Wit onderwyseres afgedank na sy swarte oor hare betig

‘n Afgetrede onderwyseres, wat afgedank is nadat sy glo ‘n swart leerling van ‘n spog-meisieskool in Bloemfontein by die skool se naskoolsentrum “aangerand” het, gaan haar afdanking by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) beveg.

Dit kom nadat die onderwyseres wat meer as vier jaar verbonde is aan die sentrum, waar kinders hoofsaaklik hulp ontvang met hul huiswerk, verlede week in ‘n interne verhoor skuldig bevind en summier uit haar pos ontslaan is.

Adv. Pieter Venter, wat namens haar optree, sê voorvalle waarby kinders of ‘n spesifieke rassegroep betrokke is, is sensitief, maar die skool het onbillik opgetree.

Hy meen die voorsitter van die interne verhoor het nie ‘n vorige vals aantyging wat deur dieselfde leerling teen dié onderwyser gemaak is in ag geneem nie.

Venter hou vol sy kliënt het nie die leerling aangerand nie, maar slegs probeer om die leerling se hand uit haar hare te haal nadat sy die leerling gevra het om haar skoolboeke uit te haal en met haar huiswerk voort te gaan.

Die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie hoor die saak op 29 April aan.

Niemand van die skool kon tot dusver reageer op OFM-nuus se telefoniese navrae nie.

Oranje Meisieskool moet swembadwater gebruik weens watertekort

Oranje Meisieskool
Oranje Meisieskool

Honderde meisies van Oranje Meisieskool het begin om die skool se swembad te benut vir water weens die erge watertekort in Bloemfontein.

Die Mangaung Metroraad sê egter die grootskaalse wateronderbrekings in die stad se noordelike voorstede sal eersdaags iets van die verlede wees.

Watertekorte veroorsaak groot ongerief vir inwoners.

Inwoners wat na die munisipale kantore opgeruk het, is deur die polisie voorgekeer omdat die betoging klaarblyklik onwettig was.

‘n Munisipale woordvoerder het gesê die Metroraad het miljoene rand bestee om die probleem aan te spreek.

Die woordvoerder sê hulle het ‘n kontrak van sowat R70 miljoen gesluit vir die aankoop van nuwe pompe.

Die geld sal aangewend word om die infrastruktuur te verbeter en te verseker dat daar in inwoners se waterbehoeftes voorsien word.