Solly Ozrovech se boeke van winkelrakke na beweerde molestering

Ds. Solly Osrovech
Ds. Solly Ozrovech

Die boeke van ‘n gewilde skrywer is van die Christelike Uitgewers Maatskappy (CUM) se winkelrakke gehaal, na Huisgenoot berig het oor sy beweerde kindermolestering.

Ds. Solly Ozrovech se ouers was Poolse Jode wat na Suid-Afrika geïmmigreer het om die sogenaamde Jodeslagting van die Tweede Wêreldoorlog vry te spring.

Nadat albei sy ouers in ‘n motorongeluk oorlede is, is hy wees gelaat en het weens ‘n misverstand in die Afrikaanse weeshuis in Ugie beland, pleks van die Joodse weeshuis in Brixton.

Twee mans wat anoniem wil bly, beweer dat hulle deur Ozrovech gemolesteer is.

Die eerste man beweer dat hy as tienjarige weeskind gesodomiseer is deur Ozrovech, toe direkteur van die M.T.R. Smit-kinderoord in die Oos-Kaap.

’n Tweede beweerde slagoffer het soortgelyke voorvalle beskryf.

Ozrovech het met regstappe teen die tydskrif begin.

Jacques Louw, Ozrovech se prokureur, het bevestig dat Huisgenoot vir laster gedagvaar sal word.

Duitse pedofiel-priester kry borg in SA

katoliekSuid-Afrika het ‘n Duitse Katolieke priester wat vir kindermolestering deur Duitsland gesoek word, op borgtog vrygelaat, maar hy sal in November weens soortgelyke dade verhoor word.

Die priester, wie se identiteit nie gegee is nie, is in sy vyftigs en van Aachen in die weste van Duitsland. Hy is in hegtenis geneem op 13 September toe hy die hof Brits verlaat het.

Hy het verskyn vir aanranding en dade van onsedelikheid.

Sy inhegtensiname kom ná ‘n internasionale lasbrief en ‘n Duitse uitleweringsversoek ‘n paar jaar gelede uitgereik is, het bronne vertroud met die saak gesê.

Borgtog is vasgestel op R5000 en hy is voorwaardelik vrygelaat. Hy woon by die Ishowe–bisdom in Kwazulu-Natal.

Die Suid-Afrikaanse verhoor sal op 8 November begin. Ná November se verhoor sal die priester uitgelewer kan word aan Duitsland.

Die dade van onsedelikheid is na bewering in 2008 met vier seuns gepleeg wat toe tussen nege en 10 was, van hulle van Duitse oorsprong, tydens ‘n Katolieke jeugkamp naby Johannesburg.

Hulle het gekla dat die priester hulle na sy bed genooi het en onvanpas betas het. – Sapa/AFP

Kuns wat almal koud laat

Ekshibisionisme as kuns
Ekshibisionisme as kuns

Afrikaners en selfs Suid-Afrikaners kan daarvoor vergewe word dat hulle nie op hoogte is van die jongste internasionale kunswerk waarby een van hul landgenote betrokke is nie.

Nie baie mense ken die naam Steven Cohen nie, en met nadere kennismaking sal hulle waarskynlik ook nie lus voel om meer te wete te kom nie.

Cohen het dié week die internasionale nuus gehaal met sy kunswerk in Parys waar hy nakend, behalwe vir ‘n korset en ‘n paar vere, ‘n hoenderhaan aan sy ontblote geslagsdeel vasgemaak het op die Place du Trocadéro by die Eiffeltoring in Parys, Frankryk.

Franse, sowel as toeriste, moes tien minute lank sy kuns gadeslaan voordat die polisie opgedaag het om Cohen in hegtenis te neem. Hy is vir 10 ure aangehou, ondervra en psigiatries geëvalueer.

Cohen se regsverteenwoordiger Agnès Tricoire het aan die koerant, Le Parisien, gesê dis ‘n “skande dat Frankryk kunstenaars uit Suid-Afrika in die tronk smyt”.

Cohen het heel in sy noppies geklink toe hy aan die Sunday Times verduidelik het dat die klag teen hom ernstig is en op dieselfde vlak as kindermolestering asook ‘n belediging van Franse nasionale trots weens die simboliese gebruik van ‘n hoenderhaan.

Cohen se kunswerk is deur ‘n stigting, La Maison Rouge, befonds. Hy is glo woedend dat hy nie deur Suid-Afrikaners ondersteun word nie weens “magspolitiek”. Dit is nie duidelik of Cohen die term begryp nie.

Hy sê hy is wit, Joods en homoseksueel en het voorheen Suid-Afrikaners vervreem met sy kuns. Blykbaar het hy pas dieselfde gedoen in Frankryk, te oordeel aan die manier waarop die owerhede sy kunswerk behandel het.

Mevrou Tricoire het hom van ‘n tronksel gered, nadat sy vertoë aan die ministerie van kultuur gerig het om hom vry te laat tot sy verskyning op 16 Desember.