Geen Duitse geld vir Namibiese volksmoordnasate nie

Die nasate van slagoffers van die 1904 tot 1908 volksmoord kan nie enige verwagtinge koester dat groot bedrae geld aan hulle in reparasie uitbetaal sal word nie.

Die Duitse spesiale gesant vir die reparasie-dialoog tussen die twee lande, Ruprecht Polenz (foto hierbo), het Woensdag gedurende sy drie dae lange besoek aan Namibië gesê die onderhandelinge word nie “in ‘n monetêre lig” beskou nie en dat voorstelle vir verskeie projekte en programme reeds voorgelê is.

Christiaan Schlaga, die Duitse ambassadeur in Namibië, het die stelling ondersteun en benadruk die idee dat geld gaan instroom, is misleidend.

“Projekte en programme kos geld, maar daar sal nie ’n enkelbedrag oorgedra word nie,” het Schlaga gesê.

Polenz het Maandag in die land aangekom vir samesprekinge met sy Namibiese­ eweknie sowel as met die geraakte Nama- en Herero-gemeenskappe.

Met sy besoek aan pres. Hage Geingob het hy ’n brief van die Duitse federale president, Joachim Gauck, oorhandig.

Hy het gesê Gauck stel “intens belang” in die onderhandelinge wat hy hoop goeie resultate gaan lewer en is bereid om op enige manier ’n bydrae te maak.

Polenz het die eerste dag met die Nama-­hoofman, Dawid Fredericks, en sy twee seuns, Ruben en Dawid, op Shark-eiland vergader. Hy het ook met die Witbooi-gemeenskap, en veral hoofman Salomon Witbooi, op Gibeon gesels.

Polenz het gesê gedurende sy gesprek met die Herero-gemeenskap het opperhoofman adv. Vekuii Rukoro aangedring dat die Duitse regering met hom die vergoedingsonderhandelinge voer – met moontlike fasilitering deur die ­Namibiese regering.

“Duitsland kan nie aan hierdie versoek voldoen nie. Die onderhandelingsraamwerk wat deur die Namibiese regering geskep is, is voldoende. Omdat daar projekte en programme ter sprake is, moet ons met die regering onderhandel. Ons wil ’n resultaat hê wat vir almal aanvaarbaar is,” het Polenz gesê.

Oor die Nama- en Herero-versoeke­ om direk aan die onderhandelinge deel te neem, het Polenz gesê hy is bewus dat die Namibiese regering ’n inklusiewe proses wil hê en dit van die Namibiese regering afhang.

Hoewel daar nie ’n sperdatum vir die afhandeling van die onderhandelinge is nie, hoop Duitsland om dit teen die einde van die jaar te voltrek, voor die verkiesings volgende jaar in dié land.

“Ons is die mense wat om vergifnis smeek. Ons kan nie die proses aanjaag en onsself dan verskoon nie,” het Polenz gesê.

Die volgende ronde van onderhandelinge in September sal fokus op die inhoud en verwoording van die ooreenkoms, wat vertroulik gehou sal word tot die finalisering daarvan.

Deel van die ooreenkoms sal ’n amptelike verskoning aan die betrokke gemeenskappe insluit, het Polenz gesê.

Dit sal ook ’n politieke verklaring met ’n konsepdokument insluit aangesien die saak ’n politieke en morele kwessie is en om ’n “beter, gesamentlike toekoms” te bewerkstellig, het Polenz gesê.

Bron: Die Republikein

OUTA gaan SAL-kontrak met BnP Capital bekyk

Die burgerregte-organisasie OUTA beplan om ‘n ‘n hofbevel te bekom oor ‘n omstrede kontrak tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die maatskappy BnP Capital.

Vroeër is berig dat die SAL nie die korrekte verkrygingsprosedures gevolg het met die aanstelling van BnP nie.

Die voorsitter van OUTA, Wayne Duvenage sê die ooreenkoms kan aandeelhouers van BnP Capital R256 miljoen ryker maak.

Die lugdiens kon die diens teen ‘n vyfde van die koste bekom het.

‘n Woordvoerder van die SAL, Tladi Tladi, sê die ooreenkoms voldoen aan die voorgeskrewe verkrygingsprosedures.

Duvenage sê hy sal dokumentasie vrystel wat sal aantoon dat daar familiebande is tussen BnP Capital en lede van die raad van die SAL.

In OUTA se verklaring sonder hulle Dudu Myeni, ‘n Zuma-vertroueling, uit as die onbevoegde party.

Daniel Mahlangu, die uitvoerende hoof van BnP Capital (foto hierbo) kon nie vir kommentaar bereik word nie. Hy het vroeër gesê hy bedryf ‘n “boetiek” vir finansiële advies wat die “mark ken”.

Alhoewel die “hele” Raad die sogenaamde tender op 24 Mei goedgekeur het, het twee lede eers op 27 Mei hul handtekeninge op die dokument geplaas.

Jonathan Jansen hou die geldkraan van UV oop

Die Universiteit van die Vrystaat (UV)se omstrede visekanselier, Jonathan Jansen, gaan glo ‘n salaris ontvang van die instelling waaruit hy bedank het in Mei.

Dit het na vore gekom dat Jansen steeds in diens van die Universiteit gaan wees in ‘n posisie wat hy self geskep as visekanselier, terug in 2010.

Jansen het intussen ‘n uitnodiging as ‘n Genoot by die Sentrum vir Gevorderde Studies in die Gedragswetenskappe aan die Stanford Universiteit in die VSA aanvaar waar hy blykbaar in September sal begin.

Maar die geldkraan in Bloemfontein word nie met sy vertrek toegedraai nie.

In reaksie op ‘n media-navraag, het die UV-woordvoerder, Lacea Loader, gesê die UV-Raad het dié kontrak in beginsel goedgekeur waar Jansen as ‘n senior professor aanbly.

Sy het gesê besonderhede – soos sy salaris en die kommissie wat hy sal verdien – sal na gelang van sy navorsing en fondsinsameling bepaal word en moet nog onderhandel word.

Loader sê presies wanneer Jansen sal begin in hierdie nuwe posisie is ook deel van die onderhandelinge.

Mangaung is die hoofstad van seksuele misdrywe

Mangaung is die hoofstad van seksuele misdrywe in Suid-Afrika, het skokkende syfers getoon.

Die misdaadstatestiek van nege groot stede in die land is vervat in die verslag, State of Urban Safety in South Africa, wat aan die begin van die maand vrygestel is.

Dit wys dat die aantal seksuele misdryf-sake in Mangaung landwyd die hoogste is en dat die koers waarteen dit die afgelope dekade gestyg het, hoër is as die gemiddelde nasionale koers.

Inbrake by huise landwyd het ook skerp toegeneem, maar Mangaung het steeds die hoogste inbraaksyfers.

Die verslag het ‘n analise van misdaad en geweld, asook die impak daarvan gedoen, wat insluit die vrees wat dit by inwoners inboesem.

Die hoogste aantal moorde is in Kaapstad aangeteken en, volgens statistiek, staan slagoffers van misdaad in Johannesburg ‘n groter kans om geroof of gekaap te word.

Behalwe vir veediefstal is die grootste persentasie misdaad in stedelike gebiede aangemeld.

Breëkoparendster van TV-reeks word boskos

‘n Breëkoparend uit die Kruger Nasionale Park, die ster van ‘n Britse bewaringstelevisiereeks Fierce, is deur bestaansboere in Mosambiek gejag, het navorsers van die Universiteit van Kaapstad bevestig.

Die wyfiebreëkoparend van 4,6kg is vroeër vandeesmaand tydens ‘n dokumentêre program deur ‘n bekende TV-aanbieder Steve Backshall aan kykers voorgestel.

Die voël is toe toegerus met ‘n GPS-toestelletjie onder die wakende oog van die Britse span wat hierdie seldsame groot roofvoëls kom verfilm het.

Maar net ‘n paar weke later het die geveerde ster in die strik ‘n honger jagter in landelike Mosambiek beland, het die Universiteit van Kaapstad se navorsers gesê.

‘n Navorser van die Percy FitzPatrick Instituut vir Afrika Ornitologie se Sentrum vir Uitnemendheid by die Universiteit van Kaapstad, sê die voël se daaglikse patroon het skielik verander en hulle het onraad vermoed.

Die span het deur onherbergsame terrein gereis om die reste van die arend te probeer opspoor.

Hulle het uiteindelik die voël gekry met sy nek in ‘n strik vas, waarskynlik gestel om klein wildsbokke te vang.

Dit is die derde volwassene arend uit agt wat toegerus was met GPS wat binne drie jaar dood is. Twee ander het ook in jagters in Mosambiek se kospotte beland.

Daar was nog geen uitbarstings deur glanspersoonlikhede oor dié verwikkeling nie.

Swart wildbewaarder skop ietermago genadeloos vir foto

‘n Video van ‘n swart veldwagter se vreemde houding teenoor ‘n ietermago is op YouTube gelaai.

Die veldwagter het tydens ‘n nagrit by Punda Maria in die Kruger Nasionale Park uit sy voertuig gespring en die dier hardhandig begin skop sodat hy ‘n foto kon kry.

“Hy het later gesê hy wil teruggaan om die dier te vang, sodat hy die publiek geld kan vra om dit te sien,” het Jason Janse van Vuuren in beskrywing van die video wat hy opgelaai het, gesê.

Volgens Reynold Thakhuli, die waarnemende hoof van kommunikasie by Sanparke, is hulle bewus van die video en ondersoek tans die voorval.

Elke spesie van ietermago is tans bedreig, deels as gevolg van die vraag na ietermagovleis en -skubbe in Asië.

“In sommige kulture word geglo dat ietermagoë genesende kragte besit en om hierdie rede hulle word gereeld in tradisionele medisyne gebruik. Ietermagoë word ook beskou as ‘n lekkerny en is in groot aanvraag in lande soos China en Viëtnam. Dit is wat hulle die meeste verhandele dier in die wêreld maak, “volgens Sanparke.

Afrikaspesies word toenemend geteiken weens die skerp afname in die bevolkings van hul Asiatiese neefs.

Volgens bewaringsinstansies is vier ton Afrika-ietermagoskubbe deur die Hong Kong owerhede in beslag geneem in Junie.

Dit verteenwoordig ongeveer 1100 tot 6600 individuele diere.

Nederlandse ambassadeur in Kenia begaan doodsonde: Eerlikheid

Die Nederlandse ambassadeur in Kenia het ‘n doodsonde begaan: Eerlikheid.

Ambassadeur Frans Makken (foto hierbo) het te ver gegaan met ‘n diplomatieke verduideliking.

In die vakblad viceversa sê Makken naamlik:

“In het verleden hielpen we overheidsinstellingen om hun diensten te verbeteren. Nu lossen we problemen op door samen te werken met de private sector. We geven de programma’s zo vorm dat ze voor bedrijven winstgevend zijn. Daarmee formuleren we dus een eigenbelang waardoor de private sector er ook iets aan heeft. De keuze om geen geld aan de overheid over te maken is een bewuste. Ik zeg het maar gewoon: het is een bodemloze put. Ze werken niet efficiënt en als je er steeds weer nieuw geld in stopt blijven ze dat ook. De efficiëntie moet je zoeken in sectoren waar de marge ertoe doet. In de private sector krijgen we dus veel meer waar voor ons geld.”

Verder in die onderhoud prys Makken die Keniaanse privaatsektor, wat inderdaad indrukwekkende ekonomiese groei toon.

Maar met sy geregverdigde kritiek teen die Keniaanse regering, gaan hy te ver.

Makken is deur minister Lilianne Ploumen ingeroep en oor die kole gehaal vir sy eerlikheid.

“Hij verliest zijn post niet, maar ambassadeur Frans Makken in Kenia wacht een ‘stevig gesprek’ op het ministerie in Den Haag.”

Die PVV wil egter Makken se eerlikheid beloon deur aan te beveel dat ‘n ridderskap aan hom toegeken word.

Skietgeveg op Krugersdorpsnelweg vanoggend

Drie vermeende motordiewe is verwond in ‘n skietgeveg vanoggend op die N14 tussen Krugersdorp en Pretoria, volgens ‘n polisiewoordvoerder.

Volgens kaptein Kay Mkhubela het die polisie die diewe by die Total-petroport tussen Diepsloot en Lanseria op die N14 ingewag, nadat hulle inligting ontvang het dat ‘n gesteelde voertuig van die Oos-Transvaal na Pretoria onderweg was.

 

Toe hulle die voertuig probeer voorkeer, het die drie mans probeer wegkom, waarna ‘n skietgeveg losgebars het.

‘n Woordvoerder van Emer-G-med, Max Cohen, sê dat een van die beweerde kapers ernstig beseer is toe hy in die bors geskiet is. Sy medepligtige is in die been gewond.

Die derde verdagte het ‘n ligte vleiswond aan die been opgedoen en is nie hospitaal toe geneem nie. Die gesteelde bakkie is in die veld gevind.

Volgens Makhubela het die polisie ‘n blou lig, asook twee ongelisensieerde wapens tesame met die gesteelde voertuig gevind. Al drie die boosdoeners is in hegtenis geneem. Die twee beseerdes bevind hulle onder polisiebewaking in die hospitaal.

‘n Saak van moord, die besit van ‘n gesteelde voertuig, asook ongelisensieerde wapens is aanhangig gemaak.

Zim-onrus in Angelsaksiese pers aangekondig

Groot dele van stedelike Zimbabwe het Woensdag soos ‘n oorlogsone gelyk nadat botsings tussen inwoners en die polisie tot geweld gelei het.

Die onrus is in al die Angelsaksiese koerante aangekondig en hul ontleders praat van ‘n “militêre coup” wat kan volg.

Tonele van brandende bande en groot klippe in die middel van die pad is die hoofstad Harare en Bulawayo opgemerk met jeugdiges wat die hoofpaaie na die middestad onbegaanbaar gemaak het.

In Mfakose het die polisie na bewering geweld gebruik om betogers uiteen te jaag. Vier joernaliste is in hegtenis geneem en aangehou by Marimba-polisiekantoor en is eers vrygelaat nadat hulle foto’s wat hulle tydens die botsings geneem het, vernietig is.

Gewapende polisielede handhaaf ‘n swaar teenwoordigheid in gebiede waar onrus voorkom, terwyl die meeste vervoeroperateurs besluit het om eerder hul voertuie van die paaie af te hou.

Diegene wat wel instem om passasiers te vervoer, vra $2 per rit in plaas van die gewone 50 sent.

Econet het bevestig dat WhatsApp tans af is. Intekenare is deur middel van sy kliëntediens vroeër Woensdag deur twiets verwittig.

In Bulawayo het jeugdiges bande aan die brand gesteek en die Mzilikazi-supermark geplunder. Die polisie moes die vandale met behulp van traangas en water kanonne verwilder.

Talle het in die middestad saamgedrom teen die bewind van president Robert Mugabe. Vyf jeugdiges is later in hegtenis geneem en na Bulawayo polisiekantoor geneem.

In ander gebiede soos Masking, Chipinge, Victoria-waterval en Gweru, het oproeriges plakkate teen Mugabe rondgeswaai.

Sakebedrywighede in die meeste groot stede gaan voort, maar nie alle winkels is oop vir die publiek nie na oproepe vir ‘n massa-wegbly-aksie.

Ekonome sê die oproer sal nie veel invloed op die land se ekonomie hê nie. Voedselkettingwinkels sê hulle doen steeds fluks sake.

Die polisie hou ‘n swaar teenwoordigheid in hoëdigtheidsgebiede.

‘n Polisiewoordvoerder het gesê probleemgebiede in Harare is Bidiriro, Mufakose en Warren Park.

“Die polisie het 19 mense in Harare, ses van Bidiriro en 13 van Mufakose in hegtenis geneem. Onder hulle is Linda Masarira van Occupy Africa Unity Square wat onskuldige straatverkopers met klippe gegooi het en hul stalletjies afgebrand het,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat 17 mense in hegtenis geneem is in Victoria Falls omdat hulle teen president Mugabe betoog het. “Ek is seker jy kan ‘n derde hand sien. Sommige van hulle is eintlik van Australië, maar hulle is in Zimbabwe om te betoog,” het sy gesê.

Intussen het die Zimbabwe Lawyers for Human Rights aangekondig dat hy sy prokureurs ontplooi het regoor die land om gevalle van gearresteerde aktiviste te hanteer.

Intussen het die regering, by monde van die Sekretaris van Gesondheid en Kindersorg, aan stakende gesondheidspersoneel gesê hul Junie-salarisse sal nou vroeër as wat beplan is betaal word.

In 2008 het stakings ook gevolg nadat staatsamptenare nie betaal is nie.

Munisipale bestuurders verdien meer as Zuma

Tshwane-metro se munisipale bestuurder Jason Ngobeni is Suid-Afrika se hoogsbetaalde staatsamptenaar met sy R3 miljoen jaarlikse salarispakket.

Hy verdien verdien meer as die president, adjunkpresident en kabinetsministers.

Die munisipale bestuurder van platsak Gauteng se plaaslike munisipaliteit Emfuleni, Yunus Chamda (middel, foto hierbo), verdien R2,4 miljoen per jaar ten spyte van die feit dat die ouditeur-generaal voorbehoude uitgespreek het oor die vermoë van die munisipaliteit om voort te gaan as ‘n lopende saak in sy laaste jaarverslag.

Chamda se R2,4-miljoen jaarlikse pakket is die hoogste van ‘n plaaslike munisipale bestuurder. Sy salaris is byna dubbel dié van die munisipale bestuurder vir die Sedibeng-distrik.

President Jacob Zuma verdien R2,8 miljoen per jaar. Ministers in sy kabinet te verdien om R2,3 miljoen, terwyl provinsiale premiers sowat R2.1 miljoen verdien.

Die 2014/15 salarisse van byna alle munisipale bestuurders is vervat in ‘n reaksie deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DKRTS) na ‘n parlementêre vraag.

Ngobeni is in 2011 aangestel in die pos, en selfs toe het hy meer verdien as die president.

Amptenare het toe gesê dat ‘n gunstige salarispakket moes oorweeg word in ‘n poging om hom te behou in die posisie.

Ander munisipale bestuurders se salarisse wissel van tussen R1,9 miljoen vir Buffalo City en R2,8 miljoen vir Ekurhuleni.

In eThekwini en Mangaung is munisipale bestuurders op gelyke voet teen sowat R2,4 miljoen elk, terwyl die Stad Kaapstad munisipale bestuurder net meer as R2,2 miljoen verdien.

Die Johannesburgse munisipale bestuurder ontvang R2,6 miljoen per jaar.

In Nelson Mandela Bay, is die posisie wat kom met ‘n salarispakket van R2 miljoen, is vakant.