Switsers befonds Nollywood-reeks om swartes uit hul land te hou

Die Switserse regering het geld gegee vir ‘n Nigeriese TV-reeks om potensiële swart immigrante na Switserland af te skrik.

Die Nollywood-reeks vermy die tradisionele toerisme-lokaas, vriendelike gesigte met sonnige landskappe, sneeubedekte berge, mere en buitelugkafees, het Switserse nuusagentskappe berig.

Getiteld Missing Steps, is die reeks van 13 episodes beide in Nigerië en Switserland verfilm deur ‘n Nigeriese filmspan.

Die protagonis van die Switsers-Nigeriese ko-produksie, is ‘n jong Nigeriër wat asiel geweier word deur die Switserse owerhede en onwettig leef in Switserland.

Die storie volg “Josua” wat na Switserland kom en ontdek dat die lewe nie so lekker is soos hy gedink het dit sou wees nie. Lewe in Switserland is in werklikheid ‘n daaglikse stryd.

“Ons wil objektiewe inligting oor migrasie bied, wat daarop dui dat die tog [oor die Middellandse See] gevaarlik is en dat die kanse van Nigeriërs wat asiel toegestaan word, laag is. Ons beoog ook om te verduidelik dat die lewe vir onwettige immigrante in Switserland nie maklik is nie,” sê Lukas Rieder, woordvoerder van die sekretariaat vir Staatsmigrasie (SEM), wat die projek befonds.

“Ons het gesien dat ‘n gebrek aan inligting of vals inligting een van die grootste probleme is wat lei tot onwettige migrasie,” het hy bygevoeg.

“Mense smokkelaars vertel aan voornemende immigrante dat Switserland ‘n paradys is, dis Eldorado. Maar dit is nie waar nie. Ons wil objektiewe inligting oor die gevare wys.”

Amnestie Internasionaal het die veldtog skerp gekritiseer. “Dit is duidelik dat immigrante korrek ingelig moet word oor Switserse reg en asielproses,” het die organisasie se Denise Graf gesê aan swissinfo.ch.

“Maar in die eerste plek moet Switserland werk daaraan om die situasie van menseregte en die toekenning van hulpbronne aan Nigerië te verbeter.”

In 2016, is 27 207 asielaansoeke in Switserland ingedien. Hiervan was 1 106 van Nigeriese burgers (4,1 persent). In dieselfde jaar, het slegs drie mense asiel ontvang.

Dit is nie die eerste poging van die Switsers om swartes uit die Konfederasie te hou nie. In 2007, het Switserland ‘n twee-minuut advertensie in verskeie Afrika-lande soos Kameroen en Nigerië vertoon om potensiële reisigers te weerhou van die reis.

Die advertensie is in beide Wes-Afrikaanse lande uitgesaai in die duurste kykersegment, en beeld die lewe van nuwe immigrante in Europa uit as een belaai met ongelukkigheid, vyandigheid en gevaar.

In die kort film bel ‘n swarte sy pa van ‘n plek in Europa in die gietende reën en verseker hom dat alles goed gaan, terwyl hy in werklikheid op straat lewe, gejaag word deur die polisie en moet bedel om te eet.

Switserland is ook nie die enigste land wat soortgelyke veldtogte teen swartes befonds nie. Duitsland, Italië en Australië produseer video’s met ‘n negatiewe boodskappe wat gerig is aan swart immigrante.

Breëkoparendster van TV-reeks word boskos

‘n Breëkoparend uit die Kruger Nasionale Park, die ster van ‘n Britse bewaringstelevisiereeks Fierce, is deur bestaansboere in Mosambiek gejag, het navorsers van die Universiteit van Kaapstad bevestig.

Die wyfiebreëkoparend van 4,6kg is vroeër vandeesmaand tydens ‘n dokumentêre program deur ‘n bekende TV-aanbieder Steve Backshall aan kykers voorgestel.

Die voël is toe toegerus met ‘n GPS-toestelletjie onder die wakende oog van die Britse span wat hierdie seldsame groot roofvoëls kom verfilm het.

Maar net ‘n paar weke later het die geveerde ster in die strik ‘n honger jagter in landelike Mosambiek beland, het die Universiteit van Kaapstad se navorsers gesê.

‘n Navorser van die Percy FitzPatrick Instituut vir Afrika Ornitologie se Sentrum vir Uitnemendheid by die Universiteit van Kaapstad, sê die voël se daaglikse patroon het skielik verander en hulle het onraad vermoed.

Die span het deur onherbergsame terrein gereis om die reste van die arend te probeer opspoor.

Hulle het uiteindelik die voël gekry met sy nek in ‘n strik vas, waarskynlik gestel om klein wildsbokke te vang.

Dit is die derde volwassene arend uit agt wat toegerus was met GPS wat binne drie jaar dood is. Twee ander het ook in jagters in Mosambiek se kospotte beland.

Daar was nog geen uitbarstings deur glanspersoonlikhede oor dié verwikkeling nie.

Toekomsreeks oor immigrasie na Afrika

Usoni
Usoni

Usoni is ‘n verhaal oor immigrasie. Die Keniaanse toekoms-TV-reeks speel af in 2062 en skets ‘n beeld van hoe die wêreld sou wees as immigrasie omgekeer word en die Europese vlugtelinge vlug na Afrika.

Geskep deur Dr Marc Rigaudis van die Verenigde State se Internasionale Universiteit ( USIU ) in Nairobi, kaats die film Afrika as ‘n oase , die enigste plek waar die son skyn . ‘n Jong paartjie begin ‘n gevaarlike reis om die vasteland te bereik.

Maar voor hul droom verwesenlik kan word, moet hulle die ergste van die mensdom en die onmoontlik element van kans oorkom.

TechMoran se produsent Denver Ochieng verduidelik: ” Usoni is eintlik ‘n reeks wat fokus op die reis van ‘n paartjie van die rampgeteisterde Europa na die nou beroemde Afrika in 2062 . Dit is ‘n verhaal wat fokus op die immigrasiehindernisse van swartes na Europa en kyk na hoe dit sou wees as die omgekeerde moes gebeur.”

Die lokepisode is verlede week gekeur op USIU . Nou is dit wag en sien of dit sal opgetel word deur plaaslike of selfs internasionale kanale.