Die haas neem oor!

eurokonyn
oryctolagus cuniculus

Haasliefhebbers het hulself na Twitter gewend in ‘n poging om die oryctolagus cuniculus in die oor van die standbeeld van Nelson Mandela by die Uniegebou te red.

Sommige bronne beweer die haas is eerder ‘n pedetes capensis, of lepus saxatilis en ander sê weer dis die lepus californicus.

Maar ‘n vlakhaas of kolhaas is nie van brons nie en volgens ingeligte bronne bestaan die paashaas nie.

Dit is ironies dat Suid-Afrikaners enersyds spook om op Robbeneiland die getalle van ons ingevoerde konyne te verminder en terwyl een van ons eie konynsoorte, die oewerkonyn, stadig maar seker van die aangesig van die aarde verdwyn.

Die standbeeld pryk aan die voorkant van die Uniegebou in Pretoria en is op Geloftedag, 16 Desember verlede jaar onthul.

Die soort konyn wat hom op ons ghwano-eilande en ook op Robbeneiland aan ons kus tuis gemaak het, is geen Afrika-boorling nie, maar van oorsee ingevoer en word as een van die wêreld se ergste indringerspesies beskou.

Op Robben­eiland het die Europese konyn naamlik so geil aangeteel dat drastiese stappe nodig geword het om die plaag te bestry. Die aankondiging dat sowat tienduisend van die konyne van kant gemaak sou moes word, is nie goed ontvang deur diereliefhebbers nie. Maar wat, word gevra, is die alternatief?

Robbeneiland, ’n Wêreld­erfenisgebied, ervaar ’n geweldige ekologiese krisis. Diere soos springbokke en bontebokke vrek by die hope omdat daar te min groenigheid oor is om te vreet.

Die konyne is al eeue op die eiland: die eerstes is soheentoe gebring enkele jare nadat Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het, hoofsaaklik sodat die ou pioniers hul vleis kon eet. Die konyne het aangeteel, maar katte wat ook na die eiland gebring is, het hul getalle in toom gehou.

Die katte het op hul beurt egter boonop kwaai onder die seevoëls gemaai. Eindelik word toe besluit om die katte van kant te maak… iets wat op sy beurt die konyne die vrye teuels gegee het om te vermenigvuldig.

En as al die konyne uiteindelik dood is—só waarsku ’n kenner—kan die groter beskikbaarheid van voedsel dalk weer tot ’n ontploffing in die eiland se rotbevolking lei.

Waar eindig so ’n onheilige kettingreaksie? Dit kan ’n mens wel vra.

Maar só kan een ding tot die ander lei waar die mens in die gang van die natuur inmeng.

Diegene wat ten gunste van die beeldhouers se verborge handtekening is, hoop twiets gaan die haas red.

Die klein hasie wat kunstenaars Andre Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren by die 9m bronsoorgeblaasde Mandela-figuur gevoeg het, se lewe is weliswaar in gevaar.

Die departement van kuns en kultuur se woordvoerder Mogomotsi Mogodiri sê die haas moet weg. Dit sal egter ‘n skending van die integriteit van die kunswerk beteken.

Die departement het net bewus van die bestaan ​​van die haas geraak na ‘n medianavraag en het daarna die maatskappy wat die twee beeldhouers opdrag gegee het, gekontak om te kla.

Koketso Growth, ‘n kulturele erfenis en toerisme liggaam is in Mei 2013 deur die departement aangestel om die skepping en installasie van die standbeeld te onderneem. Alhoewel daar beweer word dat dit weer ‘n nuwe geldstelery was, word daar ook gesê dat ‘n standbeeld onontbeerlik was vir die mediasirkus met Mandela se begrafnis.

Dali Tambo is onthuts deur die ontdekking van die haas. Tambo, die seun van wyle Oliver Tambo, is heel toevallig, verbasend genoeg, die HUB van die maatskappy en beskryf die handtekening as ‘n “sinnelose lawwigheid”.

Die vraag bly steeds hoekom die kunstenaars in die eerste plek verbied is om hul handtekening op die beeld te plaas.

Bronne sê dat die ANC wou nie Afrikaanse name op die beeld hê nie. Die beeldhouers wou dalk self nie hul name toevoeg nie.

“Die maatskappy het gesê die beeldhouers het om verskoning gevra aan die Minister, die departement en die familie. Ons het dit op rekord.”

Hoe meer haas, hoe minder spoed…

haasoor
Freudiaanse glips, of ‘n bronshasie wat nie kan teel nie?

Die beeldhouers van die nuutopgerigte standbeeld van Nelson Mandela by die Uniegebou het om verskoning gevra vir die haas op Mandela se beeld, het die departement van kuns en kultuur Dinsdag gesê.

“Ons aanvaar hul verskoning en dat hulle bedoelings eerbaar was,” het die woordvoerder van die departement Josias Pila in ‘n verklaring gesê.

Hy het gesê ‘n meer geskikte kunstenaarshandtekening sou verkieslik gewees het, en dat die departement oorweeg hoe die beeld se integriteit behoue bly deur dit te beskadig.

Andre Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren, wat die nege meter standbeeld gemaak het van oorgeblaasde brons, het aan Beeld gesê die haas is ‘n “klein handelsmerk” van hul werk, want die departement wou nie toelaat dat hulle hul handtekeninge graveer op die standbeeld se broek nie.

Hulle het gesê dit was ook ‘n verwysing na die kort sperdatum waarteen hulle gewerk het. Haas in Afrikaans beteken ook om gou te maak.

“Die tydfaktor was groot en by tye moes ons baie hard werk,” het Prinsloo gesê.

Hy het gesê die “klein simbool” is in die oor weggesteek en doen nie afbreuk aan die beeld nie.

“Jy moet ‘n lang lens of ‘n verkyker hê om dit te sien,” het hy gesê.

“Gedurende die gietproses het baie mense die standbeeld gesien van naby en niemand het dit opgemerk nie.”

Die departement het Dinsdag gesê hulle was nie bewus van die beeldhouers se voorneme om ‘n haas binne die oor van die standbeeld te plaas nie.

“Dit is jammer dat die beeldhouers … verkies het om ‘n voorwerp in die standbeeld te plaas sonder die medewete van diegene wat hulle opdrag gegee het,” het die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile gesê in ‘n verklaring.