. Solly Ozrovech se ouers was Poolse Jode wat na Suid-Afrika geïmmigreer het om die sogenaamde Jodeslagting van die Tweede Wêreldoorlog vry te spring.
Nadat albei sy ouers in ‘n motorongeluk oorlede is, is hy wees gelaat en het weens ‘n misverstand in die Afrikaanse weeshuis in Ugie beland, pleks van die Joodse weeshuis in Brixton.
Twee mans wat anoniem wil bly, beweer dat hulle deur Ozrovech gemolesteer is.
Die eerste man beweer dat hy as tienjarige weeskind gesodomiseer is deur Ozrovech, toe direkteur van die M.T.R. Smit-kinderoord in die Oos-Kaap.
’n Tweede beweerde slagoffer het soortgelyke voorvalle beskryf.
Ozrovech het met regstappe teen die tydskrif begin.
Jacques Louw, Ozrovech se prokureur, het bevestig dat Huisgenoot vir laster gedagvaar sal word.
DUNNOTTAR – Die nuutverkose leier van Front Nasionaal, Hannes Engelbrecht, het in sy eerste openbare optrede Churchill se woorde aangehaal: “Ek is nie die leeu nie, maar die lot het op my geval om die leeu se brul te gee”. Hy is geen Moses wat as die groot Afrikaner- of Boereleier die volk uit die ellende kan lei nie, maar met ‘n sterk dagbestuur kan FN groei en uiting gee aan die mense se strewe.
Lede van die dagbestuur wat tydens ‘n vergadering op Dunnottar aan die Oos-Rand verkies is:
Leier: Hannes Engelbrecht
Onderleier: Dr Dan Roodt (met spesiale mag tot mediaskakeling)
Voorsitter: Gordon Fox
Sekretaris: David Spohr
Tesourier: Anell Fourie
Addisioneel: Jean Cilliers
Addisioneel: Berto Ramos (met spesiale mag tot regsverteenwoordiging)
Die volgende streeksleiers maak deel van die Hoofbestuur uit:
Vrystaat: Schalk van der Merwe
Noord-Kaap: Jannie Kuhn
Gauteng: Willie Cloete (oorkoepelend – Noord, Suid en Sentraal).
Gauteng-Suid: Hans Johansen
Gauteng-Noord: Trevor Stumpke
Hannes Engelbrecht
Engelbrecht het genoem dat veral die jongeres soveel ondervinding as moontlik moet opdoen sodat hulle oor twee of drie jaar die leisels kan oorneem, want dit is juis die jongeres wat ly onder regstellende aksie, kwotas en swart ekonomiese bemagtiging.
“Baie sal afhang van mense soos dr Dan Roodt om met mediaskakeling die party te bemark,” meen Engelbrecht.
Vroeër het die voorsitter, Gordon Fox, gese dat dit ‘n lang pad sal wees om selfbeskikking te verkry, maar dat dit iets is wat gedoen moet word, want die paadjie raak al styler in Suid Afrika.
Ná die vergadering het van die aanwesiges gekuier, is ruitplakkers uitgedeel en het verskeie boere en sakemanne van die omgewing lidmaatskapvorms ingevul.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge sê 81% van alle moorde wat in Suid-Afrika plaasvind, is in swart huishoudings.
Dié syfer wat kwansuis ras met moord verbind, is erg vreemd aangesien sulke inligting juis nie deur die SAPD verskaf word nie.
Dit is ook voorts welbekend dat die polisie plaasaanvalle doelbewus as gewone misdaad aanteken, terwyl dit spesifiek haatmisdade is wat teen blanke grondeienaars gemik word.
Bronne in die polisie het aan praag dokumentasie gewys van hoe daar met die bewyse gepeuter word.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens is 16.259 mense is in 2013 vermoor.
Omdat 79% van die Suid-Afrikaanse huishoudings – volgens die jongste sensussyfers – swart is, beweer die SAIR dat swart mense proporsioneel meer geraak word deur moord as ander bevolkingsgroep.
Van die 14,6 miljoen huishoudings in Suid-Afrika, is 79% swart, 11% wit, 7,3% bruin en 2,3% Indiër, sê Statistiek Suid-Afrika.
Frans Cronjé, die uitvoerende hoof van die SAIR sê: “Dit is nie waar om te sê dat mense van ‘n sekere rassegroep, veral blankes, meer as ‘n ander geteiken word nie. En ek dink nie dit is ‘n tendens wat vinnig sal verander nie.”
Cronjé was oudergewoonte stom oor plaasmoorde wat duidelik deur rassehaat gedryf word en waar wittes geteiken word.
Hy het voorheen blankes daarvan beskuldig dat hulle nie boetvaardig genoeg is nie. Dit is nie bekend of hy verwant is aan die mediese dokter met dieselfde naam nie.
Sy eie plan B vir die rewolusie wat hy voorspel, is dat sy vrou Amerikaans is en hulle Amerikaanse burgerskap het.
Sowat 44 mense word gemiddeld in Suid-Afrika per dag vermoor, waarvan ten minste 20 wit is.
Wit mense is net 9% (4 500 000) van die demografie in Suid-Afrika en daarom is die wit moordkoers in Suid-Afrika kommerwekkend.
Steve Hofmeyr het dalk met die gereg gebots, maar Afrikaans se superster kon nie voorbly om handtekeninge by die hof uit deel nie.
Ten spyte van sy swaar straf, het Hofmeyr sy gewone sin vir humor behou toe hy aan die Pretoria News gesê het die R10 000-boete wat hy ontvang het Donderdag vir spoed sal ‘n duik in sy wittebroodbegroting maak.
Hierdie keer is die vrou Janine van der Vyver. Hy wou egter nie verder kommentaar lewer op sy beplande troue nie.
Hofmeyr, 49, het Donderdag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn . Hy is in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur op 19 Desember.
Hy het skuldig gepleit op die spoedoorteding. Hy het ingestem om die boete te betaal, maar het versoek dat sy lisensie nie opgeskort word nie.
Hofmeyr het in ‘n verklaring deur sy prokureur gesê weens sy beroep reis hy tot 12 000 km per maand om sy verpligtinge na te kom .
“Dit is die eerste keer dat ek in hegtenis geneem is ten spyte van my uitgebreide reise,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Hy het gesê hy is op sosiale media gekasty vir sy oortreding .
Landdros Elsie Schnetler het gesê sy kan sien Hofmeyr berou.
Hofmeyr is gevang dat hy 169kmh in ‘n 120 kmh-sone in sy swart Chrysler C300 op die N4 ry naby die Wilgerivier-afrit. Hy was laat vir ‘n konsert in Badplaas.
Die nudis, Beau Brummell – in die klere – het Hofmeyr in die hof kom ondersteun en vir hom gefluister in die beskuldigdebank.
“Ek is so bly vir Steve. Ek het selfs die geld gebring om te help om die boete te betaal indien hy dit nodig sou gehad het.
“Ek was so bang hulle vat sy lisensie, want dit sou ‘n ramp gewees het,” het Brummell buite die hof gesê .
Hofmeyr het vyf kinders. Hy was voorheen getroud met Egoli-aktrise Natasha Sutherland.
Haasliefhebbers het hulself na Twitter gewend in ‘n poging om die oryctolagus cuniculus in die oor van die standbeeld van Nelson Mandela by die Uniegebou te red.
Sommige bronne beweer die haas is eerder ‘n pedetes capensis, of lepus saxatilis en ander sê weer dis die lepus californicus.
Maar ‘n vlakhaas of kolhaas is nie van brons nie en volgens ingeligte bronne bestaan die paashaas nie.
Dit is ironies dat Suid-Afrikaners enersyds spook om op Robbeneiland die getalle van ons ingevoerde konyne te verminder en terwyl een van ons eie konynsoorte, die oewerkonyn, stadig maar seker van die aangesig van die aarde verdwyn.
Die standbeeld pryk aan die voorkant van die Uniegebou in Pretoria en is op Geloftedag, 16 Desember verlede jaar onthul.
Die soort konyn wat hom op ons ghwano-eilande en ook op Robbeneiland aan ons kus tuis gemaak het, is geen Afrika-boorling nie, maar van oorsee ingevoer en word as een van die wêreld se ergste indringerspesies beskou.
Op Robbeneiland het die Europese konyn naamlik so geil aangeteel dat drastiese stappe nodig geword het om die plaag te bestry. Die aankondiging dat sowat tienduisend van die konyne van kant gemaak sou moes word, is nie goed ontvang deur diereliefhebbers nie. Maar wat, word gevra, is die alternatief?
Robbeneiland, ’n Wêrelderfenisgebied, ervaar ’n geweldige ekologiese krisis. Diere soos springbokke en bontebokke vrek by die hope omdat daar te min groenigheid oor is om te vreet.
Die konyne is al eeue op die eiland: die eerstes is soheentoe gebring enkele jare nadat Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het, hoofsaaklik sodat die ou pioniers hul vleis kon eet. Die konyne het aangeteel, maar katte wat ook na die eiland gebring is, het hul getalle in toom gehou.
Die katte het op hul beurt egter boonop kwaai onder die seevoëls gemaai. Eindelik word toe besluit om die katte van kant te maak… iets wat op sy beurt die konyne die vrye teuels gegee het om te vermenigvuldig.
En as al die konyne uiteindelik dood is—só waarsku ’n kenner—kan die groter beskikbaarheid van voedsel dalk weer tot ’n ontploffing in die eiland se rotbevolking lei.
Waar eindig so ’n onheilige kettingreaksie? Dit kan ’n mens wel vra.
Maar só kan een ding tot die ander lei waar die mens in die gang van die natuur inmeng.
Diegene wat ten gunste van die beeldhouers se verborge handtekening is, hoop twiets gaan die haas red.
Die klein hasie wat kunstenaars Andre Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren by die 9m bronsoorgeblaasde Mandela-figuur gevoeg het, se lewe is weliswaar in gevaar.
Die departement van kuns en kultuur se woordvoerder Mogomotsi Mogodiri sê die haas moet weg. Dit sal egter ‘n skending van die integriteit van die kunswerk beteken.
Die departement het net bewus van die bestaan van die haas geraak na ‘n medianavraag en het daarna die maatskappy wat die twee beeldhouers opdrag gegee het, gekontak om te kla.
Koketso Growth, ‘n kulturele erfenis en toerisme liggaam is in Mei 2013 deur die departement aangestel om die skepping en installasie van die standbeeld te onderneem. Alhoewel daar beweer word dat dit weer ‘n nuwe geldstelery was, word daar ook gesê dat ‘n standbeeld onontbeerlik was vir die mediasirkus met Mandela se begrafnis.
Dali Tambo is onthuts deur die ontdekking van die haas. Tambo, die seun van wyle Oliver Tambo, is heel toevallig, verbasend genoeg, die HUB van die maatskappy en beskryf die handtekening as ‘n “sinnelose lawwigheid”.
Die vraag bly steeds hoekom die kunstenaars in die eerste plek verbied is om hul handtekening op die beeld te plaas.
Bronne sê dat die ANC wou nie Afrikaanse name op die beeld hê nie. Die beeldhouers wou dalk self nie hul name toevoeg nie.
“Die maatskappy het gesê die beeldhouers het om verskoning gevra aan die Minister, die departement en die familie. Ons het dit op rekord.”